Handhaaf ’n balans tussen werk en ontspanning
“ONTSPANNING is ’n pragtige kleed, maar ’n mens kan dit nie heeltyd dra nie.” Met hierdie woorde het ’n anonieme skrywer die waarde van ontspanning gepas toegelig. Hy toon egter dat dit in ewewig gehou moet word met produktiewe werk.
Hierdie saak is ook aangeroer deur die geïnspireerde Bybelskrywer Salomo. Hierdie wyse koning het twee uiterstes geïdentifiseer wat vermy moet word. Eerstens het hy gesê: “Die dwaas vou sy hande en eet sy eie vlees op” (Prediker 4:5). Ja, luiheid kan ’n mens tot armoede laat verval. Gevolglik kan dit die luiaard se gesondheid, selfs sy lewe, in gevaar stel. Aan die ander kant is daar party wat alles op die altaar van harde werk offer. Salomo het hulle eindelose geswoeg as “tevergeefs en ’n gejaag na wind” beskryf.—Prediker 4:4.
Salomo het tereg aanbeveel dat ’n balans gehandhaaf moet word: “Een handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite en gejaag na wind” (Prediker 4:6). ’n Persoon moet “die goeie . . . sien weens sy harde werk”—dit wil sê hy moet nou en dan die tyd neem om wat hy verdien het te geniet (Prediker 2:24, NW). En daar moet ander dinge in die lewe wees buiten sekulêre werk. Ons gesin verdien van ons tyd. Salomo het beklemtoon dat ons vernaamste verpligting nie sekulêre werk is nie, maar diens aan God (Prediker 12:13). Is jy een van dié wat ’n gebalanseerde beskouing van werk het?