Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 11/15 bl. 19-24
  • Geloof maak ons geduldig en laat ons aanhou bid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geloof maak ons geduldig en laat ons aanhou bid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verkeerde begeertes is vernietigend
  • Moenie mekaar oordeel nie
  • Vermy grootpraterige selfvertroue
  • Waarskuwing met betrekking tot die rykes
  • Geloof help ons om geduld te beoefen
  • Geloof en ons gebede
  • Iets vir ons almal
  • Bybelboek nommer 59—Jakobus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Leer by Jesus se jonger broer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Hou ondanks beproewinge vas aan jou geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Geloof beweeg ons tot dade!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 11/15 bl. 19-24

Geloof maak ons geduldig en laat ons aanhou bid

“Julle moet ook geduld beoefen; maak julle harte standvastig, want die teenwoordigheid van die Here het naby gekom.”—JAKOBUS 5:8.

 1. Waarom moet ons oor Jakobus 5:7, 8 nadink?

JESUS CHRISTUS se langverwagte “teenwoordigheid” is nou ’n feit (Matteus 24:3-14). Almal wat sê dat hulle geloof in God en Christus het, het meer as ooit tevore rede om oor hierdie woorde van die dissipel Jakobus na te dink: “Beoefen . . . geduld, broers, tot die teenwoordigheid van die Here. Kyk! Die boer bly wag vir die kosbare vrug van die aarde en beoefen geduld ten opsigte daarvan tot hy die vroeë reën en die laat reën kry. Julle moet ook geduld beoefen; maak julle harte standvastig, want die teenwoordigheid van die Here het naby gekom.”—Jakobus 5:7, 8.

 2. Wat is van die probleme wat diegene vir wie Jakobus geskryf het die hoof moes bied?

2 Diegene aan wie Jakobus sy geïnspireerde brief geskryf het, moes geduld beoefen en verskeie probleme oplos. Baie het strydig opgetree met wat verwag word van diegene wat sê dat hulle geloof in God het. Iets moes byvoorbeeld gedoen word oor sekere begeertes wat in party harte ontstaan het. Kalmte moes onder daardie vroeë Christene herstel word. Hulle het ook raad nodig gehad om geduldig te wees en aan te hou bid. Terwyl ons kyk na wat Jakobus vir hulle gesê het, laat ons let op hoe ons sy woorde in ons lewe kan toepas.

Verkeerde begeertes is vernietigend

 3. Wat was die oorsake van die onenigheid in die gemeente, en wat kan ons hieruit leer?

3 Daar was ’n gebrek aan vrede onder party verklaarde Christene, en verkeerde begeertes was die grondoorsaak van hierdie situasie (Jakobus 4:1-3). Twisgierigheid het die gemeente verdeel, en party het hulle broers op ’n liefdelose wyse veroordeel. Dit het gebeur omdat hunkeringe na sinsgenot ’n stryd in hulle liggaamslede gevoer het. Ons moet dalk self bid vir hulp om vleeslike hunkeringe na vernaamheid, mag en besittings te weerstaan, sodat ons niks sal doen wat die gemeente se vrede sal versteur nie (Romeine 7:21-25; 1 Petrus 2:11). Onder party eerste-eeuse Christene het hebsug ontwikkel tot die punt dat dit ’n haatlike, moorddadige gees geword het. Omdat God nie hulle verkeerde begeertes bevredig het nie, het hulle bly stry om hulle doelwitte te probeer bereik. As ons sulke verkeerde begeertes het, kan ons maar vra, maar ons sal niks ontvang nie, aangesien ons heilige God nie sulke gebede verhoor nie.—Klaagliedere 3:44, NW; 3 Johannes 9, 10.

 4. Waarom noem Jakobus party “egbreeksters”, en watter uitwerking moet sy woorde op ons hê?

4 Party vroeë Christene was wêrelds, afgunstig en trots (Jakobus 4:4-6). Jakobus noem party “egbreeksters” omdat hulle vriende van die wêreld was en gevolglik skuldig was aan geestelike egbreuk (Esegiël 16:15-19, 25-45). Ons wil beslis nie wêrelds word in ons gesindheid, spraak en optrede nie, want dit sal ons vyande van God maak. Sy Woord toon dat “’n neiging tot afguns” deel van die slegte neiging, of “gees”, in sondige mense is (Genesis 8:21; Numeri 16:1-3; Psalm 106:16, 17; Prediker 4:4). As ons dus besef dat ons teen afguns, trots of enige ander slegte neiging moet stry, laat ons God se hulp deur middel van die heilige gees vra. Daardie krag, wat deur God se onverdiende goedhartigheid voorsien word, is groter as “’n neiging tot afguns”. En terwyl Jehovah die trotses teëstaan, sal hy onverdiende goedhartigheid aan ons gee as ons teen sondige neigings stry.

 5. Aan watter vereistes moet ons voldoen om God se onverdiende goedhartigheid te geniet?

5 Hoe kan ons God se onverdiende goedhartigheid ontvang? (Jakobus 4:7-10). Om onverdiende goedhartigheid te geniet wat van Jehovah kom, moet ons hom gehoorsaam, sy voorsienings aanvaar en ons onderwerp aan wat ook al sy wil is (Romeine 8:28). Ons moet ook die Duiwel ‘teëstaan’. Hy sal ‘van ons wegvlug’ as ons vasstaan as ondersteuners van Jehovah se universele soewereiniteit. Ons het die hulp van Jesus, wat die wêreld se bose instellings teëhou, sodat niks ons permanente skade kan aandoen nie. En moet nooit vergeet nie: Ons kom deur gebed, gehoorsaamheid en geloof nader aan God, en hy is naby ons.—2 Kronieke 15:2.

 6. Waarom noem Jakobus sekere Christene “sondaars”?

6 Waarom pas Jakobus die uitdrukking “sondaars” toe op party wat sê dat hulle geloof in God het? Omdat hulle skuldig was aan “oorloë” en moorddadige haat—eienskappe wat onaanvaarbaar is vir Christene (Titus 3:3). Hulle “hande”, wat gevul was met slegte dade, moes gereinig word. Hulle moes ook hulle “harte”, die setel van motivering, suiwer (Matteus 15:18, 19). Daardie “besluiteloses” het op twee gedagtes gehink, naamlik vriendskap met God en dan weer vriendskap met die wêreld. Mag hulle slegte voorbeeld vir ons ’n waarskuwing wees sodat ons altyd waaksaam bly en sulke dinge nie ons geloof skipbreuk laat ly nie.—Romeine 7:18-20.

 7. Waarom sê Jakobus vir party dat hulle moet “treur en huil”?

7 Jakobus sê vir sy lesers dat hulle moet ‘toegee aan ellende en treur en huil’. As hulle godvrugtige droefheid geopenbaar het, sou dit ’n bewys van berou wees (2 Korintiërs 7:10, 11). Vandag jaag party wat sê dat hulle geloof het vriendskap met die wêreld na. As enigeen van ons op so ’n weg is, moet ons dan nie oor ons swak geestelike toestand treur en onmiddellik stappe doen om die situasie reg te stel nie? As ons nodige aanpassings maak en God se vergifnis ontvang, sal dit ’n gevoel van vreugde meebring as gevolg van ’n rein gewete en die vreugdevolle vooruitsig op die ewige lewe.—Psalm 51:10-17; 1 Johannes 2:15-17.

Moenie mekaar oordeel nie

8, 9. Waarom moet ons nie teen mekaar praat of mekaar oordeel nie?

8 Dit is ’n sonde om teen ’n medegelowige te praat (Jakobus 4:11, 12). En tog is party krities teenoor mede-Christene, moontlik as gevolg van hulle eiegeregtige gesindheid of omdat hulle hulleself wil verheerlik deur ander af te kraak (Psalm 50:20; Spreuke 3:29). Die Griekse woord wat met ‘praat teen’ vertaal word, dui op vyandigheid en impliseer ’n oordrewe of valse beskuldiging. Dit kom daarop neer dat ’n mens ’n broer ongunstig oordeel. Waarom is dit soos ‘om teen God se wet te praat en dit te oordeel’? Wel, die skrifgeleerdes en die Fariseërs ‘het God se gebod behendig tersyde gestel’ en volgens hulle eie standaarde geoordeel (Markus 7:1-13). As ons eweneens ’n broer veroordeel wat nie deur Jehovah veroordeel word nie, sal ons dan nie daardeur ‘God se wet oordeel’ en op sondige wyse te kenne gee dat dit te kort skiet nie? En as ons ons broer ten onregte kritiseer, sal ons nie gehoorsaam wees aan die wet van die liefde nie.—Romeine 13:8-10.

9 Laat ons dít onthou: “Een is wetgewer en regter”—Jehovah. Sy ‘wet is volmaak’ en skiet nie te kort nie (Psalm 19:8; Jesaja 33:22). God alleen het die reg om standaarde en reëls vir redding te stel (Lukas 12:5). Daarom vra Jakobus: “Wie is jy om jou naaste te oordeel?” Dit is nie ons voorreg om ander te oordeel en te veroordeel nie (Matteus 7:1-5; Romeine 14:4, 10). As ons oor God se soewereiniteit en onpartydigheid en ons eie sondigheid nadink, sal dit ons help om ons daarvan te weerhou om ander op eiegeregtige wyse te oordeel.

Vermy grootpraterige selfvertroue

10. Waarom moet ons Jehovah in ons daaglikse lewe in ag neem?

10 Ons moet altyd Jehovah en sy wet in ag neem (Jakobus 4:13-17). Diegene wat vol selfvertroue is, verontagsaam God en sê: ‘Vandag of môre sal ons na die een of ander stad gaan, ’n jaar daar deurbring, sake doen en wins maak.’ As ons “vir [ons] skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie”, kan ons lewe môre eindig en sal ons geen geleentheid hê om Jehovah te dien nie (Lukas 12:16-21). Soos Jakobus sê, is ons soos ’n oggendmis “wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn” (1 Kronieke 29:15). Alleenlik as ons geloof in Jehovah beoefen, kan ons hoop om blywende vreugde en ewige lewe te hê.

11. Wat beteken dit as ons sê: “As Jehovah wil”?

11 Ons moet nie grootpraterig wees en God ignoreer nie, maar moet eerder hierdie standpunt inneem: “As Jehovah wil, sal ons lewe en ook dit of dat doen.” As ons sê “as Jehovah wil”, toon ons dat ons in ooreenstemming met sy wil probeer optree. Dit is moontlik nodig om sake te doen om ons gesin te onderhou, in die Koninkrykswerk te reis, ensovoorts. Maar ons moenie grootpraat nie. “Sulke geroem is goddeloos”, omdat dit ons afhanklikheid van God ignoreer.—Psalm 37:5; Spreuke 21:4; Jeremia 9:23, 24.

12. Wat beteken die woorde van Jakobus 4:17?

12 Blykbaar om sy woorde oor selfversekerdheid en grootpratery af te sluit, sê Jakobus: “As iemand dan weet hoe om te doen wat reg is en dit tog nie doen nie, is dit vir hom ’n sonde.” Elke Christen moet sy afhanklikheid van God nederig erken. As hy dit nie doen nie, “is dit vir hom ’n sonde”. Dieselfde beginsel geld natuurlik as ’n mens nalaat om te doen wat geloof in God van ons vereis.—Lukas 12:47, 48.

Waarskuwing met betrekking tot die rykes

13. Wat sê Jakobus van diegene wat hulle rykdom misbruik?

13 Omdat party vroeë Christene materialisties geword het of die rykes bewonder het, gebruik Jakobus sterk woorde aangaande sekere rykes (Jakobus 5:1-6). Wêreldse manne wat hulle rykdom vir verkeerde doeleindes gebruik, sal ‘huil en weeklaag oor die ellendes wat oor hulle gaan kom’ wanneer God hulle vir hulle dade vergeld. In daardie dae het die rykdom van baie mense hoofsaaklik bestaan uit dinge soos klere, graan en wyn (Joël 2:19; Matteus 11:8). Party van hierdie dinge kan verrot of “deur motte gevreet” word, maar Jakobus beklemtoon die waardeloosheid van rykdom, nie die verganklikheid daarvan nie. Hoewel goud en silwer nie roes nie, sal dit net so waardeloos wees soos dinge wat geroes het as ons dit opgaar. “Roes” dui daarop dat materiële rykdom nie vir ’n goeie doel aangewend is nie. Gevolglik moet ons almal onthou dat diegene wat op hulle materiële besittings vertrou “iets soos vuur in die laaste dae opgegaar” het, wanneer God se toorn oor hulle kom. Aangesien ons in “die tyd van die einde” lewe, het sulke woorde spesiale betekenis vir ons.—Daniël 12:4; Romeine 2:5.

14. Hoe tree die rykes dikwels op, en wat moet ons daaromtrent doen?

14 Dikwels bedrieg die rykes hulle maaiers, en hulle loon wat agtergehou is, ‘roep uit’ om vergelding. (Vergelyk Genesis 4:9, 10.) Wêreldse rykes “het in weelde . . . gelewe”. Omdat hulle hulle aan oormatige sinsgenot oorgee, het hulle vet, gevoellose harte ontwikkel en sal hulle dit nog steeds doen op die “dag” wat vir hulle teregstelling vasgestel is. Hulle ‘veroordeel en vermoor die regverdige’. Jakobus vra: “Staan hy julle nie teë nie?” Maar ’n ander vertaling is: “Hy [die regverdige] staan julle nie teë nie.” In elk geval, ons moet nie partydig vir die rykes wees nie. Ons moet geestelike belange eerste in ons lewe stel.—Matteus 6:25-33.

Geloof help ons om geduld te beoefen

15, 16. Waarom is dit so belangrik om geduld te beoefen?

15 Nadat Jakobus kommentaar gelewer het oor die onderdrukkende rykes van die wêreld, moedig hy onderdrukte Christene aan om geduld te beoefen (Jakobus 5:7, 8). As gelowiges hulle beproewinge geduldig verduur, sal hulle gedurende Christus se teenwoordigheid beloon word vir hulle getrouheid, wanneer hulle onderdrukkers geoordeel sal word (Matteus 24:37-41). Daardie vroeë Christene moet soos die boer wees wat geduldig vir die vroeë reën in die herfs wag, wanneer hy kan plant, en die laat reën in die lente wat die vrug tot gevolg het (Joël 2:23, vgl. NW). Ons moet ook geduld beoefen en ons harte standvastig maak, veral aangesien “die teenwoordigheid van die Here” Jesus Christus hier is!

16 Waarom moet ons geduldig wees? (Jakobus 5:9-12). Geduld help ons om nie te kreun of te sug wanneer medegelowiges ons kwaad maak nie. As ons met ’n slegte gees “sugte teen mekaar slaak”, sal ons deur die Regter Jesus Christus geoordeel word (Johannes 5:22). Noudat sy “teenwoordigheid” begin het en hy ‘voor die deure staan’, laat ons vrede bevorder deur geduldig te wees teenoor ons broers, wat voor baie toetse van geloof te staan kom. Ons eie geloof word versterk wanneer ons onthou dat God vir Job beloon het omdat hy sy beproewinge geduldig verduur het (Job 42:10-17). As ons geloof en geduld beoefen, sal ons sien dat “Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is”.—Miga 7:18, 19.

17. Waarom sê Jakobus: “Hou op om te sweer”?

17 As ons nie geduldig is nie, kan ons die tong misbruik wanneer ons onder druk is. Ons kan byvoorbeeld onbesonne ede aflê. “Hou op om te sweer”, sê Jakobus as ’n waarskuwing teen onbesonne ede. As ons voortdurend woorde met ede bevestig, klink dit ook geveins. Ons moet derhalwe eenvoudig die waarheid praat, en ons ja, ja laat beteken, en ons nee, nee (Matteus 5:33-37). Jakobus sê natuurlik nie dat dit verkeerd is om in ’n hof ’n eed af te lê om die waarheid te vertel nie.

Geloof en ons gebede

18. In watter omstandighede moet ons “aanhou bid” en “psalmsing”?

18 Gebed moet ’n groot rol in ons lewe speel as ons ons spraak wil beheers, geduld wil beoefen en ’n gesonde geloof in God wil behou (Jakobus 5:13-20). Veral wanneer ons beproef word, moet ons “aanhou bid”. As ons blymoedig is, laat ons “psalmsing”, soos Jesus en sy apostels gedoen het toe hy die herdenking van sy dood ingestel het (Markus 14:26, voetnoot in NW). Ons kan soms met sulke dankbaarheid teenoor God vervul wees dat ons selfs in ons hart lofliedere sing (1 Korintiërs 14:15; Efesiërs 5:19). En wat ’n vreugde is dit tog om Jehovah by Christelike vergaderinge deur ons sang te loof!

19. Wat moet ons doen as ons geestelik siek word, en waarom moet ons daardie stap doen?

19 As ons geestelik siek is, moontlik weens verkeerde gedrag of omdat ons nalaat om ons gereeld by Jehovah se tafel te voed, sal ons dalk nie lus wees om te sing nie. As ons in daardie toestand is, laat ons nederig die ouer manne vra om ‘oor ons te bid’ (Spreuke 15:29). Hulle sal ons ook “in die naam van Jehovah met olie salf”. Hulle vertroostende woorde en skriftuurlike raad sal, soos strelende olie op ’n wond, help om terneergedruktheid, twyfelgedagtes en vrees teë te werk. ‘Die gebed van geloof sal ons gesond maak’ as dit deur ons eie geloof gesteun word. As die ouer manne vind dat ons geestelike siekte deur ernstige sonde veroorsaak is, sal hulle ons fout liefdevol vir ons uitwys en ons probeer help (Psalm 141:5). En as ons berou het, kan ons glo dat God hulle gebede sal aanhoor en ons sal vergewe.

20. Waarom moet ons ons sondes bely en vir mekaar bid?

20 ‘As ons ons sondes openlik aan mekaar bely’, behoort dit ons daarvan te weerhou om verder te sondig. Dit behoort onderlinge medelye aan te moedig, ’n eienskap wat sal maak dat ons ‘vir mekaar sal bid’. Ons kan vertrou dat dit nuttig sal wees, want gebed deur “’n regverdige man”—een wat geloof beoefen en deur God as opreg beskou word—bereik baie by Jehovah (1 Petrus 3:12). Die profeet Elia het swakhede net soos ons s’n gehad, maar sy gebede het krag gehad. Hy het gebid, en dit het drie en ’n half jaar lank nie gereën nie. Toe hy weer bid, het dit gereën.—1 Konings 17:1; 18:1, 42-45; Lukas 4:25.

21. Wat sal ons moontlik kan doen as ’n mede-Christen “deur misleiding van die waarheid afgebring word”?

21 Sê nou ’n lid van die gemeente word “deur misleiding van die waarheid afgebring” en wyk van regte leringe en gedrag af? Miskien sal ons hom deur middel van Bybelse raad, gebed en ander hulp van sy dwaling kan laat terugdraai. As ons dit reggekry het, hou dit hom onder Christus se losprys en red dit hom van geestelike dood en veroordeling tot vernietiging. Deur die oortreder te help, sal ons ’n menigte van sy sondes bedek. Wanneer die sondaar wat tereggewys is, berou het oor sy verkeerde weg, hom bekeer en vergifnis probeer verkry, sal ons verheug wees omdat ons gehelp het om sy sondes te bedek.—Psalm 32:1, 2; Judas 22, 23.

Iets vir ons almal

22, 23. Watter uitwerking moet die woorde van Jakobus op ons hê?

22 Die brief van Jakobus bevat klaarblyklik iets nuttigs vir ons almal. Dit wys vir ons hoe om beproewinge die hoof te bied, gee raad teen voortrekkery en spoor ons aan om onberispelike werke te beoefen. Jakobus spoor ons aan om die tong te beheers, wêreldse invloede te weerstaan en om vrede te bevorder. Sy woorde moet ons ook geduldig maak en laat aanhou bid.

23 Die brief van Jakobus is weliswaar oorspronklik aan gesalfde vroeë Christene gestuur. Maar ons almal moet toelaat dat die raad daarin ons help om aan ons geloof vas te hou. Jakobus se woorde kan geloof bou wat ons sal aanspoor om daadwerklik op te tree in God se diens. En hierdie Goddelik geïnspireerde brief bou ’n blywende geloof wat sal maak dat ons vandag, gedurende “die teenwoordigheid van die Here” Jesus Christus, geduldige Getuies van Jehovah is wat aanhou bid.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Waarom moes party vroeë Christene hulle gesindheid en gedrag verander?

◻ Watter waarskuwing gee Jakobus die rykes?

◻ Waarom moet ons geduld beoefen?

◻ Waarom moet ons gereeld bid?

[Foto-erkenning op bladsy 19]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 23]

Party vroeë Christene moes geduldiger wees met medegelowiges

[Prent op bladsy 24]

Christene moet geduldig en liefdevol wees en aanhou bid

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel