“Laat jou hande nie slap hang nie”
“Laat jou hande nie slap hang nie! Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk.”—SEFANJA 3:16, 17.
1. Wat het ’n Bybelkenner oor Sefanja se profesie gesê?
SEFANJA se profesie het baie verder heengewys as die eerste vervulling daarvan in die sewende en sesde eeue v.G.J. In sy kommentaar oor Sefanja het professor C. F. Keil geskryf: “Sefanja se profesie . . . begin nie net met die aankondiging van ’n algemene oordeel oor die hele wêreld nie, ’n oordeel onder andere oor Juda weens sy sondes en oor die wêreld van nasies weens hulle vyandigheid teenoor Jehovah se volk; maar dit handel deurgaans oor die groot en verskriklike dag van Jehovah.”
2. Watter ooreenkomste is daar tussen toestande in Sefanja se dag en die hedendaagse situasie binne die Christendom?
2 Dit is vandag Jehovah se regterlike beslissing om die nasies vir vernietiging te versamel op ’n veel groter skaal as in Sefanja se dag (Sefanja 3:8). Daardie nasies wat beweer dat hulle Christelik is, is in God se oë veral laakbaar. Net soos Jerusalem baie duur vir sy ontrouheid aan Jehovah betaal het, moet die Christendom vir sy losbandige weë rekenskap aan God gee. Die Goddelike oordele wat in Sefanja se dag teen Juda en Jerusalem uitgespreek is, het selfs ’n groter toepassing op die kerke en sektes van die Christendom. Hulle het ook ware aanbidding verontreinig deur hulle godonterende leerstellings, waarvan baie ’n heidense oorsprong het. Hulle het miljoene van hulle gesonde seuns op die hedendaagse oorlogsaltaar geoffer. Daarbenewens vermeng die inwoners van antitipiese Jerusalem die sogenaamde Christelike geloof met astrologie, spiritistiese gebruike en verlagende geslagsonsedelikheid wat ’n mens aan Baäl-aanbidding herinner.—Sefanja 1:4, 5.
3. Wat kan van baie hedendaagse wêreldlike leiers en politieke regerings gesê word, en wat het Sefanja geprofeteer?
3 Baie van die Christendom se politieke leiers hou baie daarvan om in die kerk gesien te word. Maar soos Juda se “prinse” buit party van hulle die mense uit soos “brullende leeus” en gulsige ‘wolwe’ (Sefanja 3:1-3). Hulle politieke knegte ‘vul die huis van hulle here met geweld en bedrog’ (Sefanja 1:9). Omkopery en korrupsie is iets algemeens. Wat politieke regerings binne en buite die Christendom betref, is daar al hoe meer wat ‘hulle groot hou’ teen Jehovah van die leërskare se volk, sy Getuies, deur hulle as ’n veragtelike “sekte” te behandel (Sefanja 2:8; Handelinge 24:5, 14). Sefanja het aangaande al hierdie politieke leiers en hulle volgelinge geprofeteer: “Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ’n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.”—Sefanja 1:18.
‘Verborge op die dag van Jehovah se toorn’
4. Wat toon dat daar mense sal wees wat die groot dag van Jehovah sal oorleef, maar wat moet hulle doen?
4 Nie al die inwoners van Juda is in die sewende eeu v.G.J. vernietig nie. Daar sal eweneens mense wees wat Jehovah se groot dag sal oorleef. Aan hulle het Jehovah deur middel van sy profeet Sefanja gesê: “Voordat die besluit baar—soos kaf gaan die dag verby—voordat daar oor julle kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE. Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:2, 3.
5. Wie was die eerstes om in hierdie tyd van die einde op Sefanja se waarskuwing ag te slaan, en hoe het Jehovah hulle gebruik?
5 In hierdie wêreld se tyd van die einde was die oorblyfsel van geestelike Israeliete, gesalfde Christene, die eerstes wat op die profetiese uitnodiging ag geslaan het (Romeine 2:28, 29; 9:6; Galasiërs 6:16). Omdat hulle geregtigheid en sagmoedigheid gesoek het en Jehovah se ordeninge gerespekteer het, is hulle uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gered en in 1919 tot Goddelike guns herstel. Sedertdien, en veral sedert 1922, is hierdie getroue oorblyfsel besig om Jehovah se oordele vreesloos aan die kerke en sektes van die Christendom en aan die politieke nasies te verkondig.
6. (a) Wat het Sefanja aangaande die getroue oorblyfsel geprofeteer? (b) Hoe is hierdie profesie vervul?
6 Sefanja het oor hierdie getroue oorblyfsel geprofeteer: “Ek sal tussen jou in laat oorbly ’n ellendige [“nederige”, NW] en geringe volk wat by die Naam van die HERE skuiling soek. Die oorblyfsel van Israel sal geen onreg doen en geen leuentaal spreek nie, en in hulle mond sal geen bedrieglike tong gevind word nie; maar hulle sal wei en neerlê, en niemand sal hulle verskrik nie” (Sefanja 3:12, 13). Hierdie gesalfde Christene het nog altyd Jehovah se naam na vore gebring, maar hulle het dit veral sedert 1931 gedoen toe hulle die naam Jehovah se Getuies aangeneem het (Jesaja 43:10-12, NW). Deur die aandag te vestig op die geskil aangaande Jehovah se soewereiniteit het hulle die Goddelike naam geëer, en dit was vir hulle ’n skuiling (Spreuke 18:10). Jehovah het hulle geestelik oorvloedig gevoed, en hulle wandel sonder vrees in ’n geestelike paradys.—Sefanja 3:16, 17.
“’n Naam en ’n lof onder al die volke”
7, 8. (a) Watter verdere profesie het vir die oorblyfsel van geestelike Israel in vervulling gegaan? (b) Tot watter besef het miljoene mense gekom, en wat is jou eie gevoelens hieroor?
7 Die oorblyfsel se groot gehegtheid aan Jehovah se naam en aan die regverdige beginsels van sy Woord het nie ongemerk verbygegaan nie. Opregte mense het die verskil tussen die gedrag van die oorblyfsel en die korrupsie en skynheiligheid van hierdie wêreld se politieke en godsdiensleiers gesien. Jehovah het “die oorblyfsel van [geestelike] Israel” geseën. Hy het hulle geëer met die voorreg om sy naam te dra, en hy het hulle ’n puik reputasie onder die volke van die aarde laat kry. Dit is soos Sefanja geprofeteer het: “In dié tyd sal Ek julle aanbring, ja, in die tyd wanneer Ek julle versamel; want Ek maak julle tot ’n roem [“naam”, NW] en tot ’n lof onder al die volke van die aarde, wanneer Ek voor julle oë julle lot verander, sê die HERE.”—Sefanja 3:20.
8 Sedert 1935 het letterlik miljoene mense tot die besef gekom dat Jehovah se seën op die oorblyfsel is. Hulle volg hierdie geestelike Jode, of Israeliete, met blydskap en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaria 8:23). Hierdie “ander skape” besef dat die gesalfde oorblyfsel “die getroue en verstandige slaaf” is wat deur Christus “oor al sy [aardse] besittings” aangestel is. Hulle neem met dankbaarheid van die geestelike voedsel wat “op die regte tyd” deur die slaafklas voorberei word.—Johannes 10:16; Matteus 24:45-47.
9. Watter “taal” het miljoene mense leer praat, en in watter groot werk dien die ander skape “skouer aan skouer” met die gesalfde oorblyfsel?
9 Saam met die oorblyfsel leer hierdie miljoene ander skape om in ooreenstemming met die “suiwer taal” te lewe en te praat.a Jehovah het deur middel van Sefanja geprofeteer: “Dan sal ek volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan sodat hulle almal die naam van Jehovah kan aanroep om hom skouer aan skouer te dien” (Sefanja 3:9, NW). Ja, verenig dien die ander skape Jehovah “skouer aan skouer” met die gesalfde lede van die “klein kuddetjie” in die dringende werk om “hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . tot ’n getuienis vir al die nasies” te verkondig.—Lukas 12:32; Matteus 24:14.
‘Jehovah se dag sal kom’
10. Waarvan was die gesalfde oorblyfsel nog altyd oortuig, en wat sal hulle, as ’n klas, beleef?
10 Die gesalfde oorblyfsel het die apostel Petrus se geïnspireerde stelling voortdurend in gedagte gehou: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom. Tog sal Jehovah se dag soos ’n dief kom” (2 Petrus 3:9, 10). Lede van die ‘getroue slaaf’-klas het nog nooit getwyfel dat Jehovah se dag in ons tyd sal kom nie. Daardie groot dag sal begin met die voltrekking van God se oordeel aan die Christendom, antitipiese Jerusalem, en die res van Babilon die Grote.—Sefanja 1:2-4; Openbaring 17:1, 5; 19:1, 2.
11, 12. (a) Watter ander deel van Sefanja se profesie het vir die oorblyfsel in vervulling gegaan? (b) Hoe het die gesalfde oorblyfsel gehoor gegee aan die oproep: “Laat jou hande nie slap hang nie”?
11 Die getroue oorblyfsel is verheug dat hulle in 1919 uit die geestelike gevangenskap van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, bevry is. Hulle het die vervulling van Sefanja se profesie ondervind: “Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem! Die HERE het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die HERE is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie. In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie! Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk.”—Sefanja 3:14-17.
12 Met die oortuiging en oorvloedige bewys dat Jehovah in hulle midde is, het die gesalfde oorblyfsel vreesloos voortgegaan om hulle Goddelike opdrag uit te voer. Hulle het die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en Jehovah se oordele bekend gemaak teen die Christendom, die res van Babilon die Grote en Satan se ganse goddelose stelsel van dinge. Sedert 1919 het hulle oor dekades heen in voorspoed en teëspoed aan die Goddelike bevel gehoor gegee: “Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie.” Hulle hande het nie verslap in die verspreiding van miljarde traktate, tydskrifte, boeke en boekies wat Jehovah se Koninkryk aankondig nie. Hulle is ’n geloofversterkende voorbeeld vir die ander skape wat, sedert 1935, na hulle sy stroom.
“Laat jou hande nie slap hang nie”
13, 14. (a) Waarom het sommige Jode teruggedeins om Jehovah te dien, en hoe het dit duidelik geword? (b) Wat sal onverstandig van ons wees om te doen, en in watter werk moet ons nie ons hande laat slap hang nie?
13 Hoe kan ons, terwyl ‘ons aanhou om’ Jehovah se groot dag ‘te verwag’, praktiese hulp uit Sefanja se profesie verkry? In die eerste plek moet ons waak dat ons nie soos die Jode in Sefanja se dag word nie, wat teruggedeins het om Jehovah te volg omdat hulle twyfelgedagtes oor die nabyheid van Jehovah se dag gekoester het. Daardie Jode het nie noodwendig hulle twyfel openlik uitgespreek nie, maar hulle gedrag het geopenbaar dat hulle nie werklik geglo het dat Jehovah se groot dag naby was nie. Hulle het hulle daarop toegelê om rykdom op te gaar pleks van aan te hou om Jehovah te verwag.—Sefanja 1:12, 13; 3:8.
14 Vandag is nie die tyd om toe te laat dat twyfelgedagtes in ons hart wortelskiet nie. Dit sou baie onverstandig wees om die koms van Jehovah se dag in ons verstand of hart uit te stel (2 Petrus 3:1-4, 10). Ons moet daarteen waak om terug te deins om Jehovah te volg of om ‘ons hande slap te laat hang’ in sy diens. Dit sluit in dat ons in ons verkondiging van “die goeie nuus” nie “met ’n trae hand werk” nie.—Spreuke 10:4; Markus 13:10.
Stry teen onverskilligheid
15. Wat kan daartoe lei dat ons hand traag word in Jehovah se diens, en hoe is hierdie probleem in Sefanja se profesie voorspel?
15 Tweedens moet ons teen die verswakkende uitwerking van onverskilligheid waak. In baie Westerse lande kan onbesorgdheid oor geestelike dinge ’n bron van ontmoediging vir sommige verkondigers van die goeie nuus wees. Sulke onverskilligheid het in Sefanja se dag bestaan. Jehovah het deur sy profeet gesê: ‘Ek sal besoeking doen oor die manne wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie’ (Sefanja 1:12). Waar A. B. Davidson hieroor in die Cambridge Bible for Schools and Colleges skryf, sê hy dat dit na mense verwys wat “tot ’n ongevoelige onverskilligheid gedaal het of selfs tot ’n gebrek aan geloof dat ’n hoër krag enigsins in die aangeleenthede van die mensdom sal ingryp”.
16. Watter geestestoestand heers daar onder baie lede van die Christendom se kerke, maar watter bemoediging gee Jehovah ons?
16 Onverskilligheid is vandag in baie dele van die aarde, veral in die welvarender nasies, die algemene gesindheid. Selfs lede van die Christendom se kerke glo eenvoudig nie dat Jehovah God in ons dag in die mensdom se aangeleenthede sal ingryp nie. Met ’n skeptiese glimlag of ’n kortaf: “Ek stel nie belang nie!” minag hulle ons pogings om hulle met die goeie nuus van die Koninkryk te bereik. Onder hierdie omstandighede kan dit ’n ware uitdaging wees om in die predikingswerk te volhard. Dit toets ons uithouvermoë. Maar deur middel van Sefanja se profesie versterk Jehovah sy getroue volk deur te sê: “Laat jou hande nie slap hang nie! Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.”—Sefanja 3:16, 17.
17. Watter puik voorbeeld moet nuwer lede van die ander skape volg, en hoe?
17 Dit is ’n feit in die moderne geskiedenis van Jehovah se volk dat die oorblyfsel, asook ouer lede van die ander skape, ’n ontsaglike insamelingswerk in hierdie laaste dae verrig het. Al hierdie getroue Christene het oor die dekades heen volharding getoon. Hulle het nie toegelaat dat die onverskilligheid van die meerderheid in die Christendom hulle ontmoedig nie. Mag die nuwer lede onder die ander skape dus nie toelaat dat die onverskilligheid teenoor geestelike dinge wat vandag in baie lande so algemeen is hulle ontmoedig nie. Mag hulle nie toelaat dat hulle ‘hande slap hang’, of traag word, nie. Mag hulle elke geleentheid gebruik om Die Wagtoring, Ontwaak! en ander puik publikasies aan te bied wat spesiaal ontwerp is om skaapgeaarde mense die waarheid te leer oor Jehovah se dag en die seëninge wat daarop gaan volg.
Voorwaarts terwyl ons op die groot dag wag!
18, 19. (a) Watter aanmoediging om te volhard vind ons in Matteus 24:13 en Jesaja 35:3, 4? (b) Hoe sal ons geseën word as ons verenig in Jehovah se diens voortgaan?
18 Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Laat niemand dus “slap hande” of “struikelende knieë” hê terwyl ons op Jehovah se groot dag wag nie! (Jesaja 35:3, 4). Sefanja se profesie praat op gerusstellende wyse van Jehovah as “’n held wat verlossing skenk” (Sefanja 3:17). Ja, Jehovah sal die “groot skare” deur die finale deel van “die groot verdrukking” red, wanneer hy sy Seun beveel om die politieke nasies te vernietig wat hulle teen sy volk “groot gehou het”.—Openbaring 7:9, 14; Sefanja 2:10, 11; Psalm 2:7-9.
19 Mag ons, terwyl die groot dag van Jehovah nader kom, ywerig voortgaan om hom “skouer aan skouer” te dien! (Sefanja 3:9). Sodoende sal ons en tallose ander in ’n posisie wees om “verborge [te] bly op die dag van die toorn van die HERE” en die verheerliking van sy heilige naam te aanskou.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring van 1 April 1991, bladsye 20-5, en 1 Mei 1991, bladsye 10-20, vir ’n volledige bespreking van die “suiwer taal”.
Ter hersiening
◻ In watter opsigte kom die godsdienssituasie binne die Christendom met dié van Sefanja se dag ooreen?
◻ In watter opsig kom die politieke leiers van vandag met die wêreldlike “prinse” van Sefanja se tyd ooreen?
◻ Watter beloftes in Sefanja het vir die oorblyfsel in vervulling gegaan?
◻ Tot watter besef het miljoene mense gekom?
◻ Waarom moet ons nie ons hande in Jehovah se diens laat slap hang nie?
[Prente op bladsy 15]
Soos Sefanja het die getroue oorblyfsel van gesalfde Christene Jehovah se oordele vreesloos verkondig
[Prente op bladsy 18]
Die “ander skape” het nie toegelaat dat mense se onverskilligheid hulle ontmoedig nie