Hoe ons deugsaamheid kan aankweek
HEDENDAAGSE woordeboeke definieer “deug” as “sedelike voortreflikheid; goedheid”. Dit is “korrekte optrede en denke; goedheid van karakter”. Die leksikograaf Marvin R. Vincent sê dat die oorspronklike klassieke betekenis van die Griekse woord wat met “deug” vertaal word, na “enige soort voortreflikheid” verwys. Dit is dan nie verbasend dat eienskappe soos verstandigheid, moed, selfdissipline, redelikheid, medelye, volharding, eerlikheid, nederigheid en lojaliteit al die een of ander tyd deugde genoem is nie. Deugsaamheid is ook al gedefinieer as “onderwerping aan ’n standaard van wat reg is”.
Aan wie se standaard van voortreflikheid, goedheid en wat reg is, moet ons voldoen? “Volgens die oorheersende skool van sedelike filosofie”, het die tydskrif Newsweek gesê, “het die skeptisisme wat deur die Verligting voortgebring is, alle idees van reg en verkeerd afgewater tot ’n saak van persoonlike smaak, emosionele voorkeur of kulturele keuse.” Maar is blote smaak of voorkeur ’n bevredigende manier om te bepaal wat reg en verkeerd is? Nee. As ons deugsaamheid wil aankweek, het ons ’n betroubare standaard nodig van wat goed en wat sleg is—’n standaard waarvolgens ’n sekere daad, gesindheid of eienskap as reg of verkeerd beoordeel kan word.
Die enigste ware Bron van sedelike standaarde
Daar is net een ware Bron van sedelike standaarde—die Skepper van die mensdom, Jehovah God. Net nadat hy die eerste mens, Adam, geskep het, het Jehovah God hierdie gebod aan die mens gegee: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:16, 17). Jehovah God het die boom daardie unieke naam gegee om aan te dui dat hy die uitsluitlike reg het om vir sy skepsele te besluit wat goed en wat kwaad is. God se standaarde van goed en kwaad het dus die grondslag geword waarvolgens ’n persoon se dade, beskouings en karaktertrekke beoordeel kan word. Sonder hierdie standaarde sou ons nie korrek kon onderskei tussen reg en verkeerd nie.
Die bevel aangaande die boom van die kennis van goed en kwaad het Adam en Eva ’n keuse gegee—om gehoorsaam te wees of nie. Vir hulle het deug gehoorsaamheid aan daardie bevel beteken. Mettertyd het Jehovah verder geopenbaar wat hom behaag en wat hom mishaag, en hy het dit vir ons in die Bybel laat opteken. Om deugsaamheid aan te kweek, beteken derhalwe dat ons ons skik na Jehovah se regverdige standaarde wat in die Skrif uiteengesit is.
Raak ten volle vertroud met God se standaarde
Moet ons nie ten volle met die standaarde van goed en kwaad vertroud raak, aangesien Jehovah God dit bepaal het en in die Bybel geopenbaar het nie? Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk.”—2 Timoteus 3:16, 17.
Dink byvoorbeeld aan die misverstand waarby Koenihito, wat in die vorige artikel gemeld is, betrokke was toe hy beskeidenheid soos sy kultuur dit beskou, aan die dag gelê het. Toe hy later dieper ondersoek ingestel het na skriftuurlike standaarde, het dit hom gehelp om ’n meer gebalanseerde beskouing te hê. Die Bybel moedig beslis beskeidenheid aan, en dit maan ons om nie te veel selfvertroue te hê en vermetel te wees nie (Spreuke 11:2; Miga 6:8, NW). Maar toe die apostel Paulus die vereistes vir “’n opsienersamp” uiteengesit het, het hy gesê dat hierdie voorreg ‘nagestreef’ moet word (1 Timoteus 3:1). ’n Mens moet dit ‘nastreef’, nie net sonder om groot te praat of vermetel te wees nie, maar ook sonder om jouself onnodig af te kraak.
