Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 3/1 bl. 14-18
  • ‘Vra na Jehovah en sy sterkte’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Vra na Jehovah en sy sterkte’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verkry die krag wat Jehovah gee
  • “Hy gee die vermoeide krag”
  • Die mag om seer te maak en die mag om te genees
  • Hoe om mag reg te gebruik
  • “Jehovah . . . is groot van krag”
    Kom nader aan Jehovah
  • ‘Word ’n navolger van God’ in jou gebruik van mag
    Kom nader aan Jehovah
  • Jehovah—Die een wat sterk in krag is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Gelukkig is die wat mag reg gebruik!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 3/1 bl. 14-18

‘Vra na Jehovah en sy sterkte’

“Want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is.”—2 KRONIEKE 16:9.

1. Wat is mag, en hoe het mense dit gebruik?

MAG kan baie dinge beteken, soos die beheer, gesag of invloed oor ander; die vermoë om op te tree of om iets teweeg te bring; fisiese krag (sterkte) of verstandelike of sedelike vermoëns. Mense het nie altyd hulle mag goed gebruik nie. Lord Acton, ’n geskiedkundige, het oor die mag van politici gesê: “Mag is geneig om te verderf, en absolute mag verderf absoluut.” Die hedendaagse geskiedenis bevat baie voorbeelde wat die universele waarheid van lord Acton se woorde toon. Gedurende die 20ste eeu het ‘die een mens oor die ander geheers tot sy ongeluk’ soos nog nooit tevore nie (Prediker 8:9). Korrupte diktators het hulle mag erg misbruik en was verantwoordelik vir die dood van miljoene. Mag wat nie deur liefde, wysheid en geregtigheid beheers word nie, is gevaarlik.

2. Verduidelik hoe Jehovah se ander eienskappe ’n uitwerking het op die manier waarop hy sy krag gebruik.

2 Anders as baie mense gebruik God altyd sy mag ten goede. “Want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9). Jehovah gebruik sy mag, of krag, op ’n beheerste manier. Weens sy geduld hou God sy vernietiging van die goddelose terug en gee hy hulle die geleentheid om berou te toon. Liefde beweeg hom om die son op allerhande mense te laat skyn—regverdiges en onregverdiges. Geregtigheid sal hom uiteindelik beweeg om sy onbeperkte krag te gebruik om die een wat die vermoë het om die dood te veroorsaak, naamlik Satan die Duiwel, tot niet te maak.—Matteus 5:44, 45; Hebreërs 2:14; 2 Petrus 3:9.

3. Waarom is God se almag ’n rede om op hom te vertrou?

3 Die ontsagwekkende krag van ons hemelse Vader is ’n rede vir vertroue—in sy beloftes sowel as sy beskerming. ’n Klein kindjie voel veilig tussen vreemdelinge as hy sy vader se hand styf vashou, want hy weet dat sy vader nie sal toelaat dat hy enige leed aangedoen word nie. Net so ook sal ons hemelse Vader, wat “oorvloedig in krag is om te red”, ons beskerm teen enige permanente skade as ons met hom wandel (Jesaja 63:1, NW; Miga 6:8). En as ’n goeie Vader vervul Jehovah altyd sy beloftes. Sy onbeperkte krag waarborg dat sy ‘woord voorspoedig sal wees in alles waartoe hy dit stuur’.—Jesaja 55:11; Titus 1:2.

4, 5. (a) Wat was die resultaat toe koning Asa onwrikbaar op Jehovah vertrou het? (b) Wat kan gebeur as ons, wanneer ons probleme het, op die oplossings van mense staatmaak?

4 Waarom is dit so belangrik dat ons ons voorneem om bewus te bly van ons hemelse Vader se beskerming? Omdat ons omstandighede ons kan oorweldig, en ons kan vergeet waar ons ware veiligheid lê. Dit kan gesien word in die voorbeeld van koning Asa, ’n man wat oor die algemeen op Jehovah vertrou het. Gedurende Asa se bewind het ’n leër van ’n miljoen Etiopiërs Juda aangeval. Asa het besef dat hy voor ’n oormag te staan gekom het, en hy het gebid: “O Jehovah, wanneer dit by hulp kom, maak dit nie vir u saak of daar baie is of dié sonder krag nie. Help ons, o Jehovah ons God, want op u steun ons, en in u naam het ons teen hierdie menigte gekom. O Jehovah, u is ons God. Moenie die sterflike mens krag teen u laat behou nie” (2 Kronieke 14:11, NW). Jehovah het na Asa se versoek geluister en hom ’n beslissende oorwinning gegee.

5 Ná baie jare van getroue diens het Asa egter sy vertroue in Jehovah se reddende krag verloor. Om ’n aanval van die noordelike koninkryk van Israel af te weer, het hy hom tot Sirië, of Aram, gewend om hulp (2 Kronieke 16:1-3). Hoewel sy omkoopgeskenk aan die Siriese koning Benhadad gehelp het om te voorkom dat Israel Juda aanval, het Asa se verbond met Sirië ’n gebrek aan vertroue in Jehovah geopenbaar. Hanani die profeet het hom reguit gevra: “Was die Kusiete [Etiopiërs] en die Libiërs nie ’n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het” (2 Kronieke 16:7, 8). Asa het nietemin hierdie teregwysing verwerp (2 Kronieke 16:9-12). Wanneer ons voor probleme te staan kom, moet ons nie op die oplossings van mense staatmaak nie. Ons moet eerder op God vertrou, want as ons op die mag van mense vertrou, sal dit ongetwyfeld tot teleurstelling lei.—Psalm 146:3-5.

Verkry die krag wat Jehovah gee

6. Waarom moet ons ‘na Jehovah en sy sterkte vra’?

6 Jehovah kan sy knegte krag gee en hulle ook beskerm. Die Bybel spoor ons aan: ‘Vra na Jehovah en sy sterkte’ (Psalm 105:4). Waarom? Want wanneer ons dinge in God se krag doen, sal ons ons krag gebruik om ander te bevoordeel, nie te skaad nie. Geen beter voorbeeld hiervan kan gevind word nie as dié van Jesus Christus, wat baie wonderwerke in “Jehovah se krag” gedoen het (Lukas 5:17). Jesus kon hom daarop toegespits het om ryk, beroemd of selfs ’n baie magtige koning te word (Lukas 4:5-7). Maar hy het eerder die krag wat God hom gegee het, gebruik om ander op te lei, te leer, te help en te genees (Markus 7:37; Johannes 7:46). Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons!

7. Watter noodsaaklike eienskap kweek ons aan wanneer ons dinge in God se krag doen, en nie ons eie nie?

7 En as ons dinge doen in “die krag wat God verskaf”, sal dit ons ook help om nederig te bly (1 Petrus 4:11). Mense wat mag probeer verkry, word verwaand. ’n Voorbeeld hiervan is die Assiriese koning Esar-Haddon wat gespog en gesê het: “Ek is magtig, ek is almagtig, ek is ’n held, ek is reusagtig, ek is geweldig groot.” In teenstelling hiermee het Jehovah “die swak dinge van die wêreld uitgekies, sodat hy die sterk dinge kan beskaam”. As ’n ware Christen dus roem, roem hy in Jehovah, want hy weet dat dit wat hy bereik het, nie in sy eie krag gedoen is nie. As ons ons ‘onder die magtige hand van God verneder’, sal ons waarlik verhef word.—1 Korintiërs 1:26-31; 1 Petrus 5:6.

8. Wat moet ons eerstens doen om van Jehovah se krag te ontvang?

8 Hoe verkry ons krag van God? Eerstens moet ons daarvoor vra in gebed. Jesus het sy dissipels verseker dat sy Vader heilige gees sou gee aan diegene wat daarvoor vra (Lukas 11:10-13). Beskou byvoorbeeld hoe dit Christus se dissipels met krag vervul het toe hulle gekies het om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan die godsdiensleiers wat hulle beveel het om op te hou om van Jesus te getuig. Toe hulle Jehovah se hulp in gebed gevra het, is hulle opregte gebed verhoor, en die heilige gees het hulle krag gegee om voort te gaan om die goeie nuus met vrymoedigheid te verkondig.—Handelinge 4:19, 20, 29-31, 33.

9. Noem ’n tweede bron van geestelike krag, en haal ’n skriftuurlike voorbeeld aan om die doeltreffendheid daarvan te toon.

9 Tweedens kan ons geestelike krag uit die Bybel verkry (Hebreërs 4:12). Die krag van God se woord kon gesien word gedurende die dae van koning Josia. Hoewel hierdie Judese koning reeds heidense afgode uit die land verwyder het, het die onverwagte ontdekking van die Wet van Jehovah in die tempel hom gemotiveer om hierdie reinigingsprogram te verskerp.* Nadat Josia self die Wet vir die volk voorgelees het, het die hele volk ’n verbond met Jehovah gesluit, en ’n tweede, intensiewer veldtog teen afgodediens is aangepak. Die goeie resultaat van Josia se hervorming was dat hulle gedurende ‘al sy dae nie van Jehovah afgewyk het nie’.—2 Kronieke 34:33.

10. Wat is ’n derde manier om krag van Jehovah te verkry, en waarom is dit noodsaaklik?

10 Derdens verkry ons krag van Jehovah deur Christelike assosiasie. Paulus het Christene aangespoor om vergaderinge gereeld by te woon sodat hulle mekaar ‘tot liefde en voortreflike werke kon aanspoor’ en mekaar kon aanmoedig (Hebreërs 10:24, 25). Toe Petrus op wonderdadige wyse uit die tronk bevry is, wou hy saam met sy broers wees, en daarom het hy reguit na die huis van die moeder van Johannes Markus gegaan waar “’n hele paar bymekaar was en gebid het” (Handelinge 12:12). Hulle kon natuurlik tuisgebly en gebid het. Maar hulle het verkies om bymekaar te kom om te bid en mekaar gedurende daardie moeilike tyd aan te moedig. Na aan die einde van Paulus se lang en gevaarlike reis na Rome het hy sommige broers in Puteoli ontmoet en later ook ander wat daarheen gereis het om hom te ontmoet. Wat was sy reaksie? “Toe Paulus hulle [laasgenoemdes] sien, het hy God gedank en moed geskep” (Handelinge 28:13-15). Hy is versterk deur weer eens saam met mede-Christene te wees. Ons put ook krag uit ons assosiasie met mede-Christene. Solank dit moontlik is en ons die vryheid het om met mekaar te assosieer, moet ons nie alleen op die smal pad na die lewe probeer wandel nie.—Spreuke 18:1; Matteus 7:14.

11. Noem van die omstandighede waaronder “krag wat bo die normale is” veral nodig is.

11 Deur gereelde gebed, studie van God se Woord en assosiasie met medegelowiges “hou [ons] aan om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte” (Efesiërs 6:10). Ons almal het ongetwyfeld ‘krag in die Here’ nodig. Party ly weens slepende siektes, ander weens die probleme wat met veroudering gepaardgaan of weens die verlies van ’n lewensmaat (Psalm 41:4). Ander verduur die teenstand van ’n ongelowige huweliksmaat. Ouers, veral enkelouers, vind dalk dat dit ’n vermoeiende verantwoordelikheid is om ’n voltydse werk te hê terwyl hulle ’n gesin grootmaak. Jong Christene het die krag nodig om portuurdwang te weerstaan en om nee te sê vir dwelms en onsedelikheid. Niemand moet huiwer om Jehovah te vra vir “krag wat bo die normale is” om hierdie uitdagings die hoof te bied nie.—2 Korintiërs 4:7.

“Hy gee die vermoeide krag”

12. Hoe onderskraag Jehovah ons in die Christelike bediening?

12 Jehovah gee ook krag aan sy knegte wanneer hulle hulle bediening uitvoer. Ons lees in Jesaja se profesie: “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. . . . Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:29-31). Die apostel Paulus het persoonlik krag ontvang om sy bediening uit te voer. Daarom was sy bediening doeltreffend. Hy het aan Christene in Tessalonika geskryf: “Die goeie nuus wat ons verkondig[, het] nie met woorde alleen tot julle gekom . . . nie, maar ook met krag en met heilige gees” (1 Tessalonisense 1:5). Sy predikings- en onderrigtingswerk het die krag gehad om groot veranderinge teweeg te bring in die lewe van diegene wat na hom geluister het.

13. Wat het Jeremia versterk om ondanks teenstand te volhard?

13 Wanneer ons te kampe het met ’n onverskillige gees in ons gebied—’n gebied waarin ons dalk al jare lank dikwels getuig het met min resultate—kan ons moontlik mismoedig word. Jeremia het net so ontmoedig gevoel toe hy teenstand, bespotting en onverskilligheid ondervind het. “Ek sal aan [God] nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie”, het hy vir homself gesê. Maar hy kon nie stilbly nie. Sy boodskap was “soos ’n brandende vuur, opgesluit in [sy] gebeente” (Jeremia 20:9). Wat het hom hernieude krag gegee tydens al hierdie teenspoed? “Die HERE is met my soos ’n geweldige held”, het Jeremia gesê (Jeremia 20:11). Aangesien Jeremia besef het hoe lewensbelangrik sy boodskap en sy godgegewe toewysing is, het hy gunstig gereageer op Jehovah se aanmoediging.

Die mag om seer te maak en die mag om te genees

14. (a) Hoe magtig is die tong? (b) Gee voorbeelde om te toon watter skade die tong kan aanrig.

14 Nie al die mag wat ons besit, kom regstreeks van God af nie. Die tong het byvoorbeeld die mag om seer te maak sowel as om te genees. “Dood en lewe is in die mag van die tong”, waarsku Salomo (Spreuke 18:21). Die gevolge van Satan se kort gesprek met Eva toon hoe verwoestend woorde kan wees (Genesis 3:1-5; Jakobus 3:5). Ons kan ook baie skade met die tong aanrig. Neerhalende aanmerkings oor ’n jong meisie se gewig kan haar op die weg na anoreksie plaas. As ons onnadenkend die een of ander lasterlike storie oorvertel, kan ons ’n lewenslange vriendskap bederf. Ja, die tong moet beheer word.

15. Hoe kan ons ons tong gebruik om op te bou en te genees?

15 Maar die tong breek nie net af nie, dit kan ook opbou. Die Bybelspreuk sê: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing” (Spreuke 12:18). Wyse Christene gebruik die tong om die terneergedruktes en die bedroefdes te troos. Simpatieke woorde kan tieners aanmoedig wat ’n stryd teen skadelike portuurdwang voer. ’n Bedagsame tong kan bejaarde broers en susters verseker dat ons hulle nodig het en liefhet. Vriendelike woorde kan siekes opbeur. Bowenal kan ons ons tong gebruik om die kragtige Koninkryksboodskap te verkondig aan almal wat sal luister. Dit is in ons mag om die Woord van God te verkondig as ons dit met ons hele hart doen. Die Bybel sê: “Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie.”—Spreuke 3:27.

Hoe om mag reg te gebruik

16, 17. Hoe kan ouer manne, ouers, mans en vrouens Jehovah navolg in die manier waarop hulle hulle godgegewe gesag uitoefen?

16 Al is Jehovah almagtig, regeer hy die gemeente met liefde (1 Johannes 4:8). Christenopsieners volg hom na deur liefdevol vir God se kudde te sorg—hulle gebruik hulle gesag, hulle misbruik dit nie. Opsieners moet weliswaar soms “[teregwys], berispe, vermaan”, maar dit word “met alle lankmoedigheid en onderrigkuns” gedoen (2 Timoteus 4:2). Ouer manne moet dus voortdurend nadink oor die woorde wat die apostel Petrus geskryf het aan diegene met gesag in die gemeente: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig; ook nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word.”—1 Petrus 5:2, 3; 1 Tessalonisense 2:7, 8.

17 Ouers en getroude mans het ook gesag van Jehovah ontvang, en dit moet gebruik word om gesinslede te help, te versorg en te koester (Efesiërs 5:22, 28-30; 6:4). Jesus se voorbeeld toon dat gesag doeltreffend uitgeoefen kan word op ’n liefdevolle manier. As dissipline gebalanseerd en konsekwent is, word kinders nie mismoedig nie (Kolossense 3:21). Huwelike word versterk as Christenmans hulle hoofskap op ’n liefdevolle wyse uitoefen en as vrouens diep respek vir hulle man as hoof het en nie buite hulle godgegewe rol beweeg deur baasspelerig te wees of hulle sin te probeer kry nie.—Efesiërs 5:28, 33; 1 Petrus 3:7.

18. (a) Hoe moet ons Jehovah se voorbeeld navolg wat die beheersing van ons toorn betref? (b) Wat moet diegene met gesag probeer inboesem in persone onder hulle sorg?

18 Diegene met gesag in die gesin en in die gemeente moet veral daarop let dat hulle hulle toorn beheers, aangesien toorn vrees inboesem, nie liefde nie. Die profeet Nahum het gesê: “Jehovah is stadig tot toorn en groot van krag” (Nahum 1:3, NW; Kolossense 3:19). Om ons toorn te beheers, is ’n teken van krag, maar om daaraan uiting te gee, is ’n teken van swakheid (Spreuke 16:32, NW). In die gesin sowel as in die gemeente is dit ons doel om liefde in te boesem—liefde vir Jehovah, liefde vir mekaar en liefde vir regverdige beginsels. Liefde is die sterkste band van eenheid en die grootste motivering om te doen wat reg is.—1 Korintiërs 13:8, 13; Kolossense 3:14.

19. Watter bemoedigende versekering gee Jehovah, en hoe moet ons daarop reageer?

19 As ons Jehovah ken, sal ons sy krag erken. Deur Jesaja het Jehovah gesê: “Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie” (Jesaja 40:28). Jehovah se krag is onuitputlik. As ons op hom vertrou en nie op onsself nie, sal hy ons nie in die steek laat nie. Hy verseker ons: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand” (Jesaja 41:10). Hoe moet ons op sy liefdevolle sorg reageer? Soos Jesus moet ons altyd die krag wat Jehovah ons gee, gebruik om ander te help en op te bou. Mag ons ons tong beheer sodat dit kan genees en nie skaad nie. En mag ons altyd geestelik wakker bly, vasstaan in die geloof en sterk word in die krag van ons Grootse Skepper, Jehovah God.—1 Korintiërs 16:13.

[Voetnoot]

Die Jode het klaarblyklik die oorspronklike boekrol van die Wet van Moses gevind, wat eeue tevore in die tempel gesit is.

Kan jy verduidelik?

• Hoe gebruik Jehovah sy krag?

• Op watter maniere kan ons krag van Jehovah verkry?

• Hoe moet die tong gebruik word?

• Hoe kan godgegewe gesag ’n seën wees?

[Prent op bladsy 15]

Jesus het Jehovah se krag gebruik om ander te help

[Prent op bladsy 17]

Dit is in ons mag om die Woord van God te verkondig as ons dit met ons hele hart doen

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel