“Die hele verpligting van die mens”
“Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—PREDIKER 12:13, NW.
1, 2. Waarom is dit gepas om ons verpligting teenoor God te bespreek?
“WAT vra Jehovah van jou terug?” ’n Eertydse profeet het daardie vraag gestel. Daarna het hy spesifiek gesê wat Jehovah vereis—om geregtigheid te beoefen, goedheid lief te hê en beskeie te wandel met God.—Miga 6:8, NW.
2 In hierdie tyd van individualiteit en onafhanklikheid hou baie mense nie van die idee dat God iets van hulle vereis nie. Hulle wil onder geen verpligting staan nie. Maar wat van die slotsom waartoe Salomo in Prediker gekom het? “Die slot van die saak, ná alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Prediker 12:13, NW.
3. Waarom moet ons ernstig nadink oor die boek Prediker?
3 Wat ook al ons omstandighede en uitkyk op die lewe, ons kan baie daarby baat vind as ons die agtergrond van daardie slotsom in ag neem. Koning Salomo, die skrywer van hierdie geïnspireerde boek, het juis van die dinge in ag geneem wat deel van ons daaglikse lewe is. Party sal dalk gou tot die slotsom kom dat sy ontleding in wese negatief is. Maar dit is deur God geïnspireer en kan ons help om ons bedrywighede en prioriteite in oënskou te neem, wat tot groter vreugde sal lei.
Voorsien in die lewe se vernaamste behoeftes
4. Wat het Salomo in Prediker ondersoek en bespreek?
4 Salomo het ‘die taak van die mensekinders’ indringend ondersoek. “Ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur.” Met “taak” het Salomo nie noodwendig ’n werk, oftewel betrekking, bedoel nie, maar eerder die hele omvang van dinge waarmee mans en vrouens hulle gedurende hulle lewe besig hou (Prediker 1:13). Laat ons ’n paar vername aangeleenthede, oftewel take, ondersoek en dit dan met ons eie bedrywighede en prioriteite vergelyk.
5. Wat is een van die bedrywighede waarmee mense hulle veral besig hou?
5 Geld is beslis die kern van talle menslike aangeleenthede en bedrywighede. Niemand kan met reg sê dat Salomo die traak-my-nieagtige beskouing van geld gehad het wat party ryk mense het nie. Hy het geredelik erken dat ’n mens geld nodig het; dit is beter om voldoende fondse te hê as om ’n moeilike of armoedige lewe te lei (Prediker 7:11, 12). Maar jy het waarskynlik al gesien dat geld, met die besittings wat dit koop, die hoofdoel in die lewe kan word—vir die armes sowel as die rykes.
6. Wat kan ons aangaande geld leer uit een van Jesus se illustrasies en uit Salomo se eie ondervinding?
6 Dink terug aan Jesus se illustrasie van die ryk man wat nooit tevrede was nie en gewerk het om meer te verkry. God het hom as onredelik geoordeel. Waarom? Omdat ons lewe ‘nie voortspruit uit die dinge wat ons besit nie’ (Lukas 12:15-21). Salomo se ondervinding—wat waarskynlik groter as ons s’n is—staaf Jesus se woorde. Lees die beskrywing in Prediker 2:4-9. Salomo het hom ’n tyd lank daarop toegelê om rykdom te verwerf. Hy het pragtige huise gebou en tuine aangelê. Hy kon mooi metgesellinne bekostig en het hulle vir homself verkry. Het rykdom en wat dit hom in staat gestel het om te doen hom groot tevredenheid, ’n gevoel van ware voldoening en betekenis aan sy lewe gegee? Hy het reguit geantwoord: “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.”—Prediker 2:11; 4:8.
7. (a) Wat toon ondervinding in verband met die waarde van geld? (b) Wat het jy al persoonlik gesien wat Salomo se slotsom staaf?
7 Dit is realisties, ’n waarheid wat deur baie lewens bevestig word. Ons moet erken dat dit eenvoudig nie alle probleme oplos as ons meer geld het nie. Dit kan party oplos, soos om die verkryging van kos en klere te vergemaklik. Maar ’n mens kan net een uitrusting op ’n slag dra en net ’n sekere hoeveelheid eet en drink. En jy het al gelees van ryk mense wie se lewens geteister word deur egskeidings, alkohol- of dwelmmisbruik en twis onder familielede. Die multimiljoenêr J. P. Getty het gesê: “Geld hou nie noodwendig met geluk verband nie. Miskien met ongelukkigheid.” Salomo het tereg die liefde vir geld aan tevergeefsheid gelykgestel. Kyk na die kontras tussen hierdie feit en Salomo se waarneming: “Die slaap van die arbeider is soet, of hy min eet of baie, maar die oorvloed van die ryke laat hom onrustig slaap.”—Prediker 5:9-11, NAV.
8. Watter rede is daar om nie te veel waarde aan die belangrikheid van geld te heg nie?
8 Geld en besittings gee ons ook nie ’n gevoel van tevredenheid wat die toekoms betref nie. As jy meer geld en besittings gehad het, sou jy waarskynlik meer bekommerd gewees het oor hoe om dit te beveilig, en jy sal nog steeds nie weet wat môre inhou nie. Gaan jy dalk alles, asook jou lewe, verloor? (Prediker 5:12-16; 9:11, 12). Aangesien dit die geval is, behoort dit nie moeilik te wees om te sien waarom ons lewe, oftewel taak, ’n meer verhewe, blywender betekenis as geld en besittings moet hê nie.
Familie, roem en mag
9. Waarom het familielewe tereg in Salomo se ondersoek ter sprake gekom?
9 Salomo se ontleding van die lewe het oordrewe besorgdheid oor familie ingesluit. Die Bybel vestig die aandag op die familielewe, onder meer die vreugde om kinders te hê en groot te maak (Genesis 2:22-24; Psalm 127:3-5; Spreuke 5:15, 18-20; 6:20; Markus 10:6-9; Efesiërs 5:22-33). Maar is dit die belangrikste ding in die lewe? Dit lyk asof baie so dink, veral met die klem wat in party kulture op die huwelik, kinders en familiebande gelê word. Tog toon Prediker 6:3 dat selfs honderd kinders nie ’n sleutel tot tevredenheid in die lewe is nie. Dink net hoeveel ouers opofferinge ter wille van hulle kinders gemaak het om hulle ’n goeie begin in die lewe te gee en hulle lewe makliker te maak. Hoewel dit prysenswaardig is, het ons Skepper sekerlik nie bedoel dat die hoofdoel van ons bestaan moet wees om bloot die lewe aan die volgende geslag oor te dra nie, soos diere instinktief doen om die spesie te laat voortbestaan nie.
10. Waarom kan dit tevergeefs wees as iemand te veel klem lê op die familie?
10 Salomo het met groot insig ’n paar werklikhede van die familielewe onder ons aandag gebring. ’n Man kan hom byvoorbeeld inspan om vir sy kinders en kleinkinders voorsiening te maak. Maar sal hulle verstandig wees? Of sal hulle dwaas te werk gaan met wat hy vir hulle probeer bymekaarmaak het? Wat ’n ‘tevergeefsheid en ’n groot euwel’ sal dit tog wees as laasgenoemde die geval is!—Prediker 2:18-21; 1 Konings 12:8; 2 Kronieke 12:1-4, 9.
11, 12. (a) Op watter strewes in die lewe het party hulle toegelê? (b) Waarom kan daar gesê word dat ’n strewe na vernaamheid “’n gejaag na wind” is?
11 Aan die teenoorgestelde kant het baie die normale familielewe ondergeskik gestel aan hulle vaste voorneme om roem of om mag oor ander te verkry. Dit is dalk ’n fout wat algemener onder mans voorkom. Het jy dit al onder jou skoolmaats, werkmaats of bure opgemerk? Baie probeer desperaat om raakgesien te word, om iemand te word of om gesag oor ander te voer. Maar hoe sinvol is dit werklik?
12 Dink aan hoe party hulle inspan om roem te verwerf, hetsy op klein of groot skaal. Ons sien dit in die skool, in ons buurt en in verskillende sosiale groepe. Dit is ook ’n krag wat diegene aandryf wat bekendheid wil verwerf in die kunste, vermaaklikheidswêreld en politiek. Maar is dit nie eintlik ’n tevergeefse poging nie? Salomo het dit tereg “’n gejaag na wind” genoem (Prediker 4:4). Selfs as ’n jongmens naam gemaak het in ’n klub, ’n sportspan of ’n musiekgroep—of ’n man of vrou aansien in ’n firma of gemeenskap verkry het—hoeveel mense is werklik daarvan bewus? Weet die meeste mense aan die ander kant van die wêreld (of selfs van dieselfde land) dat die persoon bestaan? Of gaan hulle maar voort met hulle lewe, heeltemal onbewus van die bietjie roem wat hy of sy het? En dieselfde kan gesê word van enige mag of gesag wat ’n persoon by die werk, in ’n dorp of in ’n groep verkry.
13. (a) Hoe help Prediker 9:4, 5 ons om die strewe na vernaamheid of mag in die regte lig te beskou? (b) Watter feite moet ons onder die oë sien as hierdie lewe al is wat daar is? (Sien voetnoot.)
13 Wat beteken sulke vernaamheid of gesag op die lange duur? Namate die een geslag gaan en die ander kom, verdwyn die vername of invloedryke mense van die toneel en word hulle vergeet. Dit is waar van bouers, musikante en ander kunstenaars, maatskaplike hervormers, ensovoorts, net soos dit waar is van die meeste politici en militêre leiers. Hoeveel spesifieke individue in daardie beroepe ken jy wat tussen 1700 en 1800 gelewe het? Salomo het sake reg opgesom toe hy gesê het: “’n Lewendige hond is beter as ’n dooie leeu. Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, . . . hulle nagedagtenis word vergeet” (Prediker 9:4, 5). En as hierdie lewe al is wat daar is, dan is dit werklik tevergeefs om vernaamheid of mag na te jaag.a
Die fokus van ons lewe en ons verpligting
14. Waarom behoort die boek Prediker ons persoonlik te help?
14 Salomo het nie kommentaar gelewer oor baie bedrywighede, doelwitte en genietinge waarop mense hulle in hulle lewe toelê nie. Maar wat hy geskryf het, is voldoende. Dit hoef nie te lyk asof ons bespreking van die boek somber of negatief is nie, want ons het ’n realistiese hersiening van ’n boek van die Bybel gedoen wat Jehovah God doelbewus tot ons voordeel geïnspireer het. Dit kan elkeen van ons help om ons lewensbeskouing en dit waarop ons ons toelê reg te stel (Prediker 7:2; 2 Timoteus 3:16, 17). Dit is veral die geval met die oog op die slotsom waartoe Jehovah Salomo help kom het.
15, 16. (a) Wat was Salomo se beskouing van genot in die lewe? (b) Wat het Salomo gepas gesê is nodig sodat ons die lewe kan geniet?
15 Een punt wat Salomo herhaaldelik geopper het, was dat knegte van die ware God vreugde moet put uit hulle bedrywighede voor Hom. “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God” (Prediker 2:24, NW; 3:12, 13; 5:17; 8:15). Let op dat Salomo ons nie aangespoor het om aan brasserye toe te gee nie; hy het ook nie ’n gesindheid bevorder van ‘laat ons eet, drink en vrolik wees, want môre sterf ons’ nie (1 Korintiërs 15:14, 32-34). Hy het bedoel dat ons vreugde moet put uit normale genietinge, soos om te eet en te drink terwyl ons ‘goed doen in ons lewe’. Sodoende gebruik ons ongetwyfeld ons lewe om die wil te doen van die Skepper, wat bepaal wat werklik goed is.—Psalm 25:8; Prediker 9:1; Markus 10:17, 18; Romeine 12:2.
16 Salomo het geskryf: “Gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met ’n vrolike hart, want God het lankal behae in jou werke” (Prediker 9:7-9). Ja, die man of vrou wat werklik ’n ryk en sinvolle lewe lei, is bedrywig in werke waarin Jehovah behae skep. Dit vereis dat ons hom altyddeur in ag moet neem. Hoe verskil hierdie beskouing tog van die meeste mense s’n, wie se lewensbenadering op menseredenasies gebaseer is!
17, 18. (a) Hoe reageer baie mense op die werklikhede van die lewe? (b) Watter gevolg moet ons altyd in gedagte hou?
17 Hoewel sommige godsdienste aangaande ’n hiernamaals leer, glo baie mense dat hierdie lewe werklik al is waarvan hulle seker kan wees. Jy het hulle dalk sien optree soos Salomo beskryf het: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Prediker 8:11). Selfs diegene wat nie diep betrokke is by slegte dade nie, toon dat hulle hoofsaaklik oor die hede besorg is. Dit is een rede waarom hulle oordrewe waarde heg aan geld, besittings, aansien, gesag oor ander, familie of ander soortgelyke belange. Maar Salomo het die gedagte nie daar gelaat nie. Hy het bygevoeg: “Aangesien ’n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe—alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees, en dit nie goed sal gaan met die goddelose, en hy die dae nie sal verleng soos ’n skaduwee nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie” (Prediker 8:12, 13). Salomo was beslis daarvan oortuig dat dit goed sal gaan met ons as ons ‘die ware God vrees’. Hoe goed? Ons kan die antwoord vind in die kontras waarop hy die aandag gevestig het. Jehovah kan ‘ons dae verleng’.
18 Diegene wat nog betreklik jonk is, behoort veral te peins oor die volkome betroubare feit dat dit goed sál gaan met hulle as hulle God vrees. Soos jy dalk persoonlik gesien het, kan die vinnigste hardloper struikel en die wedloop verloor. ’n Magtige leër kan verslaan word. ’n Knap sakeman kan hom in armoede bevind. En baie ander onsekerhede maak die lewe heel onvoorspelbaar. Maar jy kan beslis hiervan seker wees: Die verstandigste en veiligste weg is om die lewe te geniet terwyl jy goed doen binne die perke van God se sedewette en volgens sy wil (Prediker 9:11). Dit sluit in dat ’n mens uit die Bybel leer wat God se wil is, jou lewe aan hom toewy en ’n gedoopte Christen word.—Matteus 28:19, 20.
19. Hoe kan jongmense hulle lewe gebruik, maar wat is die verstandige weg?
19 Die Skepper sal jongmense of ander nie dwing om sy riglyne te volg nie. Hulle kan geleerdheid die middelpunt van hulle lewe maak en selfs lewenslange studente van tallose boeke van mensegeleerdheid word. Dit sal uiteindelik ’n vermoeiing van die vlees wees. Of hulle kan in die weë van hulle onvolmaakte mensehart wandel of die begeertes van hulle oë volg. Dit sal gewis verdriet tot gevolg hê, en ’n lewe wat so deurgebring word, sal mettertyd net tevergeefs wees (Prediker 11:9–12:12; 1 Johannes 2:15-17). Salomo doen dus ’n beroep op jongmense—’n beroep wat ons, ongeag ons ouderdom, ernstig moet oorweeg: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie.”—Prediker 12:1.
20. Wat is die gebalanseerde beskouing van die boodskap in Prediker?
20 Tot watter slotsom moet ons dus kom? Wel, wat van die slotsom waartoe Salomo gekom het? Hy het “al die werke gesien [of ondersoek] wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind” (Prediker 1:14). In die boek Prediker vind ons nie die woorde van ’n siniese of ’n ontevrede man nie. Dit is deel van God se geïnspireerde Woord en dit verdien ons aandag.
21, 22. (a) Watter aspekte van die lewe het Salomo in ag geneem? (b) Tot watter wyse slotsom het hy gekom? (c) Watter uitwerking het die ondersoek van die inhoud van Prediker op jou gehad?
21 Salomo het die mens se arbeid, moeilikhede en strewes ondersoek. Hy het nagedink oor hoe dinge gewoonlik afloop, die frustrerende en verydelde uiteinde wat soveel mense ondervind. Hy het ag geslaan op die werklikheid van menslike onvolmaaktheid en die dood wat dit tot gevolg het. En hy het godgegewe kennis aangaande die toestand van die dooies en die vooruitsigte vir enige toekomstige lewe in ag geneem. Dit alles is oorweeg deur ’n man wie se wysheid deur God vermeerder is, ja, een van die wysste mense wat nog gelewe het. Daarna is die slotsom waartoe hy gekom het in die Heilige Geskrifte opgeteken tot voordeel van almal wat werklik ’n sinvolle lewe wil hê. Behoort ons nie daarmee saam te stem nie?
22 “Die slot van die saak, ná alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens. Want die ware God self sal elke soort werk in die gerig bring met betrekking tot elke verborge ding, hetsy dit goed of sleg is.”—Prediker 12:13, 14, NW.
[Voetnoot]
a Die Wagtoring het eenkeer hierdie insiggewende kommentaar gelewer: “Ons moenie hierdie lewe aan ydelhede verkwis nie . . . As hierdie lewe al is wat daar is, is daar niks belangriks nie. Hierdie lewe is soos ’n bal wat in die lug gegooi word en gou weer in die stof val. Dit is ’n verbygaande skaduwee, ’n blom wat verwelk, ’n grasspruitjie wat afgesny word en gou verdor. . . . Op die skaal van die ewigheid is ons lewensduur ’n onbeduidende spikkeltjie. In die tydstroom is dit nie eers ’n gesonde druppel nie. [Salomo] is seer seker reg wanneer hy die lewe se baie menslike aangeleenthede en werksaamhede in oënskou neem en verklaar dat hulle ydelheid is. Ons is so gou weg dat ons net sowel maar nooit kon gekom het nie, een van miljarde om te kom en te gaan, terwyl so min ooit weet dat ons hier was. Hierdie beskouing is nie sinies of somber of donker of morbied nie. Dit is die waarheid, ’n feit om rekening mee te hou, ’n praktiese beskouing, as hierdie lewe al is wat daar is.”—15 Oktober 1957, bladsy 319.
Onthou jy?
◻ Wat is die verstandige beskouing van besittings se plek in jou lewe?
◻ Waarom moet ons nie onnodige klem lê op familie, op roem of op gesag oor ander nie?
◻ Watter godvrugtige gesindheid het Salomo ons aangespoor om in verband met plesier te hê?
◻ Hoe het jy by die bespreking van die boek Prediker baat gevind?
[Prent op bladsy 15]
Geld en besittings verseker nie tevredenheid nie
[Prent op bladsy 17]
Jongmense kan daarvan verseker wees dat dit met hulle goed sal gaan as hulle God vrees