Meer as 40 jaar onder Kommunistiese beperkings
SOOS VERTEL DEUR MICHAIL WASILEWITSJ SAWITSKII
Die Wagtoring van 1 April 1956 het berig dat “’n groot suiwering” van Jehovah se Getuies op 1, 7 en 8 April 1951 uitgevoer is. “Dit is datums wat Jehovah se getuies in Rusland nooit sal vergeet nie”, het Die Wagtoring verduidelik. “Op hierdie drie dae is al Jehovah se getuies wat gevind kon word in Westelike Oekraïne, Wit Rusland [Belaroes], Bessarabië, Moldowa, Letland, Litaue en Estland—meer as seweduisend mans en vrouens . . . in karre gelaai, na die spoorwegstasies geneem en in beestrokke gesit en ver weggestuur.”
OP 8 April 1951 is my vrou, my agt maande oue seuntjie, my ouers, my jonger broer en baie ander Getuies van hulle huise in en om Ternopol, in die Oekraïne, weggeneem. Nadat hulle in beestrokke gelaai is, het hulle ongeveer twee weke gereis. Hulle is uiteindelik in die Siberiese taiga (subarktiese woud) wes van die Baikal-meer afgelaai.
Waarom is ek nie in hierdie suiwering ingesluit nie? Voordat ek vertel waar ek op daardie tydstip was en wat daarna met ons almal gebeur het, wil ek eers vertel hoe ek een van Jehovah se Getuies geword het.
Bybelwaarheid bereik ons
In September 1947, toe ek net 15 was, het twee van Jehovah se Getuies ons huis in die klein dorpie Slawiatin, ongeveer 50 kilometer van Ternopol af, besoek. Terwyl ek en my ma gesit en luister het na hierdie jongmense—die een se naam was Maria—het ek geweet dat dít nie maar net nog ’n godsdiens was nie. Hulle het hulle geloof verduidelik en ons Bybelvrae op ’n verstaanbare manier beantwoord.
Ek het geglo dat die Bybel God se Woord is, maar ek was teleurgesteld met die kerk. My oupa het altyd gesê: “Priesters maak mense bang met praatjies oor foltering in ’n helse vuur, maar die priesters self vrees niks nie. Hulle besteel en bedrieg net die armes.” Ek onthou hoe die Poolse inwoners van ons dorpie aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog gewelddade en brandstigting moes verduur. Dit is skokkend dat hierdie aanvalle deur die Griekse Katolieke priester georganiseer is. Ek het later tientalle van die vermoorde slagoffers gesien, en ek wou graag die redes vir sulke wreedheid weet.
Terwyl ek die Bybel saam met die Getuies gestudeer het, het ek begin verstaan. Ek het basiese Bybelwaarhede geleer, waaronder die feit dat daar geen brandende hel is nie en dat Satan die Duiwel valse godsdiens gebruik om oorlog en bloedvergieting aan te stook. Ek het van tyd tot tyd gedurende my persoonlike studie opreg tot Jehovah gebid om hom te dank vir wat ek leer. Ek het met my jonger broer Stach oor hierdie Bybelwaarhede begin praat, en ek was baie bly toe hy dit aangeneem het.
Ek pas toe wat ek geleer het
Ek het besef dat ek persoonlike veranderinge moet aanbring en het onmiddellik opgehou rook. Ek het ook verstaan dat ek gereeld saam met ander bymekaar moet kom vir georganiseerde Bybelstudie. Ek het gevolglik ongeveer tien kilometer deur die woud geloop om ’n geheime plek te bereik waar vergaderinge gehou is. Soms kon net ’n paar vroue by die vergadering uitkom, en hoewel ek nog nie gedoop was nie, is ek gevra om die vergadering te hou.
Dit was gevaarlik om Bybellektuur te besit, en as ’n mens daarmee gevang is, kon jy tot selfs 25 jaar tronkstraf gevonnis word. Maar ek wou nog steeds my eie biblioteek hê. Een van ons bure het saam met Jehovah se Getuies gestudeer, maar omdat hy bang was, het hy opgehou en sy lektuur in sy tuin begrawe. Hoe het ek Jehovah tog gedank toe die man al sy boeke en tydskrifte uitgegrawe het en ingestem het dat ek dit kon kry! Ek het dit in my pa se byekorwe weggesteek, waar ander dit waarskynlik nie sou soek nie.
In Julie 1949 het ek my lewe aan Jehovah toegewy en is ek gedoop as simbool van my toewyding. Dit was die gelukkigste dag van my lewe. Die Getuie wat die geheime doopplegtigheid gehou het, het beklemtoon dat dit nie maklik is om ’n ware Christen te wees nie en dat baie beproewinge voorlê. Ek het gou geleer hoe waar sy woorde was! My lewe as ’n gedoopte Getuie het nogtans vreugdevol begin. Twee maande ná my doop is ek met Maria getroud, een van die twee wat die eerste keer oor die waarheid met my en my ma gepraat het.
My eerste beproewing het skielik gekom
Op 16 April 1950 was ek op pad terug huis toe van die klein dorpie Podgaitsi af toe soldate my skielik voorgekeer en Bybellektuur by my gevind het wat ek na ons studiegroep moes neem. Ek is in hegtenis geneem. Gedurende die eerste paar dae in die gevangenis is ek met ’n stok geslaan, en ek is nie toegelaat om te eet of te slaap nie. Ek is ook beveel om ’n honderd hurkoefeninge met my hande oor my kop te doen, wat ek weens uitputting nie kon voltooi nie. Daarna is ek 24 uur lank in ’n koue, klam kelderkamer gesit.
Die doel van die mishandeling was om my weerstand af te breek en dit makliker te maak om inligting uit my te kry. “Waar het jy die lektuur gekry, en na wie toe sou jy dit geneem het?” het hulle gevra. Ek het geweier om enigiets bekend te maak. Toe is ’n gedeelte van die wet waarvolgens ek verhoor sou word vir my gelees. Dit het gesê dat die verspreiding en besit van anti-Sowjetlektuur met teregstelling of 25 jaar gevangenskap strafbaar was.
“Watter straf verkies jy?” het hulle gevra.
“Nie een van die twee nie”, het ek geantwoord, “maar ek vertrou op Jehovah, en met sy hulp sal ek enigiets aanvaar wat hy toelaat.”
Tot my verbasing het hulle my ná sewe dae laat gaan. Daardie ondervinding het my gehelp om te besef hoe betroubaar Jehovah se belofte is: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.”—Hebreërs 13:5.
Teen die tyd dat ek huis toe gegaan het, was ek baie siek, maar my pa het my na ’n dokter geneem, en ek het gou herstel. Hoewel my pa nie dieselfde godsdiensoortuiging as die res van die gesin gehad het nie, het hy ons in ons aanbidding gesteun.
Gevangenskap en ballingskap
’n Paar maande later is ek vir diens in die Sowjetleër opgeroep. Ek het my gewetensbeswaar verduidelik (Jesaja 2:4). Ek is nietemin in Februarie 1951 ’n vonnis van vier jaar opgelê en na ’n tronk in Ternopol gestuur. Later is ek verplaas na een in Lviv, ’n groter stad ongeveer 120 kilometer daarvandaan. Terwyl ek daar in die tronk was, het ek uitgevind dat baie Getuies na Siberië gedeporteer is.
In die somer van 1951 is ’n groep van ons verby Siberië, reg tot in die Verre-Ooste, gestuur. Ons het ’n maand lank gereis—ongeveer 11 000 kilometer—en oor 11 tydsones gegaan! Ons het net een keer, ná meer as twee weke op die trein, by ’n plek gestop waar ons toegelaat is om te bad. Dit was by ’n groot openbare badhuis in Nowosibirsk, Siberië.
Daar het ek, tussen ’n groot skare gevangenes, ’n man hard hoor sê: “Wie hier is van die familie van Jonadab?” Die woord “Jonadab” is destyds gebruik om diegene met die hoop op die ewige lewe op die aarde te identifiseer (2 Konings 10:15-17; Psalm 37:11, 29). Verskeie gevangenes het hulle onmiddellik as Getuies geïdentifiseer. Met watter vreugde het ons mekaar tog nie gegroet nie!
Geestelike bedrywighede in die tronk
Terwyl ons in Nowosibirsk was, het ons ’n wagwoord gekies waarmee ons mekaar sou identifiseer wanneer ons ons bestemming bereik. Ons het almal in dieselfde gevangenekamp langs die Japanse See beland, nie ver van Wladiwostok af nie. Daar het ons gereelde vergaderinge vir Bybelstudie georganiseer. Dit het my werklik geestelik versterk om saam met hierdie geestelik volwasse, ouer broers te wees wat tot lang tronkstraf gevonnis is. Hulle het beurte gemaak om ons vergaderinge te hou deur van Bybeltekste en verwante punte gebruik te maak wat hulle uit Die Wagtoring onthou het.
Vrae is gevra, en die broers het geantwoord. Baie van ons het stukkies papier uit leë sementsakke gesny en aantekeninge van die kommentare daarop gemaak. Ons het die aantekeninge gehou en dit gebind sodat ons dit as ons persoonlike naslaanbiblioteek kon gebruik. Ná ’n paar maande is diegene met lang vonnisse na kampe in die verre noorde van Siberië gestuur. Ek en twee ander jonger broers is na Nachodka gestuur, ’n nabygeleë stad minder as 650 kilometer van Japan af. Ek was twee jaar lank daar in die tronk.
Ons het partykeer ’n eksemplaar van Die Wagtoring gekry. Dit het maande lank as geestelike voedsel vir ons gedien. Mettertyd het ons ook briewe ontvang. Die eerste brief wat ek van my gesin (wat nou in ballingskap was) ontvang het, het my oë vol trane laat skiet. Soos Die Wagtoring beskryf het wat in die inleiding aangehaal is, het die brief vertel hoe die huise van Getuies ingeval en gesinne net twee uur gegee is om op te pak.
Weer by my gesin
Ek is in Desember 1952 vrygelaat, nadat ek twee jaar van my vier jaar lange vonnis uitgedien het. Ek het by my gesin aangesluit in die klein dorpie Gadaley naby Toeloen, Siberië, waarheen hulle gedeporteer is. Dit was natuurlik wonderlik om weer saam met hulle te wees—my seun Iwan was byna drie jaar oud en my dogter Anna was byna twee. Maar my vryheid was relatief. Die plaaslike owerheid het op my paspoort beslag gelê, en ek is fyn dopgehou. Ek kon nie meer as drie kilometer van die huis af gaan nie. Later is ek toegelaat om te perd na die mark in Toeloen te ry. Ek het versigtig te werk gegaan en saam met mede-Getuies bymekaargekom.
Teen daardie tyd het ons twee dogters, Anna en Nadia, en twee seuns, Iwan en Kolja, gehad. In 1958 het ons nog ’n seun, Wolodja, gehad. En later, in 1961, het ons nog ’n dogter, Galia, gehad.
Die KGB (voormalige agentskap vir staatsveiligheid) het my dikwels aangehou en ondervra. Hulle doel was nie net om inligting oor die gemeente uit my te kry nie, maar ook om die indruk te skep dat ek hulle my samewerking gee. Hulle het my dus soms na ’n goeie restaurant geneem en foto’s van my probeer neem waar ek glimlag en die tydjie saam met hulle geniet. Maar ek het agtergekom wat hulle probeer doen en ’n bewuste poging aangewend om altyd ’n frons op my gesig te hê. Elke keer wat ek aangehou is, het ek die broers presies vertel wat gebeur het. Hulle het dus nooit my lojaliteit in twyfel getrek nie.
In aanraking met die kampe
Deur die jare heen is honderde Getuies in gevangenekampe gesit. Gedurende hierdie tyd het ons in aanraking gebly met ons broers in die kampe en hulle van lektuur voorsien. Hoe is dit gedoen? Wanneer broers of susters uit ’n kamp vrygelaat is, het ons by hulle uitgevind hoe lektuur ingesmokkel kon word ten spyte van die streng kontrole. Ons kon ongeveer tien jaar lank ons broers in hierdie kampe voorsien van eksemplare van tydskrifte en boeke wat ons deur Pole en ander lande verkry het.
Baie van ons Christensusters het ure lank gesit en die lektuur sorgvuldig oorgeskryf in klein skrif sodat ’n hele tydskrif in iets so klein soos ’n vuurhoutjiedosie weggesteek kon word! In 1991, toe ons werk nie meer verbied is nie en ons pragtige vierkleurtydskrifte ontvang het, het een van ons susters gesê: “Nou sal ons vergeet word.” Sy was verkeerd. Selfs as mense vergeet, sal die werk van sulke lojale knegte nooit deur Jehovah vergeet word nie!—Hebreërs 6:10.
Hervestiging en tragedies
Laat in 1967 is my broer se huis in Irkoetsk deursoek. Film en eksemplare van Bybellektuur is gevind. Hy is skuldig bevind en tronkstraf van drie jaar opgelê. Toe ons huis deursoek is, het hulle egter niks gevind nie. Maar die owerheid was nog steeds daarvan oortuig dat ons betrokke was, en ons gesin moes die gebied dus verlaat. Ons het ongeveer 5 000 kilometer wes na die stad Newinnomisk in die Kaukasus getrek. Daar het ons met informele getuieniswerk besig gebly.
’n Tragedie het ons op die eerste dag van die skoolvakansie in Junie 1969 getref. Terwyl ons 12-jarige seun, Kolja, ’n bal naby ’n hoogspanningstransformator probeer terugkry het, het hy ’n hewige elektriese skok gekry. Meer as 70 persent van sy liggaam was verbrand. In die hospitaal het hy na my toe gedraai en gevra: “Sal ons weer saam na die eiland toe kan gaan?” (Hy het van ’n eiland gepraat wat ons graag besoek het.) “Ja, Kolja,” het ek gesê, “ons sal weer na daardie eiland toe gaan. Wanneer Jesus Christus jou opwek, sal ons beslis na daardie eiland toe gaan.” Hoewel hy halfbewusteloos was, het hy een van sy geliefkoosde Koninkryksliedere bly sing, die een wat hy graag op sy trompet in die gemeente se orkes gespeel het. Drie dae later het hy gesterf, met volle vertroue in die opstandingshoop.
Die volgende jaar is ons 20-jarige seun, Iwan, vir militêre diens opgeroep. Toe hy geweier het om diensplig te doen, is hy in hegtenis geneem en het hy drie jaar in die tronk deurgebring. In 1971 is ek opgeroep en weer met tronkstraf gedreig omdat ek nie militêre diens wou doen nie. My saak het maande voortgesleur. Intussen het my vrou kanker gekry en baie sorg nodig gehad. Hulle het my saak om dié rede afgewys. Maria is in 1972 oorlede. Sy was ’n getroue metgesel en het tot haar dood aan Jehovah getrou gebly.
Ons gesin versprei
In 1973 het ek met Nina getrou. Haar pa het haar in 1960 uit sy huis gegooi omdat sy ’n Getuie geword het. Sy was ’n ywerige bedienaar en een van die susters wat hard gewerk het om die tydskrifte oor te skryf vir diegene in die kampe. My kinders het haar ook leer liefkry.
Die owerheid het onrustig geraak oor ons bedrywighede in Newinnomisk en druk op ons geplaas om die stad te verlaat. In 1975 het ek, my vrou en my dogters dus na die suidelike Kaukasus-streek in Georgië getrek. Terselfdertyd het my seuns Iwan en Wolodja na Dzjamboel op die suidgrens van Kazakstan getrek.
In Georgië het die werk van Jehovah se Getuies net begin. Ons het in en om Gagra en Soechoemi aan die kus van die Swart See informele getuieniswerk gedoen, en ná ’n jaar is tien nuwe Getuies in ’n bergrivier gedoop. Die owerheid het gou weer daarop aangedring dat ons die gebied verlaat, en ons het na oostelike Georgië getrek. Daar het ons ’n verskerpte poging aangewend om skaapgeaarde mense te vind, en Jehovah het ons geseën.
Ons het in klein groepies bymekaargekom. Taal was ’n probleem, aangesien ons nie Georgies kon praat nie en party Georgiërs nie Russies goed kon praat nie. Aanvanklik het ons net met Russe gestudeer. Maar die predikings- en onderrigtingswerk in Georgies het gou momentum gekry, en nou is daar duisende Koninkryksverkondigers in Georgië.
In 1979 het my werkgewer weens druk van die KGB gesê dat ek nie meer in hulle land welkom is nie. Dit was toe dat my dogter Nadia in ’n motorongeluk was waarin sy en haar jong dogtertjie gesterf het. My moeder het die vorige jaar in Newinnomisk getrou aan Jehovah gesterf en my vader en my broer agtergelaat. Ons het dus besluit om daarheen terug te keer.
Seëninge vir volharding
In Newinnomisk het ons voortgegaan om Bybellektuur ondergronds te druk. Eenkeer gedurende die middeltagtigerjare toe ek deur die owerheid ontbied is, het ek vir hulle gesê ek het gedroom dat ek ons tydskrifte wegsteek. Hulle het gelag. Net voordat ek gegaan het, het een van hulle gesê: “Mag jy nie meer drome hê oor hoe jy jou lektuur wegsteek nie.” Hy het ten slotte gesê: “Binnekort sal die lektuur op jou boekrak vertoon word, en jy sal met jou vrou aan jou arm en jou Bybel in die hand vergaderinge toe gaan.”
In 1989 het my dogter Anna tragies gesterf aan ’n aneurisme in die brein. Sy was net 38. In Augustus van daardie selfde jaar het die Getuies in Newinnomisk ’n trein gehuur en na Warskou, Pole, gereis om ’n internasionale byeenkoms by te woon. Daar was 60 366 teenwoordig, wat duisende uit die Sowjetunie ingesluit het. Ons het werklik gedink dat ons droom! Minder as twee jaar later, op 27 Maart 1991, is vyf broers wat al lank in die Sowjetunie as gemeentelike ouer manne dien, gekies om die geskiedkundige dokument in Moskou te onderteken wat wetlike erkenning aan die godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies verleen het, en ek was bevoorreg om een van hulle te wees!
Ek is baie bly dat my oorlewende kinders Jehovah getrou dien. En ek sien uit na God se nuwe wêreld wanneer ek Anna, Nadia en haar dogtertjie sowel as Kolja weer sal sien. Wanneer hy opgewek word, sal ek my belofte hou om hom na daardie eiland te neem waarheen ons baie jare gelede so graag gegaan het.
Intussen is dit ’n groot vreugde om te sien hoe vinnig Bybelwaarheid in hierdie uitgestrekte land versprei word! Ek is waarlik bly oor my lot in die lewe, en ek dank Jehovah omdat hy toegelaat het dat ek een van sy Getuies word. Ek is oortuig dat Psalm 34:9 waar is: “Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!”
[Prent op bladsy 25]
Die jaar wat ek by my gesin in Toeloen aangesluit het
[Prente op bladsy 26]
Bo: My vader en my kinders buite ons huis in Toeloen, Siberië
Regs bo: My dogter Nadia en haar dogtertjie, wat albei in ’n motorongeluk gesterf het
Regs: ’n Familiefoto in 1968