Geloof kan jou lewe verander
“DIT is beslis moontlik om goeie waardes te hê sonder dat ’n mens in ’n God glo.” Dit is wat ’n agnostikus beweer het. Sy het gesê dat sy haar kinders met hoë sedelike waardes grootgemaak het, en hulle het weer húlle kinders volgens soortgelyke hoë standaarde grootgemaak—almal sonder geloof in God.
Beteken dit dat geloof in God onnodig is? Hierdie persoon het klaarblyklik so gedink. En mense wat nie in God glo nie, is nie noodwendig slegte mense nie. Die apostel Paulus het gepraat van “mense van die nasies” wat God nie ken nie maar wat “van nature die dinge van die wet doen” (Romeine 2:14). Almal—insluitende agnostici—is met ’n gewete gebore. Baie probeer die stem van hulle gewete volg, selfs al glo hulle nie in die God wat hulle daardie aangebore sin vir reg en verkeerd gegee het nie.
Maar ’n vaste geloof in God—geloof wat op die Bybel gebaseer is—is ’n baie sterker krag ten goede as die onafhanklike leiding van die gewete. Geloof wat op die Woord van God, die Bybel, gebaseer is, lei die gewete en verskerp die vermoë daarvan om tussen reg en verkeerd te onderskei (Hebreërs 5:14). Daarbenewens word mense deur geloof versterk om hoë standaarde te handhaaf ondanks geweldige druk. Gedurende die 20ste eeu het baie lande byvoorbeeld onder die mag van korrupte regerings gekom, wat mense wat oor die algemeen as ordentlik beskou sou word, gedwing het om verskriklike gruweldade te pleeg. Maar diegene met ware geloof in God het geweier om hulle beginsels prys te gee, selfs al was hulle lewe op die spel. ’n Geloof wat op die Bybel gebaseer is, kan mense boonop verander. Dit kan lewens red wat verlore gelyk het en mense help om ernstige foute te vermy. Kyk na ’n paar voorbeelde.
Geloof kan die gesinslewe verander
“Deur julle geloof het julle die onmoontlike reggekry.” Dit is wat ’n Engelse regter gesê het toe hy sy uitspraak gelewer het oor die toekenning van toesig oor John en Tania se kinders. Toe die owerheid die saak van John en Tania begin ondersoek het, was hulle nie getroud nie en was hulle gesinslewe iets verskrikliks. John, wat ’n dwelmprobleem gehad het en ’n dobbelaar was, het hom tot misdaad gewend om sy verdorwe gebruike te finansier. Hy het sy kinders en hulle moeder verwaarloos. Watter “wonderwerk” het dus plaasgevind?
Eendag het John sy jong broerskind hoor praat oor die Paradys. Dit het hom nuuskierig gemaak en hy het die seun se ouers daaroor uitgevra. Die ouers is Jehovah se Getuies en hulle het John gehelp om daarvan kennis op te doen uit die Bybel. Geleidelik het John en Tania ’n geloof opgebou wat op die Bybel gebaseer is en dit het hulle lewe verander. Hulle is getroud en het hulle verdorwe gebruike laat vaar. Die owerheid wat hulle gesinslewe ondersoek het, het iets gevind wat ’n kort rukkie tevore onmoontlik gelyk het—’n gelukkige gesin in ’n skoon huis, ’n geskikte plek waarin hulle kinders kon grootmaak. Die regter was reg toe hy hierdie “wonderwerk” aan die nuutgevonde geloof van John en Tania toegeskryf het.
Duisende kilometers van Engeland af het ’n jong vrou in die Nabye Ooste amper deel geword van ’n hartseer situasie wat vandag so algemeen is. Sy was van plan om ’n egskeiding te kry, soos miljoene jaarliks doen. Sy het wel ’n kind gehad, maar haar man was baie ouer as sy. Daarom het haar familielede haar aangespoor om van hom te skei, en sy het in werklikheid reëlings begin tref om dit te doen. Maar sy het die Bybel met een van Jehovah se Getuies bestudeer. Toe die Getuie van die situasie te hore kom, het sy verduidelik wat die Bybel oor die huwelik sê—dat die huwelik byvoorbeeld ’n gawe van God is en nie iets is wat sommer sonder goeie rede beëindig moet word nie (Matteus 19:4-6, 9). Die vrou het by haarself gedink: ‘Dit is vreemd dat hierdie vrou, ’n vreemdeling, ons gesin probeer red terwyl diegene wat na aan my is dit wil opbreek.’ Haar nuutgevonde geloof het haar gehelp om haar huwelik te red.
’n Tragiese statistiek wat die gesinslewe raak, hou verband met aborsie. Volgens ’n verslag van die Verenigde Nasies is daar na raming elke jaar ten minste 45 miljoen ongebore babas wat doelbewus afgedryf word. Elkeen van hierdie voorvalle is ’n tragedie. Bybelkennis het ’n vrou in die Filippyne gehelp om nie deel van daardie statistiek te wees nie.
Jehovah se Getuies het met die vrou in aanraking gekom, sy het ’n brosjure as Bybelstudiehulp met die titel Wat vereis God van ons?a geneem en die Bybel begin bestudeer. Maande later het sy verduidelik waarom. Die vrou was swanger toe die Getuies haar die eerste keer besoek het, maar sy en haar man het besluit om ’n aborsie te hê. Die prent van die ongebore baba op bladsy 24 van die brosjure het egter die vrou se hart geraak. Die bygaande Bybelse verduideliking dat lewe heilig is omdat ‘die bron van die lewe by God is’, het haar oortuig om haar baba te behou (Psalm 36:9, NW). Nou is sy die moeder van ’n pragtige, gesonde babatjie.
Geloof help diegene op wie daar neergesien word
In Etiopië het twee mans wat armoedig geklee was ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon. Aan die einde van die vergadering het ’n Getuie hom vriendelik aan hulle voorgestel. Die mans het ’n aalmoes gevra. Die Getuie het hulle nie geld gegee nie, maar iets beters. Hy het hulle aangemoedig om geloof in God op te bou, wat “van baie groter waarde is as goud” (1 Petrus 1:7). Een van hulle het gunstig gereageer en die Bybel begin bestudeer. Dit het sy lewe verander. Namate sy geloof toegeneem het, het hy opgehou met rook, strawwe drinkery, onsedelikheid en die gebruik van khat (’n verslawende stimulant). Hy het geleer hoe om homself te onderhou pleks van te bedel en hy lei nou ’n skoon, produktiewe lewe.
In Italië is ’n 47-jarige man tot tien jaar tronkstraf gevonnis en in ’n geregtelike psigiatriese hospitaal in bewaring gehou. Een van Jehovah se Getuies wat toestemming het om tronke te besoek om geestelike hulp aan gevangenes te verleen, het die Bybel met hom gestudeer. Die man het vinnig gevorder. Geloof het sy lewe in so ’n mate verander dat ander gevangenes nou na hom toe kom vir raad oor hoe hulle hulle probleme die hoof kan bied. Sy geloof wat op die Bybel gebaseer is, het die respek, agting en vertroue van die gevangenisowerheid afgedwing.
In onlangse jare het koerante verslag gelewer oor burgeroorloë in Afrika. Die verslae van jong seuns wat as soldate opgelei word, is veral skokkend. Hierdie kinders word dwelms gegee, wreed mishandel en gedwing om onmenslike dade teen hulle familielede te pleeg om te verseker dat hulle alleenlik lojaal is aan die faksie waarvoor hulle veg. Is geloof wat op die Bybel gebaseer is sterk genoeg om die lewe van sulke jongmense te verander? In ten minste twee gevalle was dit.
In Liberië het Alex as ’n altaarknaap in die Katolieke Kerk gedien. Maar toe hy 13 was, het hy by ’n strydende faksie aangesluit en ’n berugte kindersoldaat geword. Hy het hom tot toordery gewend om hom dapper te maak vir die gevegte. Alex het gesien hoe baie van sy makkers doodgemaak word, maar hy het bly lewe. In 1997 het hy Jehovah se Getuies ontmoet en gevind dat hulle nie op hom neersien nie. Hulle het hom eerder gehelp om te leer wat die Bybel omtrent geweld sê. Alex het die weermag verlaat. Namate sy geloof toegeneem het, het hy dié Bybelgebod gehoorsaam: “Laat hy hom afkeer van wat sleg is en doen wat goed is; laat hom vrede soek en dit nastreef.”—1 Petrus 3:11.
Intussen het ’n voormalige kindersoldaat met die naam Samson deur die dorp gereis waar Alex nou woon. Hy was ’n koorsanger, maar in 1993 het hy ’n soldaat geword en by dwelmmisbruik, spiritisme en onsedelikheid betrokke geraak. In 1997 is hy uit militêre diens ontslaan. Samson was op pad na Monrovia toe om by ’n spesiale veiligheidsmag aan te sluit toe ’n vriend hom oorreed het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer, en as gevolg daarvan het hy ’n geloof opgebou wat op die Bybel gebaseer is. Dit het hom die moed gegee om sy oorlogsugtige weë te verlaat. Alex sowel as Samson lei nou ’n vreedsame en sedelike lewe. Kon enigiets anders as ’n geloof wat op die Bybel gebaseer is die lewe verander van mense wat so wreed mishandel is?
Die regte soort geloof
Hierdie voorbeelde is maar net ’n paar van die tientalle voorbeelde wat aangehaal kan word om die krag van ware geloof wat op die Bybel gebaseer is toe te lig. Maar nie almal wat bloot beweer dat hulle in God glo, lewe natuurlik volgens die Bybel se hoë standaarde nie. Trouens, party ateïste lei moontlik ’n beter lewe as party voorgewende Christene. Dit is omdat ’n geloof wat op die Bybel gebaseer is meer behels as om net te beweer dat ’n mens in God glo.
Die apostel Paulus het geloof “die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike demonstrasie van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie”, genoem (Hebreërs 11:1). Geloof behels dus ’n vaste oortuiging—wat op onweerlegbare bewyse gegrond is—dat onsigbare dinge bestaan. Dit behels veral dat ’n mens glad nie twyfel dat God bestaan, dat hy in ons belangstel en dat hy diegene sal seën wat sy wil doen nie. Die apostel het ook gesê: “Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.
Dit was hierdie soort geloof wat die lewens van John, Tania en die ander wat in hierdie artikel gemeld is, verander het. Dit het daartoe gelei dat hulle hulle met volkome vertroue na God se Woord, die Bybel, gewend het vir leiding om besluite te neem. Dit het hulle gehelp om tydelike opofferings te maak sodat hulle nie ’n maklike maar verkeerde weg inslaan nie. Ongeag hoe verskillend elke ondervinding was, hulle het almal op dieselfde manier begin. Een van Jehovah se Getuies het die Bybel met hierdie individue gestudeer, en hulle het ondervind dat wat die Bybel sê, waar is: “Die woord van God is lewend en oefen krag uit” (Hebreërs 4:12). Die krag van God se Woord het elke individu gehelp om die sterk geloof op te bou wat sy lewe ten goede verander het.
Jehovah se Getuies is in meer as 230 lande en eilande van die see bedrywig. Hulle nooi jou om ’n Bybelstudie te hê. Waarom? Omdat hulle daarvan oortuig is dat ’n geloof wat op die Bybel gebaseer is ook jou lewe grootliks kan verbeter.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
[Prente op bladsy 3]
’n Geloof wat op die Bybel gebaseer is, verander lewens ten goede
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Title card of Biblia nieswieska by Szymon Budny, 1572