Ons kosbare erfenis—Wat beteken dit vir jou?
“Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is.”—MATTEUS 25:34.
1. Watter soort dinge het mense al as ’n erfenis ontvang?
ALLE mense het dinge wat hulle geërf het. Vir party sluit die erfenis dalk ’n gemaklike lewenstyl in. Vir ander is dit ’n lewe van armoede. In sommige gevalle het vroeër geslagte, weens dít wat hulle ondervind of gehoor het, ’n erfenis van diepe haat teenoor ’n ander etniese groep nagelaat. Maar ons almal het iets in gemeen. Ons het almal ’n erfenis van sonde van die eerste mens, Adam, ontvang. Hierdie erfenis lei uiteindelik tot die dood.—Prediker 9:2, 10; Romeine 5:12.
2, 3. Watter erfenis het Jehovah oorspronklik vir die nageslag van Adam en Eva moontlik gemaak, en waarom het hulle dit nie ontvang nie?
2 As ’n liefdevolle hemelse Vader het Jehovah die mensdom oorspronklik ’n heel ander erfenis aangebied—ewige lewe in volmaaktheid in die Paradys. Ons eerste ouers, Adam en Eva, het ’n volmaakte, sondelose begin gehad. Jehovah God het die planeet Aarde as ’n geskenk aan die mensdom gegee (Psalm 115:16). Hy het die tuin van Eden voorsien as ’n voorbeeld van hoe die hele aarde kan lyk en het aan ons eerste ouers ’n wonderlike toewysing gegee wat ’n uitdaging was. Hulle moes kinders voortbring, na die aarde en al sy verskillende plant- en diersoorte omsien en die grense van die Paradys uitbrei totdat dit die hele aarde beslaan (Genesis 1:28; 2:8, 9, 15). Hulle nageslag sou hiermee help. Wat ’n wonderlike erfenis kon hulle tog aan hulle nageslag oordra!
3 Maar Adam en Eva en hulle nageslag kon slegs al hierdie dinge geniet as hulle ’n goeie verhouding met God gehad het. Hulle was liefde en gehoorsaamheid aan Jehovah verskuldig, maar Adam en Eva het nie waardeer wat God hulle gegee het nie en het nie sy gebod gehoorsaam nie. Hulle het hulle Paradystuiste verloor sowel as die wonderlike vooruitsigte wat God hulle gebied het. Daarom kon hulle nie hierdie dinge aan hulle nageslag oordra nie.—Genesis 2:16, 17; 3:1-24.
4. Hoe kan ons die erfenis verkry wat Adam verbeur het?
4 Uit barmhartigheid het Jehovah voorsiening gemaak sodat die nageslag van Adam en Eva die geleentheid kon hê om die erfenis te ontvang wat Adam verbeur het. Hoe so? Op God se vasgestelde tyd het sy eie Seun, Jesus Christus, sy volmaakte menselewe ten behoewe van die nageslag van Adam afgelê. Deur middel hiervan het Christus hulle almal gekoop. Maar hulle ontvang nie outomaties die erfenis nie. Hulle moet ’n goedgekeurde posisie voor God hê, wat hulle kan verkry deur geloof te beoefen in die versoeningswaarde van Jesus se offerande en deur bewys te lewer van daardie geloof deur gehoorsaam te wees (Johannes 3:16, 36; 1 Timoteus 2:5, 6; Hebreërs 2:9; 5:9). Toon jou lewenswyse dat jy hierdie voorsiening waardeer?
’n Erfenis wat deur Abraham nagelaat is
5. Hoe het Abraham waardering vir sy verhouding met Jehovah getoon?
5 Terwyl Jehovah sy voorneme met die aarde uitgevoer het, het hy op ’n spesiale manier met Abraham gehandel. Hy het daardie getroue man die opdrag gegee om sy land te verlaat en na ’n land te trek wat God self vir hom sou wys. Abraham het die opdrag gewillig uitgevoer. Nadat Abraham daar aangekom het, het Jehovah gesê dat Abraham se nageslag, nie Abraham self nie, die land as ’n erfenis sou ontvang (Genesis 12:1, 2, 7). Hoe het Abraham gereageer? Hy was gewillig om Jehovah te dien waar en hoe God hom ook al beveel het, sodat sy nageslag hulle erfenis kon ontvang. Abraham het Jehovah 100 jaar lank gedien, tot sy dood, in ’n land wat nie syne was nie (Genesis 12:4; 25:8-10). Sou jy dit gedoen het? Jehovah het gesê dat Abraham sy “vriend” was.—Jesaja 41:8.
6. (a) Wat het Abraham gedemonstreer deur sy gewilligheid om sy seun te offer? (b) Watter kosbare erfenis kon Abraham aan sy nageslag nalaat?
6 Abraham het jare lank gewag vir ’n seun, Isak, vir wie hy baie lief was. Toe die seun klaarblyklik ’n jong man geword het, het Jehovah Abraham beveel om die seun te neem en hom as ’n offerande te offer. Abraham het nie geweet dat hy daardeur sou demonstreer wat God self sou doen deur sy Seun as ’n losprys te gee nie; nogtans was hy gehoorsaam en het hy op die punt gestaan om Isak as ’n offerande te offer toe Jehovah se engel hom gekeer het (Genesis 22:9-14). Jehovah het reeds gesê dat sy beloftes aan Abraham deur Isak vervul sou word. Daarom het Abraham ongetwyfeld geloof gehad dat God, indien nodig, Isak uit die dood kon opwek, hoewel so iets nog nooit voorheen gedoen is nie (Genesis 17:15-18; Hebreërs 11:17-19). Omdat Abraham selfs nie sy seun teruggehou het nie, het Jehovah verklaar: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Genesis 22:15-18, NW). Dit het getoon dat die Saad wat in Genesis 3:15 gemeld word, die Messiaanse verlosser, deur Abraham se geslagslyn sou kom. Wat ’n kosbare erfenis om na te laat!
7. Hoe het Abraham, Isak en Jakob waardering vir hulle erfenis getoon?
7 Abraham het nie geweet wat die betekenis was van wat Jehovah gedoen het nie; sy seun Isak en sy kleinseun Jakob, wat “saam met hom die erfgename van presies dieselfde belofte was”, het ook nie geweet nie. Maar hulle almal het vertroue in Jehovah gehad. Hulle het nie deel geword van enige van die stadskoninkryke in die land nie omdat hulle na iets beters uitgesien het—“die stad wat ware fondamente het, van welke stad God die bouer en maker is” (Hebreërs 11:8-10, 13-16). En tog het nie al Abraham se nakomelinge die kosbaarheid waardeer van die erfenis wat hulle deur Abraham kon verkry het nie.
Party wat die erfenis verag het
8. Hoe het Esau getoon dat hy nie die kosbaarheid van sy erfenis waardeer het nie?
8 Esau, Isak se oudste seun, het nie baie waarde geheg aan sy geboortereg as eersgeborene nie. Hy het nie heilige dinge waardeer nie. Eendag toe Esau honger was, het hy dus sy reg as eersgeborene aan sy broer, Jakob, verkoop. Waarvoor? In ruil vir een maaltyd van brood en lensies! (Genesis 25:29-34; Hebreërs 12:14-17). Die nasie deur wie God se beloftes aan Abraham vervul sou word, het van Jakob afgestam, wie se naam God verander het na Israel. Watter geleenthede het daardie bepaalde erfenis vir hulle moontlik gemaak?
9. Watter verlossing het die nageslag van Jakob, of Israel, ondervind weens hulle geestelike erfenis?
9 Gedurende ’n tyd van hongersnood het Jakob en sy gesin na Egipte getrek. Daar het hulle vermenigvuldig en baie geword, maar hulle het ook slawe geword. Jehovah het egter nie sy verbond met Abraham vergeet nie. God het op sy vasgestelde tyd die kinders van Israel uit slawerny verlos en hulle ingelig dat hy hulle sal bring in “’n land wat oorloop van melk en heuning”, die land wat hy aan Abraham beloof het.—Exodus 3:7, 8; Genesis 15:18-21.
10. Watter verdere buitengewone gebeure het plaasgevind by die berg Sinai met betrekking tot die erfenis van die kinders van Israel?
10 Toe die kinders van Israel op pad na die Beloofde Land was, het Jehovah hulle by die berg Sinai byeengebring. Daar het hy vir hulle gesê: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Exodus 19:5, 6). Nadat die volk uit vrye wil en eenparig hiertoe ingestem het, het Jehovah vir hulle sy Wet gegee—iets wat hy vir geen ander volk gegee het nie.—Psalm 147:19, 20.
11. Wat was party van die kosbare dinge wat die geestelike erfenis van die kinders van Israel ingesluit het?
11 Wat ’n geestelike erfenis het daardie nuwe nasie tog gehad! Hulle het die enigste ware God aanbid. Hy het hulle uit Egipte verlos, en hulle was ooggetuies van ontsagwekkende gebeure toe die Wet by die berg Sinai gegee is. Hulle erfenis is verder verryk toe hulle deur die profete bykomende “heilige verklarings van God” af ontvang het (Romeine 3:1, 2). Hulle is deur Jehovah aangewys om sy getuies te wees (Jesaja 43:10-12). Die Messiaanse Saad sou in hulle nasie verskyn. Die Wet het na hom gewys, sou hom identifiseer en sou hulle help om te besef waarom hulle hom nodig het (Galasiërs 3:19, 24). Daarbenewens sou hulle die geleentheid gegee word om in samewerking met daardie Messiaanse Saad as ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie te dien.—Romeine 9:4, 5.
12. Wat het die Israeliete nie ondervind nie, al het hulle die Beloofde Land ingegaan? Waarom nie?
12 Soos Jehovah beloof het, het hy die Israeliete na die Beloofde Land gelei. Maar soos die apostel Paulus later verduidelik het, was daardie land, weens hulle gebrek aan geloof, nie waarlik “’n plek van rus” nie. As ’n volk het hulle nie in “God se rus” ingegaan nie omdat hulle nie die doel van God se eie rusdag, wat ná die skepping van Adam en Eva begin het, onderskei het nie en ook nie in ooreenstemming daarmee opgetree het nie.—Hebreërs 4:3-10.
13. Wat het Israel as ’n nasie verbeur omdat hulle nie hulle geestelike erfenis waardeer het nie?
13 Natuurlike Israel kon die volle getal voorsien het van diegene wat saam met die Messias in sy hemelse Koninkryk as ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie gaan dien. Maar hulle het nie hulle kosbare erfenis waardeer nie. Slegs ’n oorblyfsel van natuurlike Israeliete het die Messias aanvaar toe hy gekom het. Gevolglik is net ’n klein getal in die voorspelde koninkryk van priesters ingesluit. Die Koninkryk is van natuurlike Israel weggeneem en “vir ’n nasie gegee . . . wat die vrugte daarvan voortbring” (Matteus 21:43). Watter nasie is dit?
’n Erfenis in die hemel
14, 15. (a) Hoe het die nasies hulleself ná Jesus se dood begin seën deur middel van die “saad” van Abraham? (b) Wat ontvang lede van “die Israel van God” as ’n erfenis?
14 Die nasie aan wie die Koninkryk gegee is, is “die Israel van God”, geestelike Israel, wat bestaan uit 144 000 geesverwekte volgelinge van Jesus Christus (Galasiërs 6:16; Openbaring 5:9, 10; 14:1-3). Party van hierdie 144 000 was natuurlike Jode, maar die meeste was uit die nie-Joodse nasies. Sodoende het Jehovah se belofte aan Abraham, dat al die nasies deur sy “saad” geseën sou word, in vervulling begin gaan (Handelinge 3:25, 26; Galasiërs 3:8, 9). Met daardie aanvanklike vervulling is mense van die nasies met heilige gees gesalf en deur Jehovah God as geestelike seuns, broers van Jesus Christus, aangeneem. Hulle het dus ook ’n sekondêre deel van daardie “saad” geword.—Galasiërs 3:28, 29.
15 Voor sy dood het Jesus met toekomstige Joodse lede van daardie nuwe nasie die nuwe verbond gesluit, wat deur sy eie bloed bekragtig sou word. Op grond van hulle geloof in daardie offerande sou diegene wat deel van hierdie verbond word dan “vir altyd vervolmaak” wees (Hebreërs 10:14-18). Hulle kon “regverdig verklaar” en hulle sondes vergewe word (1 Korintiërs 6:11). In dié sin is hulle dus soos Adam was voordat hy gesondig het. Maar hulle sal nie op ’n aardse paradys lewe nie. Jesus het gesê dat hy vir hulle ’n plek in die hemel gaan berei (Johannes 14:2, 3). Hulle doen afstand van hulle aardse vooruitsigte sodat hulle ’n ‘erfenis kan hê wat in die hemele vir hulle bewaar is’ (1 Petrus 1:4). Wat doen hulle daar? Jesus het verduidelik: “Ek sluit ’n verbond met julle . . . vir ’n koninkryk.”—Lukas 22:29.
16. Watter wonderlike dienstoewysing lê vir gesalfde Christene voor?
16 Diegene wat saam met Christus sal regeer, sal vanuit die hemel help om, onder andere, alle spore van opstand teen Jehovah se soewereiniteit van die aarde te verwyder (Openbaring 2:26, 27). As ’n sekondêre deel van Abraham se geestelike saad sal hulle ’n aandeel daaraan hê om die seën van volmaakte lewe aan mense van alle nasies te bring (Romeine 8:17-21). Wat ’n kosbare erfenis het hulle tog!—Efesiërs 1:16-18.
17. Watter aspekte van hulle erfenis geniet gesalfde Christene terwyl hulle nog op die aarde is?
17 Maar Jesus se gesalfde volgelinge ontvang nie net ’n erfenis in die toekoms nie. Jesus het hulle gehelp om Jehovah, die enigste ware God, te leer ken op ’n manier wat niemand anders kon nie (Matteus 11:27; Johannes 17:3, 26). Deur woord en voorbeeld het hy hulle geleer wat ‘vertroue in Jehovah’ beteken en wat gehoorsaamheid aan Jehovah behels (Hebreërs 2:13; 5:7-9). Jesus het kennis van die waarheid aangaande God se voorneme aan hulle toevertrou en hulle verseker dat die heilige gees hulle sou lei om dit beter te verstaan (Johannes 14:24-26). Hy het die belangrikheid van God se Koninkryk in hulle verstand en hart ingeprent (Matteus 6:10, 33). Jesus het ook aan hulle die toewysing gegee om te getuig en dissipels te maak van mense in Jerusalem, Judea, Samaria en die mees afgeleë dele van die aarde.—Matteus 24:14; 28:19, 20; Handelinge 1:8.
’n Kosbare erfenis vir ’n groot skare
18. Hoe word Jehovah se belofte dat alle nasies hulleself deur Abraham se “saad” sal seën vandag vervul?
18 Die volle getal van geestelike Israel, daardie “klein kuddetjie” van Koninkrykserfgename, is heel waarskynlik al gekies (Lukas 12:32). Jehovah vestig nou al dekades lank die aandag op die insameling van ’n groot skare van ander uit alle nasies. Jehovah se belofte aan Abraham dat al die nasies hulleself deur sy “saad” sal seën, word dus op groot skaal vervul. Hierdie geseëndes lewer eweneens met blydskap heilige diens aan Jehovah en erken dat hulle redding afhang van geloof in die Lam van God, Jesus Christus (Openbaring 7:9, 10). Het jy Jehovah se goedhartige uitnodiging aanvaar om ’n deel van daardie gelukkige groep te word?
19. Na watter erfenis sien diegene van die nasies wat nou geseën word uit?
19 Watter kosbare erfenis bied Jehovah aan diegene wat nie ’n deel van die klein kuddetjie is nie? Nee, dit is nie ’n erfenis in die hemel nie. Dit is die erfenis wat Adam aan sy nageslag kon oorgedra het—die vooruitsig op ewige lewe in volmaaktheid in ’n paradys wat geleidelik die hele aarde sal insluit. Dit sal ’n wêreld wees waarin ‘die dood nie meer sal wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn nie meer sal wees nie’ (Openbaring 21:4). Dit is dus vir jou wat God se geïnspireerde Woord sê: “Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:3, 4, 10, 11, 29.
20. Hoe geniet die “ander skape” ’n groot deel van die geestelike erfenis van gesalfde Christene?
20 Jesus se “ander skape” het ’n erfenis in die aardse ryk van die hemelse Koninkryk (Johannes 10:16a). Hoewel hulle nie in die hemel sal wees nie, word ’n groot deel van die geestelike erfenis wat deur die gesalfdes geniet word aan hulle gegee. Die gesamentlike liggaam van gesalfdes, “die getroue en verstandige slaaf”, het die ander skape gehelp om die kosbare beloftes in God se Woord te verstaan (Matteus 24:45-47; 25:34). Saam ken en aanbid die gesalfdes en die ander skape die enigste ware God, Jehovah (Johannes 17:20, 21). Saam dank hulle God vir die versoeningswaarde van Jesus se offerande. Hulle dien saam as een kudde onder een Herder, Jesus Christus (Johannes 10:16b). Hulle is almal deel van een liefdevolle, aardwye broederskap. Saam het hulle die voorreg om Getuies van Jehovah en van sy Koninkryk te wees. Ja, as jy ’n toegewyde en gedoopte kneg van Jehovah is, is dit alles ingesluit in jou geestelike erfenis.
21, 22. Hoe kan almal van ons toon dat ons ons geestelike erfenis waardeer?
21 Hoe kosbaar is hierdie geestelike erfenis vir jou? Waardeer jy dit genoeg om die uitvoering van God se wil eerste te stel in jou lewe? Bewys jy dit deur die raad van sy Woord en sy organisasie toe te pas om gereeld alle vergaderinge van die Christengemeente by te woon? (Hebreërs 10:24, 25). Is hierdie erfenis vir jou so kosbaar dat jy aanhou om God te dien ten spyte van probleme? Is jou waardering hiervoor groot genoeg om jou te versterk sodat jy enige versoeking om ’n weg te volg waardeur jy dit kan verbeur, sal weerstaan?
22 Mag almal van ons die geestelike erfenis waardeer wat God ons gegee het. Terwyl ons ons oë gevestig hou op die Paradys wat voorlê, laat ons die geestelike voorregte wat Jehovah ons nou gee ten volle benut. Deur waarlik ons lewe om ons verhouding met Jehovah te bou, gee ons afdoende bewys van hoe kosbaar ons godgegewe erfenis werklik vir ons is. Mag ons onder diegene wees wat uitroep: “o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd.”—Psalm 145:1.
Hoe sal jy verduidelik?
• Watter erfenis sou Adam aan ons oorgedra het as hy lojaal teenoor God was?
• Hoe het Abraham se nageslag gevoel oor die erfenis wat hulle kon gehad het?
• Wat sluit die erfenis van Christus se gesalfde volgelinge in?
• Wat is die erfenis van die groot skare, en hoe kan hulle bewys dat hulle dit werklik waardeer?
[Prent op bladsy 20]
Abraham se nageslag het die belofte van ’n kosbare erfenis ontvang
[Prente op bladsy 23]
Waardeer jy jou geestelike erfenis?