Moenie die wedloop om die lewe gewonne gee nie!
“Laat Ons Die Wedloop Wat Voor Ons Gestel Is Met Volharding Hardloop.”—Hebreërs 12:1.
1, 2. Watter opwindende gebeure het Jehovah se knegte gedurende hierdie laaste dae verheug?
ONS lewe in opwindende en moeilike tye. Meer as 80 jaar gelede, in 1914, is Jesus as Koning van God se hemelse Koninkryk gekroon. “Die dag van die Here” asook “die tyd van die einde” van hierdie stelsel van dinge het begin (Openbaring 1:10; Daniël 12:9). Sedertdien het die Christen se wedloop om die lewe al hoe dringender geword. God se knegte het hulle kragtig ingespan om tred te hou met Jehovah se hemelse strydwa, sy hemelse organisasie, wat onstuitbaar beweeg om Jehovah se voornemens te verwesenlik.—Esegiël 1:4-28; 1 Korintiërs 9:24.
2 Het God se volk vreugde gevind terwyl hulle die ‘wedloop om die ewige lewe hardloop’? Ja, beslis! Hulle was verheug om te sien hoe die oorblywende lede van Jesus se broers ingesamel word, en hulle verbly hulle in die wete dat die finale verseëling van die oorblywende lede van die 144 000 ver gevorderd is (Openbaring 7:3, 4). Daarbenewens is dit vir hulle opwindend om te onderskei dat Jehovah se aangestelde Koning sy sekel ingesteek het om “die oes van die aarde” te maai (Openbaring 14:15, 16). En hoe groot is hierdie oes tog! (Matteus 9:37). Tot dusver is meer as vyfmiljoen siele ingesamel—“’n groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Openbaring 7:9). Niemand kan sê hoe groot hierdie skare uiteindelik gaan wees nie, aangesien geen mens dit kan tel nie.
3. Ten spyte waarvan moet ons altyd ’n vreugdevolle gees probeer aankweek?
3 Satan probeer weliswaar om ons tot struikeling te bring of ons ons pas te laat verslap terwyl ons in die wedloop hardloop (Openbaring 12:17). En dit is nie maklik om aan te hou hardloop deur die oorloë, die hongersnode, die peste en al die ander ontberinge wat die tyd van die einde kenmerk nie (Matteus 24:3-9; Lukas 21:11; 2 Timoteus 3:1-5). Ons hart loop nogtans oor van vreugde namate die einde van die wedloop nader kom. Ons probeer die gees weerspieël wat Paulus mede-Christene in sy dag aangespoor het om te hê: “Verheug julle altyd in die Here. Weer eens sal ek sê: Verheug julle!”—Filippense 4:4.
4. Watter soort gees het die Christene in Filippi aan die dag gelê?
4 Die Christene aan wie Paulus hierdie woorde gerig het, het ongetwyfeld vreugde uit hulle geloof geput, want Paulus het vir hulle gesê: “Hou aan om julle in die Here te verheug” (Filippense 3:1). Die Filippense was ’n vrygewige, liefdevolle gemeente wat met ywer en geesdrif gedien het (Filippense 1:3-5; 4:10, 14-20). Maar nie alle eerste-eeuse Christene het daardie gees gehad nie. Party van die Joodse Christene aan wie Paulus die boek Hebreërs geskryf het, het byvoorbeeld rede tot besorgdheid gegee.
‘Skenk meer as die gewone aandag’
5. (a) Watter gees het onder Hebreeuse Christene geheers toe die eerste Christengemeente gestig is? (b) Beskryf die gees van party Hebreeuse Christene omstreeks 60 G.J.
5 Die eerste Christengemeente in die mensegeskiedenis het uit natuurlike Jode en proseliete bestaan en is in 33 G.J. in Jerusalem gestig. Watter soort gees het hulle gehad? ’n Mens hoef net die eerste paar hoofstukke van die boek Handelinge te lees om te sien hoe geesdriftig en vreugdevol hulle was, selfs wanneer hulle vervolg is (Handelinge 2:44-47; 4:32-34; 5:41; 6:7). Maar met verloop van dekades het dinge verander, en baie Joodse Christene het klaarblyklik hulle pas verslap in die wedloop om die lewe. Een naslaanwerk sê die volgende oor die situasie waarin hulle hulle omstreeks 60 G.J. bevind het: “Hulle het in ’n toestand van lomerigheid en tamheid verkeer, van onvervulde verwagtinge, uitgestelde hoop, bewuste mislukking en praktiese ongeloof. Hulle was Christene maar het min waardering gehad vir die heerlikheid van hulle roeping.” Hoe kon gesalfde Christene in so ’n toestand verval het? ’n Ondersoek van dele van Paulus se brief aan die Hebreërs (wat omstreeks 61 G.J. geskryf is) help ons om hierdie vraag te beantwoord. So ’n ondersoek sal ons almal vandag help om te voorkom dat ons in ’n soortgelyke swak geestelike toestand verval.
6. Wat is sommige verskille tussen aanbidding onder die Wet van Moses en aanbidding wat op geloof in Jesus Christus gegrond is?
6 Hebreeuse Christene het uit Judaïsme gekom, ’n stelsel wat beweer het dat dit die Wet gehoorsaam wat Jehovah deur Moses gegee het. Die Wet het blykbaar nog steeds ’n aantrekkingskrag vir baie Joodse Christene gehad, moontlik omdat dit baie eeue lank die enigste manier was om Jehovah te nader, en dit was ’n indrukwekkende stelsel van aanbidding, met ’n priesterskap, gereelde offerandes en ’n wêreldberoemde tempel in Jerusalem. Die Christelike godsdiens is anders. Dit vereis geestelike visie, soos dié van Moses, wat “sy blik stip op die [nog toekomstige] beloning gerig gehou” het en “standvastig gebly [het] asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:26, 27). Baie Joodse Christene het klaarblyklik nie hierdie geestelike visie gehad nie. Hulle het al hinkende voortbeweeg in plaas van op ’n doelbewuste wyse te hardloop.
7. Hoe kan die stelsel waaruit ons gekom het, ’n uitwerking hê op die manier waarop ons hardloop in die wedloop om die lewe?
7 Bestaan daar vandag ’n soortgelyke situasie? Wel, dinge is nie presies dieselfde nie. Maar Christene kom wel uit ’n stelsel van dinge wat hom op groot dinge beroem. Die wêreld bied opwindende geleenthede, maar dit stel terselfdertyd hoë eise aan mense. Boonop woon baie van ons in lande waar ’n skeptiese gesindheid algemeen is en waar mense ’n selfsugtige “ek eerste”-benadering het. As ons ons deur so ’n stelsel laat beïnvloed, kan die ‘oë van ons hart’ maklik verdof (Efesiërs 1:18). Hoe sal ons goed kan hardloop in die wedloop om die lewe as ons nie meer duidelik kan sien waar ons gaan nie?
8. Wat is party maniere waarop die Christelike godsdiens voortrefliker is as aanbidding onder die Wet?
8 Om Joodse Christene aan te spoor, het Paulus hulle herinner aan hoeveel voortrefliker die Christelike stelsel as die Mosaïese Wet is. Toe die vleeslike nasie Israel Jehovah se volk onder die Wet was, het Jehovah weliswaar deur middel van geïnspireerde profete met hulle gepraat. Maar, sê Paulus, vandag praat hy “deur middel van ’n Seun, wat hy as erfgenaam van alle dinge aangestel het en deur wie hy die stelsels van dinge gemaak het” (Hebreërs 1:2). Verder is Jesus groter as al die konings in die geslagslyn van Dawid, sy “metgeselle”. Hy is selfs hoër as die engele.—Hebreërs 1:5, 6, 9.
9. Waarom moet ons, net soos Joodse Christene van Paulus se dag, “meer as die gewone aandag” skenk aan wat Jehovah sê?
9 Gevolglik het Paulus Joodse Christene gemaan: “Dit [is nodig] dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het, sodat ons nooit sal wegdryf nie” (Hebreërs 2:1). Hoewel dit ’n wonderlike seëning was om oor die Christus te leer, was meer nodig. Hulle moes noukeurig aandag skenk aan God se Woord om die invloed teë te werk van die Joodse wêreld wat hulle omring het. Ook moet ons “meer as die gewone aandag” skenk aan wat Jehovah sê met die oog op die voortdurende propaganda van hierdie wêreld waaraan ons blootgestel word. Dit beteken dat ons goeie studiegewoontes moet aankweek en ’n goeie Bybelleesprogram moet handhaaf. Soos Paulus later in sy brief aan die Hebreërs sê, beteken dit ook dat ons gereeld vergaderinge moet bywoon en ons geloof aan ander moet verkondig (Hebreërs 10:23-25). Sulke bedrywighede sal ons help om geestelik wakker te bly sodat ons nie ons wonderlike hoop uit die oog verloor nie. As ons ons verstand met Jehovah se gedagtes vul, sal niks wat hierdie wêreld aan ons kan doen ons oorweldig of ons ons ewewig laat verloor nie.—Psalm 1:1-3; Spreuke 3:1-6.
‘Hou aan om mekaar te vermaan’
10. (a) Wat kan met iemand gebeur wat nie meer as die gewone aandag aan Jehovah se Woord skenk nie? (b) Hoe kan ons ‘aanhou om mekaar te vermaan’?
10 As ons nie noukeurig aandag skenk aan geestelike dinge nie, kan God se beloftes maklik onwerklik begin lyk. Dit het selfs in die eerste eeu gebeur toe gemeentes geheel en al uit gesalfde Christene bestaan het en sommige van die apostels nog gelewe het. Paulus het die Hebreërs gewaarsku: “Pas op, broers, uit vrees dat daar ooit in enigeen van julle ’n goddelose, ongelowige hart sal ontwikkel deurdat hy hom van die lewende God terugtrek; maar hou aan om mekaar elke dag te vermaan, solank dit ‘Vandag’ genoem kan word, uit vrees dat enigeen van julle deur die bedrieglike krag van die sonde verhard sal word” (Hebreërs 3:12, 13). Paulus se woorde “pas op” beklemtoon die belangrikheid daarvan om wakker te wees. Gevaar dreig! Ongeloof—“sonde”—kan in ons hart ontwikkel, en ons kan ons van God terugtrek in plaas van nader aan hom te kom (Jakobus 4:8). Paulus herinner ons daaraan om ‘aan te hou om mekaar te vermaan’. Ons het die hartlikheid van broederlike omgang nodig. “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek” (Spreuke 18:1). Die belangrikheid van sulke omgang beweeg hedendaagse Christene om gemeentelike vergaderinge, byeenkomste en streekbyeenkomste gereeld by te woon.
11, 12. Waarom moet ons nie daarmee tevrede wees om net basiese Christenleringe te ken nie?
11 Later in sy brief gee Paulus hierdie raad wat ook van onskatbare waarde is: “Hoewel julle met die oog op die tyd inderdaad leermeesters behoort te wees, het julle weer nodig dat iemand julle van die begin af die elementêre dinge van die heilige verklarings van God moet leer; en julle het mense geword wat melk nodig het, nie vaste voedsel nie. . . . Vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:12-14). Sommige Joodse Christene het klaarblyklik versuim om vooruitgang te maak wat hulle begrip betref. Hulle was traag om helderder lig aangaande die Wet en besnydenis te aanvaar (Handelinge 15:27-29; Galasiërs 2:11-14; 6:12, 13). Party het moontlik nog waarde geheg aan tradisionele gebruike soos die weeklikse Sabbat en die plegtige, jaarlikse Versoendag.—Kolossense 2:16, 17; Hebreërs 9:1-14.
12 Gevolglik sê Paulus: “Noudat ons die grondleer oor die Christus agter ons gelaat het, [laat ons] tot volwassenheid voortbeur” (Hebreërs 6:1). ’n Maratonloper wat noukeurig aandag skenk aan sy dieet, is in ’n beter posisie om die lang, uitputtende wedloop te verduur. Net so sal ’n Christen wat noukeurig aandag skenk aan sy geestelike dieet—wat hom nie tot basiese ‘grondleringe’ beperk nie—in ’n beter posisie wees om in die wedloop te bly en dit te voltooi. (Vergelyk 2 Timoteus 4:7.) Dit beteken dat ons ’n belangstelling in “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van die waarheid moet ontwikkel en sodoende tot volwassenheid vorder.—Efesiërs 3:18.
“Julle het volharding nodig”
13. Hoe het die Hebreeuse Christene in vroeëre tye van hulle geloof bewys gelewer?
13 In die tydperk onmiddellik ná Pinkster 33 G.J. het Joodse Christene standvastig gebly ondanks hewige teenstand (Handelinge 8:1). Miskien het Paulus dit in gedagte gehad toe hy geskryf het: “Hou egter aan om die vroeëre dae te onthou waarin julle, nadat julle verlig is, onder veel lyding ’n groot stryd verduur het” (Hebreërs 10:32). Sulke getroue volharding het bewys gelewer van hulle liefde vir God en het hulle vrymoedigheid van spraak voor hom gegee (1 Johannes 4:17). Paulus maan hulle om dit nie vanweë ongeloof weg te gooi nie. Hy spoor hulle aan: “Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang. Want nog ‘’n baie klein rukkie’, en ‘hy wat kom, sal kom en sal nie talm nie’.”—Hebreërs 10:35-37.
14. Watter feite behoort ons te help om te volhard, selfs as ons Jehovah al baie jare dien?
14 Wat van ons wat vandag leef? Die meeste van ons was ywerig toe ons eers die Christelike waarheid geleer het. Het ons nog steeds daardie ywer? Of het ons ‘die liefde wat ons eers gehad het, verlaat’? (Openbaring 2:4). Is ons nou minder ywerig, miskien effens ontnugter of moeg om vir Armageddon te wag? Maar dink ’n bietjie hieroor. Die waarheid is geensins minder wonderlik as wat dit voorheen was nie. Jesus is nog steeds ons hemelse Koning. Ons hoop nog steeds op ewige lewe op ’n paradysaarde, en ons het nog steeds ons verhouding met Jehovah. En moet nooit vergeet nie: “Hy wat kom, sal kom en sal nie talm nie.”
15. Hoe het party Christene, net soos Jesus, wrede vervolging verduur?
15 Paulus se woorde in Hebreërs 12:1, 2 is derhalwe baie gepas: “Laat ons ook elke gewig aflê en die sonde [ongeloof] wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop, terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus. Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit.” God se knegte het baie dinge in hierdie laaste dae verduur. Net soos Jesus, wat tot ’n pynlike dood toe getrou was, het party van ons broers en susters getrou gebly ondanks die wreedste vervolging—gevangeniskampe, marteling, verkragting, selfs die dood (1 Petrus 2:21). Word ons hart nie met liefde vir hulle gevul wanneer ons aan hulle onkreukbaarheid dink nie?
16, 17. (a) Met watter uitdagings van hulle geloof het die meeste Christene te kampe? (b) Wat moet ons onthou wat ons sal help om aan te hou hardloop in die wedloop om die lewe?
16 Paulus se verdere woorde is egter op die meeste van ons van toepassing: “In die voortsetting van julle stryd teen daardie sonde het julle nog nooit tot bloedens toe weerstand gebied nie” (Hebreërs 12:4). Nogtans is die weg van die waarheid in hierdie stelsel nie vir enigeen van ons maklik nie. Sommige word deur “teëspraak deur sondaars” by hulle sekulêre werk of op skool ontmoedig en moet bespotting verduur of druk om te sondig, weerstaan (Hebreërs 12:3). Groot versoekings het sommige se vasbeslotenheid ondermyn om God se hoë standaarde te handhaaf (Hebreërs 13:4, 5). Afvalliges het die geestelike balans aangetas van ’n paar wat na hulle giftige propaganda luister (Hebreërs 13:9). Persoonlikheidsprobleme het ander hulle vreugde ontneem. Party Christene lê te veel klem op vermaak en ontspanning en het swak geword. En die meeste ondervind die druk van die probleme wat met die lewe in hierdie stelsel van dinge gepaardgaan.
17 Geeneen van hierdie situasies behels weliswaar ‘weerstand tot bloedens toe’ nie. En sommige daarvan kan moontlik teruggevoer word tot verkeerde besluite wat ons self neem. Maar hulle almal stel ons geloof op die proef. Dit is waarom ons ons oog op Jesus se uitsonderlike voorbeeld van volharding gerig moet hou. Mag ons nooit vergeet hoe wonderlik ons hoop is nie. Mag ons nooit ons oortuiging verloor dat Jehovah “die beloner word van dié wat hom ernstig soek” nie (Hebreërs 11:6). Dan sal ons die geestelike krag hê om aan te hou hardloop in die wedloop om die lewe.
Ons kan volhard
18, 19. Watter geskiedkundige gebeurtenisse dui daarop dat Hebreeuse Christene in Jerusalem op Paulus se geïnspireerde raad ag geslaan het?
18 Hoe het Joodse Christene op Paulus se brief gereageer? Sowat ses jaar nadat die brief aan die Hebreërs geskryf is, was Judea in ’n oorlog gewikkel. In 66 G.J. het die Romeinse leër Jerusalem omsingel ter vervulling van Jesus se woorde: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het” (Lukas 21:20). Maar ter wille van die Christene wat in daardie tyd in Jerusalem sou wees, het Jesus gesê: “Laat dié wat in Judea is dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die midde van die stad is, uitgaan, en laat dié wat in die plattelandse plekke is nie daar ingaan nie” (Lukas 21:21). Die oorlog teen Rome het dus ’n toets ingehou: Sou daardie Joodse Christene Jerusalem verlaat, wat die middelpunt van die Joodse aanbidding en die ligging van die luisterryke tempel was?
19 Die Romeine het skielik en om geen bekende rede teruggetrek. Godsdienstige Jode het dit waarskynlik as ’n bewys beskou dat God hulle heilige stad beskerm. Wat van die Christene? Die geskiedenis deel ons mee dat hulle gevlug het. Toe, in 70 G.J., het die Romeine teruggekeer en Jerusalem heeltemal vernietig, met swaar lewensverlies. Die “dag van Jehovah” wat deur Joël voorspel is, het vir Jerusalem aangebreek. Maar getroue Christene was nie meer daar nie. Hulle het ‘veilig weggekom’.—Joël 2:30-32, NW; Handelinge 2:16-21.
20. Waartoe behoort die wete dat die groot “dag van Jehovah” op hande is ons te beweeg?
20 Ons weet vandag dat nog ’n groot “dag van Jehovah” binnekort hierdie hele stelsel van dinge gaan tref (Joël 3:12-14, NW). Ons weet nie wanneer daardie dag gaan aanbreek nie. Maar God se Woord verseker ons dat dit gaan kom! Jehovah sê dat dit nie laat sal wees nie (Habakuk 2:3, NW; 2 Petrus 3:9, 10). Laat ons dus “meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het”. Vermy ongeloof, “die sonde wat ons maklik verstrik”. Wees vasbeslote om te volhard so lank as wat dit nodig is. Onthou, Jehovah se groot strydwa-agtige hemelse organisasie is aan die beweeg. Dit sal sy voorneme verwesenlik. Mag ons almal dus aanhou hardloop en nie die wedloop om die lewe gewonne gee nie!
Onthou jy?
◻ Deur op watter vermaning van Paulus aan die Filippense ag te slaan sal ons gehelp word om in die wedloop om die lewe te volhard?
◻ Wat sal ons help om die wêreld se invloed, wat ons aandag kan aflei, teë te werk?
◻ Hoe kan ons mekaar help om in die wedloop te volhard?
◻ Wat is party dinge wat ’n Christen sy pas kan laat verslap?
◻ Hoe kan Jesus se voorbeeld ons help om te volhard?
[Prent op bladsy 8, 9]
Net soos hardlopers, moet Christene nie toelaat dat enigiets hulle aandag aflei nie
[Prent op bladsy 10]
Niks kan Jehovah se groot hemelse strydwa keer om God se voorneme te verwesenlik nie