Feeste wat mylpale in Israel se geskiedenis was
“Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies . . . ; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie.”—DEUTERONOMIUM 16:16.
1. Wat kan oor die feeste in Bybeltye gesê word?
WAT gaan deur jou gedagtes wanneer jy aan ’n fees dink? Party feeste in die ou tyd is deur oormatigheid en onsedelikheid gekenmerk. Dieselfde kan van sommige hedendaagse feeste gesê word. Maar die feeste wat in God se Wet aan Israel uiteengesit is, was anders. Hoewel hulle vreugdevolle geleenthede was, kon hulle ook as “heilige samekomste” beskryf word.—Levitikus 23:2.
2. (a) Wat moes Israelitiese mans drie keer per jaar doen? (b) Wat is ’n “fees”, volgens die gebruik van die woord in Deuteronomium 16:16?
2 Getroue Israelitiese mans—wat dikwels deur hulle gesin vergesel is—het dit verkwikkend gevind om na Jerusalem te reis, ‘die plek wat Jehovah uitgekies het’, en hulle het mildelik tot drie groot feeste bygedra (Deuteronomium 16:16). Die boek Old Testament Word Studies definieer die Hebreeuse woord wat in Deuteronomium 16:16 met “fees” vertaal word as ’n “uiters vreugdevolle geleentheid . . . waarby buitengewone blyke van God se guns gevier is met offerandes en feesviering”.a
Die waarde van die groot feeste
3. Aan watter seëninge het die drie jaarlikse feeste die Israeliete herinner?
3 Aangesien die Israeliete ’n landbougemeenskap was, het hulle op God se seën in die vorm van reën staatgemaak. Die drie groot feeste onder die Mosaïese Wet het saamgeval met die insameling van die garsoes in die vroeë lente, die koringoes in die laat lente en die res van die oes in die laat somer. Dit was geleenthede vir groot vreugde en dankbaarheid teenoor die Onderhouer van die reënsiklus en die Maker van die vrugbare land. Maar die feeste het baie meer behels.—Deuteronomium 11:11-14.
4. Watter geskiedkundige gebeurtenis is deur die eerste fees herdenk?
4 Die eerste fees is in die eerste maand van die eertydse Bybelkalender, van 15 tot 21 Nisan, gehou, wat vandag ooreenkom met laat Maart of vroeg April. Dit is die Fees van die Ongesuurde Brode genoem, en omdat dit onmiddellik ná die Pasga van 14 Nisan gehou is, is dit ook “die pasgafees” genoem (Lukas 2:41; Levitikus 23:5, 6). Hierdie fees het Israel aan hulle verlossing uit ellende in Egipte herinner; derhalwe is die ongesuurde brode die “brood van ellende” genoem (Deuteronomium 16:3). Dit het hulle daaraan herinner dat hulle só haastig uit Egipte gevlug het dat hulle nie tyd gehad het om suurdeeg by hulle deeg te voeg en te wag dat dit rys nie (Exodus 12:34). Gedurende hierdie fees mag daar geen gesuurde brood in ’n Israelitiese huis gewees het nie. Enigiemand wat aan die viering deelgeneem het, met inbegrip van ’n vreemdeling, en gesuurde brood geëet het, moes die doodstraf ontvang.—Exodus 12:19.
5. Aan watter voorreg het die tweede fees die Israeliete moontlik laat dink, en wie moes in die vreugde deel?
5 Die tweede fees is sewe weke (49 dae) ná 16 Nisan gehou en het op die 6de dag van die derde maand, Siwan, geval wat vandag met laat Mei ooreenkom (Levitikus 23:15, 16). Dit is die Fees van die Weke genoem (in Jesus se dag is dit ook Pinkster genoem, wat “vyftigste” in Grieks beteken), en dit is omstreeks dieselfde tyd van die jaar gehou as wat die Wetsverbond by die berg Sinai met Israel gesluit is (Exodus 19:1, 2). Gedurende hierdie fees het getroue Israeliete moontlik nagedink oor hulle voorreg om as God se heilige nasie afgesonder te wees. Die feit dat hulle God se spesiale volk was, het vereis dat hulle God se Wet gehoorsaam, soos die opdrag om liefdevolle besorgdheid teenoor minderbevoorregtes te betoon, sodat ook hulle die fees kon geniet.—Levitikus 23:22; Deuteronomium 16:10-12.
6. Aan watter ondervinding het die derde fees God se volk herinner?
6 Die laaste van die drie groot jaarlikse feeste is die Fees van die Insameling, of die Huttefees, genoem. Dit is van die 15de tot die 21ste dag van die sewende maand, Tisjri, of Etanim, gehou, en kom vandag ooreen met vroeg Oktober (Levitikus 23:34). Gedurende hierdie tyd het God se volk buite hulle huise of op hulle dakke in tydelike skuilings (hutte) gebly wat van die takke en blare van bome gemaak is. Dit het hulle herinner aan hulle 40 jaar lange trek van Egipte na die Beloofde Land, toe die nasie moes leer om op God te vertrou om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien.—Levitikus 23:42, 43; Deuteronomium 8:15, 16.
7. Hoe vind ons baat by ’n kykie na feeste in eertydse Israel?
7 Kom ons kyk na ’n paar feeste wat mylpale in die geskiedenis van God se eertydse volk was. Dit behoort vandag vir ons aanmoedigend te wees, aangesien ons ook genooi word om gereeld elke week byeen te kom, asook drie keer per jaar vir groot kring- en streekbyeenkomste.—Hebreërs 10:24, 25.
In die tyd van die Dawidiese konings
8. (a) Watter geskiedkundige viering is in die dae van koning Salomo gehou? (b) Na watter groot klimaks van die antitipiese Huttefees kan ons uitsien?
8 ’n Geskiedkundige viering is tydens die Huttefees gedurende die voorspoedige bewind van koning Salomo, Dawid se seun, gehou. “’n Baie groot vergadering” het van die mees afgeleë dele van die Beloofde Land vir die Huttefees en die toewyding van die tempel bymekaargekom (2 Kronieke 7:8). Aan die einde van die viering het koning Salomo die feesgangers weggestuur, en hulle het “die koning geseën en na hul tente gegaan, verheug en opgeruimd oor al die goeie dinge wat die HERE aan sy kneg Dawid en sy volk Israel gedoen het” (1 Konings 8:66). Daardie fees was beslis ’n mylpaal. Vandag sien God se knegte uit na die groot klimaks van die antitipiese Huttefees aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy van die Grotere Salomo, Jesus Christus (Openbaring 20:3, 7-10, 14, 15). In daardie tyd sal mense wat in elke uithoek van die aarde woon, onder meer verresenes en Armageddonoorlewendes, verenig wees in die vreugdevolle aanbidding van Jehovah God.—Sagaria 14:16.
9-11. (a) Wat het in die dae van koning Hiskia aanleiding gegee tot ’n fees wat ’n mylpaal was? (b) Watter voorbeeld het baie uit die noordelike tienstammeryk gestel, en waaraan laat dit ons vandag dink?
9 Die volgende uitstaande fees wat in die Bybel genoem word, is ná die bewind van goddelose koning Agas gehou, wat die tempel gesluit en die koninkryk van Juda tot afvalligheid gelei het. Agas se opvolger was goeie koning Hiskia. In die eerste jaar van sy bewind het Hiskia, op die ouderdom van 25, ’n groot program van herstelling en hervorming begin. Hy het die tempel onmiddellik geopen en reëlings vir die herstel daarvan getref. Toe het die koning briewe aan Israeliete in die vyandige tienstammeryk van Israel in die noorde gestuur en hulle genooi om die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brode te vier. Baie het gekom, ondanks die bespotting van hulle landgenote.—2 Kronieke 30:1, 10, 11, 18.
10 Was die fees suksesvol? Die Bybel sê: “So het dan die kinders van Israel wat in Jerusalem aanwesig was, die fees van die ongesuurde brode sewe dae lank met groot blydskap gevier, terwyl die Leviete en die priesters die HERE dag vir dag geprys het met kragtige instrumente” (2 Kronieke 30:21). Wat ’n voortreflike voorbeeld het daardie Israeliete tog nie vir God se hedendaagse volk gestel nie, waarvan talle teenstand verduur en ver reis om byeenkomste by te woon!
11 Beskou byvoorbeeld drie “Godvrugtige toegewydheid”-streekbyeenkomste wat in 1989 in Pole gehou is. Onder die 166 518 byeenkomsgangers was groot groepe uit die voormalige Sowjetunie en ander Oos-Europese lande waar die werk van Jehovah se Getuies destyds verbied was. “Dit was vir sommige wat hierdie byeenkomste bygewoon het”, berig die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkrykb, “die eerste keer dat hulle ooit by ’n groot samekoms van meer as 15 of 20 van Jehovah se volk was. Hulle harte het oorgeloop van waardering wanneer hulle na die tienduisende mense in die stadions gekyk het, wanneer hulle in gebed verenig was en wanneer hulle saam met hulle lofliedere tot Jehovah gesing het.”—Bladsy 279.
12. Wat het aanleiding gegee tot die belangrike fees wat gedurende die bewind van koning Josia gehou is?
12 Ná die dood van Hiskia het die Judeërs onder koning Manasse en Amon weer na valse godsdiens teruggekeer. Toe het nog ’n goeie koning begin regeer, jong Josia, wat moedig opgetree het om ware aanbidding te herstel. Op die ouderdom van 25 het Josia beveel dat die tempel herstel word (2 Kronieke 34:8). Terwyl die herstelwerk gedoen is, is die Wet wat deur Moses geskryf is in die tempel gevind. Koning Josia is diep getref deur wat hy in God se Wet gelees het en het gereël dat dit vir die hele volk gelees word (2 Kronieke 34:14, 30). Toe het hy, in ooreenstemming met wat geskryf is, ’n Pasgaviering gereël. Die koning het ook ’n goeie voorbeeld gestel deur mildelik tot die geleentheid by te dra. Gevolglik sê die Bybel: “So ’n pasga soos dié is in Israel nie gehou van die dae van die profeet Samuel af nie.”—2 Kronieke 35:7, 17, 18.
13. Waaraan laat die feeste van Hiskia en Josia ons vandag dink?
13 Die hervormings deur Hiskia en Josia kom ooreen met die wonderlike herstel van ware aanbidding wat sedert Jesus Christus se troonsbestyging in 1914 onder ware Christene plaasgevind het. Soos die geval veral met Josia se hervormings was, is hierdie hedendaagse herstel gegrond op wat in God se Woord geskrywe staan. En net soos in die dae van Hiskia en Josia word die hedendaagse herstel gekenmerk deur kring- en streekbyeenkomste waar opwindende verduidelikings van Bybelprofesieë en tydige toepassings van Bybelbeginsels gegee word. Die vreugde van hierdie leersame geleenthede word vergroot deur die groot aantal wat gedoop word. Soos die berouvolle Israeliete in die dae van Hiskia en Josia het pasgedooptes die goddelose gebruike van die Christendom en die res van Satan se wêreld verwerp. In 1997 het meer as 375 000 hulle laat doop as ’n simbool van hulle toewyding aan die heilige God, Jehovah—gemiddeld meer as 1000 per dag.
Ná die ballingskap
14. Wat het tot ’n belangrike fees in 537 v.G.J. aanleiding gegee?
14 Ná die dood van Josia het die nasie weer verlagende valse godsdiens begin beoefen. In 607 v.G.J. het Jehovah uiteindelik sy volk gestraf deur die Babiloniese leërs teen Jerusalem te bring. Die stad en sy tempel is vernietig, en die land is woes gelaat. Hierop het 70 jaar van Joodse gevangenskap in Babilon gevolg. Toe het God ’n berouvolle Joodse oorblyfsel verlewendig, wat na die Beloofde Land teruggekeer het om ware aanbidding te herstel. Hulle het in die sewende maand van die jaar 537 v.G.J. by die verwoeste stad Jerusalem aangekom. Hulle het heel eerste ’n altaar gebou om gereelde daaglikse offerandes te bring soos die Wetsverbond voorgeskryf het. Dit was net betyds vir nog ’n geskiedkundige viering. “En hulle het die huttefees gehou soos geskrywe staan.”—Esra 3:1-4.
15. Watter werk het in 537 v.G.J. op die herstelde oorblyfsel gewag, en watter soortgelyke situasie het in 1919 bestaan?
15 ’n Groot werk het op hierdie teruggekeerde ballinge gewag—die herbouing van God se tempel en van Jerusalem met sy mure. Daar was baie teenstand van jaloerse bure. Toe die tempel gebou is, was dit ’n “dag van klein dinge” (Sagaria 4:10). Die situasie was soortgelyk aan die toestand van die getroue gesalfde Christene in 1919. In daardie onvergeetlike jaar is hulle bevry van geestelike gevangenskap aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Hulle was slegs ’n paar duisend in getal en het met ’n vyandige wêreld te kampe gehad. Sou God se vyande die vooruitgang van ware aanbidding kon stuit? Die antwoord op daardie vraag laat ’n mens dink aan die laaste twee feeste wat in die Hebreeuse Geskrifte opgeteken is.
16. Wat was belangrik omtrent ’n fees in 515 v.G.J.?
16 Die tempel is uiteindelik in die maand Adar 515 v.G.J. herbou, net betyds vir die lentefees in Nisan. Die Bybel sê: “Hulle het ook die fees van die ongesuurde brode met blydskap sewe dae lank gehou; want die HERE het hulle verbly en die hart van die koning van Assirië na hulle omgewend, om hul hande te versterk in die werk aan die huis van God, die God van Israel.”—Esra 6:22.
17, 18. (a) Watter belangrike fees is in 455 v.G.J. gehou? (b) Hoe is ons vandag in ’n soortgelyke situasie?
17 Sestig jaar later, in 455 v.G.J., is nog ’n mylpaal bereik. Die Huttefees van daardie jaar het met die voltooiing van Jerusalem se herboude mure saamgeval. Die Bybel sê: “Die hele vergadering wat uit die gevangenskap teruggekom het, het hutte gemaak en in die hutte gewoon; want van die dae van Jesua af, die seun van Nun, tot op daardie dag het die kinders van Israel nie só gedoen nie; en daar was baie groot blydskap.”—Nehemia 8:18.
18 Wat ’n heuglike herstel van God se ware aanbidding ten spyte van kwaai teenstand! Vandag bestaan daar ’n soortgelyke situasie. Ondanks vlae van vervolging en teenstand het die groot werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig die uithoeke van die aarde bereik, en God se oordeelsboodskappe is wyd en syd bekend gemaak (Matteus 24:14). Die finale verseëling van die oorblywende lede van die 144 000 gesalfdes is op hande. Meer as vyfmiljoen van hulle metgeselle, die “ander skape”, is uit al die nasies in “een kudde” met die gesalfde oorblyfsel versamel (Johannes 10:16; Openbaring 7:3, 9, 10). Wat ’n wonderlike vervulling is dit tog nie van die profetiese patroon van die Huttefees nie! En hierdie groot insamelingswerk sal tot in die nuwe wêreld voortduur wanneer miljarde verresenes genooi sal word om aan die viering van die antitipiese Huttefees deel te neem.—Sagaria 14:16-19.
In die eerste eeu G.J.
19. Wat het die Huttefees van 32 G.J. uitstaande gemaak?
19 Van die mees uitstaande feeste wat in die Bybel opgeteken is, was ongetwyfeld dié wat deur die Seun van God, Jesus Christus, bygewoon is. Beskou byvoorbeeld Jesus se bywoning van die Huttefees (of Loofhuttefees) in die jaar 32 G.J. Hy het van daardie geleentheid gebruik gemaak om belangrike waarhede bekend te maak en het sy leringe gestaaf deur uit die Hebreeuse Geskrifte aan te haal (Johannes 7:2, 14, 37-39). Tydens hierdie fees was dit gebruiklik om vier groot kroonkandelaars in ’n binneste voorhof van die tempel aan te steek. Dit het bygedra tot die genieting van feestelike bedrywighede wat tot laat in die aand voortgeduur het. Jesus het blykbaar na hierdie groot ligte verwys toe hy gesê het: “Ek is die lig van die wêreld. Hy wat my volg, sal hoegenaamd nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe besit.”—Johannes 8:12.
20. Waarom was die Pasga van 33 G.J. uitstaande?
20 Toe was daar die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brode van die belangrike jaar 33 G.J. Op daardie Pasgadag is Jesus deur sy vyande tereggestel en het hy die antitipiese Pasgalam geword, wat gesterf het om “die sonde van die wêreld” weg te neem (Johannes 1:29; 1 Korintiërs 5:7). Drie dae later, op 16 Nisan, het God Jesus met ’n onsterflike geesliggaam opgewek. Dit het saamgeval met die aanbieding van die eerstelinge van die garsoes wat deur die Wet voorgeskryf is. Die verrese Here Jesus Christus het derhalwe “die eersteling [geword] van dié wat ontslaap het”.—1 Korintiërs 15:20.
21. Wat het tydens Pinkster van 33 G.J. plaasgevind?
21 Pinkster van 33 G.J. was ’n waarlik uitstaande fees. Op hierdie dag het baie Jode en proseliete in Jerusalem byeengekom, onder meer omtrent 120 van Jesus se dissipels. Tydens die fees het die verrese Here Jesus Christus God se heilige gees op die 120 uitgestort (Handelinge 1:15; 2:1-4, 33). Hulle is sodoende gesalf en het God se nuwe uitverkore nasie geword deur die nuwe verbond waarvan Jesus Christus die middelaar is. Gedurende daardie fees het die Joodse hoëpriester twee gesuurde brode aan God geoffer wat van die eerstelinge van die koringoes gemaak is (Levitikus 23:15-17). Hierdie gesuurde brode beeld die 144 000 onvolmaakte mense af wat Jesus “vir God gekoop” het om te dien as ‘’n koninkryk en priesters om as konings oor die aarde te heers’ (Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3). Die feit dat hierdie hemelse heersers uit twee vertakkings van die sondige mensdom kom, Jode en nie-Jode, word moontlik ook deur die twee gesuurde brode afgebeeld.
22. (a) Waarom vier Christene nie feeste van die Wetsverbond nie? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
22 Toe die nuwe verbond op Pinkster 33 G.J. in werking getree het, het dit beteken dat die ou Wetsverbond nie meer waarde in God se oë gehad het nie (2 Korintiërs 3:14; Hebreërs 9:15; 10:16). Dit beteken nie dat gesalfde Christene sonder wet is nie. Hulle kom onder die Goddelike wet wat deur Jesus Christus geleer en op hulle hart geskryf is (Galasiërs 6:2). Gevolglik word die drie jaarlikse feeste nie deur Christene gevier nie, aangesien dit deel van die ou Wetsverbond was (Kolossense 2:16, 17). Maar ons kan baie leer uit die gesindheid van voor-Christelike knegte van God ten opsigte van hulle feeste en ander vergaderinge vir aanbidding. In ons volgende artikel sal ons voorbeelde bespreek wat almal ongetwyfeld sal beweeg om in te sien hoe belangrik dit is om Christelike vergaderinge gereeld by te woon.
[Voetnote]
a Sien ook Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., Deel 1, bladsy 820, kolom 1, paragrawe 1 en 3, onder “Festival”.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Hersieningsvrae
◻ Wat was die doel van Israel se drie groot feeste?
◻ Wat het die feeste in Hiskia en Josia se dag gekenmerk?
◻ Watter mylpaal is in 455 v.G.J. gevier, en waarom is dit vir ons aanmoedigend?
◻ Wat was belangrik omtrent die Pasga en Pinkster in 33 G.J.?
[Venster op bladsy 12]
’n Les uit ’n fees vir ons wat vandag leef
Almal wat blywende voordeel uit Jesus se soenofferande wil trek, moet lewe in ooreenstemming met wat deur die Fees van die Ongesuurde Brode afgebeeld word. Hierdie antitipiese fees is die vreugdevolle viering deur gesalfde Christene omdat hulle van hierdie goddelose wêreld verlos is en hulle deur Jesus se losprys van die veroordeling van die sonde bevry is (Galasiërs 1:4; Kolossense 1:13, 14). Die letterlike fees het sewe dae geduur—’n syfer wat in die Bybel gebruik word om geestelike volkomenheid te simboliseer. Die antitipiese fees duur solank as wat die gemeente van gesalfde Christene op aarde bestaan en moet met “opregtheid en waarheid” gevier word. Dit beteken dat daar voortdurend teen figuurlike suurdeeg gewaak moet word. Suurdeeg word in die Bybel gebruik om verdorwe leringe, huigelary en slegtheid af te beeld. Ware aanbidders van Jehovah moet sulke suurdeeg haat en nie toelaat dat dit hulle eie lewe verderf en die Christengemeente verontreinig nie.—1 Korintiërs 5:6-8; Matteus 16:6, 12.
[Prent op bladsy 9]
’n Gerf van die nuwe garsoes is elke jaar geoffer op 16 Nisan, die dag waarop Jesus opgewek is
[Prent op bladsy 10]
Jesus het moontlik na die ligte van die fees verwys toe hy homself “die lig van die wêreld” genoem het