Waarom moet jy jou beloftes nakom?
“STEM vir die man wat die minste belowe; hy sal jou die minste teleurstel”, het die eertydse presidentsraadgewer Bernard Baruch gesê. In vandag se wêreld lyk dit of beloftes nie meer nagekom word nie. Dit sluit huweliksgeloftes, sakeooreenkomste of beloftes in om meer tyd saam met die kinders deur te bring. Mense ignoreer oor die algemeen die gedagte wat geïmpliseer word deur die tradisionele spreekwoord: “’n Man se woord; ’n man se eer.”
Baie mense is natuurlik nooit van plan om hulle beloftes na te kom nie. Ander maak ondeurdagte beloftes wat hulle nie kan nakom nie of breek hulle woord bloot omdat dit uiteindelik die maklikste weg is om te volg.
Dit is weliswaar moeilik om ’n belofte na te kom as onvoorsiene omstandighede opduik. Maar kan ’n verbroke belofte werklik skadelik wees? Moet jy jou beloftes ernstig opneem? ’n Kykie na Jehovah God se voorbeeld sal ons help om te sien waarom ons hierdie saak ernstig moet beskou.
Jehovah vervul sy beloftes
Ons aanbid ’n God wie se naam ten nouste saamhang met die vervulling van sy beloftes. In Bybeltye het ’n naam dikwels iets omtrent die persoon gesê. Dit is ook die geval met die naam Jehovah, wat “Hy laat word” beteken. Die Goddelike naam omvat dus die gedagte dat God sy beloftes sal vervul en sy voornemens sal verwesenlik.
In ooreenstemming met sy naam het Jehovah elke belofte nagekom wat hy aan die eertydse nasie Israel gemaak het. Aangaande hierdie beloftes het koning Salomo erken: “Mag Jehovah geseënd wees, wat aan sy volk Israel ’n rusplek gegee het volgens alles wat hy beloof het. Nie een woord van al sy goeie beloftes wat hy deur middel van sy kneg Moses beloof het, het onvervuld gebly nie.”—1 Konings 8:56, NW.
Jehovah is so betroubaar dat die apostel Paulus kon sê: “Toe God sy belofte aan Abraham gedoen het, het hy by homself gesweer, aangesien hy by niemand groter kon sweer nie” (Hebreërs 6:13). Ja, Jehovah se naam en sy persoonlikheid is ’n waarborg dat hy nie sy beloftes sal verbreek nie, selfs al verg dit dalk groot opofferings van hom (Romeine 8:32). Die feit dat Jehovah sy beloftes vervul, gee ons hoop wat ’n anker vir ons siel, of lewe, is.—Hebreërs 6:19.
Jehovah se beloftes en ons toekoms
Ons hoop, ons geloof en selfs ons lewe hang alles van die vervulling van Jehovah se beloftes af. Watter hoop koester ons? “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens [God se] belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13). Die Skrif gee ons ook rede om te glo dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees” (Handelinge 24:15). En ons kan seker wees dat daar iets meer as hierdie huidige lewe is. Trouens, wat die apostel Johannes “die belofte” noem, is “die ewige lewe” (1 Johannes 2:25). Maar die beloftes van Jehovah in sy Woord is nie tot die toekoms beperk nie. Dit maak ons daaglikse lewe nou reeds sinvol.
Die psalmis het gesing: “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, . . . en Hy hoor hul hulpgeroep” (Psalm 145:18, 19). God gee ons ook die versekering dat ‘hy die vermoeide krag gee en sterkte vermenigvuldig vir die wat geen kragte het nie’ (Jesaja 40:29). En watter vertroosting is dit tog om te weet dat ‘God nie sal toelaat dat ons versoek word bo wat ons kan verdra nie, maar dat hy saam met die versoeking ook die uitweg sal gee’! (1 Korintiërs 10:13). As ons persoonlik die vervulling van enige van hierdie beloftes ondervind het, weet ons dat Jehovah ten volle vertrou kan word. Hoe moet ons ons beloftes aan God beskou, met die oog op die voordeel wat ons trek uit al die beloftes wat God maak en nakom?
Ons moet ons beloftes aan God nakom
Ons toewyding aan God is ongetwyfeld die belangrikste belofte wat ons kan maak. Met hierdie stap toon ons dat ons Jehovah vir ewig wil dien. Hoewel God se gebooie nie swaar is nie, is dit dalk nie altyd maklik om sy wil te doen nie, aangesien ons in hierdie goddelose stelsel van dinge lewe (2 Timoteus 3:12; 1 Johannes 5:3). Maar as ons eers ‘ons hand aan die ploeg geslaan het’ en toegewyde knegte van Jehovah en dissipels van sy Seun, Jesus Christus, geword het, moet ons nooit terugkyk na die dinge van die wêreld wat ons agtergelaat het nie.—Lukas 9:62.
Wanneer ons tot Jehovah bid, word ons dalk beweeg om hom te belowe dat ons hard sal probeer om ’n swakheid te bowe te kom, ’n Christelike eienskap aan te kweek of meer te doen in die een of ander aspek van ons teokratiese aktiwiteite. Wat sal ons help om hierdie beloftes na te kom?—Vergelyk Prediker 5:1-4.
Opregte beloftes kom uit die hart sowel as die verstand. Laat ons derhalwe ons beloftes aan Jehovah bevestig deur ons hart in gebed aan hom uit te stort en op eerlike wyse ons vrese, begeertes en swakhede uit te spreek. As ons oor ’n belofte bid, sal dit ons voorneme versterk om dit na te kom. Ons kan ons beloftes aan God as skuld beskou. Wanneer skuld groot is, moet dit geleidelik afbetaal word. Dit sal eweneens tyd neem om baie van die beloftes wat ons aan Jehovah maak na te kom. Maar deur gereeld aan hom te gee wat ons kan, toon ons dat ons bedoel wat ons sê, en hy sal ons dienooreenkomstig seën.
Ons kan toon dat ons ons beloftes ernstig opneem deur gereeld, miskien elke dag, daaroor te bid. Dit sal vir ons hemelse Vader wys dat ons opreg is. Dit sal ook as ’n gereelde herinnering dien. Dawid was in hierdie opsig ’n baie goeie voorbeeld. Hy het Jehovah in sang gesmeek: “o God, hoor my smeking, luister na my gebed! . . . Ek [wil] psalmsing tot eer van u Naam tot in ewigheid, om my geloftes te betaal, dag ná dag.”—Psalm 61:2, 9.
Dit bou vertroue op as ons ons beloftes nakom
Aangesien ons beloftes aan God nie ligtelik opgeneem moet word nie, sal dieselfde ook geld vir dié wat aan ons mede-Christene gemaak word. Ons moet Jehovah nie op een manier en ons broers op ’n ander manier behandel nie. (Vergelyk 1 Johannes 4:20.) Jesus het in sy Bergpredikasie gesê: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee” (Matteus 5:37). As ons seker maak dat ons woord altyd betroubaar is, is dit een manier waarop ons ‘goed kan doen aan dié wat in die geloof aan ons verwant is’ (Galasiërs 6:10). Elke belofte wat ons nakom, bou vertroue op.
Die skade wat deur ’n verbroke belofte aangerig word, is dikwels groter wanneer geld betrokke is. Hetsy ’n Christen ’n lening terugbetaal, ’n diens verrig of ’n handelsooreenkoms nakom, hy moet sy woord gestand doen. Dit behaag God en versterk die wedersydse vertroue wat so noodsaaklik is as broers ‘in eenheid wil saamwoon’.—Psalm 133:1, NW.
Maar as ooreenkomste nie nagekom word nie, kan dit die gemeente sowel as die individue wat direk daarby betrokke is, benadeel. ’n Reisende opsiener sê: “Sakegeskille—wat gewoonlik ontstaan as ten minste een party meen dat die ooreenkoms verbreek is—word dikwels algemene kennis. Gevolglik kies broers kant, en die atmosfeer in die Koninkryksaal kan gespanne word.” Hoe belangrik is dit tog om enige ooreenkoms wat ons aangaan baie versigtig te oorweeg en die saak op skrif te stel!a
Ons moet ook versigtig wees wanneer ons duur produkte verkoop of beleggings aanbeveel, veral as ons persoonlik gaan voordeel trek uit die transaksie. Ons moet eweneens baie versigtig wees om nie die voordele van sekere artikels of gesondheidsprodukte te oordryf of om onrealistiese opbrengste uit beleggings te belowe nie. Liefde behoort Christene te beweeg om enige risiko’s wat daarby betrokke is ten volle te verduidelik (Romeine 12:10). Aangesien die meeste broers beperkte sakekennis het, vertrou hulle moontlik op ons raad bloot omdat ons in die geloof aan hulle verwant is. Hoe jammer sou dit tog wees as hierdie vertroue ondermyn word!
As Christene kan ons nie sakegebruike aanneem wat oneerlik is of wat die regmatige belange van ander ignoreer nie (Efesiërs 2:2, 3; Hebreërs 13:18). Om Jehovah se guns te geniet en ‘in sy tent te vertoef’, moet ons betroubaar wees. ‘Al het ons gesweer tot ons skade, verander ons nie.’—Psalm 15:1, 4.
Die rigter Jefta van Israel het ’n gelofte gedoen dat hy die eerste een wat hom tegemoet sou kom nadat hy van die stryd teen die Ammoniete teruggekeer het as ’n brandoffer aan Jehovah sou gee as God hom die oorwinning sou laat behaal. Daardie een was toe Jefta se enigste kind, maar hy het nie sy belofte verbreek nie. Nadat sy dogter heelhartig daartoe ingestem het, het hy haar aangebied vir permanente diens by God se heiligdom—wat ongetwyfeld vir hom in baie opsigte ’n pynlike en groot opoffering was.—Rigters 11:30-40.
Veral gemeentelike opsieners het ’n verantwoordelikheid om by hulle ooreenkomste te bly. Volgens 1 Timoteus 3:2 moet ’n opsiener “onberispelik” wees. Dit is die vertaling van ’n Griekse term met die betekenis: “wat nie vasgegryp kan word nie, onbesproke, bo verdenking”. Dit “impliseer nie net dat die man ’n goeie naam het nie, maar dat hy dit ook verdien” (A Linguistic Key to the Greek New Testament). Aangesien ’n opsiener onberispelik moet wees, moet sy beloftes altyd betroubaar wees.
Ander maniere om ons beloftes na te kom
Hoe moet ons beloftes beskou wat ons maak aan diegene wat nie mede-Christene is nie? “Laat julle lig . . . voor die mense skyn,” het Jesus gesê, “sodat hulle julle voortreflike werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:16). Deur te bewys dat ons ons woord gestand doen, sal ons ander moontlik na ons Christenboodskap toe aantrek. Ondanks die wêreldwye afname in standaarde van eerlikheid, stel die meeste mense nog integriteit op prys. As ons ons beloftes nakom, is dit ’n manier waarop ons liefde vir God en ons naaste kan openbaar en liefhebbers van regverdigheid kan aantrek.—Matteus 22:36-39; Romeine 15:2.
Jehovah se Getuies het gedurende hulle 1998-diensjaar meer as ’n miljard uur daaraan bestee om in die openbaar die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Matteus 24:14). Hierdie predikingswerk sou dalk in sekere mate tevergeefs gewees het as ons nie ons woord gehou het in saketransaksies of in ander sake nie. Aangesien ons die God van waarheid verteenwoordig, verwag mense tereg van ons om eerlik te wees. Deur betroubaar en eerlik te wees, ‘versier ons die leer van ons Redder, God, in alles’.—Titus 2:10.
In ons bediening het ons geleenthede om ons woord gestand te doen wanneer ons teruggaan na diegene wat in die Koninkryksboodskap belangstel. As ons sê dat ons sal teruggaan, moet ons dit doen. As ons teruggaan soos ons belowe het, is dit ’n manier waarop ons ‘nie ’n weldaad terughou van hom aan wie dit toekom nie’ (Spreuke 3:27). Een suster het die saak só verduidelik: “By verskeie geleenthede het ek belangstellendes ontmoet wat gesê het dat ’n Getuie belowe het om terug te kom, maar dit nie gedoen het nie. Ek weet natuurlik dat die huisbewoners dalk nie tuis was nie of dat omstandighede dit dalk onmoontlik gemaak het om terug te gaan. Maar ek wil nie graag hê dat enigiemand dit van my moet sê nie; daarom doen ek alles in my vermoë om die persoon weer tuis te vind. Ek glo dat dit Jehovah en al my broers in ’n slegte lig sal stel as ek iemand teleurstel.”
In party gevalle is ons dalk nie lus om terug te gaan nie omdat ons dink dat die persoon nie werklik belangstel nie. Dieselfde suster verduidelik: “Ek probeer nie oordeel hoeveel belangstelling daar is nie. Ek het uit my eie ondervinding geleer dat eerste indrukke dikwels verkeerd is. Ek probeer dus positief wees en elke persoon as ’n potensiële broer of suster beskou.”
In die Christelike bediening en op baie ander gebiede moet ons toon dat ons woord vertrou kan word. Dit is waar dat party dinge makliker gesê as gedaan is. Die wyse man het gesê: “Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind ’n betroubare man?” (Spreuke 20:6). As ons vasbeslote is, kan ons betroubaar wees en ons woord gestand doen.
Ryk seëninge van God
As iemand opsetlik ’n hol belofte maak, is dit oneerlik en kan dit vergelyk word met ’n tjek wat uitgeskryf word sonder dat daar geld in die bank is sodat dit gewissel kan word. Maar watter beloninge en seëninge ontvang ons tog as ons ons beloftes nakom! Een seëning wat ons ontvang as ons betroubaar is, is ’n goeie gewete. (Vergelyk Handelinge 24:16.) Ons sal nie knaende gewetenswroeging hê nie, maar tevredenheid en gemoedsrus geniet. Wat meer is, as ons ons woord hou, dra ons by tot die eenheid in die gemeente, wat van wedersydse vertroue afhang. Ons “waaragtige woorde” beveel ons ook aan as bedienaars van die God van waarheid.—2 Korintiërs 6:3, 4, 7.
Jehovah is getrou aan sy woord en hy haat “’n leuenagtige tong” (Spreuke 6:16, 17). Deur ons hemelse Vader na te volg, kom ons nader aan hom. Ons het dus ongetwyfeld goeie redes om ons beloftes na te kom.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Stel dit op skrif!” in die Ontwaak! van 8 Junie 1983, bladsye 13-15.
[Prente op bladsy 10]
Jefta het sy belofte nagekom, hoewel dit pynlik was
[Prente op bladsy 11]
As jy belowe het om terug te gaan, moet jy goed daarvoor voorberei