Jehovah—’n liefhebber van regverdigheid en geregtigheid
’N JONG meisie in Sarajevo vra haar af waarom die kinders in haar stad soveel lyding moet verduur. “Ons het niks gedoen nie. Ons is onskuldig”, sê sy. Radelose Argentynse moeders kom die afgelope 15 jaar al in ’n stadsplein in Buenos Aires bymekaar uit protes teen die verdwyning van hulle seuns. ’n Man in Afrika met die naam Emmanuel, wie se moeder en drie susters tydens etniese geweld wreed vermoor is, het nadruklik gesê: “Elkeen moet sy verdiende loon ontvang . . . Ons wil geregtigheid hê.”
Geregtigheid is een van Jehovah God se hoofeienskappe. “Al sy weë is geregtigheid”, sê die Bybel. Jehovah is inderdaad “’n liefhebber van regverdigheid en geregtigheid” (Deuteronomium 32:4, NW; Psalm 33:5, NW). As ons God goed wil ken, moet ons sy sin vir geregtigheid verstaan en leer om dit na te volg.—Hosea 2:19, 20, NW; Efesiërs 5:1.
Ons begrip van geregtigheid is waarskynlik beïnvloed deur die manier waarop mense hierdie eienskap beskou. In sommige dele van die wêreld word geregtigheid dikwels uitgebeeld as ’n geblinddoekte vrou wat ’n swaard en ’n weegskaal vashou. Die mens se geregtigheid is veronderstel om onpartydig te wees, dit wil sê blind vir rykdom of invloed. Dit moet die skuld of onskuld van die beskuldigde versigtig in die weegskaal weeg. Met die swaard moet geregtigheid die onskuldiges beskerm en oortreders straf.
Die boek Right and Reason—Ethics in Theory and Practice sê dat “geregtigheid verband hou met die wet, verpligtinge, regte en pligte, en dat dit onpartydig en volgens verdienste oordeel uitspreek”. Maar Jehovah se geregtigheid strek veel verder. Ons kan dit sien as ons die dade en eienskappe beskou van Jesus Christus, wat so baie soos sy hemelse Vader is.—Hebreërs 1:3.
Die evangelieskrywer Matteus het die woorde van Jesaja 42:3 op Jesus toegepas en gesê: “Hy sal geen beskadigde riet verbrysel nie, en hy sal geen smeulende vlaspit uitblus nie, totdat hy geregtigheid met welslae uitstuur.” Jesus het ’n vertroostende boodskap aan mense verkondig wat soos ’n beskadigde riet omgebuig en selfs vertrap was. Hulle was soos ’n lamppit wat smeul, asof hulle laaste bietjie lewensvonk byna uitgeblus was. Jesus het in figuurlike sin beskadigde riete nie verbrysel of smeulende pitte uitgedoof nie, hy het eerder geteisterdes jammer gekry, hulle geleer en genees en die geregtigheid van Jehovah God aan hulle verduidelik (Matteus 12:10-21). Soos Jesaja se profesie voorspel het, het daardie soort geregtigheid mense met hoop besiel.
Barmhartigheid en Jehovah se geregtigheid
Barmhartigheid is ’n wesenlike deel van God se geregtigheid. Dit het duidelik geword toe Jesus op die aarde was. Hy het God se standaarde van geregtigheid en regverdigheid volmaak weerspieël. Maar die Joodse skrifgeleerdes en Fariseërs wou regverdigheid verkry deur die navolging van streng wette—waarvan hulle die meeste self gemaak het. Hulle wettiese geregtigheid het gewoonlik barmhartigheid uitgeskakel. Baie botsings tussen Jesus en die Fariseërs het om hierdie geskil gedraai: Wat is ware geregtigheid en regverdigheid?—Matteus 9:10-13; Markus 3:1-5; Lukas 7:36-47.
Jesus het getoon hoe ander op ’n reg en regverdige manier behandel moet word. ’n Man wat goed met die Wet vertroud was, het Jesus eenkeer gevra wat nodig is om die ewige lewe te beërf. In antwoord daarop het Jesus hom ’n vraag gevra en hom geprys toe hy geantwoord het dat die twee belangrikste wette is om God met jou hele hart, siel, verstand en krag lief te hê en jou naaste soos jouself lief te hê. Toe het die man gevra: “Wie is dan my naaste?” Jesus het hom geantwoord deur die illustrasie van die barmhartige Samaritaan te vertel.—Lukas 10:25-37.
Jehovah se regverdigheid en barmhartige geregtigheid word toegelig deur Jesus se illustrasie van die Samaritaan. Deur ’n beseerde man wat hy nie geken het nie op onselfsugtige wyse te help, het die Samaritaan iets gedoen wat opreg, regverdig en barmhartig was. Toe Jesus op aarde was, het hy dieselfde gees geopenbaar. Hy was regverdig. Daarbenewens het hy sy lewe gegee vir behoeftiges, vir sondige en onvolmaakte mense wat aan lyding, siekte en die dood onderworpe was. Die apostel Paulus het regverdigheid met die losprysvoorsiening verbind. Hy het geskryf: “Soos dit deur een oortreding vir alle soorte mense tot veroordeling gelei het, net so lei dit ook deur een daad van regverdiging [of, “een regverdige daad”, voetnoot in naslaanuitgawe] vir alle soorte mense tot regverdigverklaring tot die lewe” (Romeine 5:18). Hierdie “een regverdige daad” was God se manier om die gehoorsame mensdom te red van die rampspoedige gevolge van Adam se sonde, waarvoor hulle nie regstreeks verantwoordelik was nie.
Die oogmerk van God se geregtigheid is om die sondige mensdom los te koop en terselfdertyd regverdige beginsels te handhaaf. Om sonde te ignoreer sou onregverdig sowel as liefdeloos gewees het, want dit sou wetteloosheid aangemoedig het. Aan die ander kant, as God se geregtigheid tot beloning of straf beperk was, sou die mensdom se situasie hopeloos gewees het. Volgens die Bybel is ‘die loon wat die sonde betaal die dood’ en ‘is daar nie ’n regverdige mens nie, nie eens een nie’ (Romeine 3:10; 6:23). Hoewel dit ’n groot opoffering van Hom en sy geliefde Seun geverg het, het Jehovah ’n soenofferande vir sondes voorsien.—1 Johannes 2:1, 2.
Die losprys toon dat Goddelike geregtigheid ten nouste met beginselvaste liefde (Grieks, a·gaʹpe) verband hou. God se geregtigheid is in werklikheid die uitvoering van sy regverdige beginsels—’n weerspieëling van die sedelike standaarde wat hy voorstaan. Wanneer a·gaʹpe dus deur God uitgeoefen word, is dit liefde waarop Goddelike geregtigheid gegrond is (Matteus 5:43-48). As ons Jehovah se geregtigheid dus werklik verstaan, sal ons sy regterlike beslissings geheel en al vertrou. As “die Regter van die ganse aarde” doen hy altyd wat reg is.—Genesis 18:25; Psalm 119:75, NW.
Volg Jehovah se geregtigheid na
Die Bybel spoor ons aan om “navolgers van God” te word (Efesiërs 5:1). Dit beteken dat ons sy geregtigheid asook sy liefde moet navolg. Maar aangesien ons onvolmaak is, is ons weë nie so verhewe soos Jehovah God s’n nie (Jesaja 55:8, 9; Esegiël 18:25). Hoe kan ons dus toon dat ons liefhebbers van regverdigheid en geregtigheid is? Deur ons te beklee met ‘die nuwe persoonlikheid, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is’ (Efesiërs 4:24). Dan sal ons dít liefhê wat God liefhet, en haat wat hy haat. “Ware regverdigheid” verwerp geweld, onsedelikheid, onreinheid en afvalligheid, want hierdie dinge skend dít wat heilig is (Psalm 11:5; Efesiërs 5:3-5; 2 Timoteus 2:16, 17). Goddelike geregtigheid beweeg ons ook om opregte belangstelling in ander te toon.—Psalm 37:21; Romeine 15:1-3.
As ons bowendien die barmhartige aard van God se geregtigheid waardeer, sal ons nie geneig wees om geestelike broers of susters te oordeel nie. Sal ons hulle ooit so goed kan verstaan soos Jehovah hulle verstaan? Sal ons hulle nie uit ons eie bevooroordeelde standpunt oordeel nie? Jesus het dus gewaarsku: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie; want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle vir julle uitmeet. Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Laat my toe om die strooihalm uit jou oog uit te haal’; wanneer daar, kyk! ’n balk in jou eie oog is? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien hoe om die strooihalm uit jou broer se oog uit te haal” (Matteus 7:1-5). ’n Eerlike ondersoek na ons eie onvolmaakthede sal verhoed dat ons oordele vel wat Jehovah as onregverdig sal beskou.
Aangestelde gemeentelike ouer manne het die verantwoordelikheid om in gevalle van ernstige sonde te oordeel (1 Korintiërs 5:12, 13). Wanneer hulle dit doen, hou hulle in gedagte dat God se geregtigheid waar moontlik barmhartigheid probeer betoon. As daar geen grondslag daarvoor is nie—soos in die geval van onberouvolle sondaars—kan barmhartigheid nie betoon word nie. Maar die ouer manne sit nie so ’n oortreder om wraaksugtige redes uit die gemeente nie. Hulle hoop dat die uitsetting self hom tot besinning sal bring. (Vergelyk Esegiël 18:23.) Onder Christus se hoofskap dien die ouer manne in die belang van geregtigheid, en dit sluit in dat hulle soos “’n toevlug teen die wind” is (Jesaja 32:1, 2). Hulle moet dus onpartydig en billik wees.—Deuteronomium 1:16, 17.
Saai saadjies in regverdigheid
Terwyl ons op God se regverdige nuwe wêreld wag, moet ons ‘regverdigheid soek’ sodat ons Goddelike guns kan geniet (Sefanja 2:3, NW; 2 Petrus 3:13). Hierdie gedagte word pragtig weergegee in hierdie woorde in Hosea 10:12: “Saai vir julle saad in regverdigheid; oes in ooreenstemming met liefderyke goedhartigheid. Bewerk vir julle bewerkbare grond, wanneer daar tyd is om Jehovah te soek totdat hy kom en julle in regverdigheid onderrig.”—NW.
In ons daaglikse lewe het ons baie geleenthede om ‘saad in regverdigheid te saai’ net soos Jesus in sy gelykenis van die barmhartige Samaritaan geïllustreer het. Jehovah sal seker maak dat ons ‘in ooreenstemming met liefderyke goedhartigheid oes’. As ons in die “pad van geregtigheid” bly wandel, sal ons voortdurend onderrigting in regverdigheid onder die Koninkryksheerskappy ontvang (Jesaja 40:14, NW). Namate tyd verbygaan, sal ons ongetwyfeld selfs in grotere mate tot die besef kom dat Jehovah ’n liefhebber van regverdigheid en geregtigheid is.—Psalm 33:4, 5, NW.
[Prent op bladsy 23]
Die barmhartige Samaritaan het Jehovah se geregtigheid toegelig
[Prent op bladsy 23]
Jesus het vir geteisterde mense, wat soos beskadigde riete was, innig jammer gevoe