Wanneer daar nie meer sonde is nie
“WORD ons in sonde gebore?” Daardie vraag het ’n universiteitstudent in die Verenigde State hoofbrekens besorg kort nadat hy die Bybel begin bestudeer het. Weens sy Hindoe-agtergrond was die gedagte van oorgeërfde sonde vir hom iets vreemds. Maar indien sonde waarlik oorgeërf word, het hy geredeneer, sal dit niks help om die werklikheid daarvan te ontken of te ignoreer nie. Hoe kan ’n mens die antwoord op hierdie vraag vind?
Indien sonde oorgeërf word, moes dit iewers begin het. Is die eerste mens goddeloos geskep, sodat hy bose eienskappe aan sy kinders oorgedra het? Of het hierdie gebrek later ontstaan? Presies wanneer het sonde begin? Aan die ander kant, kan ons ooit verwag om van sonde bevry te word as dit slegs ’n uiterlike, bose entiteit of beginsel is?
Volgens die Hindoegeloof is lyding en boosheid bykomende verskynsels van die skepping. “Lyding [of boosheid]”, sê ’n Hindoegeleerde, “is soos chroniese rumatiek, dit beweeg slegs van een plek na ’n ander, maar dit kan nie heeltemal verwyder word nie.” Boosheid was beslis deur die opgetekende geskiedenis heen ’n deel van die mensewêreld. As dit ouer as die mens se geskiedverslag is, moet betroubare antwoorde oor die oorsprong daarvan noodgedwonge uit ’n bron hoër as die mens kom. Die antwoorde moet van God kom.—Psalm 36:10.
Die mens—Sonder sonde geskep
Beskrywings van die mens se skepping in die Vedas is figuurlik, erken Hindoefilosoof Nikhilananda. Die meeste Oosterse godsdienste voorsien eweneens slegs mitologiese verduidelikings van die skepping. Tog is daar logiese sowel as wetenskaplike redes om die Bybelse verslag van die skepping van die eerste mens te glo.a Die heel eerste hoofstuk daarvan sê: “God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”—Genesis 1:27.
Wat beteken dit om “na die beeld van God” geskep te wees? Eenvoudig dít: Die mens is na God se gelykenis geskep en het Goddelike eienskappe—soos geregtigheid, wysheid en liefde—wat hom van diere onderskei. (Vergelyk Kolossense 3:9, 10.) Hierdie eienskappe het hom die vermoë gegee om te kies of hy goeie of slegte dinge wil doen en het hom gevolglik wilsvryheid gegee. Toe die eerste mens geskep is, was daar geen sonde in hom nie, geen boosheid of lyding in sy lewe nie.
Jehovah God het hierdie bevel aan die man Adam gegee: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:16, 17). As Adam en sy vrou Eva sou kies om gehoorsaam te wees, sou hulle lof en eer aan hulle Skepper bring en sonder sonde bly. Daarenteen sou ’n daad van ongehoorsaamheid toon dat hulle nie aan God se volmaakte standaarde voldoen nie en sou dit hulle onvolmaak—sondig—maak.
Adam en Eva is nie as gode geskep nie. Maar hulle het wel in sekere mate Goddelike eienskappe gehad, sowel as die vermoë om sedelike besluite te neem. Aangesien God hulle geskep het, was hulle sonder sonde, of volmaak (Genesis 1:31; Deuteronomium 32:4). Toe hulle geskep is, het dit nie die harmonie versteur wat tot op daardie stadium eeue lank tussen God en die heelal geheers het nie. Hoe het sonde dan begin?
Die oorsprong van sonde
Sonde is eerste in die geesteryk gepleeg. Voor die skepping van die aarde en die mens het God intelligente geesskepsele—die engele—geskep (Job 1:6; 2:1; 38:4-7; Kolossense 1:15-17). Een van hierdie engele het ’n hoë dunk van sy eie skoonheid en intelligensie gehad. (Vergelyk Esegiël 28:13-15.) Hierdie engel kon uit God se opdrag aan Adam en Eva om kinders voort te bring, sien dat die hele aarde kort voor lank met regverdige mense gevul sou wees wat almal God aanbid (Genesis 1:27, 28). Hierdie geesskepsel wou hê dat hulle hóm moes aanbid (Matteus 4:9, 10). Omdat hy aangehou het om hierdie begeerte te koester, het hy uiteindelik ’n verkeerde weg ingeslaan.—Jakobus 1:14, 15.
Die opstandige engel het deur middel van ’n slang met Eva gepraat en vir haar gesê dat God, deur haar te verbied om die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet, kennis van haar weerhou waarop sy geregtig is (Genesis 3:1-5). Wat hy gesê het, was ’n haatlike leuen—’n daad van sonde. Deur hierdie leuen te vertel, het die engel homself ’n sondaar gemaak. Hy is gevolglik die Duiwel, ’n lasteraar, en Satan, ’n teenstander van God, genoem.—Openbaring 12:9.
Satan se oorredende argument het ’n nadelige uitwerking op Eva gehad. Deur haar vertroue in die Versoeker se woorde te stel, het sy toegelaat dat sy verlei word en het sy van die vrugte van die verbode boom geëet. Haar man, Adam, het ook saam met haar van die vrugte geëet, en sodoende het hulle albei sondaars geword (Genesis 3:6; 1 Timoteus 2:14). Dit is duidelik dat ons eerste ouers, deur te kies om ongehoorsaam aan God te wees, te kort geskiet het aan volmaaktheid en hulleself sondaars gemaak het.
Wat van Adam en Eva se nageslag? Die Bybel verduidelik: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Die erflikheidswet was reeds in werking. Adam kon nie aan sy kinders oordra wat hy nie gehad het nie (Job 14:4). Omdat die eerste egpaar hulle volmaaktheid verloor het, was hulle sondaars toe hulle kinders gebore is. Gevolglik het ons almal—sonder uitsondering—sonde oorgeërf (Psalm 51:7; Romeine 3:23). Sonde weer het net boosheid en lyding voortgebring. Wat meer is, as gevolg daarvan word ons almal oud en sterf ons, “want die loon wat die sonde betaal, is die dood”.—Romeine 6:23.
Die gewete “beskuldig” of “verontskuldig”
Dink ook aan die uitwerking wat sonde op die gedrag van die eerste mensepaar gehad het. Hulle het dele van hulle liggame bedek en vir God probeer wegkruip (Genesis 3:7, 8). Sonde het hulle dus skuldig, beangs en skaam laat voel. Die mensdom is vandag maar alte bekend met hierdie emosies.
Wie het nog nie ongemaklik gevoel omdat hulle versuim het om goed te doen aan iemand wat behoeftig is nie of het nog nie spyt gehad oor iets wat hulle nooit moes gesê het nie? (Jakobus 4:17). Waarom het ons sulke kwellende gevoelens? Die apostel Paulus verduidelik dat ‘die wet in ons harte geskrywe staan’. Tensy ons gewete verstomp is, veroorsaak enige oortreding van daardie wet ’n beroering in ons. Dit is hoe die stem van ons gewete ons “beskuldig” of “verontskuldig” (Romeine 2:15; 1 Timoteus 4:2; Titus 1:15). Hetsy ons dit besef of nie, ons almal het ’n innerlike sin vir wat verkeerd is, vir sonde!
Paulus was deeglik bewus van sy sondige neigings. “Wanneer ek wil doen wat reg is, [is] die slegte by my aanwesig”, het hy erken. “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is.” Paulus het dus gevra: “Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?”—Romeine 7:21-24.
Vryheid van sonde—Hoe?
“Bevryding, in die Hindoetradisie,” sê een geleerde, “is bevryding van herhaalde geboortes en sterftes.” Boeddhisme bied op soortgelyke wyse Nirwana as ’n oplossing—’n toestand van onbewustheid van die eksterne werklikheid. Omdat hulle nie die begrip van oorgeërfde sonde verstaan nie, beloof Hindoeïsme slegs ’n ontsnapping aan ’n mens se bestaan.
Daarenteen het die Bybel se middel tot bevryding die werklike verwydering van die sondige toestand tot gevolg. Nadat die apostel Paulus gevra het hoe hy van sonde gered kan word, het hy voortgegaan om te antwoord: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Romeine 7:25). Ja, die redding kom van God deur middel van Jesus Christus.
Volgens Matteus se Evangelie het “die Seun van die mens”, Jesus Christus, gekom “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Soos in 1 Timoteus 2:6 opgeteken staan, het Paulus geskryf dat Jesus “homself as ’n ooreenstemmende losprys vir almal gegee het”. Die woord “losprys” verwys na die betaling van ’n prys vir die bevryding van gevangenes. Die feit dat dit ’n ooreenstemmende losprys is, beklemtoon die effektiewe waarde van die prys om die skaal van geregtigheid te laat balanseer. Maar hoe kon een mens se dood as “’n ooreenstemmende losprys vir almal” beskou word?
Adam het die hele mensdom, ons inkluis, in sonde en die dood verkoop. Die prys wat hy betaal het, was sy volmaakte menselewe. Om dit te dek, moes nog ’n volmaakte menselewe—’n ooreenstemmende losprys—betaal word (Exodus 21:23; Deuteronomium 19:21; Romeine 5:18, 19). Aangesien geen onvolmaakte mens hierdie losprys kon voorsien nie, het God, in sy oneindige wysheid, ’n uitweg uit hierdie verknorsing voorsien (Psalm 49:7, 8). Hy het die volmaakte lewe van sy enigverwekte Seun uit die hemel na die baarmoeder van ’n maagd op die aarde oorgeplaas, sodat hy as ’n volmaakte mens gebore kon word.—Lukas 1:30-38; Johannes 3:16-18.
Jesus moes gedurende die hele tyd toe hy op die aarde was ’n skoon rekord behou sodat hy die werk kon volbring om die mensdom los te koop. Dit het hy gedoen. Toe het hy ’n offerdood gesterf. Op hierdie manier het Jesus verseker dat die waarde van ’n volmaakte menselewe—sy eie—beskikbaar sou wees om as ’n losprys te betaal sodat die mensdom bevry kon word.—2 Korintiërs 5:14; 1 Petrus 1:18, 19.
Wat Christus se losprys vir ons kan doen
Jesus se losprysofferande kan ons nou reeds tot voordeel strek. Deur geloof daarin te beoefen, kan ons ’n rein posisie voor God geniet en kan ons onder Jehovah se liefdevolle en tere sorg kom (Handelinge 10:43; Romeine 3:21-24). Pleks dat ons oorweldig word deur skuldgevoelens oor die sondes wat ons moontlik gepleeg het, kan ons op grond van die losprys vryelik God se vergifnis probeer verkry.—Jesaja 1:18; Efesiërs 1:7; 1 Johannes 2:1, 2.
In die dae wat voorlê, sal die losprys die algehele genesing moontlik maak van die mensdom se siek toestand wat deur sonde veroorsaak is. Die laaste boek van die Bybel beskryf “’n rivier van water van die lewe” wat uit die troon van God uitstroom. Langs die rivieroewer is daar baie vrugtebome wat blare “vir die genesing van die nasies” het (Openbaring 22:1, 2). Die Bybel praat hier in simboliese taal van die Skepper se wonderlike voorsiening om die mensdom op grond van Jesus se losprysofferande vir ewig van sonde en die dood te bevry.
Die profetiese visioene van die boek Openbaring gaan binnekort vervul word (Openbaring 22:6, 7). Dan sal alle regskapenes volmaak word, wanneer hulle ‘vrygemaak is van die slawerny van die verderflikheid’ (Romeine 8:20, 21). Behoort dit ons nie te beweeg om meer te leer oor Jehovah God en sy lojale Seun, Jesus Christus, wat die losprys geword het nie?—Johannes 17:3.
[Voetnoot]
a Sien die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 6]
Adam het sonde en die dood oor die mensdom gebring
[Prent op bladsy 7]
Jesus se losprysofferande bring vryheid van sonde en die dood