Koninkryksverkondigers berig
Alle soorte mense word in Nederland gehelp
ABRAHAM het buitengewone geloof gehad. “Toe hy geroep is,” het die apostel Paulus gesê, het Abraham na God se stem geluister en “weggetrek, hoewel hy nie geweet het waarheen hy gaan nie”. Nadat Abraham met sy hele familie getrek het, het hy die oorblywende honderd jaar van sy lewe “as ’n vreemdeling in die land van die belofte vertoef”.—Hebreërs 11:8, 9.
Baie van Jehovah se Getuies het vandag eweneens die uitdaging aanvaar om na ’n ander land te trek om te dien waar daar hulp nodig is. Ander het nog ’n taal aangeleer sodat hulle vir die buitelanders kan getuig wat na hulle land toe geïmmigreer het. Soos die volgende voorbeelde toon, het hierdie goeie gees “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei” in Nederland geopen, waar eenmiljoen van die 15 miljoen inwoners van ander lande afkomstig is.—1 Korintiërs 16:9.
◻ Bahram, ’n voormalige Koeng Foe-instrukteur, het van ’n land in die Midde-Ooste gekom. Hy het ’n Bybel en ’n paar Wagtoringpublikasies in die hande gekry. Binne ’n maand het Bahram besef dat hy die waarheid gevind het. ’n Studie is met hom en sy vrou begin, maar daar was ’n probleem—hulle Bybelonderrigter het nie hulle taal gepraat nie. Hulle het met gebare gekommunikeer en “met hande en voete” gepraat, het hulle vertel. Mettertyd kon Bahram en sy vrou ’n gemeente vind waar hulle moedertaal gepraat word, en daarna het hulle vinnig gevorder. Bahram is nou ’n gedoopte Getuie.
◻ ’n Nederlandse pionieregpaar het ’n Indonesiese man genader wat voor ’n supermark gestaan het. Hy was aangenaam verras toe die egpaar in sy eie taal met hom gepraat het. Reëlings is getref om hom by sy huis te besoek. Hulle het uitgevind dat hy meer as 20 jaar lank in Rusland gewoon het en in daardie tyd ’n ginekoloog geword het. Hy het beweer dat hy ’n ateïs is, maar hy het erken dat hy elke keer as hy ’n baba in die wêreld gebring het verwonderd gestaan het en gedink het: “Hoe volmaak is die menseliggaam tog! Wat ’n wonderwerk!” Hy het ingestem om die Bybel te bestudeer en kort voor lank begin glo dat daar ’n Skepper is wat vir die mensdom omgee (1 Petrus 5:6, 7). Nou is hy ’n gedoopte broer en dien hy saam met die Indonesiese gemeente in Amsterdam.
◻ In Rotterdam, een van die wêreld se grootste hawens, het ’n groep pioniers daarin bedrewe geraak om vir mense van verskillende tale wat daagliks aan land kom te getuig. As gevolg van die werk van hierdie entoesiastiese groep verkondigers het ’n hele paar seemanne, wat ’n kaptein, ’n marineoffisier en ’n voormalige lyfwag insluit, die waarheid aangeneem. Nou help hulle ook om die goeie nuus van God se Koninkryk regoor die wêreld te versprei.—Matteus 24:14.
Soos in ander wêrelddele is Jehovah se Getuies in Nederland vasbeslote om hulle deel by te dra om die ewige goeie nuus aan elke nasie, stam, taal en volk bekend te maak.—Openbaring 14:6.