Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 7/15 bl. 10-15
  • Jehovah se gesin geniet kosbare eenheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se gesin geniet kosbare eenheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe goed en hoe lieflik!
  • Faktore wat eenheid bevorder
  • Teokratiese orde is noodsaaklik
  • Die Bestuursliggaam tree op
  • Dien in teokratiese eenheid
  • Die seën van eenheid onder broers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Handhaaf eenheid in hierdie laaste dae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Eenheid is ’n kenmerk van ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Christelike eenheid verheerlik God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 7/15 bl. 10-15

Jehovah se gesin geniet kosbare eenheid

“Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook [“in eenheid”, NW] saamwoon!”—PSALM 133:1.

1. In watter toestand verkeer baie gesinne vandag?

DIE gesin beleef vandag ’n krisis. In baie gesinne het huweliksbande breekpunt bereik. Egskeidings raak al hoe algemener, en baie kinders van geskeide egpare ondervind groot hartseer. Miljoene gesinne is ongelukkig en verdeeld. Tog is daar een gesin wat ware vreugde en eenheid geniet. Dit is die universele gesin van Jehovah God. In hierdie gesin voer derduisende onsigbare engele hulle toewysings in ooreenstemming met die Goddelike wil uit (Psalm 103:20, 21). Maar bestaan daar ’n gesin op die aarde wat sulke eenheid geniet?

2, 3. (a) Wie is nou ’n deel van God se universele gesin, en waarmee kan ons al die hedendaagse Getuies van Jehovah vergelyk? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

2 Die apostel Paulus het geskryf: “Ek [buig] my knieë voor die Vader, aan wie elke familie in die hemel en op die aarde sy naam te danke het” (Efesiërs 3:14, 15). Elke familie op die aarde het sy naam aan God te danke omdat hy die Skepper is. Hoewel daar geen mensegesinne in die hemel is nie, is God in figuurlike sin met sy hemelse organisasie getroud, en Jesus sal ’n geestelike bruid hê wat met hom in die hemel verenig sal wees (Jesaja 54:5; Lukas 20:34, 35; 1 Korintiërs 15:50; 2 Korintiërs 11:2). Getroue gesalfdes op die aarde is nou ’n deel van God se universele gesin, en Jesus se “ander skape”, met ’n aardse hoop, is die voornemende lede daarvan (Johannes 10:16; Romeine 8:14-17; Die Wagtoring, 15 Januarie 1996, bladsy 31). Al die hedendaagse Getuies van Jehovah kan egter met ’n verenigde wêreldwye gesin vergelyk word.

3 Is jy ’n deel van die wonderlike internasionale gesin van God se knegte? Indien wel, geniet jy een van die grootste seëninge wat enigeen kan geniet. Miljoene sal daarvan getuig dat Jehovah se wêreldwye gesin—sy sigbare organisasie—’n oase van vrede en eenheid in ’n wêreldse woestyn van twis en verdeeldheid is. Hoe kan die eenheid van Jehovah se wêreldwye gesin beskryf word? En deur watter faktore word sulke eenheid bevorder?

Hoe goed en hoe lieflik!

4. Hoe sal jy in jou eie woorde verduidelik wat Psalm 133 oor broederlike eenheid sê?

4 Die psalmis Dawid het ’n diepe waardering vir broederlike eenheid gehad. Hy is selfs geïnspireer om daaroor te sing! Stel jou hom met sy harp voor terwyl hy gesing het: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook [“in eenheid”, NW] saamwoon! Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid!”—Psalm 133:1-3.

5. Watter vergelyking kan op grond van Psalm 133:1, 2 tussen die Israeliete en God se hedendaagse knegte gemaak word?

5 Daardie woorde het betrekking gehad op die broederlike eenheid wat God se eertydse volk, die Israeliete, geniet het. Wanneer hulle vir hulle drie jaarlikse feeste in Jerusalem was, het hulle inderdaad in eenheid saamgewoon. Hoewel hulle aan verskillende stamme behoort het, was hulle een gesin. Wanneer hulle saam was, het dit ’n heilsame uitwerking op hulle gehad, soos verkwikkende salfolie met ’n aangename geur. Wanneer sulke olie op Aäron se hoof gegooi is, het dit langs sy baard en na die soom van sy klere afgeloop. Hierdie samekomste het ’n goeie uitwerking op die Israeliete gehad en het uiteindelik ’n invloed op die hele versamelde volk uitgeoefen. Misverstande is uit die weg geruim, en eenheid is bevorder. Soortgelyke eenheid bestaan vandag in Jehovah se wêreldwye gesin. Gereelde omgang het ’n heilsame geestelike uitwerking op die lede daarvan. Enige misverstande of moeilikhede word uit die weg geruim wanneer die raad van God se Woord toegepas word (Matteus 5:23, 24; 18:15-17). Jehovah se volk het groot waardering vir die wedersydse aanmoediging wat uit hulle broederlike eenheid voortspruit.

6, 7. Hoe was Israel se eenheid soos die dou van die berg Hermon, en waar kan God se seën vandag aangetref word?

6 Hoe was die feit dat Israel in eenheid saamgewoon het ook soos die dou van die berg Hermon? Wel, aangesien hierdie berg se piek meer as 2 800 meter bo seespieël is, is dit byna die hele jaar met sneeu bedek. Hermon se sneeubedekte piek laat die nagdampe kondenseer en vorm so die oorvloedige dou wat die plantegroei gedurende die lang droë seisoen bewaar. Koue lugstrome van die Hermonreeks af kan sulke dampe so ver suid as die omgewing van Jerusalem dra, waar dit as dou kondenseer. Die psalmis het dus tereg gepraat van “die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion”. Wat ’n pragtige beeld is dit tog van die verkwikkende invloed waardeur die eenheid onder Jehovah se gesin van aanbidders bevorder word!

7 Voordat die Christengemeente gestig is, was Sion, oftewel Jerusalem, die middelpunt van ware aanbidding. Dit was dus daar dat God gebied het dat die seën moet wees. Aangesien die Bron van alle seëninge op ’n verteenwoordigende wyse by die heiligdom in Jerusalem gewoon het, sou seëninge van daar af uitgaan. Maar omdat ware aanbidding nie meer tot net een plek beperk word nie, kan die seën, liefde en eenheid van God se knegte vandag regoor die aarde aangetref word (Johannes 13:34, 35). Wat is ’n paar faktore wat hierdie eenheid bevorder?

Faktore wat eenheid bevorder

8. Wat leer ons in Johannes 17:20, 21 aangaande eenheid?

8 Die eenheid van Jehovah se aanbidders is gegrond op gehoorsaamheid aan die Woord van God, wat korrek verstaan word, met inbegrip van die leringe van Jesus Christus. Deurdat Jehovah sy Seun in die wêreld ingestuur het om van die waarheid te getuig en om ’n offerdood te sterf, is die weg gebaan vir die stigting van die verenigde Christengemeente (Johannes 3:16; 18:37). Dat daar ware eenheid onder die lede van die gemeente moes wees, is duidelik gemaak toe Jesus gebid het: “Ek doen nie net aangaande hulle versoek nie, maar ook aangaande dié wat deur hulle woord geloof in my stel; sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat u my uitgestuur het” (Johannes 17:20, 21). Jesus se volgelinge het die soort eenheid verkry wat tussen God en sy Seun bestaan. Dit het plaasgevind omdat hulle aan God se Woord en Jesus se leringe gehoorsaam was. Dieselfde gesindheid is vandag ’n belangrike faktor in die eenheid van Jehovah se wêreldwye gesin.

9. Watter rol speel die heilige gees in die eenheid van Jehovah se volk?

9 Nog ’n faktor wat Jehovah se volk verenig, is die feit dat ons God se heilige gees, oftewel werkende krag, het. Dit stel ons in staat om die geopenbaarde waarheid van Jehovah se Woord te verstaan en hom dus in eenheid te dien (Johannes 16:12, 13). Die gees help ons om verdelende vleeslike werke soos twis, jaloesie, vlae van toorn en rusies te vermy. God se gees bring eerder die verenigende vrugte van liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing in ons voort.—Galasiërs 5:19-23.

10. (a) Watter vergelyking kan gemaak word tussen die liefde wat daar in ’n verenigde mensegesin bestaan en die liefde wat betoon word onder diegene wat aan Jehovah toegewy is? (b) Hoe het ’n lid van die Bestuursliggaam sy gevoelens uitgedruk oor die vergaderinge wat hy saam met sy geestelike broers kan geniet?

10 Lede van ’n verenigde gesin is lief vir mekaar en is bly om saam te wees. Op soortgelyke wyse het diegene in die verenigde gesin van Jehovah se aanbidders hom, sy Seun en hulle medegelowiges lief (Markus 12:30; Johannes 21:15-17; 1 Johannes 4:21). Net soos ’n liefdevolle natuurlike gesin dit geniet om saam te eet, is diegene wat aan God toegewy is verheug om by Christelike vergaderinge, byeenkomste en streekbyeenkomste teenwoordig te wees sodat hulle by goeie omgang en uitstekende geestelike voedsel kan baat vind (Matteus 24:45-47; Hebreërs 10:24, 25). ’n Lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het dit eenkeer soos volg gestel: “Vir my is dit een van die lewe se grootste vreugdes en ’n bron van bemoediging om met my broers te vergader. Ek hou daarvan om een van die eerstes by die Koninkryksaal te wees, en, indien moontlik, een van die laastes te wees wat huis toe gaan. Ek ervaar ’n innerlike vreugde wanneer ek met lede van God se volk gesels. Wanneer ek by hulle is, voel ek tuis.” Is dit hoe jy voel?—Psalm 27:4.

11. Watter werk verskaf Jehovah se Getuies veral geluk, en wat het dit tot gevolg wanneer ons God se diens die middelpunt van ons lewe maak?

11 Dit verskaf ’n verenigde gesin geluk wanneer hulle dinge saam doen. Op soortgelyke wyse put lede van Jehovah se gesin van aanbidders vreugde uit hulle verenigde Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk (Matteus 24:14; 28:19, 20). Gereelde deelname daaraan laat ons nader aan ander Getuies van Jehovah kom. As ons God se diens die middelpunt van ons lewe maak en al die bedrywighede van sy volk ondersteun, bevorder ons ook die gesinsgees onder ons.

Teokratiese orde is noodsaaklik

12. Wat is die kenmerke van ’n gelukkige en verenigde gesin, en watter reëling het die eenheid in eerste-eeuse Christengemeentes bevorder?

12 ’n Gesin wat ferme maar liefdevolle leierskap het en wat ordelik is, sal waarskynlik verenig en gelukkig wees (Efesiërs 5:22, 33; 6:1). Jehovah is ’n God van vreedsame orde, en almal in sy gesin beskou hom as “die Allerhoogste” (Daniël 7:18, 22, 25, 27; 1 Korintiërs 14:33). Hulle besef ook dat hy sy Seun, Jesus Christus, as die erfgenaam van alle dinge aangestel het en aan hom alle gesag in die hemel en op aarde gegee het (Matteus 28:18; Hebreërs 1:1, 2). Met Christus as die Hoof van die Christengemeente is dit ’n ordelike, verenigde organisasie (Efesiërs 5:23). Om toesig te hou oor die bedrywighede van die eerste-eeuse gemeentes was daar ’n bestuursliggaam wat bestaan het uit die apostels en ander geestelik volwasse “ouer manne”. Individuele gemeentes het aangestelde opsieners, oftewel ouer manne, en bedieningsknegte gehad (Handelinge 15:6; Filippense 1:1). Gehoorsaamheid aan diegene wat die leiding geneem het, het eenheid bevorder.—Hebreërs 13:17.

13. Hoe trek Jehovah mense tot hom aan, en wat het dit tot gevolg?

13 Maar gee al hierdie orde te kenne dat die eenheid van Jehovah se aanbidders aan sterk, onpersoonlike leierskap toegeskryf kan word? Beslis nie! Daar is niks liefdeloos omtrent God of sy organisasie nie. Jehovah trek mense tot hom aan deur liefde te betoon, en elke jaar word honderdduisende vrywillig en vreugdevol ’n deel van Jehovah se organisasie deur hulle te laat doop as ’n simbool van hulle heelhartige toewyding aan God. Hulle gees is soos dié van Josua, wat mede-Israeliete aangespoor het: “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien . . . Maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”—Josua 24:15.

14. Waarom kan ons sê dat Jehovah se organisasie teokraties is?

14 As ’n deel van Jehovah se gesin is ons nie net vreugdevol nie, maar ook veilig. Dit is so omdat sy organisasie teokraties is. God se Koninkryk is ’n teokrasie (van Grieks the·osʹ, god, en kraʹtos, ’n heerskappy). Dit is ’n heerskappy deur God, deur hom georden en opgerig. Jehovah se gesalfde “heilige nasie” is onderdanig aan sy heerskappy en is derhalwe ook teokraties (1 Petrus 2:9). Met die Groot Teokraat, Jehovah, as ons Regter, Wetgewer en Koning, het ons alle rede om veilig te voel (Jesaja 33:22, NW). Maar gestel een of ander geskil ontstaan wat ons vreugde, veiligheid en eenheid bedreig?

Die Bestuursliggaam tree op

15, 16. Watter geskil het in die eerste eeu ontstaan, en waarom?

15 Nou en dan moet ’n geskil dalk opgelos word om die eenheid van ’n gesin te bewaar. Gestel ’n geestelike probleem moes opgelos word om die eenheid van God se gesin van aanbidders in die eerste eeu G.J. te bewaar. Wat moes gedoen word? Die bestuursliggaam het opgetree en besluite oor geestelike sake geneem. Ons het ’n skriftuurlike verslag van sulke optrede.

16 Omstreeks 49 G.J. het die bestuursliggaam in Jerusalem vergader om ’n ernstige probleem op te los en daardeur die eenheid van “die huisgesin van God” te bewaar (Efesiërs 2:19). Sowat 13 jaar vroeër het die apostel Petrus vir Kornelius getuig, en die eerste Heidene, oftewel mense van die nasies, het gedoopte gelowiges geword (Handelinge, hoofstuk 10). Tydens Paulus se eerste sendingreis het talle Heidene die Christelike geloof aangeneem (Handelinge 13:1–14:28). Trouens, ’n gemeente van Heidense Christene is in Antiogië, Sirië, gestig. Sommige Joodse Christene het gemeen dat Heidense bekeerlinge besny moes word en die Mosaiese Wet moes onderhou, maar ander het nie hiermee saamgestem nie (Handelinge 15:1-5). Hierdie geskil kon aanleiding gegee het tot algehele onenigheid, selfs tot die stigting van aparte Joodse en Heidense gemeentes. Die bestuursliggaam het gevolglik onmiddellik stappe gedoen om die Christelike eenheid te bewaar.

17. Watter harmonieuse teokratiese prosedure word in Handelinge hoofstuk 15 beskryf?

17 Volgens Handelinge 15:6-22 het “die apostels en die ouer manne . . . bymekaargekom om op hierdie aangeleentheid in te gaan”. Daar was ook ander teenwoordig, onder andere ’n afvaardiging van Antiogië af. Petrus het eers verduidelik dat ‘mense van die nasies deur sy mond die goeie nuus gehoor en geglo het’. Toe het “die hele menigte” geluister terwyl Barnabas en Paulus vertel het van “die baie tekens en voortekens wat God deur hulle onder die nasies [oftewel Heidene] gedoen het”. Jakobus het hierna aan die hand gedoen hoe die vraag opgelos kan word. Nadat die bestuursliggaam ’n besluit geneem het, word daar vir ons gesê: “Die apostels en die ouer manne tesame met die hele gemeente [het] dit goedgedink om gekose manne uit hulle midde saam met Paulus en Barnabas na Antiogië te stuur.” Daardie “gekose manne”—Judas en Silas—het ’n bemoedigende brief na medegelowiges geneem.

18. Watter besluit het die bestuursliggaam in verband met die Mosaïese Wet geneem, en watter uitwerking het dit op Joodse en Heidense Christene gehad?

18 Die brief wat die bestuursliggaam se besluit bekend gemaak het, het met die woorde begin: “Die apostels en die ouer manne, broers, aan dié broers in Antiogië en Sirië en Silisië wat uit die nasies is: Groete!” Ander het hierdie geskiedkundige vergadering bygewoon, maar die bestuursliggaam het blykbaar uit “die apostels en die ouer manne” bestaan. God se gees het hulle gelei, want die brief sê: “Die heilige gees en ons het dit goedgedink om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: om julle voortdurend te onthou van afgodsofferandes en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:23-29). Daar is nie van Christene vereis om besny te word en die Mosaïese Wet te onderhou nie. Hierdie besluit het Joodse en Heidense Christene gehelp om in woord en in daad verenig te wees. Die gemeentes het hulle verheug, en die kosbare eenheid het voortgeduur, net soos dit vandag in God se wêreldwye gesin onder die geestelike leiding van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies voortduur.—Handelinge 15:30-35.

Dien in teokratiese eenheid

19. Waarom gedy eenheid in die gesin van Jehovah se aanbidders?

19 Eenheid gedy wanneer gesinslede met mekaar saamwerk. Dieselfde beginsel geld in die gesin van Jehovah se aanbidders. Aangesien die ouer manne en ander in die eerste-eeuse gemeente teokraties was, het hulle God in volle samewerking met die bestuursliggaam gedien en die besluite van hierdie liggaam aanvaar. Met behulp van die bestuursliggaam het die ouer manne ‘die woord verkondig’ en lede van die gemeentes het oor die algemeen ‘eenstemmig gespreek’ (2 Timoteus 4:1, 2; 1 Korintiërs 1:10). Dieselfde skriftuurlike waarhede is dus in die bediening en by Christelike vergaderinge aangebied, hetsy in Jerusalem, Antiogië, Rome, Korinte of in enige ander plek. Sulke teokratiese eenheid bestaan vandag.

20. Wat moet ons doen om ons Christelike eenheid te bewaar?

20 Om ons eenheid te bewaar, moet ons almal wat ’n deel van Jehovah se wêreldwye gesin is daarna streef om teokratiese liefde te betoon (1 Johannes 4:16). Ons moet ons aan God se wil onderwerp en diepe respek vir ‘die getroue slaaf’ en die Bestuursliggaam toon. Soos ons toewyding aan God is ons gehoorsaamheid natuurlik vrywillig en vreugdevol (1 Johannes 5:3). Hoe goed het die psalmis vreugde en gehoorsaamheid tog verbind! Hy het gesing: “Halleluja! Welgeluksalig is die man wat die HERE vrees, wat ’n groot welbehae in sy gebooie het.”—Psalm 112:1.

21. Hoe kan ons toon dat ons teokraties is?

21 Jesus, die Hoof van die gemeente, is heeltemal teokraties en doen altyd sy Vader se wil (Johannes 5:30). Laat ons dus ons Voorbeeld navolg deur teokraties en verenigd Jehovah se wil in volle samewerking met Sy organisasie te doen. Ons kan dan met hartgrondige vreugde en dankbaarheid die psalmis se lied herhaal: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook in eenheid saamwoon!”

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe kan ons Christelike eenheid met Psalm 133 in verband gebring word?

◻ Wat is ’n paar faktore wat eenheid bevorder?

◻ Waarom is teokratiese orde noodsaaklik vir die eenheid van God se volk?

◻ Wat het die eerste-eeuse bestuursliggaam gedoen om die eenheid te bewaar?

◻ Wat beteken dit vir jou om in teokratiese eenheid te dien?

[Prent op bladsy 13]

Die bestuursliggaam het opgetree om die eenheid te bewaar

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel