Jehovah se krag word deur menslike swakheid groot gemaak
“Almal het gedink dat ek so ’n gelukkige en lewenslustige voltydse bedienaar was. Ek was altyd die een wat ander met hulle probleme gehelp het. Maar terselfdertyd het ek gevoel asof ek besig was om binne-in my dood te gaan. Verontrustende gedagtes en geesteskwellinge het ’n nadelige uitwerking op my gehad. Ek het menssku begin word. Ek wou net by die huis in die bed bly. Ek het Jehovah maande lank gesmeek om my te laat sterf.”—Vanessa.
SOOS die geval hierbo toelig, is dit te verwagte dat knegte van Jehovah soms die druk van die lewe sal voel in hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Timoteus 3:1). Party kan selfs mismoedig raak (Filippense 2:25-27). Wanneer mismoedigheid lank voortduur, kan dit ons van ons krag beroof, want die Bybel sê: “Het jy jou ontmoedig betoon op die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 24:10, NW). Ja, wanneer ons ontmoedig is, het ons krag nodig—miskien selfs wat die apostel Paulus “krag wat bo die normale is”, genoem het.—2 Korintiërs 4:7.
Jehovah God is die bron van onbeperkte krag. Dit is duidelik wanneer ons sy skepping ondersoek (Romeine 1:20). Neem byvoorbeeld die son. Die aarde onderskep ’n egalige stroom van ongeveer 240 biljoen perdekrag van die son. En tog verteenwoordig hierdie syfer slegs sowat die helfte van ’n miljardste van die energie wat die son afgee. En die son is klein in vergelyking met sterre wat as superreuse bekend staan. Een van hulle is Rigel, ’n ster in die sterrebeeld Orion wat 50 keer groter as ons son is en 150 000 keer soveel energie uitstraal!
Die Skepper van sulke hemelse kragbronne moet beslis self ’n “oorvloed van dinamiese energie” hê (Jesaja 40:26, NW; Psalm 8:4, 5). Trouens, die profeet Jesaja het gesê dat Jehovah ‘nie moeg of mat word nie’. En God is gewillig om sy krag te deel met enigeen wat, weens menslike swakheid, voel dat hulle besig is om moeg te word (Jesaja 40:28, 29). Die geval van die Christenapostel Paulus lig toe hoe Hy dit doen.
Hoe om beproewinge die hoof te bied
Paulus het vir die Korintiërs vertel van ’n probleem wat hy moes verduur. Hy het dit “’n doring in die vlees” genoem (2 Korintiërs 12:7). Hierdie “doring” was moontlik ’n gesondheidsprobleem, miskien verswakte gesigsvermoë (Galasiërs 4:15; 6:11). Of Paulus kon verwys het na valse apostels en ander rusverstoorders wat sy apostelskap en werk betwis het (2 Korintiërs 11:5, 6, 12-15; Galasiërs 1:6-9; 5:12). Wat dit ook al was, hierdie “doring in die vlees” het Paulus baie gekwel, en hy het herhaaldelik gebid dat dit weggeneem moes word.—2 Korintiërs 12:8.
Maar Jehovah het nie Paulus se versoek toegestaan nie. Hy het eerder vir Paulus gesê: “My onverdiende goedhartigheid is voldoende vir jou” (2 Korintiërs 12:9). Wat het Jehovah hiermee bedoel? Wel, wanneer ons aan Paulus se vorige lewenswandel dink waartydens hy Christene vervolg het, was dit slegs deur onverdiende goedhartigheid dat hy enigsins ’n verhouding met God kon hê—wat nog te sê as ’n apostel kon dien!a (Vergelyk Sagaria 2:8; Openbaring 16:5, 6.) Jehovah kon heel moontlik vir Paulus gesê het dat die voorreg van dissipelskap “voldoende” was. Dit sou nie met ’n wonderdadige wegneming van die lewe se persoonlike probleme gepaardgaan nie. Trouens, party ontberinge kan selfs ’n resultaat van bykomende voorregte wees (2 Korintiërs 11:24-27; 2 Timoteus 3:12). Hoe dit ook al sy, Paulus moes eenvoudig sy “doring in die vlees” verduur.
Maar Jehovah het geensins vir Paulus op hartelose wyse in die steek gelaat nie. Hy het eerder vir hom gesê: “My krag word tot volmaaktheid gebring in swakheid” (2 Korintiërs 12:9). Ja, Jehovah sou Paulus op liefdevolle wyse van die krag voorsien om sy situasie die hoof te bied. Paulus se “doring in die vlees” het dus ’n treffende les geword. Dit het hom geleer om op Jehovah se krag eerder as sy eie krag te vertrou. Paulus het klaarblyklik hierdie les deeglik geleer, want ’n paar jaar later het hy vir die Filippense geskryf: “Ek het geleer om, in watter omstandighede ek ook al is, vergenoeg te wees. Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:11, 13.
Wat van jou? Verduur jy die een of ander soort “doring in die vlees”, miskien ’n siekte of ’n situasie in die lewe wat vir jou groot kommer veroorsaak? Indien wel, skep moed. Hoewel Jehovah die struikelblok dalk nie op wonderdadige wyse sal wegneem nie, kan hy jou die wysheid en krag gee om dit die hoof te bied terwyl jy voortgaan om Koninkryksbelange eerste in jou lewe te stel.—Matteus 6:33.
As siekte of die ouderdom jou verhinder om soveel te doen as wat jy graag wil in Christelike bedrywighede, moet jy nie moed opgee nie. Beskou jou beproewing eerder as ’n geleentheid om groter vertroue in Jehovah op te bou, en nie as ’n beperking op jou diens aan hom nie. Onthou ook dat ’n Christen se waarde nie aan sy hoeveelheid werk gemeet word nie, maar aan sy geloof en die intensheid van sy liefde. (Vergelyk Markus 12:41-44.) Om Jehovah met jou hele siel lief te hê, beteken dat jy hom dien na die beste van jou eie vermoë—nie dié van iemand anders nie.—Matteus 22:37; Galasiërs 6:4, 5.
As jou “doring in die vlees” ’n verontrustende situasie in die lewe behels, soos die dood van ’n geliefde, kan jy die Bybel se vermaning volg: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:23). ’n Christenvrou met die naam Sylvia het dit gedoen. Binne die bestek van net ’n paar jaar het sy haar man aan die dood afgestaan nadat hulle 50 jaar getroud was, asook nege ander familielede—waaronder twee jong kleinkinders. “As dit nie vir Jehovah was nie”, sê Sylvia, “sou ek nie my smart kon verwerk nie. Maar ek put groot vertroosting uit gebed. Ek het ’n feitlik ononderbroke gesprek met Jehovah. Ek weet hy gee my die krag om aan te gaan.”
Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat “die God van alle vertroosting” diegene wat treur die krag kan gee om te volhard! (2 Korintiërs 1:3; 1 Tessalonisense 4:13). As ons dit waardeer, kan ons Paulus se slotsom van die saak verstaan. Hy het geskryf: “Ek [skep] behae in swakhede, in beledigings, in gevalle van nood, in vervolginge en moeilikhede, ter wille van Christus. Want wanneer ek swak is, dan is ek kragtig.”—2 Korintiërs 12:10.
Hoe om onvolmaakthede die hoof te bied
Ons almal het onvolmaaktheid van ons eerste menseouers geërf (Romeine 5:12). Gevolglik het ons ’n stryd teen die begeertes van die gevalle vlees. Hoe ontmoedigend kan dit tog wees om te ontdek dat die eienskappe van “die ou persoonlikheid” ’n sterker houvas op ons het as wat ons gedink het! (Efesiërs 4:22-24). Op sulke tye voel ons dalk soos die apostel Paulus wat geskryf het: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is.”—Romeine 7:22, 23.
Ook hier kan ons op krag van Jehovah af steun. Wanneer jy met ’n persoonlike swakheid worstel, moet jy nooit ophou om tot hom te bid en hom ernstig om vergifnis te smeek ongeag hoe dikwels jy hom oor dieselfde probleem moet nader nie. Weens sy onverdiende goedhartigheid sal Jehovah, wat ‘die harte toets’ en wat die diepte van jou opregtheid kan sien, jou ’n gereinigde gewete gee (Spreuke 21:2). Deur middel van sy heilige gees kan Jehovah jou die krag gee om die stryd teen vleeslike swakhede te hervat.—Lukas 11:13.
Ons het ook krag van Jehovah nodig wanneer ons met ander se onvolmaakthede te doen het. ’n Mede-Christen kan byvoorbeeld vir ons iets so ‘onverskillig soos swaardsteke’ sê (Spreuke 12:18). Dit kan ons diep seermaak, veral as dit van iemand kom wat ons dink van beter behoort te weet. Ons raak miskien hewig ontsteld. Party het al selfs sulke oortredings gebruik as ’n verskoning om Jehovah te verlaat—die grootste fout wat ’n mens kan maak!
Maar ’n gebalanseerde gesindheid sal ons help om ander se swakhede in die regte lig te beskou. Ons kan nie volmaaktheid van onvolmaakte mense verwag nie. “Daar is geen mens wat nie sondig nie”, het die wyse man Salomo ons herinner (1 Konings 8:46). Arthur, ’n gesalfde Christen wat Jehovah ongeveer sewe dekades lojaal gedien het, het gesê: “Swakhede in medeknegte skep vir ons ’n geleentheid om ons onkreukbaarheid te bewys; dit toets ons Christelike karakter. As ons toelaat dat wat mense sê of doen inbreuk maak op ons diens aan Jehovah, dien ons mense. Buitendien is ons broers ook lief vir Jehovah. As ons na goeie eienskappe in hulle soek, sal ons gou sien dat hulle toe eintlik nie sulke slegte mense is nie.”
Die krag om te preek
Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—Handelinge 1:8.
Net soos Jesus gesê het, word hierdie werk nou in 233 lande regoor die aarde deur Jehovah se Getuies gedoen. Gesamentlik bestee hulle elke jaar meer as ’n miljard uur daaraan om ander te help om tot ’n kennis van Jehovah te kom. Dit is nie altyd maklik om hierdie werk te doen nie. In sommige lande is daar ’n verbod of beperkings op die Koninkrykspredikingswerk. Dink ook aan wie die werk doen—swak, onvolmaakte mense, waarvan elkeen sy of haar eie probleme en sorge het. Tog gaan die werk voort, en gevolglik het meer as ’n miljoen mense in die afgelope drie jaar hulle lewe aan Jehovah toegewy en hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer (Matteus 28:18-20). Hierdie werk word waarlik slegs in God se krag verrig. Jehovah het deur die profeet Sagaria gesê: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees.”—Sagaria 4:6.
As jy ’n verkondiger van die goeie nuus is, het jy ’n aandeel—ongeag hoe klein dit mag lyk—aan daardie wonderlike vervulling. Ten spyte van die ‘dorings’ wat jy moet verduur, kan jy daarvan verseker wees dat Jehovah nie ‘jou werk sal vergeet en die liefde wat jy vir sy naam getoon het nie’ (Hebreërs 6:10). Hou dus aan om op die Bron van alle dinamiese energie te vertrou vir onderskraging. Onthou, dit is slegs in Jehovah se krag dat ons kan volhard; sy krag word tot volmaaktheid gebring in ons swakhede.
[Voetnoot]
a Aangesien ‘almal gesondig het en aan die heerlikheid van God te kort skiet’, is dit natuurlik ’n bewys van God se barmhartigheid dat enige mens hoegenaamd ’n verhouding met hom kan aanknoop.—Romeine 3:23.
[Prent op bladsy 26]
Die predikingswerk word slegs in Jehovah se krag verrig