Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w01 11/15 bl. 10-15
  • Jehovah toon ons hoe om ons dae te tel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah toon ons hoe om ons dae te tel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah—ons “ware woonplek”
  • Jehovah is altyd daar vir ons
  • Jehovah help ons ‘om ons dae te tel’
  • Jehovah se seëninge bring vreugde vir ons mee
  • Laat ons ons dae bly tel
  • Waarom is daar so min tyd?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Glanspunte uit die Derde en Vierde Boek van Psalms
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
w01 11/15 bl. 10-15

Jehovah toon ons hoe om ons dae te tel

“Toon ons hoe om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart kan bekom.”—PSALM 90:12, NW.

1. Waarom is dit gepas om Jehovah te vra om ons te toon hoe ‘om ons dae te tel’?

JEHOVAH GOD is ons Skepper en Lewegewer (Psalm 36:9, NW; Openbaring 4:11). Niemand anders kan ons dus beter toon hoe ons ons lewensjare wyslik kan gebruik nie. Daarom het die psalmis God gepas gesmeek: “Toon ons hoe om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart kan bekom” (Psalm 90:12, NW). Die 90ste Psalm, waar ons hierdie versoek vind, verdien beslis ons sorgvuldige oorweging. Maar kom ons kyk eers na ’n kort oorsig van hierdie Goddelik geïnspireerde lied.

2. (a) Aan wie word Psalm 90 toegeskryf, en wanneer is dit moontlik geskryf? (b) Hoe moet die 90ste Psalm ons beskouing van die lewe beïnvloed?

2 Die opskrif van Psalm 90 (NW) noem dit “’n gebed van Moses, die man van die ware God”. Aangesien hierdie psalm die kortstondigheid van menselewe beklemtoon, is dit heel waarskynlik geskryf ná die Israeliete se bevryding uit slawerny in Egipte en tydens hulle 40 jaar lange trek deur die wildernis, toe die dood van duisende ’n einde gemaak het aan ’n ontroue geslag (Numeri 32:9-13). Hoe dit ook al sy, Psalm 90 toon dat die lewe van onvolmaakte mense kort is. Dit is derhalwe duidelik dat ons ons kosbare dae wyslik moet gebruik.

3. Waaroor handel Psalm 90?

3 In Psalm 90 identifiseer verse 1 tot 6 Jehovah as ons ewige woonplek. Verse 7 tot 12 toon wat ons nodig het om ons vlietende lewensjare op ’n manier te gebruik wat vir hom aanneemlik is. En soos in verse 13 tot 17 getoon word, is dit ons opregte begeerte om Jehovah se liefderyke goedhartigheid en seën te ontvang. Hierdie psalm voorspel natuurlik nie wat ons as Jehovah se knegte persoonlik sal deurmaak nie. Nietemin moet ons die gedagtes in hierdie gebed ter harte neem. Laat ons Psalm 90 dus van naderby beskou deur die oë van persone wat aan God toegewy is.

Jehovah—ons “ware woonplek”

4-6. Hoe is Jehovah vir ons “’n ware woonplek”?

4 Die psalmis begin met die woorde: “O Jehovah, u was vir ons ’n ware woonplek van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is, of u die aarde en die vrugbare land voortgebring het asof met geboortepyne, ja, van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd is u God [of, die Goddelike Wese].”—Psalm 90:1, 2, NW, voetnoot.

5 Vir ons is “die ewige God”, Jehovah, “’n ware woonplek”—’n geestelike toevlug (Romeine 16:26). Ons voel veilig, want hy is altyd daar om ons te help as die “Hoorder van die gebed” (Psalm 65:3). Omdat ons ons sorge op ons hemelse Vader werp deur middel van sy geliefde Seun, ‘bewaak die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, ons harte en verstandelike vermoëns’.—Filippense 4:6, 7; Matteus 6:9; Johannes 14:6, 14.

6 Ons geniet geestelike veiligheid omdat Jehovah, figuurlik gesproke, vir ons “’n ware woonplek” is. Hy voorsien ook “binnekamers”—wat waarskynlik ten nouste verband hou met die gemeentes van sy volk—as geestelike toevlugsoorde, waar liefdevolle herders grootliks bydra tot ons gevoel van veiligheid (Jesaja 26:20; 32:1, 2; Handelinge 20:28, 29). Party van ons behoort boonop tot families wat ’n lang geskiedenis van diens aan God het en ons het persoonlik gevind dat hy “’n ware woonplek van geslag tot geslag” is.

7. In watter sin is die berge “gebore” en die aarde asof met “geboortepyne” voortgebring?

7 Jehovah het bestaan voordat die berge “gebore” is of die aarde asof met “geboortepyne” voortgebring is. Uit ’n menslike oogpunt gesien, moes dit ’n ontsaglike taak gewees het om hierdie aarde met al sy kenmerke, chemiese prosesse en ingewikkelde meganismes te skep. En deur te sê dat die berge “gebore” is en dat die aarde asof met “geboortepyne” voortgebring is, toon die psalmis groot agting vir al die harde werk van Jehovah toe hy hierdie dinge geskep het. Behoort ons nie dieselfde agting en waardering vir die Skepper se handewerk te hê nie?

Jehovah is altyd daar vir ons

8. Wat word bedoel met die woorde dat Jehovah “van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd” God is?

8 “Ja, van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd is u God”, het die psalmis gesing. “Onbepaalde tyd” kan verwys na dinge wat ’n einde het, maar waarvan die tydsduur nie spesifiek aangedui is nie (Exodus 31:16, 17, NW; Hebreërs 9:15). In Psalm 90:2 (NW) en op ander plekke in die Hebreeuse Geskrifte beteken “onbepaalde tyd” egter “vir ewig” (Prediker 1:4). Ons verstand kan nie begryp hoe dit moontlik is dat God altyd bestaan het nie. Maar Jehovah het geen begin gehad en hy sal geen einde hê nie (Habakuk 1:12, NW). Hy sal altyd lewe en gereed wees om ons te help.

9. Waarmee stel die psalmis duisend jaar van mensebestaan gelyk?

9 Die psalmis is geïnspireer om duisend jaar van mensebestaan gelyk te stel met ’n baie kort tydperk in die ewige Skepper se bestaan. Hy het sy woorde tot God gerig en geskryf: “U laat die sterflike mens tot stof terugkeer, en u sê: ‘Keer terug, o mensekinders.’ Want duisend jaar is in u oë net soos gister wanneer dit verby is, en soos ’n nagwaak.”—Psalm 90:3, 4, NW.

10. Hoe laat God die mens “tot stof terugkeer”?

10 Die mens is sterflik, en God laat hom “tot stof terugkeer”. Jehovah sê as ’t ware: ‘Keer terug tot die stof van die aarde waaruit jy geskep is’ (Genesis 2:7; 3:19). Dit geld vir almal—sterkes of swakkes, rykes of armes—want geen onvolmaakte mens ‘kan ooit selfs ’n broer loskoop of aan God ’n losprys vir hom gee sodat hy vir ewig sou lewe nie’ (Psalm 49:6-9, NW). Maar hoe dankbaar is ons tog dat ‘God sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, die ewige lewe kan hê’!—Johannes 3:16; Romeine 6:23.

11. Waarom kan ons sê dat ’n lang tyd vir ons, baie kort vir God is?

11 Uit Jehovah se oogpunt het selfs die 969-jarige Metusalag minder as ’n dag gelewe (Genesis 5:27). Vir God is duisend jaar net soos gister—’n tydperk van slegs 24 uur—wanneer dit verby is. Die psalmis wys ook daarop dat duisend jaar vir God soos die vier uur lange nagwaak van ’n skildwag by ’n kamp is (Rigters 7:19). Dit is dan duidelik dat ’n lang tyd vir ons, baie kort vir die ewige God, Jehovah, is.

12. Hoe word mense deur God “weggevee”?

12 In teenstelling met God se ewige bestaan is menselewe vandag inderdaad kort. Die psalmis sê: “U het hulle weggevee; hulle word ’n blote slaap; in die oggend is hulle net soos groen gras wat verander. In die oggend bring dit bloeisels voort en sal dit verander; in die aand verwelk dit, en dit verdroog beslis” (Psalm 90:5, 6, NW). Moses het gesien hoe duisende Israeliete in die wildernis sterf, deur God “weggevee” word soos in ’n vloed. Hierdie deel van die psalm is al soos volg vertaal: “U vee mense weg in die doodslaap” (New International Version). Aan die ander kant is die lewensduur van onvolmaakte mense so kort soos “’n blote slaap”—vergelykbaar met net een nag se slaap.

13. Hoe is ons “net soos groen gras”, en hoe moet dit ons denke beïnvloed?

13 Ons is ‘net soos groen gras wat in die oggend bloeisels voortbring’, maar teen die aand verwelk het weens die son se skroeiende hitte. Ja, ons lewe is so kortstondig soos gras wat in net een dag verwelk. Laat ons dan nie so ’n kosbare gawe verkwis nie. Ons moet God eerder vra om ons te toon hoe ons ons oorblywende jare in hierdie stelsel van dinge moet gebruik.

Jehovah help ons ‘om ons dae te tel’

14, 15. Hoe is Psalm 90:7-9 ten opsigte van die Israeliete vervul?

14 Wat God betref, sê die psalmis verder: “Ons het aan ons einde gekom in u toorn, en deur u woede is ons ontstel. U het ons oortredings reg voor u gestel, ons verborge dinge voor u glansende aangesig. Want al ons dae het tot ’n einde begin kom in u grimmigheid; ons het ons jare voleindig net soos ’n fluistering.”—Psalm 90:7-9, NW.

15 Ontroue Israeliete ‘het aan hulle einde gekom in God se toorn’. Hulle is ‘deur sy woede ontstel’, of ‘deur sy grimmigheid verskrik’ (AB). Party is as gevolg van Goddelike oordele “in die wildernis neergevel” (1 Korintiërs 10:5). Jehovah het ‘hulle oortredings reg voor hom gestel’. Hy het hulle tot verantwoording geroep vir hulle openlike sondes, maar selfs hulle “verborge dinge”, of verborge sondes, was ‘voor sy glansende aangesig’ (Spreuke 15:3). As voorwerpe van God se grimmigheid het die onberouvolle Israeliete ‘hulle jare net soos ’n fluistering voleindig’. Ook ons eie kort lewensduur is soos ’n asemtog wat as ’n blote fluistering oor ons lippe gaan.

16. Wat moet iemand doen as hy in die geheim sonde beoefen?

16 As enigeen van ons in die geheim sonde beoefen, sal ons dalk ’n tyd lank sulke gedrag vir ander mense kan wegsteek. Maar ons verborge oortreding sal ‘voor Jehovah se glansende aangesig’ wees, en ons dade sal ons verhouding met hom skaad. As ons weer ’n intieme verhouding met Jehovah wil opbou, sal ons moet bid vir sy vergifnis, ons oortredings moet laat staan en met dankbaarheid die geestelike hulp van Christen- ouer manne moet aanvaar (Spreuke 28:13; Jakobus 5:14, 15). Hoeveel beter sal dít tog wees as om moontlik ‘ons jare net soos ’n fluistering te voleindig’, met ons hoop op ewige lewe in gevaar!

17. Wat is die tipiese lewensduur van mense oor die algemeen, en waardeur word dit gekenmerk?

17 Aangaande die lewensduur van onvolmaakte mense sê die psalmis: “Die dae van ons jare is op sigself sewentig jaar; en as dit weens besondere krag tagtig jaar is, is dit nietemin vol moeite en skadelike dinge; want gou sal dit verbygaan, en ons vlieg daarheen” (Psalm 90:10, NW). Die tipiese lewensduur van mense is oor die algemeen 70 jaar, en op 85 het Kaleb na sy buitengewone krag verwys. Daar was uitsonderings, soos Aäron (123), Moses (120) en Josua (110) (Numeri 33:39; Deuteronomium 34:7; Josua 14:6, 10, 11; 24:29). Maar van die ontroue geslag wat uit Egipte gekom het, het al die geteldes van 20 jaar en ouer binne 40 jaar gesterf (Numeri 14:29-34). Vandag bly die algemene lewensduur van mense in baie lande binne die tydsbestek wat die psalmis genoem het. Ons jare word gekenmerk deur “moeite en skadelike dinge”. Dit gaan gou verby, “en ons vlieg daarheen”.—Job 14:1, 2.

18, 19. (a) Wat beteken dit om “ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart kan bekom”? (b) Wat sal ons beweeg word om te doen as ons wysheid aan die dag lê?

18 Die psalmis sing verder: “Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid ooreenkomstig die vrees vir u? Toon ons hoe om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart kan bekom” (Psalm 90:11, 12, NW). Nie een van ons weet presies wat die sterkte van God se toorn of die omvang van sy grimmigheid is nie, en dit behoort ons eerbiedige vrees vir Jehovah te vergroot. Dit moet ons in werklikheid beweeg om hom te vra “hoe [ons] ons dae so [kan] tel dat ons ’n wyse hart kan bekom”.

19 Die psalmis se woorde is ’n gebed dat Jehovah sy knegte moet leer hoe om wysheid aan die dag te lê deur hulle oorblywende dae te waardeer en dit te gebruik op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra. ’n Lewensverwagting van 70 jaar bied die vooruitsig op ongeveer 25 500 dae. Maar ongeag hoe oud ons is, ‘ons weet nie wat ons lewe môre sal wees nie, want ons is ’n mis wat vir ’n klein rukkie verskyn en dan verdwyn’ (Jakobus 4:13-15). Aangesien ‘tyd en onvoorsiene gebeurtenisse ons almal tref’, kan ons nie sê hoeveel langer ons nog sal lewe nie. Laat ons derhalwe bid vir wysheid om beproewinge die hoof te bied, om ander reg te behandel en om nóú—vandag—ons bes in Jehovah se diens te doen! (Prediker 9:11, NW; Jakobus 1:5-8). Jehovah lei ons deur middel van sy Woord, sy gees en sy organisasie (Matteus 24:45-47; 1 Korintiërs 2:10; 2 Timoteus 3:16, 17). As ons wysheid aan die dag lê, sal ons beweeg word om ‘eers God se Koninkryk te soek’ en om ons dae só te gebruik dat dit Jehovah verheerlik en sy hart verbly (Matteus 6:25-33; Spreuke 27:11). Dit sal natuurlik nie al ons probleme uit die weg ruim as ons hom met ons hele hart aanbid nie, maar dit lei beslis tot groot vreugde.

Jehovah se seëninge bring vreugde vir ons mee

20. (a) In watter sin voel God “spyt”? (b) Hoe sal Jehovah met ons handel as ons ernstig sondig maar ware berou toon?

20 Hoe wonderlik sou dit tog wees as ons deur die res van ons lewe heen vreugdevol kon wees! Moses smeek in dié verband: “Keer tog terug, o Jehovah! Hoe lank sal dit wees? En voel spyt oor u knegte. Versadig ons in die oggend met u liefderyke goedhartigheid [of “lojale liefde”], sodat ons met vreugde kan uitroep en bly kan wees gedurende al ons dae” (Psalm 90:13, 14, NW; voetnoot). God begaan nie foute nie. Tog ‘voel hy spyt’ en ‘keer hy terug’ van sy toorn en die voltrekking van straf wanneer sy waarskuwing oor sy voorneme om op te tree, ’n verandering in die gesindheid en gedrag van berouvolle oortreders teweegbring (Deuteronomium 13:17). Selfs as ons ernstig sondig maar ware berou toon, sal Jehovah ons ‘met sy liefderyke goedhartigheid versadig’, en ons sal rede hê om ‘met vreugde uit te roep’ (Psalm 32:1-5). En as ons ’n regverdige weg volg, sal ons bewus wees van God se lojale liefde vir ons en sal ons “bly kan wees gedurende al ons dae”—ja, vir die res van ons lewe.

21. Wat het Moses moontlik gevra, volgens sy woorde in Psalm 90:15, 16?

21 Die psalmis bid ernstig: “Gee ons vreugde ooreenkomstig die dae waarin u ons geteister het, die jare waarin ons rampspoed gesien het. Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u prag oor hulle kinders” (Psalm 90:15, 16, NW). Moses het God moontlik gevra om Israel te seën met vreugde wat gelyk was aan, of so lank geduur het soos, hulle dae van teistering en die jare waartydens hulle rampspoed ervaar het. Hy het gevra dat God se “werk”, naamlik om die Israeliete te seën, duidelik moet word vir Sy knegte en dat Sy prag geopenbaar moet word oor hulle kinders, of nageslag. Ons kan gepas bid dat seëninge op gehoorsame mense in God se beloofde nuwe wêreld uitgestort moet word.—2 Petrus 3:13.

22. Waarvoor kan ons tereg bid volgens Psalm 90:17?

22 Psalm 90 sluit af met hierdie versoek: “Laat die lieflikheid van Jehovah ons God oor ons wees, en bevestig tog die werk van ons hande stewig oor ons. Ja, die werk van ons hande, bevestig dit tog stewig” (Psalm 90:17, NW). Hierdie woorde toon dat ons tereg tot God kan bid om ons pogings in sy diens te seën. As gesalfde Christene of hulle metgeselle, die “ander skape”, verheug ons ons dat “die lieflikheid van Jehovah” op ons rus (Johannes 10:16). Hoe bly is ons tog dat God “die werk van ons hande” as Koninkryksverkondigers en in ander opsigte ‘stewig bevestig’ het!

Laat ons ons dae bly tel

23, 24. Hoe kan bepeinsing oor die 90ste Psalm ons tot voordeel strek?

23 Bepeinsing oor die 90ste Psalm behoort ons in groter mate op Jehovah, ons “ware woonplek”, te laat steun. As ons nadink oor die woorde omtrent die kortstondigheid van die lewe, behoort dit ons nog meer bewus te maak van die feit dat ons God se leiding nodig het om ons dae te tel. En as ons daarin volhard om godvrugtige wysheid na te streef en aan die dag te lê, sal ons sekerlik Jehovah se liefderyke goedhartigheid en seën ontvang.

24 Jehovah sal voortgaan om ons te toon hoe om ons dae te tel. En as ons ag gee op sy onderrigting, sal ons ons dae tot in alle ewigheid kan aanhou tel (Johannes 17:3). Maar as ons ons oë op die ewige lewe gerig wil hou, moet Jehovah ons toevlug wees (Judas 20, 21). Soos ons in die volgende artikel sal sien, word hierdie punt baie duidelik gemaak in die bemoedigende woorde van die 91ste Psalm.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe is Jehovah vir ons “’n ware woonplek”?

• Waarom kan ons sê dat Jehovah altyd gereed is om ons te help?

• Hoe help Jehovah ons ‘om ons dae te tel’?

• Wat stel ons in staat om ‘gedurende al ons dae bly te wees’?

[Prent op bladsy 10]

Jehovah was God “voordat die berge gebore is”

[Prent op bladsy 12]

Uit Jehovah se oogpunt het die 969-jarige Metusalag minder as ’n dag gelewe

[Prente op bladsy 14]

Jehovah het ‘die werk van ons hande stewig bevestig’

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel