Lidia—’n gasvrye aanbidder van God
VAN die ou tyd af het knegte van die ware God hulle onderskei deur hulle gasvryheid (Genesis 18:1-8; 19:1-3). Vandag nog is gasvryheid, wat gedefinieer word as “liefde, geneentheid vir of goedhartigheid teenoor vreemdelinge”, ’n teken van ware Christelikheid wanneer dit uit ’n opregte hart spruit. Trouens, dit is ’n vereiste vir almal wat God op ’n aanneemlike wyse wil aanbid.—Hebreërs 13:2; 1 Petrus 4:9.
Lidia was iemand wat gasvryheid op ’n voorbeeldige wyse betoon het. Sy het die Christensendelinge wat Filippi besoek het “eenvoudig gedwing” om in haar huis te bly (Handelinge 16:15). Hoewel Lidia slegs kortliks in die Skrif genoem word, kan die bietjie wat oor haar gesê word as aanmoediging vir ons dien. Hoe? Wie was Lidia? Wat weet ons van haar?
“’n Purperverkoopster”
Lidia het in Filippi, die vernaamste stad van Masedonië, gewoon. Sy was egter van Tiatire, ’n stad in die streek Lidië, in die westelike deel van Klein-Asië. As gevolg hiervan beweer party dat “Lidia” ’n bynaam is wat sy in Filippi gekry het. Sy was met ander woorde “die Lidiër”, net soos die vrou vir wie Jesus Christus getuig het “die Samaritaanse vrou” genoem kon word (Johannes 4:9). Lidia was ’n verkoopster van “purper” of van artikels wat met hierdie kleurstof gekleur is (Handelinge 16:12, 14). Dat daar kleurstofmakers in Tiatira en in Filippi was, word gestaaf deur inskripsies wat deur argeoloë opgegrawe is. Dit is moontlik dat Lidia as gevolg van haar werk verhuis het, óf om haar eie onderneming te begin, óf as ’n verteenwoordiger van ’n maatskappy van Tiatiriese kleurders.
Purper kleurstof kon van verskillende bronne af kom. Die duurstes is afgetrek van sekere soorte weekdiere wat in die see gevind word. Volgens die eerste-eeuse Romeinse digter Martialis kon ’n mantel van die beste purper van Tirus (nog ’n sentrum waar hierdie stof vervaardig is) tot 10 000 sestersies, of 2 500 denarii, kos, wat gelykstaande is aan ’n arbeider se loon vir 2 500 dae. Dit is duidelik dat sulke kledingstukke weeldeartikels was wat net ’n paar mense kon bekostig. Dit is dus moontlik dat Lidia welgesteld was. Sy was in alle geval in staat om gasvryheid aan die apostel Paulus en sy metgeselle—Lukas, Silas, Timoteus en miskien ander—te betoon.
Paulus se predikingswerk in Filippi
Ongeveer die jaar 50 G.J. het Paulus vir die eerste keer in Europa voet aan wal gesit en in Filippi begin preek.a Wanneer Paulus in ’n nuwe stad aangekom het, was dit sy gewoonte om die sinagoge te besoek sodat hy eers vir die Jode en proseliete kon preek wat daar vergader het. (Vergelyk Handelinge 13:4, 5, 13, 14; 14:1.) Volgens party bronne het die Romeinse wet die Jode egter belet om hulle godsdiens binne die “heilige grense” van Filippi te beoefen. Nadat die sendelinge “’n paar dae” daar deurgebring het, het hulle dus op die Sabbatdag ’n plek langs ’n rivier buite die stad gevind waar ‘hulle gedink het ’n bidplek is’ (Handelinge 16:12, 13). Dit was blykbaar die Gangitesrivier. Daar het die sendelinge net vroue gevind, onder andere Lidia.
“’n Aanbidder van God”
Lidia was “’n aanbidder van God”, maar sy was waarskynlik ’n bekeerling tot Judaïsme wat op soek na godsdienswaarheid was. Hoewel Lidia ’n goeie werk gehad het, was sy nie materialisties nie. Sy het eerder tyd opsy gesit vir geestelike sake. “Jehovah het haar hart wyd oopgemaak om aandag te skenk aan die dinge wat deur Paulus gespreek is”, en Lidia het die waarheid aangeneem. Trouens, “sy en haar huisgenote [is] gedoop”.—Handelinge 16:14, 15.
Die Bybel sê nie spesifiek wie die ander lede van Lidia se huis was nie. Aangesien daar geen melding gemaak word van ’n eggenoot nie, was sy dalk ongetroud of ’n weduwee. “Haar huisgenote” kon moontlik uit familielede bestaan het, maar die term kan ook slawe of knegte insluit. In alle geval, Lidia het die dinge wat sy geleer het ywerig meegedeel aan diegene wat by haar gewoon het. En hoe verheug moes sy tog gewees het toe hulle geglo en die ware godsdiens aangeneem het!
“Sy het ons eenvoudig gedwing om te kom”
Voor die sendelinge Lidia ontmoet het, moes hulle miskien met huisvesting tevrede wees wat hulle op eie koste gekry het. Maar sy was bly dat sy alternatiewe huisvesting kon aanbied. Die feit dat sy daarop moes aandring, gee egter te kenne dat Paulus en sy metgeselle eers teëgestribbel het. Waarom? Paulus wou ‘die goeie nuus kosteloos verskaf, sodat hy sy reg in verband met die goeie nuus nie misbruik nie’ en vir niemand ’n las word nie (1 Korintiërs 9:18; 2 Korintiërs 12:14). Maar Lukas voeg by: “En toe sy en haar huisgenote gedoop is, het sy aangedring en gesê: ‘As julle van oordeel is dat ek getrou is aan Jehovah, kom dan in my huis in en bly daar.’ En sy het ons eenvoudig gedwing om te kom” (Handelinge 16:15). Lidia was allereers daaroor besorg om getrou aan Jehovah te wees, en haar aanbod van gasvryheid was blykbaar ’n blyk van haar geloof. (Vergelyk 1 Petrus 4:9.) Wat ’n uitstekende voorbeeld! Gebruik ons ook ons besittings om die belange van die goeie nuus te bevorder?
Die broers in Filippi
Toe Paulus en Silas ná die voorval met die demoonbesete diensmeisie uit die gevangenis bevry is, het hulle na Lidia se huis teruggekeer, waar hulle ’n paar broers gevind het (Handelinge 16:40). Die gelowiges in die pasgestigte gemeente in Filippi het Lidia se huis moontlik as ’n gereelde vergaderplek gebruik. Dit is logies om te dink dat haar huis ’n middelpunt van teokratiese bedrywigheid in die stad gebly het.
Die aanvanklike hartlike gasvryheid wat Lidia betoon het, was ’n kenmerk van die hele gemeente. Ondanks hulle armoede het die Filippense by verskeie geleenthede die dinge wat Paulus nodig gehad het aan hom gestuur, en die apostel was dankbaar daaroor.—2 Korintiërs 8:1, 2; 11:9; Filippense 4:10, 15, 16.
Lidia word nie in die brief gemeld wat Paulus omstreeks 60-61 G.J. aan die Filippense gestuur het nie. Die Skrif sê nie wat met haar gebeur het ná die gebeure wat in Handelinge hoofstuk 16 beskryf is nie. Die vlugtige vermelding van hierdie dinamiese vrou wek nietemin by ons die begeerte om ‘die weg van gasvryheid te volg’ (Romeine 12:13). Hoe dankbaar is ons tog om Christene soos Lidia in ons midde te hê! Hulle gees dra grootliks by tot die hartlike en vriendelike atmosfeer in die gemeentes, tot heerlikheid van Jehovah God.
[Voetnoot]
a Filippi was een van die belangrikste stede van Masedonië en was ’n relatief welvarende militêre kolonie wat volgens die jus italicum (Italiese Wet) bestuur is. Hierdie wetgewing het die Filippense regte gewaarborg wat ooreengestem het met dié wat Romeinse burgers geniet het.—Handelinge 16:9, 12, 21.
[Venster op bladsy 28]
Joodse lewe in Filippi
Die lewe in Filippi kon sekerlik nie vir Jode en bekeerlinge tot Judaïsme maklik gewees het nie. Daar was dalk sekere anti-Joodse gevoelens, want kort voor Paulus se besoek het keiser Claudius die Jode uit Rome verban.—Vergelyk Handelinge 18:2.
Dit is betekenisvol dat Paulus en Silas voor die magistrate gesleep is nadat hulle die diensmeisie met ’n waarsêende gees genees het. Haar eienaars, wat nou ’n winsgewende bron van inkomste kwyt was, het die vooroordele van hulle medeburgers uitgebuit deur te beweer: “Hierdie mense bring ons stad in groot beroering, omdat hulle Jode is, en hulle verkondig gebruike wat vir ons nie geoorloof is om te aanvaar of te beoefen nie, aangesien ons Romeine is.” Paulus en Silas is gevolglik met stokke geslaan en in die gevangenis gegooi (Handelinge 16:16-24). In so ’n klimaat het dit moed geverg om Jehovah, die God van die Jode, openlik te aanbid. Maar Lidia het klaarblyklik nie omgegee om anders te wees nie.
[Prente op bladsy 27]
Ruïnes in Filippi