Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 11/1 bl. 7-12
  • Wend jou tot Jehovah om vertroosting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wend jou tot Jehovah om vertroosting
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Vertroostende belofte word vervul
  • Iemand groter as Noag
  • Waar om vertroosting te vind
  • Tydens swaar beproewinge
  • Waar kan ware vertroosting gevind word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • ‘Vertroos al die treurendes’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Hoe God ons vertroos
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Laat Jehovah se krag jou vertroos
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 11/1 bl. 7-12

Wend jou tot Jehovah om vertroosting

“Mag die God wat volharding en vertroosting verskaf, gee dat julle dieselfde geestesgesindheid onder mekaar sal hê as wat Christus Jesus gehad het.”—ROMEINE 15:5.

 1. Waarom ontstaan daar elke dag ’n groter behoefte aan vertroosting?

MET elke dag wat verbygaan, ontstaan daar ’n groter behoefte aan vertroosting. ’n Bybelskrywer het meer as 1 900 jaar gelede gesê dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). In ons tyd is daar meer ‘gekreun’ en “pyn” as ooit tevore. Sedert die Eerste Wêreldoorlog het die mensdom die een krisis na die ander ervaar in die vorm van oorloë, misdaad en natuurrampe wat dikwels verband hou met die mens se wanbestuur van die aarde.—Openbaring 11:18.

 2. (a) Wie dra die grootste skuld vir die mensdom se huidige weë? (b) Watter feit gee ons ’n grondslag vir vertroosting?

2 Waarom was daar soveel lyding in ons tyd? Die Bybel gee die antwoord wanneer dit beskryf hoe Satan uit die hemel gewerp is nadat die Koninkryk in 1914 gebore is: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het” (Openbaring 12:12). Die duidelike bewys dat daardie profesie vervul word, beteken dat ons amper die einde van Satan se goddelose heerskappy bereik het. Wat ’n vertroosting is dit tog om te weet dat lewe op aarde binnekort sal terugkeer tot die vreedsame toestand wat bestaan het voor Satan ons eerste ouers in opstand laat kom het!

 3. Wanneer het mense nie vertroosting nodig gehad nie?

3 In die begin het die mens se Skepper ’n pragtige park as ’n tuiste aan die eerste mensepaar voorsien. Dit was geleë in ’n gebied wat Eden genoem is, wat “Genot” of “Plesier” beteken (Genesis 2:8, voetnoot in NW). Daarbenewens het Adam en Eva volmaakte gesondheid geniet, met die vooruitsig om nooit te sterf nie. Dink net aan al die gebiede waarop hulle hulle vermoëns kon ontwikkel—tuinbou, kuns, bouwerk, musiek. Dink ook aan al die skeppingswerke wat hulle kon bestudeer terwyl hulle hulle opdrag uitgevoer het om die aarde te onderwerp en dit ’n paradys te maak (Genesis 1:28). Ja, Adam en Eva se lewe sou gevul gewees het met plesier en genot, nie met gekreun en pyn nie. Hulle sou beslis nie vertroosting nodig gehad het nie.

 4, 5. (a) Waarom het Adam en Eva die toets van gehoorsaamheid gefaal? (b) Wat het daartoe aanleiding gegee dat die mensdom vertroosting nodig het?

4 Maar wat Adam en Eva wel nodig gehad het, was om diepe liefde en waardering vir hulle goedhartige hemelse Vader aan te kweek. Sulke liefde sou hulle beweeg het om God onder alle omstandighede te gehoorsaam. (Vergelyk Johannes 14:31.) Ongelukkig het albei ons eerste ouers hulle regmatige Soewerein, Jehovah, nie gehoorsaam nie. Hulle het eerder toegelaat dat hulle onder die goddelose heerskappy van ’n gevalle engel, Satan die Duiwel, kom. Dit was Satan wat Eva verlei het om te sondig en om van die verbode vrug te eet. Daarna het Adam gesondig toe hy ook van die vrug van die boom geëet het waarvan God uitdruklik gesê het: “Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”—Genesis 2:17.

5 Sodoende het die sondige egpaar begin sterf. Toe God hulle ter dood veroordeel het, het hy ook vir Adam gesê: “Vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet” (Genesis 3:17, 18). Adam en Eva het derhalwe die geleentheid verbeur om van die onbewerkte aarde ’n paradys te maak. Nadat hulle uit Eden uitgedryf is, moes hulle hard werk om voedsel te verkry van die grond wat vervloek is. Hulle nakomelinge, wat hierdie sondige, sterwende toestand oorgeërf het, het gevolglik ’n groot behoefte aan vertroosting gehad.—Romeine 5:12.

’n Vertroostende belofte word vervul

 6. (a) Watter vertroostende belofte het God gemaak nadat die mens gesondig het? (b) Watter profesie oor vertroosting het Lameg geuiter?

6 Toe Jehovah oordeel oor die aanstigter van die mens se opstand uitgespreek het, het hy getoon dat hy ‘die God is wat vertroosting verskaf’ (Romeine 15:5). Hy het dit gedoen deur te belowe om ’n “saad” te stuur wat uiteindelik Adam se nageslag van die rampspoedige gevolge van Adam se opstand sou verlos (Genesis 3:15). Mettertyd het God ook ’n voorskou van hierdie verlossing gegee. Hy het Lameg, wat ’n latere nakomeling van Adam deur sy seun Set is, byvoorbeeld geïnspireer om te profeteer wat Lameg se seun sou doen: “Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het” (Genesis 5:29). In ooreenstemming met hierdie belofte is die seun Noag genoem, wat blykbaar “Rus” of “Troos” beteken.

 7, 8. (a) Watter situasie het daartoe gelei dat Jehovah berou gehad het oor die feit dat hy die mens geskep het, en wat het Hy hom derhalwe voorgeneem om te doen? (b) Hoe het Noag in ooreenstemming met die betekenis van sy naam opgetree?

7 Intussen het Satan aanhangers onder party van die hemelse engele verkry. Hulle het menseliggame aangeneem en aantreklike vroulike nakomelinge van Adam as vroue geneem. Hierdie onnatuurlike verbintenisse het die mensegemeenskap verder verderf en ’n goddelose ras voortgebring, die Nefilim, “neervellers”, wat die aarde met geweld gevul het (Genesis 6:1, 2, 4, 11; Judas 6). “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was . . . , het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.”—Genesis 6:5, 6.

8 Jehovah het hom voorgeneem om daardie goddelose wêreld deur ’n wêreldvloed te vernietig, maar hy het Noag eers ’n ark laat bou sodat lewe gespaar kon word. Sodoende is die menseras en die verskillende diersoorte gered. Hoe verlig moes Noag en sy gesin tog nie ná die Vloed gevoel het toe hulle uit die ark op ’n gereinigde aarde uitgekom het nie! Dit was voorwaar vertroostend om te vind dat daar nie meer ’n vloek op die aarde was nie, wat landboubedrywighede toe soveel makliker gemaak het! Lameg se profesie is inderdaad bewaarheid, en Noag se optrede het gestrook met die betekenis van sy naam (Genesis 8:21). As ’n getroue kneg van God het Noag ’n belangrike rol daarin gespeel om ’n mate van “vertroosting” aan die mensdom te verskaf. Maar die goddelose invloed van Satan en sy demoonengele het nie by die Vloed geëindig nie, en die mensdom kreun steeds onder die las van sonde, siekte en die dood.

Iemand groter as Noag

 9. Hoe is Jesus Christus ’n helper en trooster vir berouvolle mense?

9 Aan die einde van ongeveer 4 000 jaar van mensegeskiedenis het die beloofde Saad uiteindelik verskyn. Jehovah God is deur groot liefde vir die mensdom beweeg om sy enigverwekte Seun na die aarde te stuur om as ’n losprys vir die sondige mensdom te sterf (Johannes 3:16). Jesus Christus bring groot verligting vir berouvolle sondaars wat geloof in sy offerdood stel. Almal wat hulle lewe aan Jehovah toewy en gedoopte dissipels van sy Seun word, ondervind blywende verkwikking en vertroosting (Matteus 11:28-30; 16:24). Ten spyte van hulle onvolmaaktheid, verskaf dit hulle groot vreugde om God met ’n skoon gewete te dien. Hoe vertroostend is dit tog vir hulle om te weet dat hulle met die ewige lewe beloon sal word as hulle voortgaan om geloof in Jesus te beoefen! (Johannes 3:36; Hebreërs 5:9). As hulle weens swakheid ’n ernstige sonde pleeg, het hulle ’n helper, oftewel trooster, naamlik die verrese Here Jesus Christus (1 Johannes 2:1, 2). As hulle sulke sonde bely en skriftuurlike stappe doen sodat hulle nie beoefenaars van sonde word nie, verkry hulle verligting omdat hulle weet dat ‘God getrou en regverdig is om hulle hulle sonde te vergewe’.—1 Johannes 1:9; 3:6; Spreuke 28:13.

10. Wat leer ons uit die wonderwerke wat Jesus gedoen het toe hy op aarde was?

10 Terwyl Jesus op aarde was, het hy ook verkwikking verskaf deur mense van demone te bevry, deur elke soort siekte te genees en deur afgestorwe dierbares op te wek. Hierdie wonderwerke het mense weliswaar net tydelik tot voordeel gestrek, aangesien diegene wat op dié manier geseën is agterna oud geword en gesterf het. Maar Jesus het hierdeur getoon watter blywende toekomstige seëninge hy op die hele mensdom sal uitstort. Hy is nou ’n magtige hemelse Koning en sal binnekort baie meer doen as om net demone uit te dryf. Hy gaan hulle saam met hulle leier, Satan, in die afgrond werp waar hulle in ’n toestand van onbedrywigheid sal wees. Dan sal die glorieryke Duisendjarige Heerskappy van Christus begin.—Lukas 8:30, 31; Openbaring 20:1, 2, 6.

11. Waarom het Jesus homself “Here van die sabbat” genoem?

11 Jesus het gesê dat hy “Here van die sabbat” is, en baie van sy genesingsdade is op die Sabbatdag gedoen (Matteus 12:8-13; Lukas 13:14-17; Johannes 5:15, 16; 9:14). Waarom was dit die geval? Wel, die Sabbat was deel van God se Wet aan Israel en het dus as “’n skaduwee van die toekomstige goeie dinge” gedien (Hebreërs 10:1). Die ses werksdae van die week herinner ons aan die afgelope 6 000 jaar van die mens se slawerny aan Satan se verdrukkende heerskappy. Die Sabbatdag aan die einde van die week laat ons dink aan die vertroostende rus wat die mensdom gedurende die Duisendjarige Heerskappy van die Grotere Noag, Jesus Christus, gaan geniet.—Vergelyk 2 Petrus 3:8.

12. Na watter vertroostende ondervindinge kan ons uitsien?

12 Hoe verlig sal die aardse onderdane van Christus se heerskappy tog nie voel wanneer hulle vind dat hulle uiteindelik heeltemal vry van Satan se bose invloed is nie! Hulle sal nog verder vertroos word namate hulle liggaamlike, emosionele en verstandelike kwale genees word (Jesaja 65:17). Dink net aan hulle groot vreugde wanneer hulle dan hulle geliefdes uit die dood begin terugverwelkom! Op dié maniere sal God “elke traan van hulle oë afvee” (Openbaring 21:4). Namate die voordele van Jesus se losprysofferande progressief aangewend word, sal die gehoorsame onderdane van God se Koninkryk tot volmaaktheid groei en geheel en al bevry word van al die slegte gevolge van Adam se sonde (Openbaring 22:1-5). Dan sal Satan “vir ’n klein rukkie” vrygelaat word (Openbaring 20:3, 7). Alle mense wat Jehovah se regmatige soewereiniteit getrou ondersteun, sal met die ewige lewe beloon word. Stel jou net die onuitspreeklike vreugde en verligting voor om uiteindelik heeltemal ‘van die slawerny van die verderflikheid vrygemaak te word’! Sodoende sal die gehoorsame mense “die glorieryke vryheid van die kinders van God” geniet.—Romeine 8:21.

13. Waarom het alle ware Christene die vertroosting nodig wat God verskaf?

13 Intussen ondervind ons steeds die gekreun en pyn wat algemeen voorkom onder almal wat in Satan se goddelose stelsel lewe. Die toename in liggaamlike siekte en emosionele kwale raak alle soorte mense, onder andere getroue Christene (Filippense 2:25-27; 1 Tessalonisense 5:14). Daarbenewens moet ons as Christene dikwels die onregverdige bespotting en vervolging verduur wat Satan oor ons bring omdat ons “eerder aan God as heerser gehoorsaam [is] as aan mense” (Handelinge 5:29). As ons wil voortgaan om God se wil tot aan die einde van Satan se wêreld te doen, het ons dus die vertroosting, hulp en krag nodig wat Hy verskaf.

Waar om vertroosting te vind

14. (a) Watter belofte het Jesus die nag voor sy dood gemaak? (b) Wat moet ons doen as ons ten volle baat wil vind by die vertroosting van God se heilige gees?

14 Die nag voor sy dood het Jesus aan sy getroue apostels verduidelik dat hy binnekort van hulle sou weggaan en na sy Vader sou terugkeer. Dit het hulle verontrus en bedroef gemaak (Johannes 13:33, 36; 14:27-31). Omdat Jesus besef het dat hulle voortdurend vertroosting nodig het, het hy belowe: “Ek sal die Vader versoek, en hy sal julle ’n ander trooster gee om vir ewig by julle te wees” (Johannes 14:16, voetnoot in naslaanuitgawe). Jesus het hier na God se heilige gees verwys, wat 50 dae ná sy opstanding op sy dissipels uitgestort is.a God se gees het hulle onder meer vertroos tydens hulle beproewinge en hulle versterk om voort te gaan om God se wil te doen (Handelinge 4:31). Maar ons moenie dink dat ons hierdie hulp outomaties ontvang nie. Om ten volle daarby baat te vind, moet elke Christen voortdurend bid vir die vertroostende hulp wat God deur sy heilige gees voorsien.—Lukas 11:13.

15. Wat is party maniere waarop Jehovah vertroosting aan ons verskaf?

15 Nog ’n manier waarop God vertroosting voorsien, is deur sy Woord, die Bybel. Paulus het geskryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Romeine 15:4). Dit toon waarom dit nodig is om gereeld te studeer en te peins oor die dinge wat in die Bybel en Bybellektuur geskrywe is. Ons moet ook ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon, waar vertroostende gedagtes uit God se Woord bespreek word. Een van die vernaamste oogmerke van hierdie vergaderinge is om mekaar aan te moedig.—Hebreërs 10:25.

16. Wat moet God se vertroostende voorsienings ons beweeg om te doen?

16 Paulus se brief aan die Romeine toon verder hoe dit ons bevoordeel as ons van God se vertroostende voorsienings gebruik maak. “Mag die God wat volharding en vertroosting verskaf”, het Paulus geskryf, “gee dat julle dieselfde geestesgesindheid onder mekaar sal hê as wat Christus Jesus gehad het, sodat julle die God en Vader van ons Here Jesus Christus eendragtig uit een mond kan verheerlik” (Romeine 15:5, 6). Ja, as ons ten volle gebruik maak van God se vertroostende voorsienings, sal ons meer soos ons moedige Leier, Jesus Christus, word. Dit sal ons beweeg om altyddeur ons mond te gebruik om God te verheerlik in ons getuieniswerk, by ons vergaderinge, in private gesprekke met medegelowiges en in ons gebede.

Tydens swaar beproewinge

17. Hoe het Jehovah sy Seun vertroos, en met watter gevolg?

17 Jesus het op die nag voor sy pynlike dood “erg verontrus” en “diep bedroef” geword (Matteus 26:37, 38). Daarom het hy ’n entjie van sy dissipels af weggegaan en tot sy Vader om hulp gebid. “Hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor” (Hebreërs 5:7). Die Bybel deel ons mee dat “’n engel uit die hemel aan [Jesus] verskyn en hom versterk” het (Lukas 22:43). Die moedige en vreeslose manier waarop Jesus teenoor sy teenstanders opgetree het, lewer bewys dat die manier waarop God sy Seun vertroos het uiters doeltreffend was.—Johannes 18:3-8, 33-38.

18. (a) Watter tyd in die apostel Paulus se lewe was veral vir hom ’n beproewing? (b) Hoe kan ons ’n vertroosting wees vir hardwerkende, medelydende ouer manne?

18 Die apostel Paulus het ook tye van swaar beproewing deurgemaak. Sy bediening in Efese is byvoorbeeld gekenmerk deur “trane en beproewinge wat deur die komplotte van die Jode oor [hom] gekom het” (Handelinge 20:17-20). Ten einde laaste het Paulus Efese verlaat nadat ondersteuners van die godin Artemis ’n opskudding in die stad veroorsaak het weens sy predikingsbedrywighede (Handelinge 19:23-29; 20:1). Terwyl Paulus noord na die stad Troas op pad was, was hy baie bekommerd oor iets anders. ’n Rukkie voor die opskudding in Efese het hy ’n ontstellende berig ontvang. Die jong gemeente in Korinte was erg verdeeld, en hulle het hoerery geduld. Paulus het dus van Efese af ’n brief geskryf waarin hy hulle streng vermaan het in die hoop dat die situasie reggestel kon word. Dit was nie vir hom maklik om dit te doen nie. “Uit groot verdrukking en hartsbeklemming het ek met baie trane aan julle geskryf”, het hy later in ’n tweede brief gesê (2 Korintiërs 2:4). Soos Paulus vind medelydende ouer manne dit nie maklik om regstellende raad en teregwysing te gee nie, deels omdat hulle alte bewus is van hulle eie tekortkominge (Galasiërs 6:1). Mag ons dus ’n vertroosting wees vir diegene wat die leiding onder ons neem deur liefdevolle, Bybelse raad geredelik te aanvaar.—Hebreërs 13:17.

19. Waarom het Paulus van Troas na Masedonië voortgereis, en wat het hom uiteindelik verlig laat voel?

19 Terwyl Paulus in Efese was, het hy nie net aan die broers in Korinte geskryf nie, maar hy het ook vir Titus gestuur om hulle te help en aan hom die opdrag gegee om verslag te doen oor hoe hulle op die brief reageer. Paulus het gehoop dat hy Titus in Troas sou kry. Daar het Paulus goeie geleenthede gehad om dissipels te maak. Maar dit het nie sy kommer verlig nie, want Titus het toe nog nie daar aangekom nie (2 Korintiërs 2:12, 13). Daarom het hy verder gereis na Masedonië en gehoop dat hy Titus daar sou teëkom. Paulus se kommer is vererger deur die kwaai teenstand wat hy in sy bediening ondervind het. “Toe ons in Masedonië aangekom het”, verduidelik hy, “het ons vlees geen verligting gekry nie, maar ons is voortdurend op alle maniere geteister—buite was daar stryde, binne was daar vrese. Nietemin het God, wat die terneergedruktes vertroos, ons deur die teenwoordigheid van Titus vertroos” (2 Korintiërs 7:5, 6). Wat ’n verligting was dit tog toe Titus uiteindelik daar aangekom het en vir Paulus vertel dat die Korintiërs positief op sy brief gereageer het!

20. (a) Wat is, soos in Paulus se geval, nog ’n belangrike manier waarop Jehovah vertroosting verskaf? (b) Wat gaan in die volgende artikel bespreek word?

20 Paulus se ondervinding is ’n vertroosting vir God se hedendaagse knegte, van wie baie ook voor beproewinge te staan kom wat veroorsaak dat hulle ‘terneergedruk’ is. Ja, ‘die God wat vertroosting verskaf’, ken ons individuele behoeftes en kan ons gebruik om mekaar te vertroos, net soos Paulus vertroos is deur Titus se verslag oor die berouvolle gesindheid van die Korintiërs (2 Korintiërs 7:11-13). Ons volgende artikel bespreek Paulus se hartlike antwoord aan die Korintiërs en hoe dit ons kan help om vandag op doeltreffende wyse deelgenote van God se vertroosting te wees.

[Voetnoot]

a Een van die vernaamste werkinge van God se gees in die eerste eeu was om Christene te salf as aangenome geestelike seuns van God en broers van Jesus (2 Korintiërs 1:21, 22). Maar net 144 000 dissipels van Christus word gesalf (Openbaring 14:1, 3). Vandag het die meeste Christene goedgunstiglik die hoop op ewige lewe in ’n paradysaarde ontvang. Al is hulle nie gesalf nie, ontvang hulle ook die hulp en vertroosting van God se heilige gees.

Kan jy antwoord?

◻ Hoe het die mensdom se behoefte aan vertroosting ontstaan?

◻ Hoe is Jesus groter as Noag?

◻ Waarom het Jesus homself “Here van die sabbat” genoem?

◻ Hoe verskaf God vandag vertroosting?

[Kaart/Prent op bladsy 10]

Paulus is grootliks vertroos deur Titus se verslag oor die Korintiërs

MASEDONIË

Filippi

GRIEKE- LAND

Korinte

ASIË

Troas

Efese

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel