Leer jouself en ander Christelike sedelikheid
“Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie?”—ROMEINE 2:21.
1, 2. Watter redes het jy om die Bybel te bestudeer?
JY HET baie redes om God se Woord te bestudeer. Jy wil waarskynlik weet watter feite dit bevat—oor mense, gebeure, plekke en ander dinge. Jy wil weet wat leerstellige waarheid is, in teenstelling met godsdiensleuens soos die Drie-eenheid of die helse vuur (Johannes 8:32). Jy behoort ook die begeerte te hê om Jehovah beter te leer ken sodat jy meer soos hy kan wees en in regskapenheid voor hom kan wandel.—1 Konings 15:4, 5.
2 ’n Verwante en belangrike rede om die Woord van God te bestudeer, is om jou toe te rus om ander te leer—jou dierbares, kennisse en selfs mense wat jy dalk nog nie ken nie. Ware Christene is verplig om dit te doen. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.
3, 4. Waarom is dit iets eerbaars as jy ander leer soos Jesus beveel het?
3 Bybelstudie met ’n begeerte om ander te leer, is iets eerbaars en kan ’n bron van blywende bevrediging wees. Die onderwys word al lank as ’n eerbare beroep beskou. Die Encarta Encyclopedia sê: “Onder die Jode het baie volwassenes onderwysers as die gidse na redding beskou en kinders aangespoor om hulle onderwysers selfs meer as hulle ouers te eer.” Dit is veral iets eerbaars as Christene hulleself deur Bybelstudie leer en ander dan leer.
4 “Daar is meer mense in die onderwys as in enige ander beroep. Sowat 48 miljoen mans en vroue oor die hele wêreld is onderwysers” (The World Book Encyclopedia). Jeugdiges se verstande word toevertrou aan ’n onderwyser wat hulle nog baie jare kan beïnvloed. Die gevolg is selfs verreikender wanneer jy Jesus se bevel gehoorsaam om ander te leer; jy kan hulle ewige toekoms beïnvloed. Die apostel Paulus het dit beklemtoon toe hy Timoteus aangespoor het: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Ja, jou onderrigting hou met redding verband.
5. Waarom is Christelike onderrigting die heel beste onderrigting?
5 Onderrigting van jouself en dan van ander word deur die hoogste Bron, die Soewerein van die heelal, gemagtig en gerig. Dít op sigself verhef hierdie soort onderrigting bo enige onderrigting van sekulêre aard, hetsy dit in skoolvakke, werksvaardighede of selfs op mediese vakgebiede is. Christelike onderrigting behels dat die student leer om self God se Seun, Christus Jesus, na te volg en dat hy ander leer om dit ook te doen.—Johannes 15:10.
Waarom moet jy jouself leer?
6, 7. (a) Waarom moet ons eers onsself leer? (b) In watter opsig het eerste-eeuse Jode as onderrigters te kort geskiet?
6 Waarom word daar gesê dat ons eers onsself moet leer? Wel, ons kan ander nie behoorlik leer as ons nie eers onsself geleer het nie. Paulus het hierdie feit beklemtoon in ’n gedagteprikkelende gedeelte wat destyds vir Jode van groot betekenis was, maar wat vir Christene van vandag ook ’n belangrike boodskap bevat. Paulus het gevra: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie? Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy? Jy, die een wat sê: ‘Moenie egbreuk pleeg nie’, pleeg jy egbreuk? Jy, die een wat te kenne gee dat jy ’n afsku van die afgode het, beroof jy tempels? Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God oneer aan deur jou oortreding van die Wet?”—Romeine 2:21-23.
7 Deur retoriese vrae het Paulus verwys na twee oortredings wat duidelik in die Tien Gebooie genoem word: Moenie steel nie en moenie egbreuk pleeg nie (Eksodus 20:14, 15). Sommige Jode in Paulus se tyd was trots daarop dat hulle God se Wet gehad het. Hulle ‘is mondeling uit die Wet onderrig en was daarvan oortuig dat hulle gidse vir die blindes is en ’n lig vir dié in duisternis, leermeesters van klein kindertjies’ (Romeine 2:17-20). Maar party was huigelaars omdat hulle in die geheim gesteel of egbreuk gepleeg het. Dit het die Wet sowel as die Bron daarvan in die hemel oneer aangedoen. Jy kan sien dat hulle beslis nie in staat was om ander te leer nie; hulle het in werklikheid nie eers hulleself geleer nie.
8. Hoe het party Jode in Paulus se tyd moontlik ‘tempels beroof’?
8 Paulus het gepraat van tempels wat beroof is. Het party Jode dit letterlik gedoen? Wat het Paulus in gedagte gehad? Om eerlik te wees, weens die beperkte inligting in hierdie gedeelte kan ons nie met sekerheid sê hoe party Jode ‘tempels beroof’ het nie. Vroeër het die stadskrywer van Efese gesê dat Paulus se metgeselle nie “tempelrowers” is nie, wat daarop dui dat ten minste party mense gedink het dat Jode hiervan beskuldig kon word (Handelinge 19:29-37). Het hulle kosbare voorwerpe wat veroweraars of godsdiensyweraars uit heidense tempels geroof het, self gebruik of daaruit wins gemaak? Volgens God se Wet moes die goud en silwer van afgode vernietig word, en nie vir persoonlike gebruik geneem word nie (Deuteronomium 7:25).a Paulus kon dus gesinspeel het op Jode wat God se gebod verontagsaam het en voorwerpe wat uit heidense tempels gekom het, gebruik of daaruit wins gemaak het.
9. Watter verkeerde gebruike in verband met die tempel in Jerusalem was dalk dieselfde as om die tempel te beroof?
9 Daarenteen het Josefus vertel dat vier Jode, waarvan die leier ’n leermeester van die Wet was, in Rome opspraak verwek het. Hierdie vier het ’n Romeinse vrou, ’n Joodse proseliet, oorreed om goud en ander kosbaarhede as ’n bydrae vir die tempel in Jerusalem aan hulle te gee. Nadat hulle dit van haar gekry het, het hulle die rykdom vir hulleself gebruik—dit was asof hulle die tempel beroof het.b Ander het in sekere sin God se tempel beroof deur gebreklike diere as offerandes te bring en ’n hebsugtige handelsgees op die tempelterrein te bevorder, wat die tempel in “’n rowerspelonk” verander het.—Matteus 21:12, 13; Maleagi 1:12-14; 3:8, 9.
Leer Christelike sedelikheid aan ander
10. Watter kern van Paulus se woorde in Romeine 2:21-23 moet ons nie miskyk nie?
10 Ongeag op watter eerste-eeuse gebruike met betrekking tot diefstal, egbreuk en die berowing van tempels Paulus gesinspeel het, ons moenie die kern van sy woorde miskyk nie. Hy het gevra: “Leer jy, die een wat iemand anders leer, dan nie jouself nie?” Dit is opmerkenswaardig dat die voorbeelde wat Paulus genoem het, met sedelikheid verband gehou het. Die apostel het nie hier die aandag op Bybelleerstellings of geskiedenis gevestig nie. Die onderrigting van jouself en van ander waarna Paulus verwys het, het met Christelike sedelikheid verband gehou.
11. Waarom moet jy aan Christelike sedelikheid aandag gee wanneer jy God se Woord bestudeer?
11 As ons die les van Romeine 2:21-23 wil toepas, moet ons Christelike sedelikheid uit God se Woord leer, optree in ooreenstemming met wat ons leer en dan ander leer om dit ook te doen. Wanneer jy die Bybel bestudeer, moet jy dus op die uitkyk wees na gedeeltes wat ’n aanduiding gee van Jehovah se standaarde, waarop ware Christelike sedelikheid gegrond is. Peins oor die raad en die lesse wat jy in die Bybel vind. Pas dan moedig toe wat jy leer. En dit verg beslis moed en vasbeslotenheid om dit te doen. Dit is maklik vir onvolmaakte mense om verskonings uit te dink, redes waarom omstandighede toelaat of selfs vereis dat Christelike sedelikheid in ’n besondere geval verontagsaam word. Miskien was die Jode van wie Paulus gepraat het ervare in hierdie listige redenering met die doel om hulle optrede te regverdig of om ander te mislei. Maar Paulus se woorde toon dat Christelike sedelikheid nie na willekeur geringgeag of verontagsaam moet word nie.
12. Hoe het goeie of slegte gedrag ’n uitwerking op Jehovah God se naam, en waarom is dit goed om hierdie feit in gedagte te hou?
12 Die apostel het die aandag gevestig op ’n hoofrede waarom jy jouself die sedelikheid moet leer wat jy in die Bybel vind, en dit dan moet toepas. Die Jode se slegte gedrag het Jehovah oneer aangedoen: “Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God oneer aan deur jou oortreding van die Wet? Want ‘die naam van God word weens julle onder die nasies gelaster’” (Romeine 2:23, 24). Dit is nou ook die geval dat ons, as ons Christelike sedelikheid verontagsaam, die Bron daarvan oneer aandoen. Daarenteen strek dit God tot eer as ons streng by sy standaarde bly (Jesaja 52:5; Esegiël 36:20). Hierdie wete kan jou meer vasbeslote maak as jy voor versoekings of situasies te staan kom waar dit miskien lyk of dit die maklikste of gerieflikste sal wees om Christelike sedelikheid te verontagsaam. En Paulus se woorde leer ons nog iets. Jy moenie net self weet dat jou gedrag ’n uitwerking op God se naam het nie, maar wanneer jy ander leer, moet jy hulle help om te sien dat die manier waarop hulle die sedelike standaarde wat hulle leer, toepas, ’n uitwerking op Jehovah se naam sal hê. Dit is nie net dat Christelike sedelikheid ’n mens ’n gevoel van tevredenheid gee en jou gesondheid beskerm nie. Dit het ook ’n uitwerking op die naam van die Een wat hierdie standaard van sedelikheid voorsien het en dit voorstaan.—Psalm 74:10; Jakobus 3:17.
13. (a) Hoe help die Bybel ons wanneer dit by sedelikheid kom? (b) Gee die kern van die raad in 1 Tessalonisense 4:3-7.
13 Sedelikheid raak ook ander mense. Jy kan dit sien uit voorbeelde in God se Woord wat toelig hoeveel waarde dit het om God se sedelike standaarde toe te pas en wat die gevolge is as dit verontagsaam word (Genesis 39:1-9, 21; Josua 7:1-25). Jy kan ook reguit raad oor sedelikheid vind, soos: “Dít is die wil van God: julle heiliging, dat julle julle onthou van hoerery; dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry, nie in hebsugtige geslagsdrif soos ook dié nasies het wat God nie ken nie; dat niemand so ver gaan dat hy sy broer skade berokken of inbreuk maak op sy regte in hierdie saak nie, . . . want God het ons nie met toelating vir onreinheid geroep nie, maar in verband met heiliging.”—1 Tessalonisense 4:3-7.
14. Wat kan jy jou afvra oor die raad in 1 Tessalonisense 4:3-7?
14 Feitlik enigeen kan uit hierdie gedeelte sien dat geslagsonsedelikheid in stryd met Christelike sedelikheid is. Maar jy kan dieper as die oppervlak kyk. Party tekste bied geleentheid vir diepgaande studie en bepeinsing, wat tot groter insig lei. Jy kan byvoorbeeld nadink oor wat Paulus bedoel het toe hy gesê het dat hoerery iemand so ver kan laat “gaan dat hy sy broer skade berokken of inbreuk maak op sy regte in hierdie saak”. Watter regte sluit dit in, en hoe sal ’n beter begrip hiervan jou meer vasbeslote maak om Christelike sedelikheid te handhaaf? Hoe kan die resultate van sulke navorsing jou beter toerus om ander te leer en hulle te help om God te eer?
Studeer om te kan onderrig
15. Watter hulpmiddels kan jy gebruik om jouself deur persoonlike studie te leer?
15 Jehovah se Getuies het hulpmiddels wat hulle gebruik om navorsing te doen oor vrae of ander sake wat na vore kom wanneer hulle studeer om hulleself of ander te leer. Een hulpmiddel wat in baie tale verkrygbaar is, is die Watch Tower Publications Index. As dit tot jou beskikking is, kan jy dit gebruik om inligting in die Bybelpublikasies van Jehovah se Getuies op te soek. Jy kan in die lys onderwerpe of in die teksregister soek. Nog ’n hulpmiddel wat in baie hooftale vir Jehovah se Getuies beskikbaar is, is die Watchtower Library. Hierdie rekenaarprogram op CD-ROM bevat ’n groot versameling publikasies in elektroniese vorm. Die program stel ’n mens in staat om navorsing te doen oor onderwerpe en tekste wat al bespreek is. As een of albei van hierdie hulpmiddels tot jou beskikking is, kan jy dit gerus gereeld gebruik wanneer jy God se Woord bestudeer om ander te kan leer.
16, 17. (a) Waar kan jy insiggewende verduidelikings vind van die regte wat in 1 Tessalonisense 4:6 gemeld word? (b) Hoe kan hoerery op ander se regte inbreuk maak?
16 Kom ons neem die voorbeeld wat hierbo genoem word, 1 Tessalonisense 4:3-7. Die vraag oor regte is geopper. Wie se regte? En hoe kan iemand op hierdie regte inbreuk maak? Met die bogenoemde studiehulpe kan jy waarskynlik etlike insiggewende verduidelikings van hierdie verse kry, selfs van die regte wat Paulus gemeld het. Jy kan hierdie verduidelikings lees in Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 863-4; Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?, bladsy 145; Die Wagtoring, 15 November 1989, bladsy 31.
17 Wanneer jy die navorsing doen, sal jy sien dat hierdie publikasies toon hoe waar Paulus se woorde is. ’n Hoereerder sondig teen God en stel homself aan siektes bloot (1 Korintiërs 6:18, 19; Hebreërs 13:4). ’n Man wat hoerery pleeg, maak inbreuk op etlike regte van die vrou met wie hy sondig. Hy ontneem haar ’n skoon gewete en ’n goeie naam wat sedelike reinheid betref. As sy ongetroud is, maak hy inbreuk op haar reg om as ’n maagd in die huwelik te tree en op haar toekomstige man se reg om te verwag dat sy ’n maagd is. Hy doen die vrou se ouers, en haar man as sy getroud is, leed aan. Die onsedelike man skend sy eie familie se reg op ’n goeie naam wat sedelike reinheid betref. As hy ’n lid van ’n Christengemeente is, doen hy dit oneer aan deur die goeie naam daarvan te skaad.—1 Korintiërs 5:1.
18. Hoe vind jy baat by Bybelstudie oor Christelike sedelikheid?
18 Maak dié verduidelikings van regte nie hierdie vers vir jou baie duideliker nie? Hierdie soort navorsing is beslis baie waardevol. Wanneer jy dit doen, leer jy jouself. Jy kry ’n beter begrip van die waaragtigheid en trefkrag van God se boodskap. Jy word meer vasbeslote om Christelike sedelikheid te handhaaf ongeag voor watter versoeking jy dalk te staan kom. En dink hoeveel bekwamer jy as onderrigter kan wees! Terwyl jy Bybelwaarheid aan ander leer, kan jy hulle byvoorbeeld help om insig in 1 Tessalonisense 4:3-7 te verkry, wat hulle ’n beter begrip en groter waardering vir Christelike sedelikheid sal gee. Jou studie kan jou en baie ander dus help om God te eer. En ons het hier maar net een voorbeeld gemeld, uit Paulus se brief aan die Tessalonisense. Christelike sedelikheid het baie ander fasette, en daar is natuurlik baie ander Bybelvoorbeelde en raad hieroor, wat jy kan bestudeer, kan toepas en aan ander kan leer.
19. Waarom is dit noodsaaklik dat jy Christelike sedelikheid handhaaf?
19 Daar kan geen twyfel bestaan oor die wysheid daarvan om dit te doen nie. Jakobus 3:17 sê dat “die wysheid van bo”, van Jehovah God af, “allereers kuis” is. Dit beteken ongetwyfeld dat God se sedelike standaarde gehandhaaf moet word. Trouens, Jehovah verwag dat diegene wat hom verteenwoordig deur ander die Bybel te leer, self goeie voorbeelde “in kuisheid” moet wees (1 Timoteus 4:12). Die lewenswyse van vroeë dissipels soos Paulus en Timoteus bevestig dit; hulle het hulle van onsedelikheid onthou, en Paulus het selfs geskryf: “Laat hoerery en elke soort onreinheid of hebsug nie eens onder julle genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam; ook nie skandelike gedrag of dwase praatjies of onwelvoeglike skertsery nie.”—Efesiërs 5:3, 4.
20, 21. Waarom stem jy saam met wat die apostel Johannes geskryf het, soos opgeteken in 1 Johannes 5:3?
20 Die sedelike standaarde in God se Woord is duidelik en spesifiek, maar is nie ’n onderdrukkende las nie. Johannes, wat die langslewende apostel was, het dit besef. Op grond van wat hy oor dekades van sy lewe waargeneem het, het hy geweet dat Christelike sedelikheid nie skadelik is nie. Inteendeel, dit is heilsaam, voordelig, ’n seën. Johannes het dit beklemtoon en geskryf: “Dít is die liefde vir God: dat ons sy gebooie bewaar. En sy gebooie is nie ’n swaar las op ons nie.”—1 Johannes 5:3, New English Translation.
21 Maar let daarop dat Johannes gehoorsaamheid aan God deur Christelike sedelikheid nie net as die beste weg aanbeveel het omdat ons daardeur probleme, die slegte gevolge van ongehoorsaamheid, vermy nie. Hy het getoon wat die regte beskouing van sake is deur eers te erken dat dit ’n blyk van ons liefde vir Jehovah God is, ’n kosbare geleentheid om ons liefde vir hom te toon. As ons onsself of ander wil leer om God lief te hê, moet ons beslis sy verhewe standaarde aanvaar en toepas. Ja, dit beteken dat ons onsself en ook ander Christelike sedelikheid moet leer.
[Voetnote]
a Hoewel Josefus die Jode as vry van ontheiliging uitgebeeld het, het hy God se wet soos volg gestel: “Laat niemand die gode laster wat deur ander stede vereer word, of heidense tempels beroof of skatte neem wat in die naam van enige god toegewy is nie.” (Ons kursiveer.)—Jewish Antiquities, Boek 4, hoofstuk 8, paragraaf 10.
b Jewish Antiquities, Boek 18, hoofstuk 3, paragraaf 5.
Onthou jy?
• Waarom moet ons studeer om onsself te leer voordat ons ander leer?
• Hoe kan ons gedrag ’n uitwerking op Jehovah se naam hê?
• Op wie se regte maak ’n hoereerder moontlik inbreuk?
• Wat is jou vaste voorneme wat Christelike sedelikheid betref?
[Prent op bladsy 22]
“Sy gebooie is nie ’n swaar las op ons nie”