Bestudeer God se Woord gereeld saam as ’n gesin
“Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan.”—MATTEUS 4:4.
1. Wat sê die Bybel oor gesinshoofde se verantwoordelikheid om hulle kinders Jehovah se weë te leer?
JEHOVAH GOD het gesinshoofde dikwels aan hulle verantwoordelikheid herinner om hulle kinders te leer. Sulke onderrigting sou die kinders vir die huidige lewe toerus en kon hulle ook help om voorbereid te wees op die lewe in die toekoms. ’n Engel wat God verteenwoordig het, het vir Abraham op sy verantwoordelikheid gewys om sy huisgesin te onderrig sodat hulle ‘die weg van die HERE sou hou’ (Genesis 18:19). Israelitiese ouers is aangesê om aan hulle kinders te verduidelik hoe God Israel uit Egipte verlos het en hoe hy hulle sy Wet by die berg Sinai, in Horeb, gegee het (Exodus 13:8, 9; Deuteronomium 4:9, 10; 11:18-21). Christengesinshoofde word vermaan om hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” op te voed (Efesiërs 6:4). Selfs as net een ouer Jehovah dien, moet daardie ouer die kinders Jehovah se weë probeer leer.—2 Timoteus 1:5; 3:14, 15.
2. Moet ’n gesinstudie gehou word as daar geen kinders in die huis is nie? Verduidelik.
2 Dit beteken nie dat gesinstudie van God se Woord slegs vir huisgesinne is waarin daar kinders is nie. Wanneer ’n man en vrou ’n gesinstudie het selfs as daar geen kinders in die huis is nie, toon dit dat hulle geestelike dinge hoog op prys stel.—Efesiërs 5:25, 26.
3. Waarom is dit belangrik om die gesinstudie gereeld te hou?
3 Om van die grootste nut te wees, moet onderrigting gereeld gegee word, in ooreenstemming met die les wat Jehovah Israel in die woestyn geleer het: ‘Die mens lewe nie van brood alleen nie, maar die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan’ (Deuteronomium 8:3). Sommige gesinne sal na gelang van hulle omstandighede ’n weeklikse studie reël; ander het dalk korter studiesessies elke dag. Ongeag hoe julle te werk gaan, moenie die studie aan die toeval oorlaat nie. ‘Koop die tyd uit’ daarvoor. Die opofferings wat ons moet maak ter wille van hierdie tyd is die moeite werd. Jou gesinslede se lewe is op die spel.—Efesiërs 5:15-17; Filippense 3:16.
Doelwitte om in gedagte te hou
4, 5. (a) Wat het Jehovah, deur middel van Moses, aan ouers as ’n belangrike doelwit voorgehou wanneer hulle hulle kinders onderrig? (b) Wat behels dit vandag?
4 Wanneer julle die gesinstudie hou, sal dit die grootste voordeel inhou as julle spesifieke doelwitte in gedagte hou. Kom ons kyk na ’n paar moontlikhede.
5 Probeer om by elke studie liefde vir Jehovah God op te bou. Terwyl Israel op die vlaktes van Moab vergader was, voordat hulle die Beloofde Land ingegaan het, het Moses hulle aandag gevestig op wat Jesus Christus later as “die grootste gebod in die Wet” sou identifiseer. Wat was dit? “Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” (Matteus 22:36, 37; Deuteronomium 6:5). Moses het die Israeliete aangespoor om dit in hulle eie hart in te prent en dit aan hulle kinders te leer. Dit sou herhaling verg, en dit sou vereis dat hulle die aandag vestig op redes om Jehovah lief te hê, dat hulle aandag gee aan gesindhede en gedrag wat die betoning van sulke liefde kon verhinder en dat hulle liefde vir Jehovah in hulle eie lewe openbaar. Het ons kinders dieselfde soort onderrigting nodig? Ja! En ook hulle het hulp nodig om hulle ‘hart te besny’, met ander woorde, om enigiets uit die weg te ruim wat hulle liefde vir God sal verhinder (Deuteronomium 10:12, 16; Jeremia 4:4). Een van hierdie hindernisse kan ’n begeerte wees na dinge van die wêreld en na geleenthede om by die bedrywighede daarvan betrokke te raak (1 Johannes 2:15, 16). Liefde vir Jehovah moet aktief wees. Ons moet daaraan uiting gee sodat dit ons beweeg om die dinge te doen wat ons hemelse Vader behaag (1 Johannes 5:3). As jy wil hê dat julle gesinstudie blywende voordele moet oplewer, moet elke sessie op ’n manier gehou word wat hierdie liefde versterk.
6. (a) Wat is nodig om juiste kennis oor te dra? (b) Hoe beklemtoon die Skrif die belangrikheid van juiste kennis?
6 Dra juiste kennis van God se vereistes oor. Wat behels dit? Dit behels meer as om net ’n antwoord uit ’n tydskrif of ’n boek te kan lees. Dit vereis gewoonlik ’n bespreking om seker te maak dat sleutelwoorde en hoofgedagtes duidelik verstaan word. Juiste kennis is ’n onontbeerlike faktor as ons ons met die nuwe persoonlikheid wil beklee, ons aandag op die werklik belangrike dinge gevestig wil hou wanneer ons met probleme in die lewe te kampe het en gevolglik as ons wil doen wat God werklik behaag.—Filippense 1:9-11; Kolossense 1:9, 10; 3:10.
7. (a) Watter vrae kan gevra word om die gesin te help om studiemateriaal prakties toe te pas? (b) Hoe beklemtoon die Skrif die waarde van so ’n doelwit?
7 Help om wat geleer word prakties toe te pas. Jy kan met hierdie doel voor oë tydens elke gesinstudie vra: ‘Hoe moet hierdie materiaal ons lewe raak? Vereis dit dat ons enige verandering aanbring in wat ons tans doen? Waarom sal ons graag aanpassings wil maak?’ (Spreuke 2:10-15; 9:10; Jesaja 48:17, 18). Om voldoende aandag te skenk aan die praktiese toepassing van die dinge wat geleer word, kan ’n belangrike faktor in die geestelike groei van gesinslede wees.
Gebruik onderrighulpmiddels wyslik
8. Watter hulpmiddels vir Bybelstudie het die slaafklas voorsien?
8 “Die getroue en verstandige slaaf” het ’n oorvloed hulpmiddels voorsien wat vir studie gebruik kan word. Die Wagtoring, wat saam met die Bybel gebruik word, is in 131 tale beskikbaar. Daar is boeke vir Bybelstudie in 153 tale, brosjures in 284, oudiokassette in 61, videokassette in 41, selfs ’n rekenaarprogram vir Bybelnavorsing in 9 tale!—Matteus 24:45-47.
9. Hoe kan ons die raad in die teksverwysings in hierdie paragraaf toepas wanneer ons die Wagtoring-studie as gesin doen?
9 Baie gesinne berei tydens hulle gesinstudie vir die gemeentelike Wagtoring-studie voor. Hoe nuttig kan dit tog nie wees nie! Die Wagtoring bevat die vernaamste geestelike voedsel wat voorsien word om Jehovah se volk regoor die wêreld op te bou. Wanneer julle Die Wagtoring as ’n gesin bestudeer, moet julle nie net die paragrawe lees en die gedrukte vrae beantwoord nie. Span julle ernstig in om begrip te verkry. Neem tyd om teksverwysings na te slaan wat nie aangehaal word nie. Vra gesinslede om kommentaar te lewer oor hoe dit verband hou met wat in die paragraaf onder bespreking gesê word. Laat die inligting hulle hart bereik.—Spreuke 4:7, 23; Handelinge 17:11.
10. Wat kan gedoen word om die kinders by die studie te betrek en dit ’n aangename tyd vir hulle te maak?
10 As daar kinders in julle gesin is, wat kan julle doen sodat julle studie nie net ’n gesinsritueel is nie, maar ’n opbouende, interessante en gelukkige tyd? Probeer elkeen op ’n gepaste wyse betrokke hou sodat hulle aandag op die studiemateriaal gevestig bly. Waar moontlik moet julle reël dat elke kind sy eie Bybel en studietydskrif het. In navolging van die hartlikheid wat Jesus betoon het, kan ’n ouer ’n jong kind styf teen hom laat sit en moontlik ’n arm om die kleintjie sit. (Vergelyk Markus 10:13-16.) ’n Gesinshoof kan ’n kleintjie ’n prent in die studiemateriaal laat verduidelik. ’n Jong kind kan vooraf gevra word om ’n sekere teks te lees. ’n Ouer kind kan gevra word om maniere te meld waarop die studiemateriaal prakties toegepas kan word.
11. Watter ander onderrighulpmiddels is voorsien, en hoe kan dit goed in die gesinstudie gebruik word waar dit beskikbaar is?
11 Hoewel julle dalk Die Wagtoring as grondslag vir julle bespreking gebruik, moet julle nie van die ander studiehulpmiddels vergeet wat in baie tale beskikbaar is nie. As agtergrondinligting of ’n verduideliking van ’n Bybelse uitdrukking nodig is, kan Insight on the Scriptures dit voorsien. Ander vrae kan beantwoord word deur die Watch Tower Publications Index na te gaan of deur die Genootskap se rekenaarnavorsingsprogram te gebruik. As julle leer om hierdie hulpmiddels te gebruik indien dit in julle taal beskikbaar is, kan dit ’n waardevolle deel van julle gesinstudie wees. Met die doel om die kinders se belangstelling aan te wakker, kan julle ook van julle studietyd opsy sit om na ’n deel van een van die Genootskap se leersame video’s te kyk of na ’n deel van ’n drama op oudiokasset te luister en dit dan bespreek. As julle hierdie studiehulpmiddels goed gebruik, kan dit help om julle gesinstudie vir die hele gesin interessant en voordelig te maak.
Pas by jou gesin se behoeftes aan
12. Hoe kan die gesinstudie gebruik word om na dringende behoeftes in die gesin om te sien?
12 Miskien bestudeer julle gesin gewoonlik die weeklikse les vir die Wagtoring-studie. Maar bly op hoogte van die probleme en behoeftes van julle gesin. As die moeder nie sekulêre werk doen nie, kan sy elke dag tyd met die kinders deurbring wanneer hulle van die skool af kom. Party situasies kan dan opgelos word; ander het dalk verdere aandag nodig. Wanneer daar dringende behoeftes in die gesin is, moet julle dit nie ignoreer nie (Spreuke 27:12). Dit sluit moontlik nie net probleme by die skool in nie, maar ook ander situasies. Kies gepaste materiaal en sê vir die gesin vooraf wat bestudeer gaan word.
13. Waarom sal ’n gesinstudie oor hoe om armoede die hoof te bied moontlik nuttig wees?
13 ’n Groot deel van die aarde word byvoorbeeld deur armoede geteister; in baie plekke sal dit dus moontlik nodig wees om te bespreek hoe om dit die hoof te bied. Sal ’n gesinstudie waarin werklike lewensituasies en Bybelbeginsels bespreek word nuttig wees vir julle huisgesin?—Spreuke 21:5; Prediker 9:11; Hebreërs 13:5, 6, 18.
14. Watter situasies kan ’n gesinsbespreking van Jehovah se beskouing oor geweld, oorlog en Christelike neutraliteit tydig maak?
14 ’n Ander onderwerp wat bespreek moet word, is geweld. Almal van ons moet Jehovah se beskouing diep in ons verstand en hart ingeprent hê (Genesis 6:13; Psalm 11:5). ’n Gesinstudie van hierdie onderwerp kan ’n geleentheid skep om te bespreek hoe om bullebakke by die skool te hanteer, of die verweerkuns aangeleer moet word en hoe om geskikte vermaak te kies. Gewelddadige konflikte het algemeen geword; byna elke land word deur burgeroorlog, deur politieke of etniese konflikte of deur bendeoorloë geteister. Gevolglik sal dit miskien nodig wees dat julle as ’n gesin bespreek hoe julle Christelike gedrag kan handhaaf terwyl julle omring word deur strydende faksies.—Jesaja 2:2-4; Johannes 17:16.
15. Hoe moet onderrigting oor seks en die huwelik aan kinders gegee word?
15 Namate kinders grootword, het hulle onderrigting oor seks en die huwelik nodig wat geskik is vir hulle ouderdom. In sommige kulture bespreek die meeste ouers nooit seks met hulle kinders nie. Oningeligte kinders kan verwronge idees van ander jeugdiges kry, en die gevolge kan rampspoedig wees. Sal dit nie beter wees om Jehovah na te volg wat openhartige raad maar in goeie smaak oor hierdie saak in die Bybel gee nie? Goddelike raad sal ons kinders help om hulle selfrespek te behou en lede van die teenoorgestelde geslag met waardigheid te behandel (Spreuke 5:18-20; Kolossense 3:5; 1 Tessalonisense 4:3-8). Selfs as julle hierdie sake alreeds bespreek het, moet julle nie huiwer om dit weer te doen nie. Herhaling is noodsaaklik namate nuwe situasies opduik.
16. (a) Wanneer word die gesinstudie in verskillende huisgesinne gehou? (b) Hoe het julle hindernisse te bowe gekom sodat julle ’n gereelde gesinstudie kan hê?
16 Wanneer kan die gesinstudie gehou word? In navolging van Bethelgesinne regoor die wêreld hou baie huisgesinne hulle gesinstudie op ’n Maandagaand. Ander hou dit weer op ’n verskillende tyd. In Argentinië het ’n gesin van 11, met 9 kinders, gereeld om vyfuur elke oggend opgestaan om hulle gesinstudie te hê. As gevolg van verskillende werkroosters kon hulle dit op geen ander tyd hou nie. Dit was nie maklik nie, maar dit het die belangrikheid van gesinstudie in die kinders se verstand en hart ingeprent. In die Filippyne het ’n ouer man ’n gereelde gesinstudie met sy vrou en hulle drie kinders gehad terwyl hulle opgegroei het. Gedurende die week het die ouers ook persoonlike studies met elk van die kinders gehad sodat elkeen die waarheid sy eie sou maak. In die Verenigde State loop ’n suster, wie se man nie ’n Getuie is nie, elke oggend saam met haar kinders na die skoolbus. Terwyl hulle vir die bus wag, lees en bespreek hulle ongeveer tien minute lank geskikte skriftuurlike studiemateriaal en dan doen die moeder ’n kort gebed voordat die kinders op die bus klim. Vir ’n vrou in die Demokratiese Republiek van die Kongo wie se ongelowige man die gesin verlaat het, verg dit groot inspanning om te studeer as gevolg van haar beperkte skoolopleiding. Haar volwasse seun help haar deur die gesin elke week te besoek om die leiding te neem in ’n studie met sy moeder en sy jonger broers. Die moeder stel ’n goeie voorbeeld deur goed voor te berei. Is daar een of ander situasie wat gereelde gesinstudie in julle huisgesin moeilik maak? Moenie moed opgee nie. Vra Jehovah opreg om jou pogings te seën om ’n gereelde Bybelstudie te hê.—Markus 11:23, 24.
Belonings vir volharding
17. (a) Wat is nodig om ’n gereelde gesinstudie te hê? (b) Watter ondervinding lig die waarde toe van gereelde gesinsonderrig in Jehovah se weë?
17 Beplanning is nodig. Volharding is ’n vereiste. Maar die voordele van gereelde gesinstudie is beslis die moeite werd (Spreuke 22:6; 3 Johannes 4). Franz en Hilda van Duitsland het ’n gesin van 11 kinders grootgemaak. Jare later het hulle dogter Magdalena gesê: “Wat ek vandag as die belangrikste beskou, is dat daar nooit ’n dag verbygegaan het sonder dat ons geestelike onderrig ontvang het nie.” Toe die gees van nasionalisme onder die bewind van Adolf Hitler opgevlam het, het Magdalena se vader die Bybel gebruik om sy gesin voor te berei vir die toetse wat hy geweet het vir hulle voorlê. Mettertyd is die jonger gesinslede na ’n verbeteringskool gestuur; ander gesinslede is in hegtenis geneem en in gevangenisse en konsentrasiekampe gesit. Party is tereggestel. Nie een van hulle het hulle geloof prysgegee nie—nie net in daardie tyd van kwaai vervolging nie, maar ook, wat die oorlewendes betref, gedurende die jare daarna.
18. Hoe is die pogings van enkelouers al beloon?
18 Talle enkelouers, sowel as diegene wie se huweliksmaats nie aan dieselfde geloof as hulle behoort nie, het hulle kinders eweneens gereelde Bybelonderrig gegee. ’n Enkelmoeder, ’n weduwee, in Indië het hard gewerk om liefde vir Jehovah by haar twee kinders in te skerp. Haar hart is egter gebreek toe haar seun opgehou het om met Jehovah se volk om te gaan. Sy het Jehovah om vergifnis gesmeek vir waar sy ook al te kort geskiet het in die opleiding van haar seun. Maar die seun het nie werklik vergeet wat hy geleer het nie. Ná meer as ’n dekade het hy teruggekeer, goeie geestelike vordering gemaak en ’n gemeentelike ouer man geword. Nou dien hy en sy vrou as voltydse pionierbedienaars. Hoe dankbaar is daardie ouers tog wat ag geslaan het op die raad van Jehovah en sy organisasie om gereelde Bybelonderrig in die gesinskring te voorsien! Pas julle daardie raad in julle huisgesin toe?
Kan jy verduidelik?
◻ Waarom is gereelde gesinstudie belangrik?
◻ Wat behoort ons doelwitte tydens elke gesinstudie te wees?
◻ Watter onderrighulpmiddels is aan ons beskikbaar gestel?
◻ Hoe kan die studie by die behoeftes van die gesin aangepas word?
[Prent op bladsy 15]
Spesifieke doelwitte sal julle gesinstudie verbeter