Laat julle broederliefde voortduur!
“Laat julle broederliefde voortduur.”—HEBREËRS 13:1.
1. Wat sal jy doen om ’n vuur op ’n koue aand aan die brand te hou, en watter soortgelyke verantwoordelikheid het ons almal?
DIT is gevaarlik koud buite, en die temperatuur is besig om skerp te daal. Die enigste bron van hitte in jou huis is ’n vuur wat in die kaggel knetter. Lewens hang daarvan af dat jy dit aan die gang hou. Sal jy eenvoudig sit en kyk hoe die vlamme sterf en die rooi gloed van die kole in ’n dowwe, lewelose grys kleur verander? Natuurlik nie. Jy sal onvermoeid hout daarop bly gooi om dit aan die brand te hou. Ons almal het in sekere sin ’n soortgelyke werk wat ’n veel belangriker “vuur” betref—die een wat in ons hart moet brand—liefde.
2. (a) Waarom kan daar gesê word dat die liefde in hierdie laaste dae verkoel het? (b) Hoe belangrik is liefde vir ware Christene?
2 Ons lewe in ’n tyd waarin die liefde onder verklaarde Christene regoor die wêreld besig is om te verkoel, soos Jesus lank gelede voorspel het (Matteus 24:12). Jesus het na die allerbelangrikste soort liefde verwys, die liefde vir Jehovah God en vir sy Woord, die Bybel. Ander soorte liefde is ook besig om te verflou. Die Bybel het voorspel dat baie mense in ‘die laaste dae sonder natuurlike geneentheid’ sou wees (2 Timoteus 3:1-5). Hoe waar is dit tog! Die gesin behoort ’n instelling te wees waar natuurlike geneentheid gedy, maar selfs daar het geweld en mishandeling—soms verskriklik wreed—algemeen geword. In hierdie wêreld met sy liefdelose klimaat word Christene egter nie net beveel om mekaar lief te hê nie, maar ook om selfopofferende liefde te hê, om ander voor hulleself te stel. Ons moet hierdie liefde so duidelik openbaar dat dit vir almal sigbaar is—die kenmerk waardeur die ware Christengemeente geïdentifiseer word.—Johannes 13:34, 35.
3. Wat is broederliefde, en wat beteken dit om dit te laat voortduur?
3 Die apostel Paulus is geïnspireer om te beveel: “Laat julle broederliefde voortduur” (Hebreërs 13:1). Volgens een vakwerk verwys die Griekse woord (fi·la·del·fiʹa) wat hier met “broederliefde” vertaal word “na tere liefde, die betoning van goedhartigheid, simpatie, om hulp aan te bied”. En wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat ons sulke liefde moet laat voortduur? “Dit moet nooit verkoel nie”, het dieselfde publikasie gesê. Dit is dus nie genoeg om geneentheid vir ons broers te hê nie; ons moet dit openbaar. Daarbenewens moet ons hierdie liefde blywend maak en dit nooit laat verkoel nie. ’n Uitdaging? Ja, maar Jehovah se gees kan ons help om broederlike geneentheid aan te kweek en dit te behou. Kom ons kyk na drie maniere waarop ons hierdie liefde in ons hart aan die brand kan hou.
Betoon meegevoel
4. Wat is meegevoel?
4 As jy meer liefde vir jou Christenbroers en -susters wil hê, moet jy eers meegevoel met hulle hê en empatie toon vir die beproewinge en uitdagings waarvoor hulle te staan kom in die lewe. Die apostel Petrus het hierdie raad gegee toe hy geskryf het: “Julle [moet] almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees” (1 Petrus 3:8). Die Griekse woord wat hier vir die betoning van “meegevoel” gebruik word, beteken “saam ly”. ’n Gesaghebbende op die gebied van Bybelse Grieks sê van hierdie woord: “Dit beskryf daardie gemoedstoestand wat ons het wanneer ons in ander se gevoelens deel asof dit ons eie is.” Empatie is dus nodig. ’n Getroue, bejaarde kneg van Jehovah het eenkeer gesê: “Empatie is jou pyn in my hart.”
5. Hoe weet ons dat Jehovah meegevoel het?
5 Het Jehovah sulke meegevoel? Baie beslis. Ons lees byvoorbeeld aangaande die teëspoed wat sy volk Israel gehad het: “In al hulle benoudheid was Hy benoud” (Jesaja 63:9). Jehovah het nie bloot hulle ontberings gesien nie; hy het meegevoel met die volk gehad. Die intensheid van sy gevoelens word toegelig deur Jehovah se eie woorde aan sy volk, soos opgeteken staan in Sagaria 2:8: “Want wie julle aanraak, raak [my] oogappel aan.”a ’n Kommentator sê oor hierdie vers: “Die oog is een van die ingewikkeldste en delikaatste organe in die mens se liggaam; en die oogappel—die opening waardeur die lig uit die hemel dring sodat ’n mens kan sien—is die sensitiefste, sowel as die belangrikste, deel van daardie orgaan. Niks kan die gedagte van Jehovah se besonder tere sorg vir die ontvangers van sy liefde mooier oordra nie.”
6. Hoe het Jesus Christus meegevoel betoon?
6 Jesus het ook altyd innige meegevoel betoon. Hy was herhaalde kere “deur medelye ontroer” oor die benarde toestand van sy medemens wat siek was of deur probleme geteister is (Markus 1:41; 6:34). Wanneer iemand versuim om sy gesalfde volgelinge vriendelik te behandel, het hy gesê dat dit dan vir hom voel asof hy self so behandel word (Matteus 25:41-46). En vandag is hy as ons hemelse “hoëpriester” iemand wat “met ons swakhede kan simpatiseer”.—Hebreërs 4:15.
7. Hoe kan meegevoel ons help wanneer ’n broer of ’n suster ons irriteer?
7 Hy ‘simpatiseer met ons swakhede’—is dit nie ’n bemoedigende gedagte nie? Ons sal dus ongetwyfeld dieselfde vir mekaar wil doen. Dit is natuurlik veel makliker om op ander se swakhede te let (Matteus 7:3-5). Maar wanneer ’n broer of ’n suster jou weer irriteer, kan jy gerus die volgende probeer. Stel jou voor dat jy in daardie persoon se omstandighede is, met daardie agtergrond, daardie persoonlikheid, daardie persoonlike tekortkominge waarteen jy moet stry. Kan jy daarvan seker wees dat jy nie dieselfde foute sal begaan nie—of miskien selfs erger foute? Ons moenie te veel van ander verwag nie, maar eerder meegevoel betoon, wat ons sal help om redelik te wees soos Jehovah, wat ‘gedagtig is dat ons stof is’ (Psalm 103:14; Jakobus 3:17). Hy ken ons beperkings. Hy verwag nooit meer van ons as wat ons redelikerwys kan doen nie. (Vergelyk 1 Konings 19:5-7.) Laat ons almal sulke meegevoel aan ander betoon.
8. Hoe moet ons reageer wanneer ’n broer of ’n suster die een of ander ontbering verduur?
8 Paulus het geskryf dat die gemeente soos ’n liggaam met verskillende lede is wat in eenheid moet saam werk. Hy het bygevoeg: “As een lid ly, ly al die ander lede saam met hom” (1 Korintiërs 12:12-26). Ons moet saam met diegene ly wat die een of ander ontbering verduur, oftewel empatie met hulle hê. Die ouer manne neem die voortou hiermee. Paulus het ook geskryf: “Wie is swak en ek is nie swak nie? Wie word tot struikeling gebring en ek is nie ontstoke nie?” (2 Korintiërs 11:29). Ouer manne en reisende opsieners volg Paulus na in hierdie opsig. In hulle toesprake, in hulle herderswerk en selfs in hulle hantering van regterlike sake probeer hulle meegevoel betoon. Paulus het ons aangeraai: “Huil saam met mense wat huil” (Romeine 12:15). Wanneer die skape aanvoel dat die herders waarlik empatie met hulle het, hulle beperkings verstaan en meegevoel het met die probleme wat hulle deurmaak, is hulle gewoonlik gewilliger om raad, leiding en dissipline te aanvaar. Hulle woon vergaderinge gretig by, vol vertroue dat hulle daar ‘verkwikking vir hulle siele sal vind’.—Matteus 11:29.
Toon waardering
9. Hoe toon Jehovah dat hy die goeie eienskappe in ons waardeer?
9 ’n Tweede manier om broerderliefde aan die brand te hou, is deur waardering. Om ander te waardeer, moet ons die aandag op hulle goeie eienskappe en pogings vestig en dit op prys stel. Wanneer ons dit doen, volg ons Jehovah na (Efesiërs 5:1). Hy vergewe ons daagliks ons talle geringe sondes. Hy vergewe selfs ons ernstige sondes mits daar ware berou is. En nadat hy ons sondes vergewe het, bly hy nie daaroor dink nie (Esegiël 33:14-16). Die psalmis het gevra: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” (Psalm 130:3). Jehovah vestig sy aandag op die goeie dinge wat ons in sy diens doen.—Hebreërs 6:10.
10. (a) Waarom is dit gevaarlik vir huweliksmaats om waardering vir mekaar te verloor? (b) Wat moet ’n mens doen as jou waardering vir jou huweliksmaat besig is om af te neem?
10 Dit is veral belangrik om hierdie voorbeeld in die gesin na te volg. Wanneer ouers bewys dat hulle mekaar waardeer, gee hulle die toon aan vir die gesin. In hierdie era van weggooihuwelike is dit veels te maklik om ’n huweliksmaat as vanselfsprekend te beskou en foute te vergroot en goeie eienskappe te verklein. Sulke negatiewe denke ondermyn die huwelik en verander dit in ’n vreugdelose las. As jou waardering vir jou huweliksmaat besig is om af te neem, moet jy jou afvra: ‘Het my maat werklik geen goeie eienskappe nie?’ Dink terug aan die redes waarom julle verlief geraak en getrou het. Het al daardie redes om hierdie unieke persoon lief te hê werklik verdwyn? Beslis nie; span jou dus in om die goeie eienskappe in jou huweliksmaat te waardeer, en druk jou waardering uit in woorde.—Spreuke 31:28.
11. Watter dinge moet vermy word sodat liefde in die huwelik sonder huigelary kan wees?
11 Waardering help huweliksmaats ook om hulle liefde sonder huigelary te hou. (Vergelyk 2 Korintiërs 6:6; 1 Petrus 1:22.) Sulke liefde wat deur hartgrondige waardering aan die brand gehou word, sal geen ruimte laat vir wreedheid agter geslote deure nie, geen ruimte vir woorde wat seermaak en verneder nie, geen ruimte vir die doelbewuste ignorering van mekaar terwyl dae verbygaan sonder dat ’n vriendelike of ’n beleefde woord geuiter word nie en beslis geen ruimte vir fisiese geweld nie (Efesiërs 5:28, 29). ’n Man en vrou wat mekaar waarlik waardeer, eer mekaar. Hulle doen dit nie net wanneer hulle in die openbaar is nie, maar wanneer hulle ook al deur Jehovah gesien word—dit wil sê deurentyd.—Spreuke 5:21.
12. Waarom moet ouers waardering vir die goeie eienskappe in hulle kinders uitspreek?
12 Kinders moet ook voel dat hulle waardeer word. Nie dat ouers hulle met ydele vleiery moet oorlaai nie, maar hulle moet hulle kinders prys vir hulle lofwaardige eienskappe en die waarlik goeie dinge wat hulle doen. Dink aan die voorbeeld wat Jehovah gestel het deur te sê dat hy Jesus goedkeur (Markus 1:11). Onthou ook Jesus se voorbeeld as die “heer” in ’n gelykenis. Hy het twee ‘goeie en getroue slawe’ ewe veel geprys, al was daar ’n verskil in wat elkeen ontvang het en ’n ooreenstemmende verskil in wat elkeen opgelewer het. (Matteus 25:20-23; vergelyk Matteus 13:23.) Wyse ouers vind eweneens maniere om hulle waardering uit te spreek vir elke kind se unieke eienskappe, vermoëns en prestasies. Terselfdertyd probeer hulle nie soveel klem op prestasies lê dat hulle kinders gedurig voel dat hulle móét uitblink nie. Hulle wil nie hê dat hulle kinders vertoorn of mismoedig moet opgroei nie.—Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21.
13. Wie neem die leiding in die betoning van waardering vir elke gemeentelid?
13 In die Christengemeente neem ouer manne en reisende opsieners die leiding in die betoning van waardering vir elke individuele lid van God se kudde. Hulle het ’n moeilike taak, aangesien hulle ook die swaar verantwoordelikheid het om in regverdigheid te dissiplineer, om diegene wat sondig in ’n gees van sagmoedigheid reg te help en om ernstige raad te gee aan diegene wat dit nodig het. Hoe hou hulle hierdie verskillende verantwoordelikhede in ewewig?—Galasiërs 6:1; 2 Timoteus 3:16.
14, 15. (a) Hoe het Paulus balans getoon wat die gee van streng teregwysing betref? (b) Hoe kan Christenopsieners die ewewig bewaar tussen die nodigheid om verkeerde dinge reg te stel en om ander te prys? Lig toe.
14 Paulus se voorbeeld is van groot nut. Hy was ’n uitstekende onderrigter, ouer man en herder. Hy het met gemeentes gewerk wat ernstige probleme gehad het, en hy het nie uit vrees geaarsel om streng teregwysing te gee wanneer dit nodig was nie (2 Korintiërs 7:8-11). ’n Oorsig van Paulus se bediening dui daarop dat hy nie dikwels van bestrawwing gebruik gemaak het nie—slegs wanneer die situasie dit vereis of raadsaam gemaak het. Hierin het hy Goddelike wysheid geopenbaar.
15 As ’n ouer man se diens voor die gemeente met ’n musiekstuk vergelyk sou word, sal bestrawwing en berisping soos een enkele noot wees wat in die geheel inpas. Daardie noot is goed op sy plek (Lukas 17:3; 2 Timoteus 4:2). Stel jou ’n lied voor wat net daardie een noot bevat wat oor en oor herhaal word. Dit sal spoedig ons ore pynig. Christen- ouer manne probeer eweneens hulle onderrigting aanvul en dit met verskeidenheid verryk. Hulle beperk dit nie tot die regstelling van probleme nie. Die algehele gees is eerder positief. Soos Jesus Christus, soek liefdevolle ouer manne eers na die goeie eienskappe wat hulle kan prys, nie na die foute om te kritiseer nie. Hulle waardeer die harde werk wat hulle mede-Christene doen. Hulle is vol vertroue dat elkeen oor die algemeen sy bes doen om Jehovah te dien. En ouer manne druk daardie gevoel geredelik uit in woorde.—Vergelyk 2 Tessalonisense 3:4.
16. Watter uitwerking het Paulus se waarderende en simpatieke houding op sy mede-Christene gehad?
16 Dit ly geen twyfel nie dat die meeste Christene vir wie Paulus bedien het, kon aanvoel dat hy hulle waardeer het en meegevoel met hulle gehad het. Hoe weet ons dit? Kyk net hoe hulle oor Paulus gevoel het. Hulle was nie bang vir hom nie, al het hy groot gesag gehad. Nee, hy was geliefd en genaakbaar. Toe hy een gebied verlaat het, het die ouer manne hom selfs “om die hals geval en hom teer gesoen”! (Handelinge 20:17, 37). Hoe dankbaar moet ouer manne—en ons almal—tog wees dat ons Paulus se voorbeeld het om na te volg! Ja, laat ons waardering vir mekaar toon.
Dade van liefderyke goedhartigheid
17. Wat is party van die goeie resultate wat dade van goedhartigheid in die gemeente voortbring?
17 ’n Eenvoudige daad van goedhartigheid is een van die kragtigste maniere om broederliefde aan die brand te hou. Dit is soos Jesus gesê het: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Of ons nou geestelik, materieel of ons tyd en energie gee, ons maak nie net ander gelukkig nie maar ons maak ook onsself gelukkig. Goedhartigheid is aansteeklik in die gemeente. Een goedhartige daad lei weer tot soortgelyke dade. Kort voor lank gedy broederlike geneentheid!—Lukas 6:38.
18. Wat is die betekenis van die “goedhartigheid” waarvan Miga 6:8 (NW) praat?
18 Jehovah het sy volk Israel aangespoor om goedhartigheid aan die dag te lê. In Miga 6:8 lees ons: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en [goedhartigheid lief te hê, NW] en ootmoedig te wandel met jou God?” Wat beteken dit om “goedhartigheid lief te hê”? Die Hebreeuse woord wat hier vir “goedhartigheid” gebruik word (cheʹsedh), is al ook vertaal as “barmhartigheid”. Volgens The Soncino Books of the Bible dui hierdie woord op “iets aktiewer as die abstrakte woord barmhartigheid. Dit beteken ‘barmhartigheid wat in dade omgesit word’, om persoonlike dade van liefderyke goedhartigheid te verrig, nie net teenoor die armes en behoeftiges nie, maar teenoor almal wat jou medemens is.” Daarom sê ’n ander geleerde dat cheʹsedh “liefde omgesit in dade” beteken.
19. (a) Op watter maniere kan ons die inisiatief neem om goedhartigheid teenoor ander in die gemeente te betoon? (b) Gee ’n voorbeeld van hoe broederliefde teenoor jou betoon is.
19 Ons broederliefde is nie teoreties of abstrak nie. Dit is ’n konkrete werklikheid. Soek dus na maniere om goedhartige dinge vir jou broers en susters te doen. Wees soos Jesus wat nie net altyd gewag het dat mense hom nader en om hulp vra nie, maar wat dikwels self die inisiatief geneem het (Lukas 7:12-16). Dink veral aan diegene wat werklik hulp nodig het. Het ’n bejaarde of sieklike persoon ’n besoek of miskien hulp met takies nodig? Het ’n ‘vaderlose kind’ ’n bietjie tyd en aandag nodig? Het ’n terneergedrukte siel ’n horende oor of vertroostende woorde nodig? Laat ons, soos dit vir ons moontlik is, tyd inruim vir sulke dade van goedhartigheid (Job 29:12, NW; 1 Tessalonisense 5:14; Jakobus 1:27). Moet nooit vergeet dat een van die belangrikste dade van goedhartigheid in ’n gemeente vol onvolmaakte mense vergewensgesindheid is nie—dit wil sê om geredelik ontslae te raak van ’n wrok selfs wanneer daar ’n gegronde rede tot klagte is (Kolossense 3:13). As ons gereed is om te vergewe, help dit om die gemeente vry van verdeeldhede, wrokke en vetes te hou, wat soos nat komberse is wat die vuur van broederliefde smoor.
20. Hoe moet ons almal onsself bly ondersoek?
20 Laat ons almal vasbeslote wees om hierdie noodsaaklike vuur van liefde aan die brand te hou in ons hart. Laat ons onsself gedurig ondersoek. Betoon ons meegevoel met ander? Toon ons waardering vir ander? Verrig ons dade van goedhartigheid teenoor ander? So lank as wat ons dit doen, sal die vuur van liefde ons broederskap warm maak, ongeag hoe bitter koud en liefdeloos hierdie wêreld mag word. “Laat julle broederliefde” dan—nou en vir ewig—op alle moontlike maniere “voortduur”!—Hebreërs 13:1.
[Voetnoot]
a Party vertalings impliseer hier dat die een wat God se volk aanraak, nie God se oog nie, maar Israel se oog of selfs sy eie oog aanraak. Hierdie wanopvatting het sy oorsprong by sekere Middeleeuse skrifgeleerdes wat hierdie vers verander het in hulle onbedagte pogings om tekste te verbeter wat hulle as oneerbiedig beskou het. Hulle het daardeur die intensheid van Jehovah se persoonlike empatie verberg.
Wat dink jy?
◻ Wat is broederliefde, en waarom moet ons dit laat voortduur?
◻ Hoe help meegevoel ons om ons broederliefde te behou?
◻ Watter rol speel waardering in broederliefde?
◻ Hoe laat dade van goedhartigheid broederliefde in die Christengemeente gedy?
[Venster op bladsy 16]
Liefde In Aksie
’n Paar jaar gelede het ’n man wat die Bybel ’n ruk lank saam met Jehovah se Getuies gestudeer het nog steeds ietwat skepties oor broederliefde gevoel. Hy het geweet dat Jesus gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Maar dit was vir hom moeilik om te glo. Op ’n dag het hy Christelike liefde in aksie gesien.
Hoewel hy aan ’n rolstoel gekluister was, het hierdie man op ’n buitelandse reis gegaan. In Betlehem, Israel, het hy ’n gemeentelike vergadering bygewoon. Daar het ’n Arabiese Getuie daarop aangedring dat ’n ander Getuietoeris by hom en sy gesin oornag, en hierdie Bybelstudent is ook genooi. Voor hulle gaan slaap het, het die student sy gasheer se toestemming gevra om die volgende oggend op die veranda uit te gaan om na die sonsopkoms te kyk. Sy gasheer het hom ernstig gewaarsku om dit nie te doen nie. Die volgende dag het hierdie Arabiese broer verduidelik wat die rede hiervoor was. Hy het deur ’n tolk gesê dat sy bure sy huis met hom en sy gesin daarin sou afbrand as hulle sou uitvind dat hy gaste van ’n Joodse agtergrond het—soos die geval was met hierdie Bybelstudent. Die Bybelstudent het verbysterd vir hom gevra: “Waarom het jy jou dan aan so ’n gevaar blootgestel?” Sonder die tolk het die Arabiese broer hom reg in die oë gekyk en eenvoudig gesê: “Johannes 13:35.”
Die Bybelstudent was diep beïndruk deur die werklikheid van broederliefde. Hy is kort daarna gedoop.
[Prent op bladsy 18]
Die apostel Paulus se vriendelike en waarderende geaardheid het hom genaakbaar gemaak