Terug tot stof—Hoe?
“STOF is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Toe die eerste mens, Adam, daardie woorde gehoor het, het hy geweet wat om te verwag. Hy is uit die stof van die aarde gemaak en sou tot niks meer as stof terugkeer nie. Hy sou sterf omdat hy ongehoorsaam was aan sy Skepper, Jehovah God.—Genesis 2:7, 15-17; 3:17-19.
Die Bybel toon dat mense van stof gemaak is. Dit sê ook: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4; Psalm 103:14). Die dood het al miljoene mense in droefheid gedompel en het telkemale vrae geopper oor wat met die stoflike oorskot van mense gedoen moet word.
Gebruike van die hede en verlede
Wat het God se volk van die ou tyd met die stoflike oorskot gedoen? In die eerste deel van die Bybel word verskillende maniere van lykbesorging genoem, onder andere om ’n dooie in die grond te begrawe (Genesis 35:8). Die aartsvader Abraham en sy vrou, Sara, sowel as hulle seun Isak en kleinseun Jakob is in die spelonk van Magpela begrawe (Genesis 23:2, 19; 25:9; 49:30, 31; 50:13). Die Israelitiese rigters Gideon en Simson is ‘in die grafte van hulle vaders begrawe’ (Rigters 8:32; 16:31). Dit gee te kenne dat God se eertydse volk familiebegraafplekke verkies het. Toe Jesus Christus in die eerste eeu G.J. gesterf het, is sy liggaam in ’n pas uitgekapte rotsgraf neergelê (Matteus 27:57-60). Die stoflike oorskot is dus gewoonlik in die grond begrawe of in ’n grafkelder geplaas. Dit is steeds die gebruik in die meeste wêrelddele.
Vandag maak ’n ernstige tekort aan ruimte en die hoë koste van grond dit egter in party wêrelddele al hoe moeiliker om begraafruimte te kry. Party mense oorweeg derhalwe ander maniere van lykbesorging.
Dit word al hoe gebruikliker om ná die verassing van die stoflike oorskot die as te strooi. In Engeland word dit nou met ongeveer 40 persent van die dooies gedoen. In Swede, waar meer as 80 persent van die oorledenes in stedelike gebiede veras word, is sekere woude aangedui as plekke waar as gestrooi kan word. En in Sjanghai en ’n paar ander kusstede in China reël die stadsowerheid verskeie kere per jaar massastrooiplegtighede ter see.
Waar kan as gestrooi word? Nie sommer op enige plek nie. Party is dalk bang dat die strooi van as skadelik vir die omgewing is. Maar enige moontlike gevaar van epidemies word in werklikheid deur verassing uit die weg geruim. Sekere begraafplase in Engeland en gedenkparke in die Verenigde State sit grasperke of blomtuine as strooiplekke opsy. Christene stel natuurlik veral belang in die skriftuurlike beskouing oor verassing en die strooi van as.
Wat is die skriftuurlike beskouing?
In ’n uitspraak teen “die koning van Babel” het die profeet Jesaja gesê: “Jý word nie begrawe nie, jy word weggegooi” (Jesaja 14:4, 19, NAV). Moet die strooi van as met so ’n geval van vernedering vergelyk word? Nee, want daar is geen verwysing na verassing en die bewaring of die strooi van as nie.
Jesus Christus het gepraat van die aardse opstanding van die dooies wat gedurende sy Duisendjarige Heerskappy sal plaasvind, toe hy gesê het: ‘Almal wat in die gedenkgrafte is, sal my stem hoor en sal uitkom’ (Johannes 5:28, 29). Maar die feit dat ’n spesifieke graf nie ’n noodsaaklike vereiste is om iemand op te wek nie, word in nog ’n profetiese beskrywing van die opstanding bevestig. Openbaring 20:13 sê: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee.” Dit maak dus nie saak waar of hoe ’n mens ‘tot stof terugkeer’ nie. Wat eerder van belang is, is of jy deur God onthou en opgewek word. (Job 14:13-15; vergelyk Lukas 23:42, 43.) Jehovah het beslis nie indrukwekkende grafte nodig om hom te help om mense te onthou nie. Verassing verhinder nie dat ’n mens ’n opstanding kry nie. En indien die as met ’n gepaste beweegrede en sonder valse godsdiensseremonies gestrooi word, sal dit nie strydig met die Skrif wees nie.
Diegene wat besluit om die as te strooi, sal aandag aan die landswet moet skenk. Dit sal ook gepas wees dat hulle die gevoelens van die bedroefde familielede en ander in ag neem. Dit sal vir knegte van Jehovah verstandig wees om daarop te let dat hulle nie hulle Skriftuurlike vryheid in hierdie opsig op ’n manier uitoefen wat oneer sal bring op die goeie naam wat Christene dra nie. Dit is veral belangrik in lande waar verassing en die strooi van as wettig is, maar nog nie heeltemal in die gemeenskap aanvaar word nie. ’n Christen sal natuurlik enige ritusse en gebruike vermy wat gebaseer is op die opvatting dat die mensesiel onsterflik is.
Algehele vryheid van die graf!
Party wat ten gunste daarvan is dat as gestrooi word, sê dat dit vryheid daarvan beteken om in grafte begrawe te word. Die grootste verligting sal egter die vervulling wees van die Bybel se belofte dat ‘die dood as laaste vyand tot niet gemaak gaan word’.—1 Korintiërs 15:24-28.
Dit beteken dat grafte, grafkelders, selfs verassing en die strooi van as, tot die verlede sal behoort. Ja, die dood sal daar nie meer wees nie. Onder Goddelike inspirasie het die apostel Johannes geskryf: “Ek [het] ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’”—Openbaring 21:3, 4.
Al hierdie dinge sal gebeur wanneer mensedood wat die gevolg van Adam se sonde is geheel en al onder God se Koninkryk vernietig word. Dan sal die gehoorsame mensdom nie meer voor die moontlikheid te staan kom om tot stof terug te keer nie.
[Prente op bladsy 29]
Algemene lykbesorgingsmetodes
[Prent op bladsy 31]
As word in die Sagami-baai, Japan, gestrooi
[Erkenning]
Courtesy of Koueisha, Tokyo