Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 2/1 bl. 6-7
  • Hoe kan jy ware nederigheid aan die dag lê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan jy ware nederigheid aan die dag lê?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Christus se voorbeeld van nederigheid
  • Hoe ’n nederige persoon reageer
  • ’n Nederige persoon is liefdevol en vergewensgesind
  • Kweek ware nederigheid aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Gelukkig is die nederiges
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Waarom moet ons ons met nederigheid beklee?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ‘Beklee julle met ootmoed’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 2/1 bl. 6-7

Hoe kan jy ware nederigheid aan die dag lê?

WARE nederigheid het groot waarde in God se oë. Jakobus het geskryf: “God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (Jakobus 4:6). Hier kon Jakobus moontlik na verskeie gedagtes in die Hebreeuse Geskrifte verwys het. “Die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte.” “Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.” “As dit spotters betref, spot Hy [God], maar aan die ootmoediges gee Hy genade.”—Psalm 138:6; Jesaja 2:11; Spreuke 3:34.

Die apostel Petrus het ook nederigheid aangemoedig. Hy het geskryf: “Omgord julle julle almal met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.”—1 Petrus 5:5.

Christus se voorbeeld van nederigheid

Jy vra dalk: Waarom is dit deugsaam of voordelig om nederig te wees? Vir die persoon wat daarna streef om ’n ware Christen te wees, is die antwoord van die grootste belang—om nederig te wees, is om soos Christus te wees. Jesus het sy nederigheid getoon deur die unieke toewysing te aanvaar om uit die hemelse ryk aarde toe te kom en ’n nederige mens te word, ondergeskik aan die engele (Hebreërs 2:7). Hoewel hy die Seun van God is, het hy die vernedering verduur wat sy godsdiensvyande oor hom gebring het. Hy het gedurende sy beproewinge kalm gebly, selfs al kon hy die hulp van legioene engele vra.—Matteus 26:53.

Uiteindelik het Jesus in skande aan die folterpaal gehang, en tog het hy aan sy Vader getrou gebly. Paulus kon dus van hom skryf: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was, wat, hoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg het nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en die gelykenis van mense verkry. Wat meer is, toe hy hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.”—Filippense 2:5-8.

Hoe kan ons dus ware nederigheid openbaar? Hoe kan ons in praktiese situasies eerder op ’n nederige as ’n trotse wyse reageer?

Hoe ’n nederige persoon reageer

Kom ons kyk na nederigheid in werksverband, of dit nou by jou sekulêre werk is of in die Christelike bediening. Opsieners, bestuurders en toesighouers is dalk nodig sodat werk met welslae gedoen kan word. Iemand moet besluite neem. Hoe reageer jy? Redeneer jy: “Wie dink hy is hy om vir my te sê wat om te doen? Ek doen hierdie werk al baie langer as hy.” Ja, as jy trots is, sal jy jou teen onderdanigheid verset. Aan die ander kant streef ’n nederige persoon daarna om “niks uit twisgierigheid of uit egotisme [te] doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as [homself te] ag”.—Filippense 2:3.

Hoe reageer jy wanneer ’n jonger persoon of ’n vrou ’n voorstel maak? As jy nederig is, sal jy dit ten minste oorweeg. As jy trots is, sal jy gegrief voel daaroor of dit sonder meer verwerp. Sou jy eerder lof en vleiery wou hoor wat tot jou ondergang sal lei of konstruktiewe raad wat jou kan opbou?—Spreuke 27:9; 29:5.

Kan jy die uitdaging van teëspoed die hoof bied? Nederigheid sal jou in staat stel om moeilike omstandighede onder die oë te sien en te volhard, net soos Job gedoen het. As jy trots is, sal jy geneig wees om gefrustreerd te wees en sal jy moontlik heftig reageer omdat jy moeilike omstandighede ondervind en na jou mening geminag is.—Job 1:22; 2:10; 27:2-5.

’n Nederige persoon is liefdevol en vergewensgesind

Party mense vind dit moeilik om te sê: “Ek is jammer. Ek het ’n fout gemaak. Jy was reg.” Waarom? Hulle is te trots! En tog kan ’n twis in die huwelik al te dikwels maklik beëindig word wanneer daar opreg verskoning gevra word.

Is jy bereid om te vergewe wanneer iemand jou aanstoot gee? Of veroorsaak jou trots dat jy dalk dae of maande lank ’n wrok koester en weier om met die vermeende oortreder te praat? Begin jy selfs ’n vete in ’n poging om die persoon in gelyke munt terug te betaal? Mense is al weens die een of ander vete vermoor. In ander gevalle word mense se karakter geskend. In teenstelling hiermee is ’n nederige persoon liefdevol en vergewensgesind. Waarom? Omdat liefde nie boekhou van die kwaad nie. Jehovah was bereid om die Israeliete te vergewe as hulle hulle trots sou sluk. Die nederige volgeling van Jesus is bereid om, selfs herhaaldelik, te vergewe!—Joël 2:12-14; Matteus 18:21, 22; 1 Korintiërs 13:5.

’n Nederige persoon ‘neem die leiding in eerbetoning aan ander’ (Romeine 12:10). Die New International Version lui: “Eer mekaar bo julleself.” Prys jy ander en toon jy waardering vir hulle vermoëns en talente? Of vind jy altyd ’n fout wat afbreuk doen aan hulle reputasie? Ja, is jy in staat om ander mense opreg te prys? As dit vir jou moeilik is, het jy dalk ’n probleem met persoonlike onsekerheid en trots.

’n Trotse persoon is ongeduldig. ’n Nederige persoon is geduldig en lankmoedig. Wat van jou? Vererg jy jou wanneer jy ook al na jou mening sleg behandel word? So ’n reaksie is die teenoorgestelde van lankmoedigheid. As jy nederig is, sal jy jouself nie in ’n te ernstige lig beskou nie. Onthou wat met Jesus se dissipels gebeur het toe hulle hulleself te ernstig opgeneem het—hulle het by driftige woordewisselings betrokke geraak oor wie die belangrikste was. Hulle het vergeet dat hulle almal “nikswerd slawe” was!—Lukas 17:10; 22:24; Markus 10:35-37, 41.

Die Franse skrywer Voltaire het nederigheid beskryf as “die beskeidenheid van die siel . . . die teenmiddel teen trots”. Ja, nederigheid is ootmoedigheid van gees. ’n Nederige persoon is beskeie van gees, nie trots nie. Hy betoon diepe respek en is beleef.

Waarom moet ons dus daarna streef om nederig te wees? Omdat nederigheid God se goedkeuring wegdra en ons help om Goddelike leiding te verkry. Deels as gevolg van Daniël se nederigheid het Jehovah die profeet as “’n geliefde man” beskou en ’n engel na hom toe gestuur met ’n visioen! (Daniël 9:23; 10:11, 19). Nederigheid bring baie seëninge mee. Ons sal ware vriende hê wat ons liefhet as ons nederig is. Nog belangriker, dit bring Jehovah se seëning mee. “Die loon van nederigheid is die vrees van die HERE, is rykdom en eer en die lewe.”—Spreuke 22:4.

[Prent op bladsy 7]

As ’n mens nederig om verskoning vra, kan dit die lewe makliker maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel