Berei jou voor vir die millennium wat saak maak!
DIE Duisendjarige Heerskappy van Christus sal tallose seëninge vir die mensdom meebring. Onder Jesus se liefdevolle leiding sal die mensdom uit sy huidige bejammerenswaardige toestand tot glorieryke volmaaktheid verhef word. Dink net wat dit vir jou kan beteken. Blakende gesondheid! Stel jou voor dat jy elke oggend wakker word en beter voel as die vorige dag. Miljoene mans, vroue en kinders sien daarna uit om gedurende daardie vreugdevolle tyd te lewe. Hulle reken daarop, hulle bid daarvoor. Hulle studie van die Bybel het hulle daarvan oortuig dat hulle wel hierdie seëninge kan geniet.
Maar voordat Jesus Christus sy Duisendjarige Heerskappy begin, moet hy die aarde reinig van almal wat sy heerskappy teëstaan. Hy sal dit doen by die stryd wat in die Bybel Armageddon genoem word (Openbaring 16:16). Ware Christene op die aarde sal nie in hierdie oorlog veg nie. Dit is God se oorlog. En dit sal nie net op een geografiese plek plaasvind nie. Die Bybel sê dat dit die verste uithoeke van die aarde sal bereik. Vyande van Christus se heerskappy sal verslaan word. Nie een van hulle sal wegkom nie!—Jeremia 25:33.
Dan sal Jesus sy aandag op Satan die Duiwel en sy demone toespits. Stel jou hierdie toneel voor, soos die skrywer van die boek Openbaring dit gesien het: “Ek het ’n engel [Jesus Christus] uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind” (Openbaring 20:1, 2). Later sal Satan en sy demone vir ewig vernietig word.—Matteus 25:41.
“’n Groot skare, wat geen mens [kan] tel nie,” sal Armageddon oorleef (Openbaring 7:9). Christus sal hulle lei om ten volle baat te vind by “fonteine van waters van die lewe”, net soos ’n herder sy skape na lewensreddende waters lei (Openbaring 7:17). Die geestelike vooruitgang van hierdie Armageddon-oorlewendes sal nie belemmer word deur Satan en sy demone nie, en hulle sal gehelp word om geleidelik hulle sondige neigings te oorkom totdat hulle uiteindelik volmaak is!
Onder Christus se liefdevolle heerskappy sal die lewensomstandighede geleidelik verbeter. Jehovah God sal deur middel van Jesus Christus alle oorsake van pyn en smart verwyder. Hy “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Die profeet Jesaja rond die beeld af en sê: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (Jesaja 35:5, 6). En die dooies, “groot en klein”, sal weer lewend word met die vooruitsig om nooit weer te sterf nie!—Openbaring 20:12.
Die “groot skare” wat Armageddon sal oorleef, word nou reeds ingesamel. Hulle maak hulle gereed vir Christus se Duisendjarige Heerskappy. Hoewel hulle nie weet wanneer daardie heerskappy gaan begin nie, is hulle vol vertroue dat dit op God se bestemde tyd ingebring sal word. Jy kan een van hulle wees, maar jy moet jou ook gereedmaak—nie deur jou besittings te verkoop en na die een of ander geografiese plek te reis nie, maar deur juiste kennis van Jehovah God en sy voornemens deur middel van ’n studie van die Bybel in te neem. Jehovah se Getuies sal jou, sonder enige koste of verpligting, met graagte wys hoe ’n studie van die Bybel jou en jou gesin tot voordeel kan strek. Die uitgewers van hierdie tydskrif sal met genoeë verdere inligting voorsien.
[Venster op bladsy 7]
Die duisend jaar—Letterlik of simbolies?
Aangesien die grootste gedeelte van die Bybelboek Openbaring in simboliese taal geskryf is, ontstaan ’n vraag. Wat van die Duisendjarige Heerskappy van Christus wat in Openbaring gemeld word? Is dit ’n letterlike of simboliese tydperk?
Alles dui daarop dat ’n letterlike duisendjarige tydperk bedoel word. Dink hieraan: Die apostel Paulus verwys na die Duisendjarige Heerskappy van Christus, waartydens die mensdom geoordeel word, as ’n dag (Handelinge 17:31; Openbaring 20:4). Die apostel Petrus het geskryf dat een dag (24 uur) by Jehovah soos duisend jaar is (2 Petrus 3:8). Dit bewys dat hierdie ‘oordeelsdag’ letterlik eenduisend jaar lank is. Daarbenewens lees ons in Openbaring 20:3, 5-7 vier verskillende kere, nie van “’n duisend jaar” nie, maar van “die duisend jaar”. Dit dui blykbaar op ’n tydperk van ’n bepaalde lengte.