Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 3/1 bl. 9-14
  • Is jy gereed vir Jehovah se dag?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy gereed vir Jehovah se dag?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle het groot verwagtinge gekoester
  • Jehovah se dag en Jesus se teenwoordigheid
  • Hulle was gereed
  • ‘Hou aan waak’
  • Heilige dade is noodsaaklik
  • Veroordeel jy die wêreld deur jou geloof?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Dit is dringender as ooit tevore dat ons waaksaam bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Noag se geloof veroordeel die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Waarom God aan Noag guns betoon het—Waarom dit vir ons van belang moet wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 3/1 bl. 9-14

Is jy gereed vir Jehovah se dag?

“Naby is die groot dag van [Jehovah, “NW”], naby en baie haastig.”—SEFANJA 1:14.

 1. Hoe beskryf die Skrif die dag van Jehovah?

JEHOVAH se “groot en vreesinboesemende dag” sal binnekort oor hierdie goddelose stelsel van dinge kom. Die Skrif beskryf die dag van Jehovah as ’n dag van oorlog, duisternis, grimmigheid, benoudheid, angs, verskrikking en verwoesting. Maar daar sal oorlewendes wees, want “elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Joël 2:30-32, NW; Amos 5:18-20). Ja, God sal dan sy vyande vernietig en sy volk red.

 2. Waarom moet ons Jehovah se dag as iets dringends beskou?

2 God se profete het Jehovah se dag as iets dringends beskou. Sefanja het byvoorbeeld geskryf: “Naby is die groot dag van [Jehovah, NW], naby en baie haastig” (Sefanja 1:14). Die situasie is vandag selfs dringender omdat God se Hoofskerpregter, die Koning Jesus Christus, op die punt staan om ‘sy swaard aan sy heup te gord en ter wille van waarheid, ootmoed en geregtigheid te ry’ (Psalm 45:4, 5). Is jy gereed vir daardie dag?

Hulle het groot verwagtinge gekoester

 3. Watter verwagtinge het party Christene in Tessalonika gekoester, en om watter twee redes het hulle dit mis gehad?

3 Baie het onvervulde verwagtinge aangaande die dag van Jehovah gekoester. Party vroeë Christene in Tessalonika het gesê: ‘Jehovah se dag is hier!’ (2 Tessalonisense 2:2). Maar daar is twee basiese redes waarom dit nie op hande was nie. Die apostel Paulus het een van hulle genoem toe hy gesê het: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan gaan skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom” (1 Tessalonisense 5:1-6). In hierdie “tyd van die einde” verwag ons ook die vervulling van daardie woorde (Daniël 12:4). Die Tessalonisense het ook nog ’n bewys kortgekom dat Jehovah se groot dag gekom het, want Paulus het vir hulle gesê: “Dit sal nie kom nie tensy die afval eers kom” (2 Tessalonisense 2:3). Toe Paulus hierdie woorde geskryf het (ongeveer 51 G.J.), het “die afval” van die ware Christelike geloof nog nie ten volle ontwikkel nie. Vandag sien ons dit in volle bloei in die Christendom. Maar daardie getroue gesalfdes in Tessalonika, wat tot hulle dood aangehou het om God getrou te dien, het uiteindelik, ondanks hulle onvervulde verwagtinge, ’n hemelse beloning ontvang (Openbaring 2:10). Ons sal ook beloon word as ons getrou bly terwyl ons op Jehovah se dag wag.

 4. (a) Waarmee word Jehovah se dag in 2 Tessalonisense 2:1, 2 verbind? (b) Watter beskouings het so genoemde Kerkvaders aangaande Christus se wederkoms en verwante sake gehad?

4 Die Bybel verbind “die groot dag van Jehovah” met “die teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus” (2 Tessalonisense 2:1, 2). Die so genoemde Kerkvaders het verskillende idees gehad oor Christus se wederkoms, sy teenwoordigheid en sy Duisendjarige Heerskappy (Openbaring 20:4). In die tweede eeu G.J. het Papias van Hiërapolis verwagtinge gekoester van verbasende vrugbaarheid van die aarde gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus. Justinus die Martelaar het dikwels van Jesus se teenwoordigheid gepraat en het verwag dat die herstelde Jerusalem die setel van Sy Koninkryk sou wees. Ireneus van Lyon het geleer dat Jesus, ná die vernietiging van die Romeinse Ryk, in sigbare vorm sou verskyn, Satan sou bind en in aardse Jerusalem sou heers.

