Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 7/15 bl. 15-20
  • Geanker deur hoop, aangedryf deur liefde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geanker deur hoop, aangedryf deur liefde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Trotseer die storm van “sektevrees”
  • Verdrukking bring volharding voort
  • Waarom party skipbreuk ly
  • Hoop word met ’n anker vergelyk
  • Deur liefde en die heilige gees aangedryf
  • Voorwaarts na ons bestemming!
  • Hou jou Christelike hoop sterk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Die liefde wat mense saambind
    Ontwaak!—1996
  • Geniet ’n hoop sonder teleurstelling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 7/15 bl. 15-20

Geanker deur hoop, aangedryf deur liefde

“Nou bly geloof, hoop, liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”—1 KORINTIËRS 13:13.

 1. Watter waarskuwing gee die apostel Paulus ons?

DIE apostel Paulus waarsku ons dat ons geloof, soos ’n skip, skipbreuk kan ly. Hy sê dat ons ‘geloof en ’n goeie gewete moet behou, wat party opsygestoot het, en skipbreuk gely het wat hulle geloof betref’ (1 Timoteus 1:19). In die eerste eeu G.J. is seevaartuie van hout gebou. Hulle seewaardigheid het afgehang van die gehalte van die hout en van vaardige skeepsbou.

 2. Waarom moet die skip van ons geloof goed gebou wees, en wat vereis dit van ons?

2 Die skip van ons geloof, soos ons dit kan noem, moet ten spyte van die onstuimige see van die mensdom in goeie toestand bly (Jesaja 57:20; Openbaring 17:15). Daarom moet dit goed gebou wees, en dít hang van ons af. Toe die “see” van die Joodse en die Romeinse wêreld werklik onstuimig vir die vroeë Christene begin word het, het Judas geskryf: “Julle, geliefdes, moet julle, deur julle op julle allerheiligste geloof op te bou en met heilige gees te bid, in God se liefde hou, terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig” (Judas 20, 21). Aangesien Judas ook gesê het dat ons moet stry vir ‘die geloof wat aan die heiliges oorgelewer is’, kan die uitdrukking “allerheiligste geloof” na die hele omvang van Christelike leringe, waaronder die goeie nuus van redding, verwys (Judas 3). Christus is die fondament van daardie geloof. Sterk geloof is nodig as ons aan die ware Christelike geloof wil vashou.

Trotseer die storm van “sektevrees”

 3. Hoe gebruik party die “sektevrees”?

3 In die laaste jare was daar ’n aantal afgryslike gevalle van massaselfmoorde, moorde en terroristeaanvalle waarby geheime sektes betrokke was. Dit is te verstane dat baie persone, onder andere opregte politieke leiers, graag onskuldige mense, veral minderjariges, teen sulke gevaarlike sektes wil beskerm. “Die god van hierdie stelsel van dinge”, wat ongetwyfeld agter hierdie grusame misdade sit, het dus iets geskep wat sommige ’n sektevrees noem, en hy gebruik dit teen Jehovah se volk (2 Korintiërs 4:4; Openbaring 12:12). Party het hierdie situasie uitgebuit om teenstand teen ons werk aan te blaas. In sekere lande het hulle ’n veldtog op tou gesit wat volgens hulle daarop gemik is om mense teen “gevaarlike sektes” te beskerm, maar Jehovah se Getuies word ten onregte daarby ingesluit en dus indirek beskuldig. Dit het die huis-tot-huis-getuieniswerk in party Europese lande bemoeilik en het veroorsaak dat sommige mense met wie ons die Bybel studeer hulle studie gestaak het. Dít het weer ’n negatiewe uitwerking op party van ons broers gehad.