Wat sê die Bybel oor sedelike voortreflikheid op sakegebied? Dit is in die hedendaagse sakewêreld iets algemeens om twyfelagtige sakegebruike te volg of om regeringsregulasies en belastingwette te probeer omseil. Maar ongeag wat ander doen, die Bybelstandaard is dat ons “ons in alles eerlik [moet] gedra” (Hebreërs 13:18). Ons kweek dus deugsaamheid aan deur eerlik en regverdig te wees teenoor werkgewers, werknemers, klante en sekulêre regerings (Deuteronomium 25:13-16; Romeine 13:1; Titus 2:9, 10). Eerlikheid bevorder beslis vertroue en welwillendheid. En as ’n mens ooreenkomste op skrif stel, voorkom dit dikwels misverstande en ingewikkelde probleme wat weens “onvoorsiene gebeurtenisse” kan ontstaan.—Prediker 9:11, NW; Jakobus 4:13, 14.
Ons kleredrag en persoonsversorging is nog ’n gebied waarop ons deugsaamheid moet aankweek. Die keuse van klere wissel na gelang van kultuur, en ons is dalk onder groot druk om met die jongste style en modes by te hou. Maar waarom moet ons elke nuwe gier of mode volg? Die Bybel vermaan ons om “op [te hou] om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word” (Romeine 12:2). Pleks van reëls neer te lê, het die apostel Paulus onder inspirasie geskryf: “Ek [wil] hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met vorme van haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie, maar soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer” (1 Timoteus 2:9, 10). Hierdie basiese standaard is op mans sowel as vroue van toepassing. Dit laat natuurlik ruimte vir ’n pragtige verskeidenheid in styl as gevolg van kulturele voorkeur of persoonlike smaak.
Die Bybel identifiseer ook onsedelike gebruike wat uitdruklik deur God veroordeel word. In 1 Korintiërs 6:9, 10 lees ons dié waarskuwing: “Wat! Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie.” Hierdie teks het Maria, wat vroeër gemeld is, gehelp om te sien dat haar verhouding met Juan verkeerd is volgens die standaard van sedelike voortreflikheid wat deur die Skepper uiteengesit word en dat sy ’n einde daaraan moet maak as sy God se goedkeuring wil wegdra. Dit is duidelik dat ons deeglik vertroud moet raak met Jehovah se standaarde as ons deugsaamheid wil aankweek.
Leer met die hart
Om deugsaam te wees, beteken nie om dinge wat sleg is passief te vermy nie. Dit vereis sedelike krag. ’n Deugsame persoon openbaar goedheid. “Deugsaamheid”, sê een professor, “moet met die hart sowel as die kop geleer word.” Om deugsaamheid aan te kweek, behels dus meer as om net deeglik vertroud te wees met God se Woord. Dit vereis bepeinsing oor wat daarin geskryf staan sodat ons hart met dankbaarheid teenoor Jehovah gevul word en ons beweeg word om skriftuurlike beginsels in ons lewe toe te pas.
“Hoe lief het ek u wet”, het die psalmis uitgeroep. “Dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97). En koning Dawid het geskryf: “Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u [God se] dade; ek dink ná oor die werk van u hande” (Psalm 143:5). Ons moet ook sorg dat biddende bepeinsing ’n belangrike deel van ons studie van die Bybel en Bybelpublikasies uitmaak.
Om tyd te maak vir ernstige studie sowel as bepeinsing, kan weliswaar ’n uitdaging wees. Maar die nastrewing van deugsaamheid vereis dat ons die tyd uitkoop van ander bedrywighede (Efesiërs 5:15, 16). Aaron, wat 24 is, koop elke dag die tyd uit deur 30 minute vroeër op te staan as voorheen. Hy sê: “Aan die begin het ek net die Bybel die hele halfuur lank gelees. Ek het eers onlangs besef hoe belangrik bepeinsing is. Nou bestee ek die helfte van daardie tyd daaraan om na te dink oor wat ek so pas gelees het. Dit is waarlik lonend.” Bepeinsing kan ook op ander tye gedoen word. In ’n lied aan Jehovah het Dawid gesing: ‘In die nagwake peins ek oor U’ (Psalm 63:7). En die Bybel sê: “Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld.”—Genesis 24:63.
Bepeinsing is van onskatbare waarde as ons deugsaamheid wil aankweek, want dit help ons om soos Jehovah oor dinge te voel en om sy beskouing van sake ons eie te maak. Maria het byvoorbeeld geweet dat God hoerery verbied. Maar om ‘te verafsku wat goddeloos is en vas te hou aan wat goed is’, moes sy oor belangrike Bybeltekste peins (Romeine 12:9). Sy is gehelp om te sien dat sy veranderinge moes aanbring toe sy Kolossense 3:5 gelees het, wat ons aanspoor om ‘ons liggaamsdele dood te maak wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug’. Maria moes haar afvra: ‘Watter soort geslagslus moet ek doodmaak? Wat moet ek vermy wat dalk onrein begeertes kan wek? Is daar veranderinge wat ek moet maak in die manier waarop ek persone van die teenoorgestelde geslag behandel?’
Bepeinsing sluit in dat ons oor die gevolge van ’n daad nadink. Paulus spoor Christene aan om hulle van hoerery te onthou en om selfbeheersing te beoefen sodat “niemand so ver gaan dat hy sy broer skade berokken of inbreuk maak op sy regte . . . nie” (1 Tessalonisense 4:3-7). Goeie vrae waaroor ’n mens kan nadink, is: ‘Watter skade sal ek myself, my gesin en ander berokken deur hierdie daad te pleeg? Hoe sal ek geestelik, emosioneel en fisies geraak word? Wat was die gevolge vir ander wat in die verlede God se wet verbreek het?’ Sulke bepeinsing het Maria in haar hart meer vasbeslote gemaak, en dit kan vir ons dieselfde doen.
Leer uit voorbeelde
Kan deugsaamheid in ’n klaskamer geleer word? Dit is ’n vraag waaroor denkers millenniums lank al wonder. Die Griekse filosoof Plato was geneig om te dink dat dit wel in ’n klaskamer geleer kan word. Aristoteles het weer geredeneer dat deugsaamheid deur die beoefening daarvan verkry word. ’n Joernalis het die debat oor hierdie kwessie so opgesom: “Kortom, ’n etiek van deugsaamheid kan nie alleen aangeleer word nie. Dit kan ook nie uit handboeke geleer word nie. ’n Mens verkry ’n goeie karakter wanneer jy in gemeenskappe lewe . . . waar deugsaamheid aangemoedig en beloon word.” Maar waar sal ons waarlik deugsame mense vind? Hoewel die meeste kulture, ten minste in hulle mitologiese helde en verhale, ’n paar voorbeelde van deugsaamheid het, bevat die Bybel talle ware voorbeelde.
Die uitsonderlikste voorbeeld van deugsaamheid is Jehovah. Hy tree altyd deugsaam op en doen wat regverdig en goed is. Ons kan deugsaamheid aankweek deur “navolgers van God” te word (Efesiërs 5:1). En God se Seun, Jesus Christus, ‘het vir ons ’n voorbeeld gelaat sodat ons sy voetstappe noukeurig kan volg’ (1 Petrus 2:21). Daarbenewens bevat die Bybel verslae van talle getroue individue, soos Abraham, Sara, Josef, Rut, Job en Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle. Ons moet ook nie die voorbeelde van deugsaamheid onder hedendaagse knegte van Jehovah oor die hoof sien nie.
Ons kán dit doen
Kan ons werklik doen wat deugsaam is in God se oë? Omdat ons onvolmaaktheid geërf het, is dit moontlik dat daar met tye ’n hewige stryd tussen die verstand en die vlees sal wees—tussen ’n begeerte om te doen wat deugsaam is en om ons sondige neigings te volg (Romeine 5:12; 7:13-23). Maar ons kan die stryd wen met God se hulp (Romeine 7:24, 25). Jehovah het sy Woord en Bybelpublikasies voorsien. Deur ’n ernstige studie van die Skrif te maak en biddend daaroor te peins, kan ons rein van hart word. Uit so ’n rein hart kan deugsame gedagtes, woorde en dade voortkom (Lukas 6:45). Ons kan op grond van die voorbeelde van Jehovah God en Jesus Christus ’n godvrugtige persoonlikheid ontwikkel. En ons kan beslis baie leer by individue wat God vandag getrou dien.
Die apostel Paulus het sy lesers aangespoor om ‘aan te hou’ om deug en ander lofwaardige sake “te bedink”. As ons dit doen, sal dit ongetwyfeld God se seën meebring (Filippense 4:8, 9). Met Jehovah se hulp kán ons deugsaamheid aankweek.
[Prent op bladsy 6]
Maak bepeinsing ’n deel van jou Bybelstudie
[Prent op bladsy 7]
Ontwikkel ’n godvrugtige persoonlikheid deur Christus Jesus na te volg