 5. Wat het party geleerdes oor Christus se “Wederkoms” en sy Duisendjarige Heerskappy gesê?

5 Die geskiedskrywer Philip Schaff het gesê dat “die opvallendste punt” in die tyd voor die Konsilie van Nicea in 325 G.J. “die oortuiging [was] dat Christus voor die algemene opstanding en oordeel saam met die verrese heiliges duisend jaar lank sigbaar op die aarde in heerlikheid sou heers”. A Dictionary of the Bible, onder redaksie van James Hastings, sê: “Tertullianus, Ireneus en Hippolitus verwag nog steeds ’n spoedige Koms [van Jesus Christus]; maar met die Aleksandrynse Vaders begin ’n nuwe denkrigting. . . . Met Augustinus se gelykstelling van die Millennium met die tyd van die strydende kerk, word die Wederkoms tot in die verre toekoms verskuif.”

Jehovah se dag en Jesus se teenwoordigheid

 6. Waarom moet ons nie dink dat Jehovah se dag nog ver weg is nie?

6 Wanopvattings het tot teleurstellings gelei, maar ons moenie dink dat Jehovah se dag nog ver weg is nie. Jesus se onsigbare teenwoordigheid, waarmee dit volgens die Skrif geassosieer word, het reeds begin. Die Wagtoring en verwante publikasies van Jehovah se Getuies het al dikwels skriftuurlike bewyse voorsien dat Christus se teenwoordigheid in 1914 begin het.a Wat het Jesus dan van sy teenwoordigheid gesê?

 7. (a) Wat is ’n paar kenmerke van die teken van Jesus se teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge? (b) Hoe kan ons gered word?

7 Jesus se teenwoordigheid het kort voor sy dood ’n onderwerp van bespreking geword. Nadat sy apostels Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas gehoor het hoe hy die vernietiging van Jerusalem se tempel voorspel, het hulle gevra: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matteus 24:1-3; Markus 13:3, 4). In antwoord hierop het Jesus oorloë, hongersnode, aardbewings en ander kenmerke van “die teken” van sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge voorspel. Hy het ook gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Ons sal gered word as ons getrou volhard tot die einde van ons teenswoordige lewe of tot die einde van hierdie goddelose stelsel.

 8. Wat moes voor die einde van die Joodse stelsel bereik word, en wat word vandag hieraan gedoen?

8 Voor die einde kom, sal ’n besonder betekenisvolle kenmerk van Jesus se teenwoordigheid vervul word. Hy het daarvan gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Voor die Romeine Jerusalem vernietig het en die Joodse stelsel van dinge in 70 G.J. tot ’n einde gekom het, kon Paulus sê dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:23). Vandag doen Jehovah se Getuies egter ’n predikingswerk van veel groter omvang “in die hele bewoonde aarde”. Gedurende die afgelope paar jaar, het God die weg geopen sodat ’n groot getuienis in Oos-Europa gegee kan word. Met drukkerye en ander fasiliteite in alle wêrelddele staan Jehovah se organisasie gereed vir groter bedrywighede, selfs in “ongedekte gebied” (Romeine 15:22, 23). Spoor jou hart jou aan om jou bes te doen om ’n getuienis te gee voor die einde kom? Indien wel, kan God jou die krag gee om ’n betekenisvolle aandeel te hê aan die werk wat voorlê.—Filippense 4:13; 2 Timoteus 4:17.

 9. Watter punt het Jesus gestel, soos ons in Matteus 24:36 lees?

9 Die voorspelde Koninkrykspredikingswerk en ander kenmerke van die teken van Jesus se teenwoordigheid word nou vervul. Die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge is dus naby. Jesus het weliswaar gesê: “Aangaande daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:4-14, 36). Maar Jesus se profesie kan ons help om gereed te wees vir “daardie dag en uur”.

Hulle was gereed

10. Hoe weet ons dat dit moontlik is om geestelik wakker te bly?

10 Ons moet geestelik wakker bly en vasstaan vir ware aanbidding as ons die groot dag van Jehovah wil oorleef (1 Korintiërs 16:13). Ons weet dat sulke volharding moontlik is, want ’n godvrugtige gesin het volhard en die Vloed oorleef wat goddelose mense in 2370 v.G.J. vernietig het. Jesus het daardie tydperk met sy teenwoordigheid vergelyk en gesê: “Net soos die dae van Noag was, só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was—hulle het geëet en gedrink, manne het getrou en vroue is in die huwelik gegee, tot die dag dat Noag in die ark ingegaan het; en hulle het geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie—só sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Matteus 24:37-39.

11. Watter weg het Noag gevolg ondanks die geweld wat in sy dag bestaan het?

11 Noag en sy gesin het net soos ons in ’n gewelddadige wêreld geleef. Ongehoorsame engele, “seuns van God”, het gematerialiseer en vrouens geneem en die vaders geword van die berugte Nefilim—bullebakke wat die toestande ongetwyfeld gewelddadiger gemaak het (Genesis 6:1, 2, 4; 1 Petrus 3:19, 20). Noag het egter in geloof “met God gewandel”. Hy was ’n “opregte man onder sy tydgenote”—die goddelose geslag van sy dag (Genesis 6:9-11). Met biddende vertroue op God kan ons dieselfde doen in hierdie gewelddadige en goddelose wêreld terwyl ons op die dag van Jehovah wag.

12. (a) Watter werk het Noag gedoen, buiten om ’n ark te bou? (b) Hoe het mense op Noag se predikingswerk gereageer, en wat was die gevolge vir hulle?

12 Noag is bekend as die man wat ’n ark gebou het sodat lewe deur die Vloed heen gered kon word. Hy was ook “’n prediker van regverdigheid”, maar sy tydgenote ‘het geen ag geslaan’ op sy godgegewe boodskap nie. Hulle het geëet en gedrink, getrou, gesinne grootgemaak en met die gewone dinge in die lewe voortgegaan totdat die Vloed hulle almal weggesleur het (2 Petrus 2:5; Genesis 6:14). Hulle wou niks hoor van regverdige woorde en gedrag nie, net soos vandag se goddelose geslag sy ore sluit vir wat Jehovah se Getuies sê oor “berou teenoor God”, geloof in Christus, regverdigheid en “die komende oordeel” (Handelinge 20:20, 21; 24:24, 25). Daar is geen beskikbare verslag van hoeveel mense op die aarde gelewe het toe Noag God se boodskap verkondig het nie. Maar een ding is seker, die aarde se bevolking is in 2370 v.G.J. drasties verminder! Die Vloed het die goddeloses uitgeroei, en net dié gespaar wat gereed was vir daardie daad van God—Noag en die sewe ander in sy gesin.—Genesis 7:19-23; 2 Petrus 3:5, 6.

13. In watter oordeel het Noag sy volle vertroue gestel, en hoe het hy in ooreenstemming daarmee opgetree?

13 God het Noag nie jare voor die tyd in kennis gestel van die presiese dag en uur waarop die Vloed sou kom nie. Maar toe Noag 480 jaar oud was, het Jehovah gesê: “My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar” (Genesis 6:3). Noag het sy volle vertroue in hierdie Goddelike oordeel gestel. Nadat hy 500 jaar oud geword het, het hy “die vader geword van Sem, Gam en Jafet”, en die gebruik van daardie dae dui daarop dat 50 of 60 jaar verbygegaan het voordat sy seuns getrou het. Toe Noag gesê is om die ark te bou om deur die Vloed heen behoue te kan bly, het hierdie seuns en hulle vrouens hom klaarblyklik met daardie taak gehelp. Die bouwerk aan die ark het waarskynlik saamgeval met Noag se diens as “’n prediker van regverdigheid” en het hom die laaste 40 tot 50 jaar voor die Vloed besig gehou (Genesis 5:32; 6:13-22). Hy en sy gesin het gedurende al daardie jare in geloof opgetree. Laat ons ook geloof aan die dag lê terwyl ons die goeie nuus verkondig en op Jehovah se dag wag.—Hebreërs 11:7.

14. Wat het Jehovah uiteindelik vir Noag gesê, en waarom?

14 Toe die ark amper klaar gebou was, het Noag dalk gedink dat die Vloed op hande is, al het hy nie geweet presies wanneer dit sou plaasvind nie. Jehovah het uiteindelik vir hom gesê: “Oor nog sewe dae sal Ek laat reën op die aarde, veertig dae en veertig nagte” (Genesis 7:4). Dit het Noag en sy gesin net genoeg tyd gegee om al die diersoorte in die ark te versamel en self daarin te gaan voor die Vloed begin het. Ons hoef nie te weet op watter dag en uur die vernietiging van hierdie stelsel gaan begin nie; die oorlewing van diere is nie ons verantwoordelikheid nie, en voornemende menseoorlewendes gaan die simboliese ark, die geestelike paradys van God se volk, reeds binne.

‘Hou aan waak’

15. (a) Hoe sou jy Jesus se woorde in Matteus 24:40-44 in jou eie woorde verduidelik? (b) Watter uitwerking het dit dat ons nie presies weet wanneer Jesus gaan kom om God se wraak uit te oefen nie?

15 Jesus het oor sy teenwoordigheid gesê: “Dan sal twee manne op die land [werk]: die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word; twee vroue sal by die handmeul [koring tot meel] maal: die een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie. Maar een ding moet julle weet: as die huisheer geweet het in watter waak die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie. Om dié rede moet julle julle ook gereed betoon, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matteus 24:40-44; Lukas 17:34, 35). Aangesien ons nie weet presies wanneer Jesus gaan kom om God se wraak uit te oefen nie, help dit ons om waaksaam te bly en gee dit ons daagliks die geleentheid om te bewys dat ons Jehovah uit onselfsugtige beweegredes dien.

16. Wat sal gebeur met mense wat “agtergelaat” word en met dié wat “saamgeneem” word?

16 Mense wat vir vernietiging saam met die goddeloses “agtergelaat” word, sal diegene insluit wat vroeër verlig was, maar wat deur ’n selfsugtige lewenswyse verswelg is. Mag ons onder diegene wees wat “saamgeneem” word, diegene wat ten volle aan Jehovah toegewy is en werklik dankbaar is vir sy geestelike voorsienings deur “die getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45-47). Laat ons God tot die einde toe dien met “liefde uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete en uit geloof sonder huigelary”.—1 Timoteus 1:5.

Heilige dade is noodsaaklik

17. (a) Wat is in 2 Petrus 3:10 voorspel? (b) Wat is van die handelinge en dade waartoe 2 Petrus 3:11 ons aanspoor?

17 Die apostel Petrus het geskryf: “Jehovah se dag [sal] soos ’n dief kom, waarop die hemele met ’n sissende gedruis sal verbygaan, die elemente, wat intens warm sal wees, tot niet gemaak sal word, en die aarde en die werke daarin ontdek sal word” (2 Petrus 3:10). Die simboliese hemele en aarde sal nie die hitte van God se brandende toorn deurstaan nie. Daarom voeg Petrus by: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid!” (2 Petrus 3:11). Hierdie handelinge en dade behels onder meer dat ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon, goed doen aan ander en ’n betekenisvolle aandeel aan die verkondiging van die goeie nuus het.—Matteus 24:14; Hebreërs 10:24, 25; 13:16.

18. Wat moet ons doen as ons aan die wêreld geheg begin raak?

18 “Heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid” verg dat ons ‘ons sonder vlek van die wêreld bewaar’ (Jakobus 1:27). Maar sê nou ons begin aan hierdie wêreld geheg raak? Miskien word ons tot in ’n gevaarlike posisie voor God gelok omdat ons onrein vermaak uitsoek of omdat ons na musiek luister wat die goddelose gees van hierdie wêreld bevorder (2 Korintiërs 6:14-18). As dit die geval is, laat ons God in gebed om hulp vra sodat ons nie saam met die wêreld sal verbygaan nie, maar goedgekeur voor die Seun van die mens sal staan (Lukas 21:34-36; 1 Johannes 2:15-17). As ons ons aan God toegewy het, sal ons sekerlik ons bes wil doen om ’n hegte verhouding met hom op te bou en te handhaaf en sodoende gereed te wees vir die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah.

19. Waarom kan menigtes Koninkryksverkondigers verwag om deur die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge te leef?

19 Die godvresende man Noag en sy gesin het deur die Vloed geleef wat die eertydse wêreld vernietig het. Regskape persone het die einde van die Joodse stelsel van dinge in 70 G.J. oorleef. Die apostel Johannes was byvoorbeeld omstreeks 96-98 G.J. nog steeds bedrywig in God se diens toe hy die boek Openbaring, sy Evangelie en drie geïnspireerde briewe geskryf het. Van die duisende wat die ware geloof op Pinkster 33 G.J. aangeneem het, was daar waarskynlik baie wat deur die einde van die Joodse stelsel geleef het (Handelinge 1:15; 2:41, 47; 4:4). Vandag kan ’n menigte Koninkryksverkondigers hoop om deur die einde van die huidige goddelose stelsel van dinge te leef.

20. Waarom moet ons ywerige ‘predikers van regverdigheid’ wees?

20 Met die vooruitsig om tot in die nuwe wêreld bewaar te word, laat ons ywerige ‘predikers van regverdigheid’ wees. Wat ’n voorreg is dit tog om God in hierdie laaste dae te dien! En wat ’n vreugde is dit om mense na die hedendaagse “ark”, die geestelike paradys wat deur God se volk geniet word, te rig! Mag die miljoene wat nou daarin is getrou, geestelik wakker en gereed vir die groot dag van Jehovah bly. Maar wat sal ons almal help om wakker te bly?

[Voetnoot]

a Sien hoofstukke 10 en 11 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Watter verwagtinge het party aangaande Jehovah se dag en Christus se teenwoordigheid gekoester?

◻ Waarom kan ons sê dat Noag en sy familie gereed was vir die Vloed?

◻ Wat sal gebeur met dié wat ‘aanhou waak’, en met dié wat dit nie doen nie?

◻ Waarom is heilige dade noodsaaklik, veral terwyl ons Jehovah se groot dag nader?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel