Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 5/1 bl. 8-13
  • Jehovah se dag is naby

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se dag is naby
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Insekteplaag
  • “Word wakker, julle dronkaards”!
  • “Slaan op julle bors, o priesters”
  • “Die dag van die HERE kom”
  • ‘Jehovah is nie traag nie’
  • ’n Aanval uit die noorde!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Hou die dag van Jehovah goed in gedagte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Bybelboek nommer 29—Joël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Die eerste wee—sprinkane
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 5/1 bl. 8-13

Jehovah se dag is naby

“Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land!”—JOËL 1:2.

1, 2. Weens watter situasie in Juda het Jehovah Joël geïnspireer om sy kragtige profesie te uiter?

“AG, DIE dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige.” Wat ’n dramatiese aankondiging! Dit was God se boodskap aan sy volk wat deur sy profeet Joël oorgedra is.

2 Daardie woorde van Joël 1:15 is waarskynlik omstreeks 820 v.G.J. in Juda opgeteken. Destyds het grasbedekte heuwels die land verfraai. Vrugte en koring was volop. Daar was groen, uitgestrekte weivelde. En tog was daar groot fout. Baälaanbidding het in Jerusalem en die land van Juda gefloreer. Die volk het drinkpartye voor hierdie valse god gehou. (Vergelyk 2 Kronieke 21:4-6, 11.) Sou Jehovah dit alles laat voortduur?

 3. Waarteen het Jehovah gewaarsku, en waarvoor moet die nasies gereedmaak?

3 Die Bybelboek Joël laat geen twyfel oor die antwoord hierop nie. Jehovah God sou sy soewereiniteit regverdig en sy naam heilig. Jehovah se groot dag was naby. God sou dan oordeel voltrek aan al die nasies in “die dal van Josafat” (Joël 3:12). Laat hulle hulle gereedmaak vir oorlog met Jehovah, die Almagtige. Ons staan ook voor die groot dag van Jehovah. Laat ons dus Joël se profetiese woorde vir ons dag en die verlede noukeuriger ondersoek.

Insekteplaag

 4. Hoe groot sou die gebeurtenis wees waarteen Joël gewaarsku het?

4 Jehovah sê deur sy profeet: “Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind? Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag” (Joël 1:2, 3). Die oudstes en die hele volk kon iets verwag wat nog nie in hulle leeftyd of in die dae van hulle voorvaders plaasgevind het nie. Dit sou so opspraakwekkend wees dat dit aan die derde geslag vertel sou word! Wat was hierdie merkwaardige gebeurtenis? Om uit te vind, kom om stel ons voor dat ons in Joël se tyd lewe.

5, 6. (a) Beskryf die plaag wat Joël voorspel. (b) Wie was die Bron van daardie plaag?

5 Luister! Joël hoor ’n gedruis in die verte. Dit word donker, en daardie onheilspellende geluid word al hoe harder namate die duisternis oortrek. Dan daal ’n rookagtige wolk neer. Dit is ’n swerm van miljoene insekte. En watter verwoesting rig hulle tog nie aan nie! Kyk nou na Joël 1:4. Die insekteplaag bestaan nie net uit die gevleuelde treksprinkaan nie. O nee! ’n Swerm honger voetgangers is ook op pad. Aangesien die sprinkane deur die wind gedryf is, daag hulle skielik op en is hulle geluid soos dié van waens (Joël 2:5). Weens hulle groot aptyt kan miljoene van hulle ’n paradysagtige gebied vinnig in ’n woestyn verander.

6 Ruspes—die larwes van motte en skoenlappers—is ook aan die beweeg. Groot swerms honger ruspes kan die blare van gewasse stukkie vir stukkie, blaar vir blaar, kaal stroop totdat daar feitlik geen groenigheid meer aan die plante oor is nie. En baie van wat hulle agterlaat, eet die treksprinkane op. En wat die treksprinkane agterlaat, sal die blitsige kakkerlakke beslis verorber. Maar let op: In Joël hoofstuk 2, vers 11, identifiseer God die sprinkaanswerm as “sy leërmag”. Ja, hy was die Bron van die sprinkaanplaag wat die land sou verwoes en ’n groot hongersnood sou veroorsaak. Wanneer? Net voor ‘die dag van Jehovah’.

“Word wakker, julle dronkaards”!

 7. (a) In watter toestand was Juda se godsdiensleiers? (b) Hoe is die Christendom se leiers vandag in ’n soortgelyke toestand as wat Juda se godsdiensleiers was?

7 Juda se godsdiensleiers is ’n berugte groep en word uitgesonder wanneer die bevel gegee word: “Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die mos [“soetwyn”, NW], omdat dit van julle mond weggeruk is” (Joël 1:5). Ja, die geestelike dronkaards van Juda is aangesê om ‘wakker te word’, om nugter te word. Maar moenie dink dat dit net ou geskiedenis is nie. Op hierdie oomblik, voor die groot dag van Jehovah, is die Christendom se geestelikes figuurlik gesproke so vol soetwyn dat hulle skaars bewus is van hierdie bevel van die Allerhoogste. Hoe verbaas sal hulle tog wees wanneer hulle uit hulle geestelik besope toestand wakker gemaak word deur die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah!

8, 9. (a) Hoe beskryf Joël die sprinkane en die gevolg van hulle plaag? (b) Wie word vandag deur die sprinkane voorgestel?

8 Kyk na daardie groot sprinkaanleërmag! “’n Sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos ’n leeuin. Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword. Weeklaag soos ’n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met ’n roukleed omgord is.”—Joël 1:6-8.

9 Is dit net ’n profesie oor ‘’n nasie’ sprinkane, ’n sprinkaanswerm wat Juda binneval? Nee, dit het baie groter betekenis. In Joël 1:6 en Openbaring 9:7 word God se volk as sprinkane voorgestel. Die hedendaagse sprinkaanleërmag is niks anders nie as die leërmag van Jehovah se gesalfde sprinkane, wat nou vergesel word van ongeveer 5600 000 van Jesus se “ander skape” (Johannes 10:16). Is jy nie bly om ’n deel van hierdie groot groep aanbidders van Jehovah te wees nie?

10. Wat is die gevolg van die sprinkaanplaag vir Juda?

10 In Joël 1:9-12 lees ons van die gevolge van die sprinkaanplaag. Een swerm na die ander bring algehele verwoesting oor die land. Sonder koring, wyn en olie kan die ontroue priesters nie met hulle werk voortgaan nie. Selfs die grond ween, want die sprinkane het dit van koring gestroop en vrugtebome sonder vrugte gelaat. Aangesien die wingerde verwoes is, is daar nie meer wyn vir daardie Baälaanbiddende wyndrinkers wat ook geestelike dronkaards is nie.

“Slaan op julle bors, o priesters”

11, 12. (a) Wie beweer vandag dat hulle God se priesters is? (b) Hoe word die Christendom se godsdiensleiers deur die hedendaagse sprinkaanplaag geraak?

11 Luister na God se boodskap vir daardie eiesinnige priesters: “Omgord julle en klaag [“slaan op julle bors”, NW], o priesters! Huil, dienaars van die altaar!” (Joël 1:13). In die eerste vervulling van Joël se profesie het Levitiese priesters by die altaar gedien. Maar wat van die finale vervulling? Die Christendom se geestelikes het hulle vandag die reg toegeëien om by God se altaar te dien, en hulle beweer dat hulle sy dienaars, sy “priesters” is. Maar wat gebeur noudat God se hedendaagse sprinkane aan die beweeg is?

12 Wanneer die “priesters” van die Christendom Jehovah se volk in aksie sien en hulle waarskuwing oor Goddelike oordeel hoor, word hulle rasend. Hulle slaan op hulle bors uit ergernis en woede oor die verwoestende uitwerking van die Koninkryksboodskap. En hulle huil omdat hulle kuddes hulle verlaat. Laat hulle die nag in rouklere deurbring en ween oor hulle verlies aan inkomste, want hulle weivelde is gestroop. Binnekort sal hulle ook hulle werk verloor! Trouens, God sê vir hulle om die hele nag deur te ween omdat hulle einde naby is.

13. Sal die Christendom in sy geheel gunstig op Jehovah se waarskuwing reageer?

13 Volgens Joël 1:14 (NW) is hulle enigste hoop om berou te toon en ‘tot Jehovah om hulp’ te roep. Kan ons verwag dat die Christendom se hele geestelikeklas hulle tot Jehovah sal wend? Natuurlik nie! Individue onder hulle sal dalk op Jehovah se waarskuwing ag gee. Maar die geestelike honger toestand van hierdie godsdiensleiers en hulle gemeentelede as ’n klas sal voortduur. Die profeet Amos het voorspel: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor” (Amos 8:11). Hoe dankbaar is ons tog daarenteen vir die ryk geestelike fees wat God liefdevol deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien!—Matteus 24:45-47.

14. Waarvan is die sprinkaanplaag ’n voorloper?

14 Die sprinkaanplaag was en is ’n voorloper van iets. Waarvan? Joël sê duidelik vir ons: “Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige” (Joël 1:15). Die wêreldwye strooptog van God se hedendaagse sprinkaanleërmag toon duidelik dat die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah naby is. Alle regskapenes sien ongetwyfeld uit na daardie spesiale dag van afrekening wanneer Goddelike oordeel aan die goddelose voltrek word en Jehovah as Universele Soewerein seëvier.

15. In die lig van die slegte toestand van die land, hoe reageer diegene wat op Goddelike waarskuwings ag gee?

15 Soos Joël 1:16-20 toon, was daar geen voedsel in eertydse Juda nie. Ook geen blydskap nie. Voorraadkamers is verwoes, en skure moes afgebreek word. Aangesien die sprinkane die weiding kaal gestroop het, het die beeste verward rondgedwaal en het troppe skape omgekom. Wat ’n ramp! Wat het Joël te midde van hierdie toestande gedoen? Volgens vers 19 het hy gesê: “Tot U, o HERE, roep ek.” Ook vandag gee baie mense ag op die Goddelike waarskuwings en roep hulle tot Jehovah God in geloof.

“Die dag van die HERE kom”

16. Waarom moet “die inwoners van die land” bewe?

16 Luister na hierdie opdrag van God: “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe” (Joël 2:1). Waarom sal hulle so reageer? Die profesie antwoord: “Want die dag van die HERE kom, want hy is naby—’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge” (Joël 2:1, 2). Die groot dag van Jehovah gaan met ’n ware gevoel van dringendheid gepaard.

17. Watter uitwerking het die sprinkaanplaag op die land en op die mense in Juda gehad?

17 Stel jou die trefkrag van die profeet se visioen voor terwyl die meedoënlose sprinkane ’n vrugbare tuin van Eden in ’n woesteny verander het. Luister na die beskrywing van die sprinkaanleërmag: “Sy voorkoms is soos dié van perde, en net soos ryperde so hardloop hulle. Soos die gedruis van waens huppel hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van ’n vuurvlam wat die kaf verteer, soos ’n magtige volk wat vir die geveg opgestel is. Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek” (Joël 2:4-6). Gedurende die sprinkaanplaag in Joël se dag het die angs van die Baälaanbidders toegeneem en kon die gloed van kommer op hulle gesig gesien word.

18, 19. Hoe is die bedrywigheid van God se hedendaagse volk soos ’n sprinkaanplaag?

18 Niks het die ordelike, onvermoeibare sprinkane gekeer nie. Hulle het “soos helde” gehardloop en selfs op mure geklim. As sommige ‘tussen wapens deur val, bly die ander in gelid’ (Joël 2:7, 8). Wat ’n aanskoulike profetiese uitbeelding van God se hedendaagse leër figuurlike sprinkane! Jehovah se sprinkaanleërmag beweeg vandag ook steeds vooruit. Geen “muur” van teenstand hou hulle teë nie. Hulle gee nie hulle onkreukbaarheid teenoor God prys nie, maar is bereid om te sterf, soos duisende Getuies wat ‘tussen wapens deur geval het’ omdat hulle geweier het om tydens die Nazi-regime in Duitsland “Heil Hitler” te sê.

19 God se hedendaagse sprinkaanleërmag het ’n deeglike getuienis in “die stad” van die Christendom gegee (Joël 2:9). Hulle het dit oor die hele wêreld gedoen. Hulle hou aan om alle struikelblokke te bowe te kom, miljoene huise binne te gaan, mense op straat te nader, met hulle oor die telefoon te praat en op enige moontlike manier met hulle in aanraking te kom terwyl hulle Jehovah se boodskap verkondig. Trouens, hulle het miljarde Bybelpublikasies versprei en sal nog baie meer versprei in hulle onafgebroke bediening—in die openbaar sowel as van huis tot huis.—Handelinge 20:20, 21.

20. Wie ondersteun die hedendaagse sprinkane, en wat het dit tot gevolg?

20 Joël 2:10 toon dat ’n baie groot swerm sprinkane soos ’n wolk is wat die son, maan en sterre kan verduister. (Vergelyk Jesaja 60:8.) Bestaan daar enige twyfel oor wie hierdie leërmag steun? Bo die gedruis van die insekte hoor ons hierdie woorde van Joël 2:11: “Die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” Ja, Jehovah God stuur nou—voor sy groot dag—sy leërmag sprinkane uit.

‘Jehovah is nie traag nie’

21. Wat sal gebeur wanneer “Jehovah se dag soos ’n dief kom”?

21 Soos Joël, het die apostel Petrus van Jehovah se groot dag gepraat. Hy het geskryf: “Jehovah se dag [sal] soos ’n dief kom, waarop die hemele met ’n sissende gedruis sal verbygaan, die elemente, wat intens warm sal wees, tot niet gemaak sal word, en die aarde en die werke daarin ontdek sal word” (2 Petrus 3:10). Onder die invloed van Satan die Duiwel heers die goddelose regerende “hemele” oor die “aarde”, dit wil sê die mensdom wat van God vervreemd is (Efesiërs 6:12; 1 Johannes 5:19). Hierdie simboliese hemele en aarde sal nie die gloed van Goddelike toorn gedurende Jehovah se groot dag oorleef nie. Hulle sal eerder vervang word deur “nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon”.—2 Petrus 3:13.

22, 23. (a) Hoe moet ons reageer op Jehovah se barmhartige betoning van geduld? (b) Hoe moet ons reageer op die nabyheid van die dag van Jehovah?

22 Met alles wat vandag ons aandag aflei en ons geloof toets, kan ons die dringendheid van ons tyd uit die oog verloor. Maar namate die simboliese sprinkane voortdurend voortbeur, reageer baie mense op die Koninkryksboodskap. Hoewel God tyd hiervoor toegelaat het, moet ons nie sy geduld met traagheid verwar nie. “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.”—2 Petrus 3:9.

23 Laat ons, terwyl ons op die groot dag van Jehovah wag, Petrus se woorde in 2 Petrus 3:11, 12 ter harte neem: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl julle die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou, waardeur die hemele, wat aan die brand sal wees, tot niet gemaak sal word en die elemente, wat intens warm sal wees, sal smelt!” Hierdie handelinge en dade sluit beslis in dat ons tred hou met Jehovah se sprinkaanleërmag deur ’n gereelde en betekenisvolle aandeel aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk te hê voordat die einde kom.—Markus 13:10.

24, 25. (a) Hoe reageer jy op die voorreg om deel te hê aan die werk van Jehovah se sprinkaanleërmag? (b) Watter betekenisvolle vraag opper Joël?

24 God se sprinkaanleërmag sal nie met hulle werk ophou totdat die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah aanbreek nie. Die blote bestaan van hierdie onstuitbare sprinkaanleërmag is ’n merkwaardige bewys dat Jehovah se dag naby is. Is jy nie verheug om saam met God se gesalfde sprinkane en hulle metgeselle te dien in die finale aanslag voor Jehovah se groot en vreesinboesemende dag nie?

25 Hoe groot sal die dag van Jehovah tog nie wees nie! Geen wonder dat die vraag geopper word: “Wie kan dit verdra?” (Joël 2:11). Hierdie vraag en baie ander sal in die volgende twee artikels bespreek word.

Kan jy verduidelik?

◻ Waarom het Jehovah gewaarsku teen ’n insekteplaag in Juda?

◻ Wie is Jehovah se sprinkane in die hedendaagse vervulling van Joël se profesie?

◻ Hoe reageer die leiers van die Christendom op die sprinkaanplaag, en hoe kan sommige van hulle die gevolge daarvan vryspring?

◻ Hoe omvangryk was die sprinkaanplaag al gedurende die 20ste eeu, en tot wanneer sal dit voortduur?

[Prent op bladsy 9]

Die insekteplaag was ’n voorloper van iets veel ergers

[Erkenning]

Kaal boom: FAO photo/G. Singh

[Prent op bladsy 10]

Jehovah God steun die hedendaagse sprinkaanplaag

[Foto-erkenning op bladsy 8]

Sprinkaan: FAO photo/G. Tortoli; sprinkaanswerm: FAO photo/Desert Locust Survey

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel