“Die God van vrede” is besorg oor dié wat beproewing verduur
DIE Bybel stel dit duidelik dat Dawid van die ou tyd geweet het wat beproewing beteken. Hy het etlike jare as ’n voortvlugtige geleef terwyl ’n goddelose en eiesinnige koning, wat daarop uit was om hom dood te maak, hom genadeloos agtervolg het. Gedurende hierdie tyd van beproewing het Dawid hom in afgeleë plekke versteek. Maar hy het nog iets gedoen. Hy het ernstig tot Jehovah gebid oor sy teenspoed. “Hardop roep ek die HERE aan”, het hy later oor sy beproewing geskryf. “Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend.”—Psalm 142:2, 3.
Vandag sou party die spot dryf met Dawid se vertroue in God. Hulle sou sê dat gebed bloot ’n sielkundige kruk is en dat dit prakties gesproke tydverkwisting is. En tog was Dawid se vertroue in God nie misplaas nie, want sy vyande is uiteindelik oorwin. Toe Dawid aan sy ondervindinge teruggedink het, het hy geskryf: “Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos” (Psalm 34:7). Die ware God tot wie Dawid hom gewend het, word op ander plekke “die God van vrede” genoem (Filippense 4:9; Hebreërs 13:20). Sal hy verligting van beproewing bring, wat vir ons tot vrede sal lei?
Jehovah is besorg oor jou
Jehovah is nie ongevoelig wanneer sy volk swaar kry nie (Psalm 34:16). Hy let nie net op die behoeftes van sy knegte as ’n groep nie, maar ook op dié van elke individu wat hom vrees. Toe Salomo die tempel in eertydse Jerusalem toegewy het, het hy Jehovah gesmeek om te luister na “enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken”. (2 Kronieke 6:29, ons kursiveer.) Soos Salomo erken het, het elke individu met sy eie unieke beproewing te kampe. Vir die een is dit dalk fisiese siekte. Vir iemand anders, emosionele spanning. Party verduur dalk beproewing weens die dood van ’n geliefde. Werkloosheid, ekonomiese en gesinsprobleme is ook algemene probleme in hierdie swaar tye.
Dink ’n bietjie na oor ‘jou eie plaag en jou eie smart’. Miskien het jy al by tye gevoel soos die psalmis Dawid, wat geskryf het: “Ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie.” En tog kan jy seker wees dat God besorg is oor jou situasie, want later in dieselfde psalm het Dawid geskryf: “[Jehovah, NW] luister na die behoeftiges en verag sy gevangenes nie.”—Psalm 69:21, 34.
As Dawid se woorde in breë sin toegepas word, kan dit ons verseker dat die Skepper van die mens luister na die gebede van diegene wat as ’t ware gevange gehou word deur hulle beproewinge. Daarbenewens reageer hy op hulle situasie. Let op die volgende woorde wat toon dat Jehovah medelye het met dié wat beproewing verduur.
“Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie. As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor, en my toorn sal ontvlam.”—Exodus 22:22-24.
“Sal God dan nie beslis reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot hom roep nie, al is hy lankmoedig teenoor hulle?”—Lukas 18:7.
“Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”—Psalm 72:12-14.
“Wie julle [God se volk op aarde] aanraak, raak sý oogappel aan.”—Sagaria 2:8.
Hierdie paar voorbeelde illustreer ons Skepper se diep belangstelling in die welsyn van sy volk. Gevolglik het ons goeie rede om die apostel Petrus se raad toe te pas: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy is besorg oor julle’ (1 Petrus 5:7). Maar hoe sal God ons gedurende tye van beproewing help?
Hoe God dié help wat beproewing verduur
Ons het reeds gesien dat Dawid ernstig tot God gebid het vir leiding wanneer hy beproewinge verduur het. Hy het terselfdertyd die inisiatief geneem om die situasie te verbeter en het vindingrykheid aan die dag gelê om sy agtervolgers te ontwyk. Vertroue in Jehovah tesame met persoonlike inspanning het Dawid dus in staat gestel om sy teenspoed te verduur. Wat kan ons hieruit leer?
Wanneer beproewing oor ons kom, is dit beslis nie verkeerd om gepaste inisiatief aan die dag te lê om die probleem op te los nie. Sal ’n Christen wat byvoorbeeld sonder werk is hom nie inspan om werk te kry nie? Of sal hy, as hy aan ’n fisiese kwaal ly, nie mediese behandeling soek nie? Selfs Jesus, wat die krag gehad het om alle soorte siektes te genees, het trouens erken dat ‘die siekes ’n geneesheer nodig het’. (Matteus 9:12; vergelyk 1 Timoteus 5:23.) Party probleme kan natuurlik nie uit die weg geruim word nie; hulle moet eenvoudig verduur word. Maar in teenstelling met die beskouing van sommige mense, beskou ’n ware Christen beproewing nie as iets wat op sigself waarde het nie. (Vergelyk 1 Konings 18:28.) Hy doen eerder wat hy kan sodat hy sy beproewing kan verduur.
Terselfdertyd is dit egter gepas om die saak in gebed voor Jehovah te bring. Waarom? Ten eerste, as ons op ons Skepper vertrou, word ons gehelp om ‘seker te maak van wat die belangriker dinge is’ (Filippense 1:10). Wanneer ons byvoorbeeld werk soek, sal biddende vertroue op God ons help om nie werk te aanvaar wat strydig is met Bybelbeginsels nie. Ons sal dit ook vermy om deur die liefde vir geld “van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring” te word (1 Timoteus 6:10). Ja, wanneer ons gewigtige besluite neem—oor werk of enige ander aspek van die lewe—moet ons Dawid se raad volg: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”—Psalm 55:23.
Gebed help ons ook om ons verstandelike ewewig te behou, sodat ons beproewing ons nie oorweldig nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.” Met watter gevolg? “Die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Ja, vrede, die vrede van God. Daardie vrede ‘gaan alle denke te bowe’, en daarom kan dit ons kalmte gee wanneer ons deur ontstellende emosies belas word. Dit sal ‘ons harte en verstandelike vermoëns bewaak’ en ons sodoende help om dit te vermy om oorhaastig en onverstandig op te tree, wat tot ons beproewing kan bydra.—Prediker 7:7, NW.
Gebed kan selfs meer doen. Dit kan ’n verskil maak aan die uiteinde van ’n saak. Kyk na ’n Bybelse voorbeeld. Toe die apostel Paulus ’n gevangene in Rome was, het hy mede-Christene aangespoor om vir hom te bid. Waarom? “Ek vermaan julle in die besonder om dit te doen”, het hy aan hulle geskryf, “sodat ek nog gouer aan julle teruggegee kan word” (Hebreërs 13:19). Paulus het geweet dat die volgehoue gebede van sy medegelowiges ’n verskil kon maak aan wanneer hy vrygelaat sou word.—Filemon 22.
Sal gebed ’n uitwerking op jou beproewing hê? Moontlik. Ons moet egter besef dat Jehovah nie altyd ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag nie. Paulus het byvoorbeeld herhaaldelik gebid oor sy “doring in die vlees”—moontlik ’n fisiese probleem wat met sy sig verband gehou het. Pleks dat God die probleem verwyder het, het hy vir Paulus gesê: “My onverdiende goedhartigheid is voldoende vir jou; want my krag word tot volmaaktheid gebring in swakheid.”—2 Korintiërs 12:7-9.
Soms sal ons probleme dus nie verwyder word nie. Ons sal eerder die geleentheid hê om ons vertroue op ons Skepper te toon (Handelinge 14:22). Daarbenewens kan ons seker wees dat Jehovah “die uitweg [sal] gee, sodat [ons] dit sal kan verduur”, al verwyder hy nie die beproewing nie (1 Korintiërs 10:13). Ja, dit is met goeie rede dat Jehovah “die God van alle vertroosting, wat ons in al ons verdrukking vertroos”, genoem word (2 Korintiërs 1:3, 4). Hy gee ons wat ons nodig het om met vrede te volhard.
Binnekort —’n wêreld sonder beproewing!
Die Skepper belowe dat hy deur middel van sy Koninkryk binnekort ontslae sal raak van die mensdom se probleme. Hoe sal hy dit doen? Deur Satan die Duiwel, die vernaamste oorsaak van beproewing en die grootste vyand van vrede, wat in die Bybel “die god van hierdie stelsel van dinge” genoem word, uit die weg te ruim (2 Korintiërs 4:4). Maar binnekort sal sy beheer oor die mensdom tot ’n einde kom. Wanneer hy uit die weg geruim word, sal dit die weg baan vir tallose seëninge vir dié wat God vrees. Die Bybel belowe dat Jehovah “elke traan van hulle oë [sal] afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:1-4.
Klink ’n wêreld sonder beproewing te goed om te glo? Ons is so gewoond daaraan om met teenspoed saam te lewe dat dit vir ons moeilik is om ons ’n lewe daarsonder voor te stel. Maar vryheid van vrees, angstigheid en ellende is juis wat God se voorneme vir die mens was toe hy hulle geskep het, en sy voorneme sal verwesenlik word.—Jesaja 55:10, 11.
Dít is die hoop wat Sonia, Fabiana en Ana, wat in die eerste artikel genoem is, gevind het. Sonia, wie se twee seuns aan vigs gesterf het, het vrede gevind in die hoop wat die Bybel bied—’n opstanding van die regverdiges en die onregverdiges (Handelinge 24:15). “Een ding is seker”, sê sy, “ons hoop gaan enige pyn te bowe.”
Terwyl Ana nog in die weeshuis gewoon het, het een van Jehovah se Getuies haar besoek. “Sy het my Jehovah se naam in die Bybel gewys”, sê Ana, “en ek het van blydskap gehuil. Ek het hulp dringend nodig gehad, en ek het uitgevind dat daar ’n God is wat vir ons omgee.” Nadat Ana die weeshuis verlaat het, het sy ’n Bybelstudie aanvaar en meer van Jehovah se beloftes geleer. Toe het sy haar lewe aan Jehovah toegewy en dit deur doop gesimboliseer. “Van toe af het ek altyd deur gebed op Jehovah vertrou, en ek word vertroos deur die versekering dat hy my sal help.”
Fabiana het ook ondanks haar lyding baie vertroosting en gemoedsrus gevind omdat sy geleer het van God se beloftes vir die toekoms. “As ’n mens die waarheid uit die Bybel leer, is dit soos om uit ’n baie donker en sombere plek uit te kom en in ’n helder, pragtige kamer in te gaan.”—Vergelyk Psalm 118:5, NW.
Maar hoe en wanneer sal letterlike vrede oor die hele aarde verwesenlik word? Kom ons kyk in die volgende artikels.
[Venster op bladsy 6]
Etlike Vorme Van Beproewing
▪ Bykans ’n kwart van die wêreld se bevolking lewe in volslae armoede, en miljoene ander lewe onder toestande wat nie vir mense geskik is nie en wat hulle oorlewing bedreig.
▪ Meer as 200 miljoen kinders is ondervoed.
▪ Elke jaar sterf ongeveer driemiljoen kinders onder vyf jaar aan diarree.
▪ Besmetlike siektes het in 1993 alleen die lewe van sowat 16,5 miljoen mense geëis. Aangesien lande siektes op verskillende maniere klassifiseer, is die ware getal moontlik baie hoër.
▪ Na raming word 500 miljoen mense deur die een of ander geestesprobleem aangetas.
▪ Die selfmoordsyfer styg vinniger onder jongmense as in enige ander ouderdomsgroep.
▪ “Verhongering en werkloosheid ontsier die wêreld”, sê The Unesco Courier. “Daar is 35 miljoen werkloses in die sewe rykste nasies ter wêreld, en in Brasilië alleen is daar 20 miljoen werkers wat werk het, maar nog steeds nie genoeg sal hê om te eet nie.”
[Prent op bladsy 7]
Gebed kan ons help om ons aandag te vestig op God se belofte van ’n wêreld sonder beproewing