Jona leer aangaande Jehovah se barmhartigheid
JEHOVAH het ’n toewysing vir sy profeet Jona. Dit is die negende eeu v.G.J., en Jerobeam II heers in Israel. Jona is van Gat-Hefer, ’n Sebulonitiese stad (Josua 19:10, 13; 2 Konings 14:25). God gaan Jona na die Assiriese hoofstad Nineve stuur wat meer as 800 kilometer noordoos van sy tuisdorp geleë is. Hy moet die Nineviete waarsku dat vernietiging deur God hulle in die gesig staar.
Jona het dalk gedink: ‘Moet ek na daardie stad en nasie toe gaan? Hulle is nie eers aan God toegewy nie. Daardie bloeddorstige Assiriërs het nooit soos die Israeliete ’n verbond met Jehovah gesluit nie. Wat meer is, mense van daardie goddelose nasie meen dalk dat my waarskuwing ’n dreigement is en verower Israel dalk! Nie ek nie! Ek sal nie gaan nie. Ek sal Joppe toe vlug en in die teenoorgestelde rigting wegvaar—al die pad tot in Tarsis, reg aan die ander kant van die Groot See. Dis wat ek sal doen!’—Jona 1:1-3.
Gevaar op see!
Nie lank daarna nie is Jona in Joppe aan die Middellandse kus. Hy betaal sy reisgeld en gaan aan boord van ’n skip wat onderweg is na Tarsis, wat oor die algemeen met Spanje geassosieer word, meer as 3 500 kilometer wes van Nineve af. Wanneer hulle op see is, gaan die moeë profeet na onder en raak aan die slaap. Kort voor lank laat Jehovah ’n sterk wind oor die see opkom, en elke bevreesde matroos roep tot sy eie god om hulp. Die skip rol en stamp so verskriklik dat hulle van die vrag oorboord gooi om die vaartuig ligter te maak. Maar dit lyk nog of die skip gaan sink, en Jona hoor hoe die beangste kaptein uitroep: “Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God! Miskien sal dié God aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie.” Jona staan op en gaan op die dek uit.—Jona 1:4-6.
“Kom en laat ons loot”, sê die matrose, “dan sal ons weet om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het.” Die lot val op Jona. Stel jou sy angs voor toe die matrose sê: “Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit watter volk is jy?” Jona sê dat hy ’n Hebreër is wat “die HERE, die God van die hemel” aanbid en dat hy eerbiedige vrees het vir die een “wat die see en die droë land gemaak het”. Die storm het hulle oorval omdat hy van die teenwoordigheid van Jehovah af wegvlug pleks van gehoorsaam te wees en God se boodskap na Nineve te neem.—Jona 1:7-10.
Die matrose vra: “Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar?” Namate die see onstuimiger word, sê Jona: “Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.” Omdat die manne nie Jehovah se kneg in die see wil gooi waar hy gewis sal sterf nie, probeer hulle die droë land haal. Maar die matrose is onsuksesvol, en hulle roep uit: “Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, HERE, het gedoen na u welbehae.”—Jona 1:11-14.
In die see!
Daarna gooi die matrose Jona oorboord. Wanneer hy in die malende see wegsink, begin dit bedaar. Toe hulle dit sien, begin ‘die manne die HERE vrees met ’n groot vrees, en hulle bring ’n slagoffer aan die HERE en doen geloftes’.—Jona 1:15, 16.
Terwyl Jona in die water wegsink, bid hy ongetwyfeld. Dan voel hy hoe hy in ’n sagte kanaal afgaan voordat hy in ’n groter holte ingly. Hy kan verbasend genoeg nog asemhaal! Nadat Jona van die seegras om sy kop ontslae geraak het, sien hy dat hy hom in ’n waarlik unieke plek bevind. Dit is omdat ‘die HERE ’n groot vis beskik het om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis’.—Jona 1:17.
Jona se vurige gebed
In die buik van die groot vis het Jona tyd om te bid. Sommige van sy woorde kom ooreen met sekere psalms. Jona het later sy gebede opgeteken waarin hy wanhoop sowel as berou uitspreek. Byvoorbeeld, dit het vir hom gelyk asof die vis se buik Sjeool, sy graf, sou word. Daarom het hy gebid: “Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk [“Sjeool”, NW] het ek geroep om hulp—U het my stem gehoor” (Jona 2:1, 2). Twee Opgangsliedere—wat waarskynlik deur Israeliete gesing is terwyl hulle vir jaarlikse feeste opgegaan het na Jerusalem—bevat soortgelyke gedagtes.—Psalm 120:1; 130:1, 2.
Terwyl Jona nadink oor hoe hy in die see weggesink het, bid hy: “U [Jehovah] tog het my in die diepte gewerp, in die hart [die middel] van die see, sodat ’n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.”—Jona 2:3; vergelyk Psalm 42:8; 69:3.
Jona vrees dat sy ongehoorsaamheid hom God se guns sal kos en dat hy nooit weer God se tempel sal sien nie. Hy bid: “En wat my betref, ek het gesê: ‘Ek is van voor u oë verdryf! Hoe sal ek weer u heilige tempel aanskou?’” (Jona 2:4, NW; vergelyk Psalm 31:23.) Jona se situasie lyk so sleg dat hy sê: “Waters het my omring tot aan die siel toe [en sy lewe in gevaar gestel], die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai.” (Jona 2:5; vergelyk Psalm 69:2.) Stel jou Jona se benarde toestand voor, want hy sê verder: “Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge [binne-in die vis], die grendels [soos dié van ’n graf] van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek [op die derde dag], HERE my God!”—Jona 2:6; vergelyk Psalm 30:4.
Hoewel hy in die vis se buik is, dink Jona nie: ‘Ek is so terneergedruk dat ek nie kan bid nie.’ In plaas daarvan bid hy: “Toe my siel in my versmag het [toe hy byna gesterf het], het ek aan die HERE gedink [in geloof, as die Een met ongeëwenaarde krag en barmhartigheid]; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel” (Jona 2:7). Van die hemelse tempel af het God Jona gehoor en hom gered.
Jona bid ten slotte: “Die wat nietige afgode vereer [deur op lewelose afgodsbeelde te vertrou], verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is [deur die Een wat hierdie eienskap betoon te versaak]. Ek daarenteen sal aan U [Jehovah God] offer met ’n stem van lof; wat ek beloof het [gedurende hierdie ondervinding of by ander geleenthede], sal ek betaal. Die heil behoort aan die HERE.” (Jona 2:8, 9; vergelyk Psalm 31:7; 50:14.) Omdat hy weet dat God die enigste een is wat hom van die dood kan verlos, skryf die berouvolle profeet (soos konings Dawid en Salomo voor hom) redding aan Jehovah toe.—Psalm 3:9; Spreuke 21:31, NW.
Jona gehoorsaam
Ná baie bepeinsing en ernstige gebed voel Jona hoe hy uitgeforseer word deur die kanaal waardeur hy ingekom het. Uiteindelik word hy op droë land uitgewerp (Jona 2:10). Jona is dankbaar dat hy gered is, en daarom gehoorsaam hy God se woorde: “Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Nineve, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê” (Jona 3:1, 2). Jona vertrek na die Assiriese hoofstad. Wanneer hy uitvind watter dag dit is, besef hy dat hy drie dae in die vis se buik was. Die profeet kruis die Eufraatrivier by sy groot westelike boog, gaan oos deur noordelike Mesopotamië, bereik die Tigrisrivier en kom uiteindelik by die groot stad uit.—Jona 3:3.
Jona gaan Nineve, ’n groot stad, binne. Hy stap nog ’n dag verder en sê dan: “Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes.” Is Jona wonderdadig ’n kennis van die Assiriese taal gegee? Daar word nie vir ons gesê nie. Maar selfs as hy in Hebreeus praat en iemand vir hom tolk, lewer sy verkondiging goeie resultate. Die manne van Nineve begin geloof in God stel. Hulle roep ’n vas uit en trek rougewade aan, van die kleinste tot die grootste van hulle. Wanneer die nuus die koning van Nineve bereik, staan hy van sy troon af op, haal sy ampsgewaad af, trek ’n rougewaad aan en gaan sit in die as.—Jona 3:4-6.
Hoe het dit Jona nie verbaas nie! Die Assiriese koning stuur aankondigers uit met die uitroep: “Geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie; maar mens en dier moet ’n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep, en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef. Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie?”—Jona 3:7-9.
Die Nineviete gee gehoor aan hulle koning se bevel. Wanneer God sien dat hulle hulle bekeer het van hulle verkeerde weg, voel hy berou oor die onheil wat hy gesê het hy hulle sou aandoen, daarom doen hy dit nie (Jona 3:10). As gevolg van hulle berou, nederigheid en geloof besluit Jehovah om nie die voorgenome oordeel oor hulle te bring nie.
Die dikmond profeet
Veertig dae gaan verby en niks gebeur met Nineve nie (Jona 3:4). Jona besef dat die Nineviete nie vernietig gaan word nie, daarom is hy hoogs ontevrede en word hy baie kwaad en bid: “Ag, HERE, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U ’n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil. o HERE, neem dan nou tog my siel van my weg, want dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” God antwoord hom met hierdie vraag: “Het jy rede om vertoornd te wees?”—Jona 4:1-4.
Daarop loop Jona uit die stad uit. Hy gaan ooswaarts en rig ’n skerm op sodat hy in die skaduwee daarvan kan sit totdat hy sien wat met die stad gebeur. Daarop het Jehovah uit medelye ‘’n fleskalbasplant laat opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry’. Hoe bly was Jona tog oor die fleskalbasplant! Maar God laat met dagbreek ’n wurm aan die plant vreet, en dit begin verwelk. Kort voor lank het dit heeltemal verdroog. God stuur ook ’n skroeiende oostewind. Die son steek die profeet nou op sy kop sodat hy duiselig raak. Hy hou aan vra om te sterf. Ja, Jona sê herhaaldelik: “Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.”—Jona 4:5-8; vgl. NW.
Jehovah praat nou. Hy vra vir Jona: “Het jy rede om vertoornd te wees oor die wonderboom [“fleskalbasplant”, NW]?” Jona antwoord: “Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe.” In wese sê Jehovah nou vir die profeet: ‘Jy het jammer gevoel vir die fleskalbasplant. Maar jy het nie daaraan gewerk of dit laat groei nie. Dit het opgekom en vergaan as ’n blote groeisel van die nag.’ God redeneer verder: ‘Wat my betref, moet ek nie jammer voel vir die groot stad Nineve nie, waarin 120 000 manne woon wat nie die verskil tussen hulle regter- en linkerhand ken nie, buiten baie huisdiere?’ (Jona 4:9-11). Die regte antwoord is voor die hand liggend.
Jona is berouvol en hy lewe voort om die Bybelboek te skryf wat sy naam dra. Hoe het hy uitgevind dat die matrose Jehovah gevrees het, Hom ’n offer gebring het en geloftes gedoen het? Deur Goddelike inspirasie of miskien by die tempel by een van die matrose of passasiers.—Jona 1:16; 2:4.
“Die teken van Jona”
Toe skrifgeleerdes en Fariseërs Jesus Christus vir ’n teken gevra het, het hy gesê: “’n Goddelose en owerspelige geslag hou aan om ’n teken te soek, maar dit sal geen teken gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet.” Jesus het bygevoeg: “Want net soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die reusagtige vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matteus 12:38-40). Joodse dae het met sononder begin. Christus het op Vrydagmiddag, 14 Nisan 33 G.J., gesterf. Sy liggaam is voor sonsondergang van daardie dag in ’n graf geplaas. Vyftien Nisan het op daardie aand begin en het voortgeduur tot sononder op Saterdag, die sewende en laaste dag van die week. Teen daardie tyd het 16 Nisan begin en het tot sonsondergang geduur van wat ons Sondag noem. Jesus was gevolglik op 14 Nisan ten minste ’n tyd lank dood en in die graf, op 15 Nisan die hele dag in die graf en het die aandure van 16 Nisan in die graf deurgebring. Toe sekere vroue op Sondagoggend na die graf toe gekom het, was hy reeds opgewek.—Matteus 27:57-61; 28:1-7.
Jesus was vir dele van drie dae in die graf. Sy vyande het dus “die teken van Jona” gekry, maar Christus het gesê: “Mense van Nineve sal in die oordeel saam met hierdie geslag opstaan en sal dit veroordeel; want hulle het berou gehad op wat Jona gepreek het, maar kyk! iets meer as Jona is hier” (Matteus 12:41). Hoe waar tog! Die Jode het Jesus Christus—’n profeet baie groter as Jona—in hulle midde gehad. Hoewel Jona ’n voldoende teken vir die Nineviete was, het Jesus met baie meer gesag gepreek en baie meer stawende bewyse aangevoer as daardie profeet. Tog het die Jode oor die algemeen nie geglo nie.—Johannes 4:48.
As ’n nasie het die Jode nie die Profeet wat groter as Jona was nederig aanvaar nie, en hulle het nie geloof in Hom beoefen nie. Maar wat van hulle voorouers? Hulle het ook ’n gebrek aan geloof en ’n nederige gees gehad. Trouens, Jehovah het Jona klaarblyklik na Nineve gestuur om die kontras te toon tussen die berouvolle Nineviete en die hardnekkige Israeliete, wat ver te kort geskiet het in geloof en nederigheid.—Vergelyk Deuteronomium 9:6, 13.
Wat van Jona? Hy het geleer hoe groot God se barmhartigheid is. Verder moet die manier waarop Jehovah gereageer het op Jona se murmurering oor die medelye wat teenoor die berouvolle Nineviete betoon is ons daarvan weerhou om te kla wanneer ons hemelse Vader barmhartigheid teenoor mense in ons dag betoon. Trouens, laat ons ons verheug dat duisende hulle elke jaar in geloof en met nederige harte na Jehovah wend.