Sukses deur volharding
VOLHARDING het in hedendaagse tye baie skaars geword. Baie mense glo dat sukses meer te doen het met die feit dat ’n mens op die regte tyd op die regte plek is as wat dit van volharding afhang. Wie kan hulle kwalik neem? Die nuusmedia is deurtrek van advertensieslagspreuke wat in die onderbewussyn die boodskap laat posvat dat jy byna enigiets wat jy wil hê met die minste moeite en net ’n bietjie meer geld kan kry. Koerante publiseer voortdurend hope berigte oor mense wat oornag sukses behaal het en oor wonderkinders wat entrepreneurs word en direk na skool miljoene maak.
Die rubriekskrywer Leonard Pitts sê: “In ’n gemeenskap wat behep is met indrukke, lyk dit te maklik. . . . Dit lyk soos iets wat enigiemand kan doen as hy net die kuns verstaan, die vermoë het of die weerligstraal van God af kan onderskep.”
Wat is volharding?
Om te volhard, beteken om ‘stewig en voortdurend vas te hou aan die een of ander voorneme, toestand of onderneming ondanks struikelblokke of terugslae’. Dit impliseer dat ’n mens vasbeslote aanhou ten spyte van teenstand, dat ’n mens volhard en nie opgee nie. Die Bybel beklemtoon die belangrikheid van hierdie eienskap. God se Woord vermaan ons byvoorbeeld: “Hou dan aan om eers die koninkryk . . . te soek”, “hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word”, “hou vol met gebed” en “hou vas aan wat voortreflik is”.—Matteus 6:33; Lukas 11:9; Romeine 12:12; 1 Tessalonisense 5:21.
’n Belangrike deel van volharding is om die onvermydelike terugslae die hoof te bied. Spreuke 24:16 sê: “Sewe maal val die regverdige en staan weer op.” (Ons kursiveer.) Iemand wat volhard, sal nie ‘tou opgooi’ wanneer hy probleme ondervind of misluk nie, maar hy sal eerder ‘opstaan’, ‘aanhou’ en weer probeer.
Maar baie is nie voorbereid op die probleme en mislukkings waarvoor hulle dalk te staan kom nie. Omdat hulle nooit die wil om te volhard, ontwikkel het nie, gee hulle maklik moed op. “Te veel mense reageer op mislukking op ’n manier wat hulleself benadeel”, sê die skrywer Morley Callaghan. “Hulle gee hulle oor aan selfbejammering, hulle blameer almal, hulle word bitter en . . . gooi tou op.”
Dit is jammer. “Ons vergeet”, sê Pitts, “dat daar ’n rede is waarom ons beproewinge deurmaak, dat daar wel waarde in teenspoed is.” Watter waarde het dit? Hy sluit af: “[’n Mens] leer dat mislukking nie dodelik is nie, en dat ’n nederlaag ook nie ewigdurend is nie. ’n Mens verkry diepte. Dit berei ’n mens voor.” Die Bybel stel dit eenvoudig: “In enige moeitevolle arbeid is voordeel.”—Spreuke 14:23.
Dit is natuurlik nie maklik om weer op dreef te kom ná ’n terugslag nie. Soms kom ons voor uitdagings te staan wat lyk asof ons dit glad nie sal kan oorkom nie. Pleks dat ons nader aan ons doelwitte kom, lyk dit dalk asof hulle al hoe onbereikbaarder word. Ons voel dalk oorweldig, onbekwaam en word dalk mismoedig, selfs terneergedruk (Spreuke 24:10, NW). Maar die Bybel spoor ons aan: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat voortreflik is nie, want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie.”—Galasiërs 6:9.
Wat kan ons help om te volhard?
Die eerste stap om in ’n gekose weg te volhard, is om doelwitte te stel wat die moeite werd is en wat bereikbaar is. Die apostel Paulus het dit beslis verstaan. Hy het vir die Korintiërs gesê: “Die manier waarop ek hardloop[, is] nie onseker nie; die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie.” Paulus het geweet dat sy pogings slegs suksesvol kon wees as hy spesifieke doelwitte het, soos ’n hardloper wat hom daarop toespits om die eindstreep in ’n wedloop oor te steek. “Weet julle nie dat die hardlopers in ’n wedloop almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit kan verkry”, het hy hulle vermaan (1 Korintiërs 9:24, 26). Hoe kan ons dit doen?
“Die skrandere let op sy voetstappe”, sê Spreuke 14:15. Dit is verstandig om van tyd tot tyd ons lewenswyse te ondersoek en ons af te vra wat ons doel is en of ons aanpassings moet maak. Dit is noodsaaklik dat ons duidelik in gedagte het wat ons wil bereik en waarom ons dit wil doen. Ons sal minder geneig wees om moed op te gee as ons ’n beeld van ons uiteindelike bestemming duidelik voor oë hou. “Laat jou oë reguit kyk”, spoor die geïnspireerde spreuk ons aan, sodat “al jou weë vas [kan] wees”.—Spreuke 4:25, 26.
Nadat jy jou doelwitte geïdentifiseer het, is die volgende stap om te bepaal hoe jy dit gaan bereik. Jesus het gevra: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken . . . nie?” (Lukas 14:28). In ooreenstemming met hierdie beginsel het ’n geestesgesondheidsdeskundige gesê: “Iets wat ek omtrent suksesvolle mense opgemerk het, is dat hulle ’n duidelike begrip van die verhouding tussen oorsaak en gevolg in hulle lewe het. Suksesvolle mense verstaan dat hulle al die nodige dinge moet doen om te kry wat hulle wil hê.” As ons ’n duidelike begrip het van al die nodige stappe wat ons moet neem as ons iets wil bereik, sal dit ons help om doelgerig te bly. Dit sal dit ook vir ons makliker maak om weer op stryk te kom as ons ’n terugslag het. Hierdie stappe het veral tot Orville en Wilbur Wright se sukses bygedra.
Wanneer jy terugslae het, moet jy dus jou bes doen om dit in ’n positiewe lig te beskou en as iets waaruit jy kan leer. Ontleed die situasie, dink aan waar jy verkeerd gegaan het en stel die fout dan reg of doen iets aan die swakheid. Dit help om met ander te praat, aangesien “planne . . . deur beraadslaging tot stand [kom]” (Spreuke 20:18). Met elke poging raak jy natuurlik bekwamer en vaardiger, wat uiteindelik tot jou sukses bydra.
’n Derde noodsaaklike aspek van volharding is konsekwente optrede. Die apostel Paulus vermaan ons: “Laat ons . . . , in die mate waarin ons vooruitgang gemaak het, voortgaan om ordelik in hierdie selfde roetine te wandel” (Filippense 3:16). Soos een onderrigter dit gestel het, “lewer matigheid en konsekwentheid mettertyd merkwaardige resultate”. Dit word goed toegelig deur die baie bekende Esopus-fabel oor die skilpad en die haas. Die skilpad het die wedloop gewen, al was hy baie stadiger as die haas. Waarom? Omdat die skilpad ’n bestendige, gedissiplineerde benadering gehad het. Hy het nie moed opgegee nie, maar ’n spoed gekies wat hy realisties kon handhaaf en toe daarby gebly totdat hy die eindstreep oorgesteek het. Aangesien die georganiseerde, bestendige persoon konsekwente vordering maak, bly hy gemotiveerd en is dit dus minder waarskynlik dat hy sal moed opgee of uitgeskakel sal word. Ja, “hardloop só” dat jy jou doelwit sal bereik.
Kies doelwitte wat die moeite werd is
As ons volharding enigsins waarde gaan hê, moet ons natuurlik doelwitte hê wat die moeite werd is. Baie mense streef dinge na wat nie geluk bring nie. Maar die Bybel sê: “Hy wat in die volmaakte wet tuur wat tot vryheid behoort en daarby bly, . . . sal . . . gelukkig wees deurdat hy dit doen” (Jakobus 1:25). Ja, om te studeer met die doel om God se wet te verstaan soos dit in die Bybel uiteengesit word, is ’n doelwit wat beslis die moeite werd is. Waarom? Hoofsaaklik omdat God se wet op sy volmaakte, regverdige standaarde gebaseer is. As die Skepper weet hy wat die beste is vir sy skepsele. As ons dus daarin volhard om God se voorskrifte te leer en dit in ons lewe toe te pas, sal hierdie volharding sekerlik vir ons geluk meebring. “Vertrou op die HERE met jou hele hart . . . Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak”, belowe Spreuke 3:5, 6.
Daarbenewens sê Jesus dat dit ‘die ewige lewe beteken’ as ons kennis van God en van Jesus inneem (Johannes 17:3). Bybelprofesieë toon dat ons in “die laaste dae” van hierdie stelsel lewe (2 Timoteus 3:1-5; Matteus 24:3-13). Binnekort gaan God se Koninkryk, sy regverdige regering, sy heerskappy oor die aarde se bewoners uitoefen (Daniël 2:44; Matteus 6:10). Hierdie regering sal ’n ongeëwenaarde tydperk van vrede, voorspoed en welstand vir alle gehoorsame mense inlui (Psalm 37:10, 11; Openbaring 21:4). Handelinge 10:34 sê dat “God nie partydig is nie”. Ja, almal word genooi om die voordele te geniet!
Die Bybel is ’n baie ou boek vol wysheid en betekenis. Dit neem tyd en inspanning om dit te verstaan. Maar met God se hulp—en as ons daarin volhard om die kennis daarin te soek—sal dit vir ons ’n ope boek wees (Spreuke 2:4, 5; Jakobus 1:5). Dit kan weliswaar ’n uitdaging wees om toe te pas wat ons leer. Ons sal moontlik veranderinge in ons denke of gewoontes moet aanbring. Welmenende vriende of familielede sal dalk selfs ons studie van die Bybel teëstaan. Volharding is dus noodsaaklik. Die apostel Paulus herinner ons daaraan dat God die ewige lewe sal gee aan diegene wat “volharding in goeie werk” openbaar (Romeine 2:7). Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om hierdie doelwit te bereik.
Wees daarvan verseker dat jy sukses sal behaal as jy daarin volhard om aangaande God en sy wil te leer en as jy aanhou toepas wat jy leer.—Psalm 1:1-3.
[Prent op bladsy 6]
Jy sal sukses behaal as jy daarin volhard om aangaande God en sy wil te leer
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Culver Pictures