Koop die tyd uit om te lees en te studeer
“[Koop] die geleë tyd vir julleself uit,omdat die dae goddeloos is.”—EFESIËRS 5:16.
1. Waarom is dit vir ons verstandig om ons tyd te beplan, en wat kan die manier waarop ons ons tyd gebruik omtrent ons openbaar?
DAAR is al gesê dat “tyd wat beplan is, tyd is wat gespaar is”. Iemand wat ’n bepaalde hoeveelheid tyd afstaan aan dinge wat gedoen moet word, sal dikwels meer met sy tyd gedoen kry. Die wyse koning Salomo het geskryf: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd” (Prediker 3:1). Ons almal het dieselfde hoeveelheid tyd tot ons beskikking; dit hang van ons af hoe ons dit gebruik. Hoe ons ons prioriteite vasstel en ons tyd indeel, openbaar in groot mate wat naaste aan ons hart lê.—Matteus 6:21.
2. (a) Wat het Jesus in sy Bergpredikasie gesê oor ons geestelike behoefte? (b) Watter selfondersoek kan ons doen?
2 Ons is verplig om tyd daaraan af te staan om te eet en te slaap omdat dit fisiese behoeftes is. Maar wat van ons geestelike behoeftes? Ons weet dat dit ook bevredig moet word. Jesus het in sy Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Dit is waarom “die getroue en verstandige slaaf” ons gereeld herinner aan die belangrikheid daarvan om tyd aan Bybellees en -studie te wy (Matteus 24:45). Jy besef dalk hoe belangrik dit is, maar jy voel moontlik dat jy net nie die tyd het om te studeer of die Bybel te lees nie. Indien wel, kom ons kyk na maniere wat ons kan help om meer tyd in ons lewe in te ruim om God se Woord te lees, persoonlike studie te doen en te bepeins.
Hoe om tyd vir Bybellees en -studie te vind
3, 4. (a) Watter raad het die apostel Paulus omtrent die gebruik van ons tyd gegee, en wat sluit dit in? (b) Wat het Paulus bedoel toe hy ons die raad gegee het om ‘die geleë tyd vir onsself uit te koop’?
3 Met die oog op die tyd waarin ons lewe, moet ons almal ag slaan op die apostel Paulus se woorde: “Let dus voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is. Hou om dié rede op om onredelik te word, maar gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is” (Efesiërs 5:15-17). Hierdie raad dek natuurlik alle aspekte van ons lewe as toegewyde Christene, wat insluit dat ons tyd inruim vir gebed, studie, vergaderinge en die grootste aandeel wat ons moontlik kan hê aan die verkondiging van die “goeie nuus van die koninkryk”.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
4 Vandag vind baie van Jehovah se knegte dit blykbaar moeilik om Bybellees en diep studie in hulle lewe in te pas. Ons kan natuurlik nie ’n ekstra uur by ons dag voeg nie; daarom moet Paulus se raad iets anders beteken. In Grieks impliseer die frase ‘koop die geleë tyd uit’ dat iets ten koste van iets anders gekoop word. In sy Expository Dictionary gee W. E. Vine dit die betekenis van “elke geleentheid ten volle benut, om elkeen op die voordeligste manier te gebruik, aangesien niks omtrent ’n verspeelde kans gedoen kan word nie”. Waarvan kan ons die geleë tyd uitkoop om die Bybel te lees en te bestudeer?
Ons moet prioriteite stel
5. Waarom en hoe moet ons ‘seker maak van wat die belangriker dinge is’?
5 Benewens ons sekulêre verpligtinge het ons baie dinge van ’n geestelike aard waarna ons moet omsien. As Jehovah se toegewyde knegte het ons “volop . . . om in die werk van die Here te doen” (1 Korintiërs 15:58). Daarom het Paulus Christene in Filippi aangespoor om “seker [te] maak van wat die belangriker dinge is” (Filippense 1:10). Dit beteken dat ’n mens prioriteite moet stel. Geestelike dinge moet altyd voorkeur bo materiële belange kry (Matteus 6:31-33). Maar balans is ook nodig wanneer ons ons geestelike verpligtinge nakom. Hoe verdeel ons ons tyd vir die verskillende aspekte van ons Christelike lewe? Reisende opsieners sê dat persoonlike studie en Bybellees dikwels verwaarloos word, al tel dit onder “die belangriker dinge” waaraan ’n Christen aandag moet gee.
6. Wat kan dit behels om die geleë tyd uit te koop wat sekulêre werk of huiswerk betref?
6 Soos ons gesien het, behels die feit dat ons die geleë tyd moet uitkoop dat ons ‘elke geleentheid ten volle moet benut’ en ‘elkeen op die voordeligste manier moet gebruik’. As ons Bybellees- en studiegewoontes dus veel te wense oorlaat, sal dit goed wees as ons onsself ondersoek om te sien hoe ons ons tyd deurbring. As ons sekulêre werk te veeleisend is en te veel van ons tyd en energie in beslag neem, moet ons Jehovah in gebed daaroor nader (Psalm 55:23). Ons sal dalk aanpassings kan maak wat ons met meer tyd sal laat vir die belangrike dinge wat met Jehovah se aanbidding verband hou, waaronder studie en Bybellees. Daar is al tereg gesê dat ’n vrou se werk nooit klaar is nie. Christensusters moet dus ook hulle prioriteite stel en bepaalde tye opsy sit vir Bybellees en diep studie.
7, 8. (a) Van watter bedrywighede kan tyd dikwels uitgekoop word om te lees en te studeer? (b) Wat is die doel van ontspanning, en hoe kan dit ons help om ons prioriteite te stel as ons dit in gedagte hou?
7 Oor die algemeen kan die meeste van ons tyd vir studie uitkoop ten koste van onbelangrike bedrywighede. Ons kan ons afvra: ‘Hoeveel tyd bestee ek daaraan om sekulêre tydskrifte of koerante te lees, televisieprogramme te kyk, na musiek te luister of videospeletjies te speel? Bring ek meer tyd voor die rekenaar deur as wat ek die Bybel lees?’ Paulus sê: “Hou . . . op om onredelik te word, maar gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is” (Efesiërs 5:17). Dit lyk of buitensporige televisiekykery ’n vername rede is waarom baie Getuies nie genoeg tyd aan persoonlike studie en Bybellees wy nie.—Psalm 101:3, NW; 119:37, 47, 48.
8 Party sal dalk sê dat hulle nie heeltyd kan studeer nie, dat hulle ontspanning nodig het. Hoewel dit waar is, sal dit goed wees as ons die tyd wat ons gebruik om te ontspan, vergelyk met die tyd wat ons in werklikheid die Bybel bestudeer of lees. Ons sal dalk verbaas wees oor die resultaat. Hoewel ontspanning nodig is, moet dit op sy behoorlike plek gehou word. Die doel daarvan is om ons te verkwik vir hernieude geestelike bedrywighede. Baie televisieprogramme en videospeletjies put ’n mens uit, terwyl dit jou verkwik en nuwe krag gee as jy God se Woord lees en bestudeer.—Psalm 19:8, 9.
Hoe party tyd vir studie inruim
9. Watter voordele het dit om die raad te volg wat in die boekie Ondersoek die Skrif elke dag—1999 gegee word?
9 Die voorwoord van die 1999-uitgawe van die boekie Ondersoek die Skrif elke dag sê: “Dit sal baie voordelig wees om die dagteks en kommentare in hierdie boekie in die oggend te bespreek. Dit sal vir jou voel asof Jehovah, die Grootse Onderrigter, jou met sy onderrigting wakker maak. Daar word profeties van Jesus Christus gesê dat hy elke oggend by Jehovah se onderrigting baat vind: ‘Hy [Jehovah] wek môre na môre; hy wek my oor om te hoor soos dié wat geleer is.’ Hierdie onderrigting het Jesus ‘die tong gegee van dié wat geleer is’ sodat hy sou ‘weet hoe om die vermoeide met ’n woord te antwoord’ (Jes. 30:20, NW; 50:4, NW; Matt. 11:28-30). As jy elke oggend gewek word met tydige raad uit die Woord van God, sal dit jou nie net help om jou eie probleme die hoof te bied nie, maar dit sal jou ook toerus met ‘die tong van dié wat geleer is’ sodat jy ander kan help.”a
10. Hoe ruim party tyd in vir Bybellees en -studie, en met watter voordele?
10 Baie Christene volg hierdie raad deur die dagteks en kommentare te lees en deur die Bybel soggens vroeg te lees of te studeer. In Frankryk staan ’n getroue pionier elke oggend vroeg op en lees sy die Bybel 30 minute lank. Wat het haar deur die jare heen gehelp om dit te doen? Sy sê: “Ek is baie gemotiveerd, en ek hou by my leesprogram, maak nie saak wat gebeur nie!” Ongeag watter tyd van die dag ons kies, die belangrike saak is dat ons by ons rooster bly. René Mica, wat al meer as 40 jaar ’n pionier is en in Europa en in Noord-Afrika gedien het, sê: “Sedert 1950 was dit my doelwit om elke jaar die hele Bybel te lees, iets wat ek nou al 49 keer gedoen het. Ek beskou dit as uiters belangrik sodat ek ’n hegte verhouding met my Skepper kan behou. Wanneer ek oor God se Woord peins, help dit my om Jehovah se geregtigheid en sy ander eienskappe beter te verstaan, en dit is ’n bron van ongelooflike krag.”b
‘Voedselrantsoen op die regte tyd’
11, 12. (a) Watter geestelike “voedselrantsoen” word deur “die getroue bestuurder” voorsien? (b) Hoe word die “voedselrantsoen” op die regte tyd voorsien?
11 Net soos vaste eetgewoontes tot goeie fisiese gesondheid bydra, bevorder ’n vaste rooster vir studie en Bybellees goeie geestelike gesondheid. In Lukas se Evangelie lees ons Jesus se woorde: “Wie is werklik die getroue bestuurder, die verstandige, wat sy heer oor sy liggaam van bediendes sal aanstel om hulle op die regte tyd hulle voedselrantsoen te bly gee?” (Lukas 12:42). Dit is nou al meer as 120 jaar dat die geestelike ‘voedselrantsoen op die regte tyd’ voorsien word in Die Wagtoring sowel as in ander Bybelpublikasies.
12 Let op die uitdrukking “op die regte tyd”. Ons “Grootse Onderrigter”, Jehovah, gee sy volk deur middel van sy Seun en die slaafklas op die regte oomblik leiding in sake wat leerstellings en gedrag betref. Dit is asof ons almal saam ’n stem hoor wat vir ons sê: “‘Dit is die weg. Wandel daarop’, ingeval julle regs sou gaan of ingeval julle links sou gaan” (Jesaja 30:20, 21, NW). En wanneer individue die Bybel en al die Bybelpublikasies aandagtig lees, kry hulle dikwels die gevoel dat die gedagtes daarin spesiaal vir hulle bedoel is. Ja, Goddelike raad en leiding sal op die regte tyd na ons kom, wat ons in staat sal stel om versoekings te weerstaan of ’n wyse besluit te maak.
Kweek goeie eetgewoontes aan
13. Wat is ’n paar swak geestelike eetgewoontes?
13 Om ten volle baat te vind by hierdie “voedselrantsoen” wat op die regte tyd voorsien word, moet ons goeie eetgewoontes hê. Dit is noodsaaklik om ’n vaste rooster vir Bybellees en persoonlike studie te hê en daarby te bly. Het jy goeie geestelike eetgewoontes en vasgestelde tye vir diep persoonlike studie? Of gaan jy net vlugtig deur die materiaal wat sorgvuldig vir ons voorberei is en eet jy as ’t ware in die verbygaan of slaan jy selfs party maaltye heeltemal oor? Swak geestelike eetgewoontes het party swak in die geloof laat word—hulle selfs die geloof laat versaak.—1 Timoteus 1:19; 4:15, 16.
14. Waarom is dit voordelig om sorgvuldig deur materiaal te gaan wat dalk bekend lyk?
14 Party voel moontlik dat hulle reeds die basiese leerstellings ken en dat nie elke artikel iets heeltemal nuuts aanbied nie. Daarom is stelselmatige studie en vergaderingbywoning onnodig. Maar die Bybel toon dat ons herinner moet word aan dinge wat ons reeds geleer het (Psalm 119:95, 99, NW; 2 Petrus 3:1; Judas 5). Net soos ’n goeie kok dieselfde basiese bestanddele op talle smaaklike maniere voorberei, voorsien die slaafklas voedsame geestelike voedsel op ’n verskeidenheid maniere. Selfs in artikels oor onderwerpe wat al dikwels in die verlede bespreek is, is daar fyner punte wat ons nie wil mis nie. Feit is, die nut wat ons kry uit die materiaal wat ons lees, hang in groot mate af van die hoeveelheid tyd en inspanning wat ons aan ons studie daarvan wy.
Die geestelike voordele van lees en studie
15. Hoe help Bybellees en -studie ons om beter bedienaars van God se Woord te wees?
15 Dit hou vir ons baie voordele in om die Bybel te lees en te bestudeer. Ons word gehelp om een van ons basiese Christelike verantwoordelikhede na te kom, naamlik dat ons as individue “’n werker [moet word] wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Hoe meer ons die Bybel lees en bestudeer, hoe meer sal ons verstand met God se gedagtes gevul word. Dan sal ons, soos Paulus, ‘uit die Skrif met mense kan redeneer’ en die wonderlike waarheid van Jehovah se voornemens ‘kan verduidelik en deur verwysings kan bewys’ (Handelinge 17:2, 3). Ons onderrigvermoë sal verbeter, en ons gesprekke, toesprake en raad sal geestelik meer opbouend wees.—Spreuke 1:5.
16. Op watter persoonlike maniere vind ons daarby baat as ons God se Woord lees en bestudeer?
16 Daarbenewens sal die tyd wat ons daaraan wy om God se Woord te ondersoek ons help om ons lewe nog meer in ooreenstemming met Jehovah se weë te bring (Psalm 25:4; 119:9, 10; Spreuke 6:20-23). Dit sal ons geestelike eienskappe, soos nederigheid, lojaliteit en geluk, versterk (Deuteronomium 17:19, 20; Openbaring 1:3). Wanneer ons die kennis toepas wat ons uit ons Bybellees en -studie opdoen, vloei God se heilige gees vryelik in ons lewe, wat daartoe sal lei dat die vrugte van die gees oorvloediger sal wees in alles wat ons doen.—Galasiërs 5:22, 23.
17. Hoe raak die hoeveelheid en gehalte van ons persoonlike Bybellees en -studie ons verhouding met Jehovah?
17 Bowenal sal die tyd wat ons van ander bedrywighede uitkoop om God se Woord te lees en te bestudeer vir ons ryk seëninge meebring wat ons verhouding met God betref. Paulus het gebid dat sy mede-Christene “in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van [God se] wil, sodat [hulle] kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” (Kolossense 1:9, 10). As ons eweneens wil “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is”, moet ons “in alle wysheid en geestelike insig vervul . . . word met die juiste kennis van sy wil”. Dit is duidelik dat die seëninge en goedkeuring wat ons van Jehovah verkry in groot mate afhang van die hoeveelheid en gehalte van ons persoonlike Bybellees en -studie.
18. Watter seëninge kan ons geniet as ons Jesus se woorde toepas wat in Johannes 17:3 opgeteken staan?
18 “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Dit is een van die tekste wat Jehovah se Getuies die meeste gebruik om ander te help besef hoe belangrik ’n studie van God se Woord is. Dit is beslis glad nie minder belangrik vir elkeen van ons om dit persoonlik te doen nie. Ons hoop om vir ewig te lewe, hang daarvan af of ons toeneem in kennis van Jehovah en sy Seun, Jesus Christus. En dink net wat dit beteken. Ons sal nooit ophou om meer van Jehovah te leer nie—en ons sal ’n ewigheid hê om van hom te leer!—Prediker 3:11; Romeine 11:33.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.
b Sien die artikel “Wanneer hulle dit lees en hoe hulle daarby baat vind”, in Die Wagtoring van 1 Mei 1995, bladsye 20-1.
Hersieningsvrae
• Wat word geopenbaar deur die manier waarop ons ons tyd gebruik?
• Van watter bedrywighede kan tyd uitgekoop word om die Bybel te lees en te bestudeer?
• Waarom moet ons let op ons geestelike eetgewoontes?
• Watter voordele put ons daaruit as ons die Skrif lees en bestudeer?
[Prente op bladsy 20, 21]
As ons die Bybel gereeld lees en bestudeer, sal dit ons help om ‘die woord van die waarheid reg te hanteer’
[Prente op bladsy 23]
Dit sal ryk seëninge meebring as ons ’n balans handhaaf tussen ons geestelike belange en ander bedrywighede in ons besige lewe