Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/15 bl. 13-18
  • Geloof beweeg ons tot dade!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geloof beweeg ons tot dade!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voortrekkery nie verenigbaar met geloof nie
  • ‘Barmhartigheid verbly hom oor die oordeel’
  • Geloof bring goeie werke voort
  • Beheers daardie tong!
  • Tree op met die wysheid van bo
  • Geloof en werke kan tot regverdigheid lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Bybelboek nommer 59—Jakobus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/15 bl. 13-18

Geloof beweeg ons tot dade!

“Jy sien dat [Abraham se] geloof met sy werke saamgewerk het en dat sy geloof deur sy werke vervolmaak is.”—JAKOBUS 2:22.

1, 2. Hoe sal ons optree as ons geloof het?

BAIE mense sê dat hulle geloof in God het. En tog is bloot verklaarde geloof so leweloos soos ’n lyk. “Geloof, as dit nie werke het nie, [is] op sigself dood”, het die dissipel Jakobus geskryf. Hy het ook gesê dat die godvresende Abraham geloof gehad het wat “met sy werke saamgewerk het” (Jakobus 2:17, 22). Watter betekenis het hierdie woorde vir ons?

2 As ons ware geloof het, sal ons nie net glo wat ons by Christelike vergaderinge hoor nie. Ons sal bewys lewer van ons geloof omdat ons bedrywige Getuies van Jehovah is. Ja, geloof sal ons aanspoor om God se Woord in ons lewe toe te pas en sal ons tot dade beweeg.

Voortrekkery nie verenigbaar met geloof nie

3, 4. Watter uitwerking moet geloof hê op die manier waarop ons ander behandel?

3 As ons ware geloof in God en Christus het, sal ons niemand voortrek nie (Jakobus 2:1-4). Party aan wie Jakobus geskryf het, het nie die onpartydigheid wat van ware Christene verwag word aan die dag gelê nie (Romeine 2:11). Daarom vra Jakobus: “Julle hou nie by die geloof van ons Here Jesus Christus, ons heerlikheid, met voortrekkery nie, of hoe?” As ’n ryk ongelowige met goue ringe en pragtige klere na ’n vergadering toe gekom het, sowel as ’n ongelowige “arme in vuil klere”, moes hulle albei verwelkom word, maar die welgesteldes het spesiale aandag geniet. Hulle is “op ’n goeie plek” sitplek gegee, terwyl arm ongelowiges aangesê is om te staan of op die vloer by iemand se voete te sit.

4 Jehovah het die losprysofferande van Jesus Christus vir rykes sowel as armes voorsien (2 Korintiërs 5:14). As ons die rykes begunstig, sou ons dus afwyk van die geloof van die Christus, wat “arm geword het, sodat [ons] deur sy armoede ryk kon word” (2 Korintiërs 8:9). Laat ons mense nooit so beoordeel—met die verkeerde beweegrede om mense te eer—nie. God is nie partydig nie, maar as ons partydig is, sal ons “goddelose beslissings vel” (Job 34:19). Aangesien ons God wil behaag, sal ons tog sekerlik nie voor die versoeking wil swig om mense voor te trek of om ‘persoonlikhede ter wille van ons eie voordeel te bewonder’ nie.—Judas 4, 16.

 5. Wie is deur God gekies om “ryk in geloof” te wees, en hoe tree dié wat materieel ryk is dikwels op?

5 Jakobus identifiseer dié wat waarlik ryk is en maan dat liefde met onpartydigheid aan almal betoon word (Jakobus 2:5-9). ‘God het die armes uitgekies om ryk in geloof en erfgename van die koninkryk te wees.’ Dit is so omdat die armes dikwels ontvankliker is vir die goeie nuus (1 Korintiërs 1:26-29). As ’n groep onderdruk dié wat materieel ryk is ander ten opsigte van skuld, lone en hofsake. Hulle praat sleg van Christus en vervolg ons omdat ons sy naam dra. Maar laat dit ons vaste voorneme wees om die “koninklike wet” te gehoorsaam, wat naasteliefde vereis—dat ons rykes en armes met ewe veel liefde behandel (Levitikus 19:18; Matteus 22:37-40). Aangesien God dit vereis, ‘bedryf ons ’n sonde’ as ons mense voortrek.

‘Barmhartigheid verbly hom oor die oordeel’

 6. Waarom sou ons wetsoortreders wees as ons nie barmhartig is teenoor ander nie?

6 As ons onbarmhartig is en ander voortrek, is ons wetsoortreders (Jakobus 2:10-13). Deur in hierdie opsig ’n misstap te begaan, word ons oortreders van al God se wette. Israeliete wat nie egbreuk gepleeg het nie maar diewe was, het oortreders van die Mosaïese Wet geword. As Christene word ons geoordeel deur “die wet van ’n vry volk”—geestelike Israel in die nuwe verbond, wat die wet daarvan op hulle hart het.—Jeremia 31:31-33.

 7. Waarom kan diegene wat aanhou om ander voor te trek, nie verwag om barmhartigheid van God te ontvang nie?

7 As ons sê dat ons geloof het, maar aanhou om ander voor te trek, verkeer ons in gevaar. Diegene wat liefdeloos en onbarmhartig is, sal hulle oordeel sonder barmhartigheid kry (Matteus 7:1, 2). Jakobus sê: “Barmhartigheid verbly hom triomfantlik oor die oordeel.” As ons die leiding van Jehovah se heilige gees aanvaar deur barmhartig te wees in al ons handelinge, sal ons nie veroordeel word in die oordeel nie. Ons sal eerder barmhartigheid ontvang en sal dus oor streng geregtigheid of ’n ongunstige oordeel triomfeer.

Geloof bring goeie werke voort

 8. Wat is die situasie van iemand wat sê dat hy geloof het maar geen werke het nie?

8 Buiten dat geloof ons liefdevol en barmhartig maak, bring dit ander goeie werke voort (Jakobus 2:14-26). Verklaarde geloof wat geen werke het nie, sal ons natuurlik nie red nie. Ons kan weliswaar nie deur werke van die Wet ’n regverdige posisie voor God verwerf nie (Romeine 4:2-5). Jakobus praat oor werke wat nie deur ’n stel wette gemotiveer word nie, maar deur geloof en liefde. As ons deur sulke eienskappe aangedryf word, sal ons nie bloot goeie wense teenoor ’n behoeftige mede-aanbidder uitspreek nie. Ons sal materiële hulp gee aan ’n broer of suster wat kos of klere nodig het. Jakobus vra: ‘Watter nut het dit as jy vir ’n behoeftige broer sê: “Gaan in vrede, bly warm en goed gevoed”, maar jy gee nie die nodige nie?’ Dit het geen nut nie (Job 31:16-22). Sulke “geloof” is leweloos!

 9. Wat toon dat ons geloof het?

9 Ons gaan dalk in sekere mate met God se volk om, maar ons bewering dat ons geloof het, kan alleenlik deur heelhartige werke gesteun word. Dit is goed as ons die Drie-eenheidsleer verwerp het en glo dat daar een ware God is. Maar om bloot te glo, is nie geloof nie. ‘Die demone glo’, en hulle “sidder” van vrees omdat vernietiging op hulle wag. As ons werklik geloof het, sal dit ons aanspoor om werke voort te bring soos om die goeie nuus te verkondig en om kos en klere aan behoeftige medegelowiges te voorsien. Jakobus vra: “Wil jy weet, o leë mens [wat nie vervul is van die juiste kennis van God nie], dat geloof sonder werke onaktief is?” Ja, geloof vereis dade.

10. Waarom word Abraham “die vader . . . van almal wat geloof het”, genoem?

10 Die geloof van die godvrugtige aartsvader Abraham het hom tot dade beweeg. As “die vader . . . van almal wat geloof het”, is hy “regverdig verklaar deur werke nadat hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het” (Romeine 4:11, 12; Genesis 22:1-14). Sê nou Abraham het nie geloof gehad in God se vermoë om Isak op te wek en om Sy belofte van ’n saad deur hom na te kom nie? Dan sou Abraham seker nooit probeer het om sy seun te offer nie (Hebreërs 11:19). Dit was deur Abraham se gehoorsame werke dat ‘sy geloof vervolmaak’, of volkome gemaak, is. Daardeur is “die Skrifgedeelte [Genesis 15:6] . . . vervul wat sê: ‘Abraham het geloof in Jehovah gestel, en dit is hom as regverdigheid toegereken.’” Deurdat Abraham probeer het om Isak te offer, het sy werke God se vroeëre verklaring dat Abraham regverdig is, bevestig. Deur werke van geloof het hy getoon dat hy God liefhet, en hy is as gevolg daarvan “Jehovah se vriend” genoem.

11. Watter bewys van geloof het ons in die geval van Ragab?

11 Abraham het bewys “dat ’n mens regverdig verklaar sal word deur werke en nie deur geloof alleen nie”. Dit was ook die geval met Ragab, ’n hoer in Jerigo. Sy is “deur werke regverdig verklaar nadat sy die [Israelitiese] boodskappers gasvry ontvang en hulle met ’n ander pad weggestuur het” sodat hulle van hulle Kanaänitiese vyande weggekom het. Voor sy die Israelitiese verkenners ontmoet het, het sy Jehovah as die ware God erken, en haar latere woorde sowel as die feit dat sy haar van haar lewe as ’n hoer afgekeer het, het bewys gelewer van haar geloof (Josua 2:9-11; Hebreërs 11:31). Ná hierdie tweede voorbeeld van geloof wat deur werke getoon is, sê Jakobus: “Ja, soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook geloof sonder werke dood.” Wanneer iemand dood is, is daar geen lewenskrag, of “gees”, in hom nie, en hy rig niks uit nie. Bloot verklaarde geloof is net so leweloos en nutteloos soos ’n dooie liggaam. As ons ware geloof het, sal dit ons egter tot godvrugtige dade beweeg.

Beheers daardie tong!

12. Wat moet ouer manne in die gemeente doen?

12 Wanneer ’n mens praat en onderrig, kan jy ook bewys lewer van jou geloof, maar jy moet jou bedwing (Jakobus 3:1-4). As onderrigters in die gemeente het ouer manne ’n gewigtige verantwoordelikheid en groot aanspreeklikheid teenoor God. Gevolglik moet hulle hulle beweegredes en kwalifikasies nederig ondersoek. Buiten kennis en vermoë moet hierdie manne ’n innige liefde vir God en vir medegelowiges hê (Romeine 12:3, 16; 1 Korintiërs 13:3, 4). Ouer manne moet hulle raad op die Skrif grond. As ’n ouer man ’n fout sou maak in sy onderrigting en dit probleme vir ander tot gevolg het, sal hy ’n ongunstige oordeel van God af deur Christus ontvang. Ouer manne moet dus nederig wees, sowel as pligsgetroue studente wat getrou by God se Woord bly.

13. Waarom struikel ons in woord?

13 Selfs goeie onderrigters—trouens, ons almal—“struikel baie kere” weens onvolmaaktheid. Om in woord te struikel, is een van die algemeenste en potensieel skadelikste tekortkominge. Jakobus sê: “As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou.” Anders as Jesus Christus het ons nie volmaakte beheer oor ons tong nie. As ons dit gehad het, sou ons al die ander dele van ons liggaam kon beheer. Tooms en stange laat perde immers gaan waarheen ons hulle stuur, en selfs ’n groot boot wat deur sterk winde voortgedryf word, kan deur middel van ’n klein roer gestuur word soos die stuurman wil.

14. Hoe beklemtoon Jakobus die belangrikheid van inspanning om die tong te beheers?

14 Ons moet almal eerlik erken dat ware inspanning nodig is om die tong te beheers (Jakobus 3:5-12). In vergelyking met ’n perd is ’n toom klein; en so ook is ’n roer in vergelyking met ’n skip. En wanneer die tong met die menseliggaam vergelyk word, is dit klein, “en tog praat hy baie groot”. Aangesien die Skrif dit duidelik stel dat grootpratery God mishaag, moet ons sy hulp vra om ons daarvan te weerhou (Psalm 12:4, 5; 1 Korintiërs 4:7). Mag ons ook ons tong bedwing wanneer ons vertoorn word, omdat ons onthou dat net ’n vonkie ’n woud aan die brand kan steek. Soos Jakobus sê, ‘is die tong ’n vuur’ wat groot skade kan aanrig (Spreuke 18:21). Ja, ’n onbeheerste tong “maak ’n wêreld van onregverdigheid . . . uit”! Elke bose eienskap van hierdie goddelose wêreld word met die onbeheerste tong geassosieer. Dit is verantwoordelik vir skadelike dinge soos laster en valse leringe (Levitikus 19:16; 2 Petrus 2:1). Wat dink jy? Behoort ons geloof ons nie hard te laat werk om ons tong te beheers nie?

15. Watter skade kan ’n onbeteuelde tong aanrig?

15 ’n Onbeteuelde tong “bevlek” ons heeltemal. As ons byvoorbeeld herhaaldelik betrap word dat ons leuens vertel, kan ons as leuenaars bekend word. Maar hoe “steek [’n onbeheerste tong] die wiel van die natuurlike lewe aan die brand”? Deur die lewe soos ’n bose kringloop te maak. ’n Hele gemeente kan versteur word deur een onbeheerste tong. Jakobus meld “Gehenna”, die dal van Hinnom. Dit is vroeër vir kinderofferandes gebruik en het later ’n stortplek geword waar Jerusalem se vullis verbrand is (Jeremia 7:31). Gehenna is dus ’n simbool van vernietiging. In sekere sin het Gehenna sy vernietigende krag aan die onbeheerste tong verleen. As ons nie ons tong in toom hou nie, kan ons self slagoffers word van die brand wat ons begin het (Matteus 5:22). Ons kan selfs uit die gemeente uitgesit word omdat ons teen iemand kwaadgespreek het.—1 Korintiërs 5:11-13.

16. Met die oog op die skade wat deur ’n onbeheerste tong aangerig kan word, wat moet ons doen?

16 Soos jy moontlik reeds in God se Woord gelees het, het Jehovah opdrag gegee dat die mens die diereskepping moet onderwerp (Genesis 1:28). En allerhande diere is al getem. Opgeleide valke is byvoorbeeld al gebruik om mee te jag. Die ‘kruipende diere’ waarvan Jakobus praat, sluit moontlik slange in wat deur slangbesweerders beheer word (Psalm 58:5, 6). Die mens kan selfs walvisse beheer, maar as sondige mense kan ons nie die tong ten volle tem nie. Ons moet dit nietemin vermy om beledigende, bitsige of lasterlike aanmerkings te maak. ’n Onbeheerste tong kan ’n gevaarlike instrument vol dodelike gif wees (Romeine 3:13). Die tong van valse leraars het ongelukkig party vroeë Christene van God af weggekeer. Laat ons dus nooit toelaat dat giftige, afvallige woorde, hetsy in gesproke of geskrewe vorm, ons oormeester nie.—1 Timoteus 1:18-20; 2 Petrus 2:1-3.

17, 18. Watter inkonsekwentheid word in Jakobus 3:9-12 bespreek, en wat moet ons in hierdie verband doen?

17 Geloof in God en ’n begeerte om hom te behaag, kan ons teen afvalligheid beskerm en kan keer dat ons die tong op ’n inkonsekwente manier gebruik. Jakobus praat van die inkonsekwentheid van party en sê dat ons ‘met die tong ons Vader, Jehovah, seën en mense vervloek, wat na die gelykenis van God in aansyn gekom het’ (Genesis 1:26). Jehovah is ons Vader omdat hy “aan almal lewe en asem en alles gee” (Handelinge 17:24, 25). Hy is ook in geestelike sin die Vader van gesalfde Christene. Ons is almal “na die gelykenis van God” wat betref verstandelike en sedelike eienskappe, onder meer die liefde, geregtigheid en wysheid wat ons van die diere onderskei. Hoe behoort ons dan op te tree as ons geloof in Jehovah het?

18 As ons mense vervloek, sou dit beteken dat ons kwaad, of ’n verwensing, oor hulle uitspreek. Aangesien ons nie Goddelik geïnspireerde profete is wat die gesag het om enigiemand te vervloek nie, sou sulke woorde bewys lewer van haat wat ons aanbidding van God tevergeefs sou maak. Dit is nie gepas dat “seën en vervloeking” uit dieselfde mond kom nie (Lukas 6:27, 28; Romeine 12:14, 17-21; Judas 9). Hoe sondig sou dit tog wees om by vergaderinge lofliedere tot God te sing en later sleg te praat van medegelowiges! Soet en bitter water kan nie uit dieselfde fontein borrel nie. Net soos ‘’n vyeboom nie olywe kan voortbring of ’n wingerdstok vye nie’ kan sout water nie soet water voortbring nie. Iets is geestelik verkeerd as ons, wat goeie dinge moet spreek, voortdurend bitter woorde uitspreek. As ons in daardie gewoonte verval het, laat ons om Jehovah se hulp bid om op te hou om so te praat.—Psalm 39:2.

Tree op met die wysheid van bo

19. Watter invloed sal ons op ander hê as ons deur hemelse wysheid gerig word?

19 Ons het almal wysheid nodig om dinge te sê en te doen wat pas by diegene wat geloof het (Jakobus 3:13-18). As ons ’n eerbiedige vrees vir God het, gee hy ons hemelse wysheid, die vermoë om kennis op die regte manier te gebruik (Spreuke 9:10; Hebreërs 5:14). Sy Woord leer ons hoe om “’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort” te openbaar. En omdat ons sagmoedig is, bevorder ons vrede in die gemeente (1 Korintiërs 8:1, 2). Dié wat daarop roem dat hulle goeie onderrigters van medegelowiges is, ‘lieg teen die Christelike waarheid’, wat hulle egotisme veroordeel (Galasiërs 5:26). Hulle “wysheid” is ‘aards’—kenmerkend van sondige mense wat van God vervreemd is. Dit is ‘dierlik’, aangesien dit die resultaat is van vleeslike neigings. Ja, dit is selfs ‘demonies’, want bose geeste is trots (1 Timoteus 3:6). Laat ons dus met wysheid en nederigheid optree sodat ons niks doen wat ’n atmosfeer skep waarin “veragtelike dinge” soos laster en voortrekkery kan floreer nie.

20. Hoe sou jy hemelse wysheid beskryf?

20 “Die wysheid van bo is allereers kuis” en maak ons sedelik en geestelik rein (2 Korintiërs 7:11). Dit is “vredeliewend”, sodat ons vrede nastreef (Hebreërs 12:14). Die hemelse wysheid maak ons “redelik”, nie dogmaties en moeilik om mee saam te werk nie (Filippense 4:5). Die wysheid van bo is “bereid om te gehoorsaam” en bevorder gehoorsaamheid aan Goddelike onderrigting en samewerking met Jehovah se organisasie (Romeine 6:17). Die wysheid van bo maak ons ook barmhartig, medelydend (Judas 22, 23). Omdat dit vol “goeie vrugte” is, moedig dit ons aan om besorg te wees oor ander en om in ooreenstemming met goedheid, regverdigheid en waarheid op te tree (Efesiërs 5:9). En as vredemakers geniet ons “die vrug van regverdigheid” wat onder vreedsame toestande floreer.

21. Tot watter dade behoort ons geloof in God ons volgens Jakobus 2:1–3:18 te beweeg?

21 Dit is dus duidelik dat geloof ons tot dade beweeg. Dit maak ons onpartydig, barmhartig en bedrywig in goeie werke. Geloof help ons om die tong te beheers en met hemelse wysheid op te tree. Maar dit is nie al wat ons uit hierdie brief kan leer nie. Jakobus het verdere raad wat ons kan help om ons op ’n manier te gedra wat pas by diegene wat geloof het in Jehovah.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat is daarmee verkeerd om mense voor te trek?

◻ Hoe is geloof en werke aan mekaar verwant?

◻ Waarom is dit so belangrik om die tong te beheers?

◻ Hoe is hemelse wysheid?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel