’n Mylpaal vir liefhebbers van God se Woord
In 1998 is ’n belangrike mylpaal vir alle liefhebbers van God se Woord bereik. Gedurende daardie jaar is die 100 miljoenste eksemplaar van die “Nuwe Wêreld”-vertaling van die Heilige Skrif gedruk. Sodoende het dit een van die Bybels met die grootste verspreiding in hierdie eeu geword!
HIERDIE prestasie is veral merkwaardig as ’n mens dink aan die skerp kritiek waaraan hierdie vertaling onderwerp was toe dit vrygestel is. Maar dit het nie net voortbestaan nie, dit het gefloreer en sy weg na miljoene huise—en harte—regoor die wêreld gevind! Waar kom hierdie unieke vertaling vandaan? Wie het dit vertaal? En hoe kan jy daarby baat vind as jy dit gebruik?
Waarom ’n nuwe vertaling?
Die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die wetlike liggaam wat Jehovah se Getuies verteenwoordig, versprei al meer as honderd jaar lank Bybels. Waarom het Jehovah se Getuies dit egter nodig geag om nog ’n vertaling van God se Woord te maak? Die boek So Many Versions?, deur Sakae Koebo en Walter Specht, sê: “Geen vertaling van die Bybel kan ooit as die laaste een beskou word nie. Vertalings moet tred hou met die vordering op die gebied van Bybelkunde en die veranderinge in tale.”
Gedurende hierdie eeu het die begrip van Hebreeus, Grieks en Aramees—die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is—aansienlik verbeter. Bybelmanuskripte is ook ontdek wat ouer en akkurater is as dié wat deur vorige geslagte van Bybelvertalers gebruik is. God se Woord kan sodoende vandag akkurater as ooit tevore vertaal word! Dit was dus met goeie rede dat die New World Bible Translation Committee gevorm is om die Bybel in hedendaagse tale te vertaal.
In 1950 is die Engelse weergawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte gepubliseer. Die titel op sigself was ’n moedige afwyking van tradisie, want dit het nie aangedui dat die Bybel uit ’n “Ou” en “Nuwe” testament bestaan nie. Gedurende die volgende dekade is die Hebreeuse Geskrifte in dele gepubliseer. In 1961 is die hele Bybel in Engels in een boek vrygestel.
Presies wie het hierdie merkwaardige Bybel vertaal? Die Wagtoring van 1 Desember 1950 het gesê: “Die manne wat die vertalingskommissie uitmaak[, het] hulle begeerte . . . te kenne gegee om naamloos te bly, en wil in die besonder nie hê dat hulle name terwyl hulle nog lewe of nadat hulle dood is, gepubliseer moet word nie. Die doel van die vertaling is om die naam van die lewende, ware God te verhoog.” Sommige kritici het geëis dat die werk summier verwerp moet word as die produk van amateurs, maar nie almal het so ’n onredelike standpunt ingeneem nie. Alan S. Duthie skryf: “Help dit ons om te bepaal of ’n vertaling goed of sleg is as ons weet wie die vertalers of die uitgewers van daardie spesifieke Bybelvertaling is? Nie werklik nie. Daar is geen plaasvervanger daarvoor om die kenmerke van elke vertaling op sigself te ondersoek nie.”a
Unieke kenmerke
Miljoene lesers het presies dit gedoen en het gevind dat die Nuwe Wêreld-vertaling nie net leesbaar is nie, maar ook uiters akkuraat. Die vertalers daarvan het uit die oorspronklike Hebreeus, Aramees en Grieks vertaal en die beste beskikbare tekste is gebruik.b Hulle was ook besonder versigtig om die antieke teks so letterlik as moontlik te vertaal, maar in taal wat maklik verstaanbaar is. Gevolglik het sommige geleerdes met lof van hierdie vertaling se integriteit en akkuraatheid gepraat. Die Andover Newton Quarterly van Januarie 1963 het byvoorbeeld gesê: “Die vertaling van die Nuwe Testament is ’n bewys van die feit dat daar in die beweging geleerdes is wat bevoeg is om die talle probleme van Bybelvertaling op intelligente wyse die hoof te bied.”
Die vertalers het ’n nuwe wêreld van Bybelbegrip ontsluit. Bybeltekste wat voorheen net vaagweg verstaan is, was nou heeltemal duidelik. Die verwarrende woorde in Matteus 5:3, “salig is die wat arm van gees is” (AB), is byvoorbeeld heel verstaanbaar vertaal as: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.” Die Nuwe Wêreld-vertaling vertaal sleutelwoorde ook absoluut konsekwent en eenvormig. Die Griekse woord psu·kheʹ is byvoorbeeld oral waar dit voorkom as “siel” vertaal. Gevolglik kan lesers gou agterkom dat die siel, in teenstelling met wat godsdiensteorieë sê, nie onsterflik is nie!—Matteus 2:20; Markus 3:4; Lukas 6:9; 17:33.
God se naam word herstel
’n Uitsonderlike kenmerk van die Nuwe Wêreld-vertaling is dat dit God se naam, Jehovah, in ere herstel het. In antieke afskrifte van die Hebreeuse Bybel is die Goddelike naam deur vier medeklinkers voorgestel wat as YHWH of JHVH getranslitereer kan word. Hierdie unieke naam kom byna 7 000 keer in die sogenaamde Ou Testament alleen voor (Exodus 3:15, NW; Psalm 83:18, NW). Dit was ongetwyfeld ons Skepper se voorneme dat sy aanbidders sy naam moet ken en dit moet gebruik!
Maar bygelowige vrese het daartoe gelei dat die Jode opgehou het om die Goddelike naam te gebruik. Ná die dood van Jesus se apostels het kopiïste van die Griekse Geskrifte God se persoonlike naam met die Griekse woorde Kuʹri·os (Here) of The·osʹ (God) begin vervang. Ongelukkig het hedendaagse vertalers hierdie godonterende tradisie voortgesit deur God se naam uit die meeste Bybels te verwyder en selfs die feit te verbloem dat God wel ’n naam het. Jesus sê byvoorbeeld in Johannes 17:6: “Ek het u naam openbaar gemaak.” Today’s English Version vertaal dit egter as: “Ek het u bekend gemaak.”
Sommige geleerdes is voorstanders daarvan dat God se naam verwyder moet word omdat die presiese uitspraak daarvan onbekend is. Maar bekende Bybelname soos Jeremia, Jesaja en Jesus word oor die algemeen op maniere vertaal wat nie juis met hulle oorspronklike Hebreeuse uitspraak ooreenkom nie. Aangesien die vorm Jehovah ’n geldige manier is om die Goddelike naam te vertaal—en ’n manier is wat baie mense ken—klink besware teen die gebruik daarvan ongegrond.
Die New World Bible Translation Committee het moedig voortgegaan om die naam Jehovah in die Hebreeuse sowel as die Griekse gedeeltes van die Skrif te gebruik. Hulle het die voorbeeld gevolg van vroeë sendelinge se vertalings vir mense in Sentraal-Amerika, die Stille Suidsee en die Ooste. Maar hierdie gebruik van God se naam is nie bloot van akademiese belang nie. As ons God as persoon wil leer ken, is dit uiters belangrik dat ons sy naam ken (Exodus 34:6, 7, NW). Die Nuwe Wêreld-vertaling het al miljoene lesers aangemoedig om sy naam te gebruik!
Anderstalige lesers word bereik
Tussen 1963 en 1989 is die Nuwe Wêreld-vertaling, in sy geheel of gedeeltelik, in tien bykomende tale beskikbaar gestel. Maar dit was ’n ontsaglike taak om die Bybel te vertaal, en sommige projekte het 20 jaar of langer geduur. Toe, in 1989, is die Vertaaldiensdepartement by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies op die been gebring. Onder leiding van die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam het hierdie departement Bybelvertaling begin bespoedig. ’n Vertaalmetode is ontwikkel wat ’n studie van Bybelwoorde met rekenaartegnologie kombineer. Hoe werk hierdie stelsel?
Wanneer die Skryfkomitee die vertaling van die Bybel in ’n nuwe taal goedgekeur het, stel hulle ’n groep toegewyde Christene as ’n vertaalspan aan. Spanne kan meer gebalanseerde vertalings lewer as ’n individu wat alleen werk. (Vergelyk Spreuke 11:14.) Elke spanlid is gewoonlik ervare in die vertaling van die Genootskap se publikasies. Die span word dan deeglik opgelei in die beginsels van Bybelvertaling en in die gebruik van rekenaarprogramme wat spesiaal daarvoor ontwerp is. ’n Rekenaar doen in werklikheid geen vertaalwerk nie, maar dit kan ’n span toegang gee tot belangrike inligting, en dit help hulle om rekord te hou van hulle besluite.
Bybelvertaling het twee stadiums. Gedurende die eerste stadium kry die vertalers ’n lys woorde en uitdrukkings wat in die Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik is. Verwante Engelse woorde, soos “atone”, “atonement” en “propitiation”, word saam gegroepeer om vertalers op fyn betekenisverskille attent te maak. Hulle stel ’n lys saam van ekwivalente woorde in die doeltaal. Maar soms sukkel ’n vertaler dalk om ’n vers te vertaal. Die navorsingstelsel op die rekenaar voorsien die vertaler van inligting oor Griekse en Hebreeuse woorde en verleen ook toegang tot Wagtoringpublikasies.
Wanneer die projek in die tweede stadium is, word die gekose woorde in die doeltaal outomaties in die Bybelteks ingevoeg. Dit verseker dat die vertaling uiters akkuraat en konsekwent is. Maar die teks wat deur hierdie metode van “soek en vervang” verkry word, is nouliks verstaanbaar. Heelwat werk moet gedoen word om Bybelverse te redigeer en te herformuleer sodat dit vlot kan lees.
Daar is gevind dat hierdie vertaalstelsel besonder doeltreffend is. Een groep het die hele Hebreeuse Geskrifte in net twee jaar vertaal. Vergelyk dit met ’n groep wat die vertaling sonder rekenaars in ’n verwante taal gedoen het. Dit het hulle 16 jaar geneem. Van 1989 af tot nou toe is die Christelike Griekse Geskrifte al in 18 bykomende tale vertaal. Die Nuwe Wêreld-vertaling is nou, in sy geheel of gedeeltelik, in 34 tale beskikbaar. Meer as 80 persent van Jehovah se Getuies het dus ten minste die Christelike Griekse Geskrifte in hulle moedertaal.
Die Verenigde Bybelgenootskappe berig dat gedeeltes van die Bybel in net 2 212 van die wêreld se 6 500 tale beskikbaar is.c Daarom is sowat 100 vertalers tans besig om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Hebreeuse en Griekse Geskrifte in 11 en 8 tale onderskeidelik te vertaal. God se wil is “dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:4). Die Nuwe Wêreld-vertaling sal ongetwyfeld voortgaan om ’n belangrike rol in hierdie opsig te speel.
Ons is dus verheug dat hierdie vertaling die mylpaal van 100 miljoen eksemplare verbygesteek het, en ons bid dat nog baie miljoene in die toekoms gedruk sal word. Ons wil jou aanmoedig om dit self te ondersoek. Jy sal al die spesiale kenmerke daarvan geniet: die duidelike druk, bladsyopskrifte, ’n indeks wat jou kan help om bekende verse op te soek, volledige kaarte en baie interessante inligting in die aanhangsel. Nog belangriker, jy kan hierdie Bybel lees met die vertroue dat dit God se eie woorde akkuraat in jou taal oordra.
[Voetnote]
a Dit is interessant dat die omslag van die New American Standard Bible se naslaanuitgawe van 1971 eweneens gesê het: “Ons het geen geleerde se naam vir verwysing of aanbevelings gebruik nie omdat ons glo dat God se Woord volgens sy eie meriete beoordeel moet word.”
b The New Testament in the Original Greek, deur Westcott en Hort, was die Griekse grondteks. R. Kittel se Biblia Hebraica was die grondteks vir die Hebreeuse Geskrifte.
c Aangesien baie mense tweetalig is, word daar oor die algemeen aangeneem dat die Bybel, in sy geheel of gedeeltelik, in genoeg tale vertaal is sodat meer as 90 persent van die aarde se bevolking dit kan lees.
[Lokteks op bladsy 29]
“Die vertaling van die Nuwe Testament is ’n bewys van die feit dat daar in die beweging geleerdes is wat bevoeg is om die talle probleme van Bybelvertaling op intelligente wyse die hoof te bied.”—ANDOVER NEWTON QUARTERLY, JANUARIE 1963
[Lokteks op bladsy 30]
“Vertalings moet tred hou met vordering op die gebied van Bybelkunde en die veranderinge in tale”
[Venster/Prent op bladsy 31]
GELEERDES PRAAT MET LOF VAN DIE NUWE WÊRELD-VERTALING
EDGAR J. GOODSPEED, vertaler van die Griekse “Nuwe Testament” in An American Translation, het die volgende oor die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte geskryf in ’n brief gedateer 8 Desember 1950: “Ek stel belang in die sendingwerk van julle mense, en in die wêreldwye omvang daarvan, en is baie beïndruk deur die vrye, duidelike en lewendige vertaling. Dit lewer oorvloedige bewys van groot kennis, waarvan ek kan getuig.”
Die Hebreeuse en Griekse geleerde Alexander Thomson het geskryf: “Die vertaling is klaarblyklik die werk van bekwame en skrander geleerdes, wat probeer het om soveel van die ware betekenis van die Griekse teks weer te gee as wat die Engelse taal in staat is om uit te druk.”—The Differentiator, April 1952, bladsye 52-7.
Professor Benjamin Kedar, ’n Hebraïkus in Israel, het in 1989 gesê: “Ek raadpleeg dikwels die Engelse uitgawe van wat as die New World Translation bekend staan tydens my taalkundige navorsing in verband met die Hebreeuse Bybel en vertalings. Sodoende vind ek dat my mening herhaaldelik bevestig word dat hierdie werk ’n opregte poging weerspieël om so ’n akkuraat moontlike begrip van die teks weer te gee.”