 4. Waarom moet teenstand ons nie ontmoedig nie?

4 Teenstand moet ons egter nie ontmoedig nie; inteendeel, dit behoort ons te versterk in ons oortuiging dat ons die ware Christelike geloof beoefen (Matteus 5:11, 12). Die vroeë Christene is daarvan beskuldig dat hulle ’n oproerige sekte is, en daar is oral ‘teen hulle gespreek’ (Handelinge 24:5; 28:22). Maar die apostel Petrus het sy medegelowiges gerusgestel en geskryf: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die brand onder julle, wat as ’n beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie. Inteendeel, hou aan om julle te verheug, aangesien julle deelgenote in die lyding van die Christus is, sodat julle julle ook gedurende die openbaring van sy heerlikheid kan verheug en kan oorloop van vreugde” (1 Petrus 4:12, 13). ’n Lid van die eerste-eeuse bestuursliggaam het eweneens geskryf: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle verskillende beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk. Maar laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (Jakobus 1:2-4). Net soos stormsterk winde die seewaardigheid van ’n vaartuig op die proef stel, sal storms van teenstand enige swakheid in ons skip van geloof aan die lig bring.

Verdrukking bring volharding voort

 5. Hoe kan ons seker wees dat ons geloof tydens verdrukking standvastig sal wees?

5 Christene kan slegs seker wees van hulle volharding en van die standvastigheid van hulle geloof nadat hulle storms van verdrukking getrotseer het. Ons volharding sal alleenlik “sy werk voltooi” in stormagtige seë as ons “volkome en in alle opsigte sonder gebrek [is] en in niks kortkom nie”, wat sterk geloof insluit. Paulus het geskryf: “In elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan: deur baie te verduur, deur verdrukkinge, deur gevalle van nood, deur moeilikhede.”—2 Korintiërs 6:4.

 6. Waarom moet ons “ons verbly terwyl ons in verdrukkinge is”, en hoe versterk dit ons hoop?

6 Die stormsterk winde van verdrukking wat ons dalk soms ondervind, behoort beskou te word as geleenthede om te bewys dat ons skip van geloof sonder gebrek en standvastig is. Paulus het aan Christene in Rome geskryf: “Laat ons ons verbly terwyl ons in verdrukkinge is, aangesien ons weet dat verdrukking volharding voortbring; volharding weer ’n goedgekeurde toestand; die goedgekeurde toestand weer hoop, en die hoop lei nie tot teleurstelling nie” (Romeine 5:3-5). Standvastigheid tydens beproewinge bring ons Jehovah se goedkeuring mee. Dít versterk weer ons hoop.

Waarom party skipbreuk ly

 7. (a) Hoe het sommige geestelik skipbreuk gely, soos Paulus se woorde toon? (b) Hoe het party vandag van die waarheid afgewyk?

7 Toe Paulus teen “skipbreuk” gewaarsku het, het hy diegene in gedagte gehad wat hulle goeie gewete “opsygestoot het” en hulle geloof verloor het (1 Timoteus 1:19). Onder hulle was Himeneus en Aleksander wat afvallig geword het deur van die waarheid af te wyk en smadend te praat (1 Timoteus 1:20, voetnoot in naslaanuitgawe; 2 Timoteus 2:17, 18). Afvalliges wat vandag van die waarheid afwyk, slaan “die getroue en verstandige slaaf” met woorde, en sodoende vergeld hulle die goedheid van diegene wat hulle geestelik gevoed het met kwaad. Party kom ooreen met die “bose slaaf”, en hulle sê by implikasie: “My heer talm om te kom” (Matteus 24:44-49; 2 Timoteus 4:14, 15). Hulle ontken dat die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge naby is en kritiseer die geestelik wakker slaafklas omdat hulle ’n gevoel van dringendheid onder Jehovah se volk handhaaf (Jesaja 1:3). Sulke afvalliges slaag daarin om ‘die geloof van party te ondermyn’ en veroorsaak geestelike skipbreuk.—2 Timoteus 2:18.

 8. Wat het veroorsaak dat party die skip van hulle geloof laat skipbreuk ly of dit self laat sink het?

8 Ander toegewyde Christene het die skip van hulle geloof laat skipbreuk ly deur hulle gewete opsy te stoot en hulle oor te gee aan die onbeteuelde najaging van plesier en die geslagsonsedelikheid van hierdie wêreld (2 Petrus 2:20-22). Nog ander laat self hulle skip van geloof sink, want volgens hulle lyk dit nie of die veilige hawe van die nuwe stelsel van dinge al op die horison verskyn nie. Omdat hulle nie kan bereken wanneer sekere profesieë vervul sal word nie en hulle “Jehovah se dag” in hulle gedagtes uitstel, verlaat hulle ware aanbidding (2 Petrus 3:10-13; 1 Petrus 1:9). Hulle bevind hulle spoedig weer in die troebel water van die huidige stelsel van dinge (Jesaja 17:12, 13; 57:20). Party wat opgehou het om met die Christengemeente om te gaan, glo nog steeds dat ware aanbidding daar beoefen word. Maar hulle het klaarblyklik nie die geduld en volharding wat nodig is om te wag vir die nuwe wêreld wat Jehovah God beloof het nie. Die lewe in die Paradys het vir hulle nie gou genoeg gekom nie.

 9. Wat doen ’n paar toegewyde Christene, en waaroor moet hierdie feite ons laat nadink?

9 ’n Paar toegewyde Christene in party dele van die wêreld het blykbaar die seile van hulle skip van geloof ingebind. Die skip dryf nog, maar in plaas van met volle geloof vorentoe te beur, het hulle ’n minimum snelheid begin handhaaf. Aangesien party deur die hoop op “Paradys binnekort” aangetrek is, was hulle bereid om geen moeite te ontsien om dit te verkry nie—deur ywer in die predikingswerk en gereelde bywoning van alle vergaderinge, kring- en streekbyeenkomste. Noudat hulle dink dat die verwesenliking van hulle verwagtinge verder weg is as wat hulle gehoop het, is hulle nie meer bereid om soveel daarvoor op te offer nie. Dit kan gesien word aan die feit dat hulle minder aan die predikingswerk deelneem, nie gereeld vergaderinge bywoon nie en maklik wegbly van gedeeltes van die kring- of streekbyeenkomsprogram. Ander wy meer tyd aan ontspanning en die verkryging van materiële geriewe. Hierdie feite laat ons nadink oor wat die dryfkrag in ons lewe behoort te wees in ooreenstemming met ons toewyding aan Jehovah. Moet ons ywer in sy diens afhang van die hoop op “Paradys binnekort”?

Hoop word met ’n anker vergelyk

10, 11. Waarmee het Paulus ons hoop vergelyk, en waarom was hierdie vergelyking gepas?

10 Paulus het getoon dat Jehovah beloof het dat seëninge deur Abraham sou kom. Toe het die apostel verduidelik: “God [het] . . . met ’n eed ingetree, sodat ons wat na die skuilplek gevlug het, deur middel van twee onveranderlike dinge [sy woord en sy eed] waarin dit onmoontlik is vir God om te lieg, kragtige aanmoediging kan hê om die hoop vas te gryp wat vir ons in die vooruitsig gestel is. Hierdie hoop het ons as ’n anker vir die siel, seker sowel as vas” (Hebreërs 6:17-19; Genesis 22:16-18). Die hoop wat vir die gesalfde Christene in die vooruitsig gestel is, is onsterflike lewe in die hemel. Vandag het die oorgrote meerderheid van Jehovah se knegte die wonderlike hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde (Lukas 23:43). Sonder hierdie hoop kan ’n mens geen geloof hê nie.

11 ’n Anker is ’n doeltreffende veiligheidsmeganisme wat onontbeerlik is om ’n skip op sy plek te hou en te voorkom dat dit wegdryf. Geen seevaarder sal dit waag om sonder ’n anker uit ’n hawe te vaar nie. Aangesien Paulus ’n paar keer skipbreuk gely het, het hy uit ondervinding geweet dat die lewe van seevaarders dikwels van hulle skip se ankers afgehang het (Handelinge 27:29, 39, 40; 2 Korintiërs 11:25). In die eerste eeu het ’n skip nie ’n enjin gehad wat die kaptein in staat gestel het om dit te beheer soos hy wou nie. Buiten oorlogskepe wat met spane geroei is, het vaartuie hoofsaaklik op die wind staatgemaak om hulle voort te dryf. As die skip in gevaar verkeer het om op die rotse te loop, was die kaptein se enigste uitweg om die anker te laat sak en die storm te trotseer, in die hoop dat die anker nie uit die seebodem sou loskom nie. Paulus het derhalwe ’n Christen se hoop vergelyk met “’n anker vir die siel, seker sowel as vas” (Hebreërs 6:19). Wanneer ons deur storms van teenstand geteister word of ander beproewinge ondervind, is ons wonderlike hoop soos ’n anker wat ons as lewende siele stabiliseer sodat ons skip van geloof nie op die gevaarlike sandbanke van twyfel of die gevaarlike rotse van afvalligheid loop nie.—Hebreërs 2:1; Judas 8-13.

12. Hoe kan ons dit vermy om van Jehovah af terug te trek?

12 Paulus het die Hebreeuse Christene soos volg gewaarsku: “Pas op, broers, uit vrees dat daar ooit in enigeen van julle ’n goddelose, ongelowige hart sal ontwikkel deurdat hy hom van die lewende God terugtrek” (Hebreërs 3:12). In die Griekse teks beteken “terugtrek” letterlik “om weg te staan”, dit wil sê om afvallig te word. Maar ons kan dit vermy om so totaal skipbreuk te ly. Geloof en hoop sal ons in staat stel om na aan Jehovah te bly, selfs gedurende die hewigste storms van beproewing (Deuteronomium 4:4; 30:19, 20). Ons geloof sal nie soos ’n skip wees wat deur die winde van afvallige leringe rondgeslinger word nie (Efesiërs 4:13, 14). En met hoop as ons anker sal ons die storms van die lewe as Jehovah se knegte kan trotseer.

Deur liefde en die heilige gees aangedryf

13, 14. (a) Waarom is die anker van ons hoop op sigself nie genoeg nie? (b) Wat moet die dryfkrag agter ons heilige diens aan Jehovah wees, en waarom?

13 ’n Christen sal geensins nader aan die nuwe stelsel kom as die hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde die enigste rede is waarom hy Jehovah dien nie. Terwyl sy anker van hoop as ’n stabiliserende faktor in sy lewe dien, moet hy liefde as dryfveer daarby sowel as by sy geloof voeg. Paulus het hierdie feit benadruk toe hy geskryf het: “Nou bly geloof, hoop, liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”—1 Korintiërs 13:13.

14 Die dryfkrag agter die heilige diens wat ons verrig, behoort innige liefde vir Jehovah te wees, in antwoord op sy onmeetlike liefde vir ons. Die apostel Johannes het geskryf: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde. Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Wat ons betref, ons het lief omdat hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:8, 9, 19). Uit dankbaarheid teenoor Jehovah behoort die belangrikste saak in ons lewe nie ons persoonlike redding te wees nie, maar om te sien hoe sy naam geheilig en sy soewereiniteit geregverdig word.

15. Hoe hou ons liefde vir Jehovah verband met die kwessie van sy soewereiniteit?

15 Jehovah wil hê dat ons hom moet dien omdat ons hom liefhet, nie net omdat ons die Paradys wil beërf nie. Die Bybelensiklopedie Insight on the Scripturesa sê: “Jehovah verheug hom in die feit dat sy soewereiniteit en sy skepsele se ondersteuning daarvan hoofsaaklik op liefde gegrond is. Hy wil slegs mense hê wat sy soewereiniteit liefhet weens sy voortreflike eienskappe en omdat dit regverdig is, mense wat sy soewereiniteit bo enigiets anders verkies (1Ko 2:9). Hulle kies om hom onder sy soewereiniteit te dien en probeer nie onafhanklik wees nie—weens hulle kennis van hom en van sy liefde, geregtigheid en wysheid, wat hulle besef hulle s’n ver oortref (Ps 84:11, 12).”—Deel 2, bladsy 275.

16. Hoe is liefde vir Jesus ’n dryfveer in ons lewe?

16 As Christene toon ons ook liefde vir Jesus in antwoord op sy liefde vir ons. Paulus het geredeneer: “Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat ons só geoordeel het, dat een mens vir almal gesterf het; almal het dus gesterf; en hy het vir almal gesterf, sodat dié wat lewe nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Korintiërs 5:14, 15). Christus is die fondament waarop ons ons geestelike lewe, ons geloof en ons hoop bou. Ons liefde vir Christus Jesus versterk ons hoop en maak ons geloof standvastig, veral in tye van stormagtige beproewing.—1 Korintiërs 3:11; Kolossense 1:23; 2:6, 7.

17. Van watter dinamiese krag voorsien Jehovah ons, en hoe word die belangrikheid daarvan in Handelinge 1:8 en Efesiërs 3:16 getoon?

17 Hoewel ons liefde vir God en vir sy Seun die vernaamste dryfveer in ons lewe as Christene is, voorsien Jehovah iets anders wat ons aandryf, ons besiel en ons krag gee om vorentoe te beweeg in sy diens. Dit is sy werkende krag, oftewel heilige gees. Die Hebreeuse en Griekse woorde wat met “gees” vertaal word, verwys basies na die dinamiese beweging van lug, soos wind. Seilskepe soos dié waarop Paulus gevaar het, het op die onsigbare krag van die wind staatgemaak om hulle bestemming te bereik. Ons het eweneens liefde en die werking van God se onsigbare werkende krag nodig sodat ons skip van geloof ons in Jehovah se diens vorentoe kan laat beweeg.—Handelinge 1:8; Efesiërs 3:16.

Voorwaarts na ons bestemming!

18. Wat sal ons in staat stel om enige toekomstige toetse van ons geloof te deurstaan?

18 Ons geloof en liefde sal dalk swaar beproef word voordat ons die nuwe stelsel van dinge bereik. Maar Jehovah het vir ons ’n anker gegee wat “seker sowel as vas” is—ons wonderlike hoop (Hebreërs 6:19; Romeine 15:4, 13). Wanneer ons deur teenstand of ander beproewinge geteister word, kan ons volhard as ons deur middel van ons hoop stewig geanker is. Wanneer die een storm bedaar, maar voor die volgende een losbars, moet ons vasbeslote wees om ons hoop asook ons geloof te versterk.

19. Hoe kan ons die skip van ons geloof op koers hou en die veilige hawe van God se nuwe wêreld bereik?

19 Voordat Paulus van die “anker vir die siel” gepraat het, het hy gesê: “Ons begeer dat elkeen van julle dieselfde vlytigheid aan die dag moet lê [“om te versnel”, voetnoot in naslaanuitgawe] om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê, sodat julle nie traag sal word nie, maar navolgers sal wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf” (Hebreërs 6:11, 12). Laat ons die skip van ons geloof op koers hou totdat ons die veilige hawe van God se beloofde nuwe wêreld bereik, aangedryf deur liefde vir Jehovah en vir sy Seun en besiel deur krag van die heilige gees.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Ter hersiening

◻ Watter waarskuwing het Paulus ons met betrekking tot ons geloof gegee?

◻ Hoe het party geestelik skipbreuk gely, en hoe verslap ander die pas?

◻ Watter godvrugtige eienskap moet met ons geloof gepaardgaan?

◻ Wat sal ons in staat stel om die veilige hawe van God se beloofde nuwe wêreld te bereik?

[Prent op bladsy 16]

Die skip van ons geloof moet goed gebou wees om die storms van die lewe te deurstaan

[Prent op bladsy 17]

Ons geloof kan skipbreuk ly

[Prent op bladsy 18]

Hoop is ’n anker in ons lewe as Christene

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel