“Hou aan waak”!
“Wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak.”—MARKUS 13:37.
1, 2. (a) Watter les het ’n man geleer oor die bewaring van sy besittings? (b) Wat leer ons oor waaksaamheid uit Jesus se illustrasie van ’n dief?
JUAN het sy kosbare items by die huis gehou. Hy het dit onder sy bed gebêre—na sy mening die veiligste plek in die huis. Maar een aand, terwyl hy en sy vrou geslaap het, het ’n dief in hulle slaapkamer ingekom. Blykbaar het die dief presies geweet waar om te soek. Hy het stilletjies elke kosbare item onder die bed uitgehaal, asook die geld wat Juan in die bedkassie se laai gesit het. Die volgende oggend het Juan die diefstal ontdek. Hy sal die pynlike les wat hy geleer het, nog lank onthou: ’n Slapende man kan nie sy besittings oppas nie.
2 Dieselfde geld in geestelike sin. Ons kan nie ons hoop en ons geloof bewaar as ons aan die slaap raak nie. Daarom gee Paulus die vermaning: “Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly” (1 Tessalonisense 5:6). Om te toon hoe noodsaaklik dit is om wakker te bly, het Jesus die illustrasie van ’n dief gebruik. Hy het die gebeure beskryf wat sy koms as Regter sou voorafgaan, en toe gewaarsku: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie. Maar een ding moet julle weet: as die huisheer geweet het in watter waak die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matteus 24:42-44). ’n Dief laat mense nie vooraf weet wanneer hy kom nie. Hy hoop om te kom wanneer niemand hom verwag nie. Soos Jesus gesê het, sal die einde van hierdie stelsel eweneens kom ‘op ’n uur waarvan ons dit nie dink nie’.
“Bly wakker, staan vas in die geloof”
3. Hoe het Jesus die illustrasie gebruik van die slawe wat wag dat hulle heer van ’n huweliksfees af terugkeer, om te toon dat dit belangrik is om wakker te bly?
3 In die Evangelie van Lukas het Jesus Christene met slawe vergelyk wat wag dat hulle heer van ’n huweliksfees af terugkeer. Hulle moet waaksaam bly sodat hulle met sy aankoms wakker is, gereed om hom te ontvang. Jesus het eweneens gesê: “Die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle dit nie waarskynlik ag nie” (Lukas 12:40). Party wat Jehovah al baie jare lank dien, verloor dalk hulle gevoel van dringendheid ten opsigte van die tye waarin ons lewe. Hulle kan selfs tot die slotsom kom dat die einde eintlik nog ver is. Maar sulke denke kan daartoe lei dat ons ons aandag van geestelike dinge afwend en dit op materiële strewes rig, afleidings wat ons geestelik lomerig kan maak.—Lukas 8:14; 21:34, 35.
4. Watter oortuiging sal ons aanspoor om waaksaam te bly, en hoe het Jesus dit getoon?
4 Ons kan nog ’n les uit Jesus se illustrasie leer. Hoewel die slawe nie geweet het op watter uur hulle heer sou kom nie, het hulle blykbaar geweet watter nag dit sou wees. Dit sou moeilik wees om daardie hele nag wakker te bly as hulle gedink het dat hulle heer miskien op ’n ander aand kom. Maar nee, hulle het geweet watter nag hy kom, en dit was vir hulle ’n kragtige aansporing om wakker te bly. Op redelik soortgelyke wyse toon Bybelprofesieë duidelik dat ons in die tyd van die einde lewe; maar dit sê nie vir ons op watter dag of uur die einde sal kom nie (Matteus 24:36). Ons vertroue dat die einde gaan kom, help ons om wakker te bly, maar as ons daarvan oortuig is dat Jehovah se dag werklik baie naby is, sal dit vir ons ’n veel sterker aansporing wees om waaksaam te bly.—Sefanja 1:14.
5. Hoe kan ons reageer op Paulus se vermaning om ‘wakker te bly’?
5 Toe Paulus aan die Korintiërs geskryf het, het hy hulle vermaan: “Bly wakker, staan vas in die geloof” (1 Korintiërs 16:13). Ja, om wakker te bly en om vas te staan in die Christelike geloof, hou dus verband met mekaar. Hoe kan ons wakker bly? Deur ’n dieper kennis van God se Woord te verkry (2 Timoteus 3:14, 15). Goeie persoonlike studiegewoontes en gereelde vergaderingbywoning help om ons geloof te versterk, en ’n belangrike aspek van ons geloof is om Jehovah se dag goed in gedagte te hou. As ons van tyd tot tyd die skriftuurlike bewyse hersien dat ons na aan die einde van hierdie stelsel van dinge lewe, sal dit ons help om nie die belangrike waarhede aangaande daardie komende einde uit die oog te verloor nie.a Dit is ook goed om te let op hoe huidige verwikkelinge in die wêreld Bybelprofesieë vervul. ’n Broer in Duitsland het geskryf: “Elke keer as ek na die nuus kyk—na die oorloë, die aardbewings, die geweld en die besoedeling van ons planeet—besef ek hoe naby die einde moet wees.”
6. Hoe het Jesus toegelig dat ons as mense geneig is om ons geestelike waaksaamheid met verloop van tyd te laat verslap?
6 In Markus hoofstuk 13 vind ons nog ’n verslag waar Jesus sy volgelinge vermaan om wakker te bly. Volgens hierdie hoofstuk vergelyk Jesus hulle situasie met dié van ’n deurwagter wat wag vir sy heer om terug te keer van ’n reis in die buiteland. Die deurwagter het nie geweet op watter uur sy heer sou terugkeer nie. Hy moes net aanhou waak. Jesus het na vier verskillende nagwake verwys waartydens die heer kon kom. Die vierde waak was van omstreeks drie-uur in die oggend tot sonsopkoms. Gedurende daardie laaste nagwaak kon die deurwagter maklik lomerig word. Soldate beskou die uur voor dagbreek blykbaar as die beste tyd om ’n vyand onverhoeds te oorval. Net so voer ons dalk op hierdie laat uur, wanneer die wêreld om ons in geestelike sin vas slaap, ons grootste stryd om wakker te bly (Romeine 13:11, 12). Daarom het Jesus in sy illustrasie herhaaldelik gemaan: “Bly op die uitkyk, bly wakker . . . Hou dus aan waak . . . Wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak.”—Markus 13:32-37.
7. Watter wesenlike gevaar bestaan daar, en watter aansporing vind ons gevolglik dikwels in die Bybel?
7 Jesus het sy volgelinge dikwels gedurende sy bediening en ná sy opstanding gemaan om waaksaam te bly. Trouens, byna elke keer dat die Skrif na die einde van hierdie stelsel van dinge verwys, vind ons die waarskuwing om wakker te bly of aan te hou waak (Lukas 12:38, 40; Openbaring 3:2; 16:14-16).b Dit is duidelik dat geestelike lomerigheid ’n wesenlike gevaar is. Ons almal het daardie waarskuwings nodig!—1 Korintiërs 10:12; 1 Tessalonisense 5:2, 6.
Drie apostels wat nie wakker kon bly nie
8. Hoe het drie van Jesus se apostels in die tuin van Getsemane gereageer op sy versoek om aan te hou waak?
8 Dit vereis meer as net goeie bedoelings om wakker te bly, soos ons uit die voorbeeld van Petrus, Jakobus en Johannes kan sien. Hulle was drie geestelikgesinde manne wat Jesus lojaal gevolg en innige geneentheid vir hom gehad het. Nietemin het hulle op die aand van 14 Nisan 33 G.J. versuim om wakker te bly. Nadat hulle die bovertrek verlaat het waar hulle die Pasga gevier het, het die drie apostels saam met Jesus na die tuin van Getsemane gegaan. Daar het Jesus vir hulle gesê: “My siel is diep bedroef, ja, tot die dood toe. Bly hier en hou aan om saam met my te waak” (Matteus 26:38). Jesus het drie keer vurig tot sy hemelse Vader gebid en drie keer na sy vriende teruggekeer, maar hulle aan die slaap gevind.—Matteus 26:40, 43, 45.
9. Wat het waarskynlik tot die apostels se lomerigheid bygedra?
9 Waarom het hierdie getroue manne Jesus daardie nag teleurgestel? Fisiese moegheid was ’n faktor. Dit was al laat, moontlik ná middernag, en “hulle oë was swaar” van die slaap (Matteus 26:43). Nogtans het Jesus gesê: “Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.”—Matteus 26:41.
10, 11. (a) Wat het Jesus in die tuin van Getsemane gehelp om aan te hou waak, al was hy uitgeput? (b) Wat kan ons leer uit wat met die drie apostels gebeur het toe Jesus hulle gevra het om aan te hou waak?
10 Jesus was ongetwyfeld ook moeg op daardie geskiedkundige nag. Hy het egter nie aan die slaap geraak nie, maar eerder daardie laaste belangrike oomblikke van vryheid gebruik om vurig te bid. ’n Paar dae vroeër het hy sy volgelinge aangespoor om te bid en gesê: “Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36; Efesiërs 6:18). As ons op Jesus se raad ag slaan en sy goeie voorbeeld navolg wat gebed betref, sal ons hartgrondige smeekbedes tot Jehovah ons help om geestelik wakker te bly.
11 Jesus het natuurlik besef dat hy binnekort in hegtenis geneem en tot die dood veroordeel sou word—iets wat sy dissipels op daardie stadium nie verstaan het nie. Sy beproewinge sou ’n pynlike klimaks aan die folterpaal bereik. Jesus het sy apostels hieroor gewaarsku, maar hulle het nie verstaan wat hy gesê het nie. Gevolglik het hulle aan die slaap geraak terwyl hy wakker gebly het om te bid (Markus 14:27-31; Lukas 22:15-18). Soos met die apostels die geval was, is ons vlees ook swak en is daar dinge wat ons nog nie weet nie. Maar as ons die dringendheid van die tye waarin ons lewe, uit die oog verloor, kan ons in geestelike sin aan die slaap raak. Slegs as ons waaksaam is, sal ons wakker bly.
Drie noodsaaklike eienskappe
12. Watter drie eienskappe sal volgens Paulus ons help om nugter van verstand te bly?
12 Hoe kan ons ons gevoel van dringendheid behou? Ons het reeds gesien hoe belangrik dit is om te bid en Jehovah se dag in gedagte te hou. Verder meld Paulus drie noodsaaklike eienskappe wat ons moet aankweek. Hy sê: “Wat ons betref wat tot die dag behoort, laat ons nugter van verstand bly en die borsplaat van geloof en liefde aanhê en as ’n helm die hoop op redding” (1 Tessalonisense 5:8). Kom ons kyk kortliks na die rol wat geloof, hoop en liefde daarin speel om geestelik wakker te bly.
13. Hoe help geloof ons om waaksaam te bly?
13 Ons moet onwankelbare geloof hê dat Jehovah bestaan en dat “hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Die aanvanklike, eerste-eeuse vervulling van Jesus se profesie oor die einde versterk ons geloof in die grotere vervulling gedurende ons tyd. En ons geloof laat ons in gretige afwagting bly van Jehovah se dag, vol vertroue dat “[die profetiese visioen] vir seker [sal] uitkom. Dit sal nie laat wees nie.”—Habakuk 2:3.
14. Waarom is hoop noodsaaklik as ons wakker wil bly?
14 Ons vaste hoop is soos “’n anker vir die siel” wat ons in staat stel om moeilikhede te verduur, selfs al moet ons wag op die gewisse vervulling van God se beloftes (Hebreërs 6:18, 19). Margaret, ’n geesgesalfde suster in haar negentigerjare wat meer as 70 jaar gelede gedoop is, erken: “Toe my man in 1963 op sterwe gelê het weens kanker, het ek gedink dat dit wonderlik sou wees as die einde gou kom. Maar nou besef ek dat ek hoofsaaklik aan my eie belange gedink het. Ons het destyds geen idee gehad in watter mate die werk regoor die wêreld sou uitbrei nie. Daar is selfs vandag nog baie plekke waar daar nou eers met die werk begin is. Ek is dus bly dat Jehovah geduldig was.” Die apostel Paulus verseker ons: “Volharding [bring] ’n goedgekeurde toestand [voort]; die goedgekeurde toestand weer hoop, en die hoop lei nie tot teleurstelling nie.”—Romeine 5:3-5.
15. Hoe sal liefde ons beweeg, selfs as dit lyk of ons al lank wag?
15 Christelike liefde is ’n voortreflike eienskap omdat dit die onderliggende beweegrede is vir alles wat ons doen. Ons dien Jehovah omdat ons hom liefhet, ongeag sy tydrooster. Naasteliefde beweeg ons om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, afgesien van hoe lank dit nog God se wil is en hoeveel keer ons nog na dieselfde huise moet teruggaan. Soos Paulus geskryf het: “Nou bly geloof, hoop, liefde, hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Korintiërs 13:13). Liefde help ons om aan te hou en wakker te bly. “[Die liefde] hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie.”—1 Korintiërs 13:7, 8.
“Hou vas wat jy het”
16. Watter gesindheid moet ons eerder aankweek as om die hand te verslap?
16 Ons lewe in betekenisvolle tye waarin wêreldgebeure ons voortdurend daaraan herinner dat ons aan die einde van die laaste dae lewe (2 Timoteus 3:1-5). Nou is nie die tyd om die hand te verslap nie, maar om ‘vas te hou wat ons het’ (Openbaring 3:11). Deur “waaksaam met die oog op gebede” te wees en deur geloof, hoop en liefde aan te kweek, sal ons gereed wees wanneer die uur van beproewing aanbreek (1 Petrus 4:7). Ons het baie om in die werk van die Here te doen. As ons besig bly met dade van godvrugtige toegewydheid, sal dit ons help om wawyd wakker te bly.—2 Petrus 3:11.
17. (a) Waarom moet teleurstellings wat ons nou en dan ondervind, ons nie ontmoedig nie? (Sien die venster op bladsy 21.) (b) Hoe kan ons Jehovah navolg, en watter seën wag op diegene wat dit doen?
17 “Jehovah is my deel”, het Jeremia geskryf, “daarom sal ek ’n wagtende houding teenoor hom inneem. Jehovah is goed vir die een wat op hom hoop, vir die siel wat hom bly soek. Dit is goed dat ’n mens wag, ja, in stilte, op die redding van Jehovah” (Klaagliedere 3:24-26). Party van ons wag nog net ’n kort rukkie. Ander wag al baie jare lank om die redding van Jehovah te sien. Maar hoe kort is hierdie wagtyd tog in vergelyking met die ewigheid wat voorlê! (2 Korintiërs 4:16-18). En terwyl ons op Jehovah se bestemde tyd wag, kan ons belangrike Christelike eienskappe aankweek en ander help om by Jehovah se geduld baat te vind en die waarheid aan te neem. Mag ons almal dan aanhou waak. Laat ons Jehovah navolg en geduldig wees, dankbaar vir die hoop wat hy ons gegee het. En laat ons stewig vashou aan die hoop op die ewige lewe, terwyl ons geestelik waaksaam bly. Dan sal hierdie profetiese beloftes beslis in ons geval waar wees: “[Jehovah] sal jou verhef om die aarde in besit te neem. Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien.”—Psalm 37:34.
[Voetnote]
a Dit sal dalk nuttig wees om die ses bewyse te hersien wat toon dat ons in “die laaste dae” lewe, op bladsy 12-13 van Die Wagtoring van 15 Januarie 2000.—2 Timoteus 3:1.
b Die leksikograaf W. E. Vine verduidelik dat die Griekse werkwoord wat met “bly wakker” vertaal word, letterlik beteken ‘om slaap te verdryf’, en dit “dui nie bloot op ’n wakker toestand nie, maar op die waaksaamheid van diegene wat hulle aandag op iets gerig hou”.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan ons ons oortuiging versterk dat die einde van hierdie stelsel van dinge naby is?
• Wat kan ons leer uit die voorbeelde van Petrus, Jakobus en Johannes?
• Watter drie eienskappe sal ons help om geestelik waaksaam te bly?
• Waarom is dit nou die tyd om ‘vas te hou wat ons het’?
[Venster/Prent op bladsy 21]
“Gelukkig is hy wat in afwagting bly.”—Daniël 12:12
Gestel ’n wag vermoed dat ’n dief van plan is om in te breek by die gebou waar hy waghou. Wanneer dit donker word, spits die wag sy ore vir enige geluid wat kan aandui dat daar ’n inbreker is. Uur na uur span hy sy oë en ore in. Dit is maklik om te sien waarom hy deur ’n vals alarm bedrieg kan word—die geluid van ’n windvlaag deur die bome of ’n kat wat iets omstamp.—Lukas 12:39, 40.
Iets soortgelyks kan gebeur met diegene wat “gretig op die openbaring van ons Here Jesus Christus wag” (1 Korintiërs 1:7). Die apostels het gedink dat Jesus kort ná sy opstanding ‘die koninkryk vir Israel sal herstel’ (Handelinge 1:6). Jare later moes die Christene in Tessalonika daaraan herinner word dat Jesus se teenwoordigheid nog in die toekoms was (2 Tessalonisense 2:3, 8). Nogtans het vals alarms oor die dag van Jehovah nie daartoe gelei dat daardie vroeë volgelinge van Jesus die weg na die lewe verlaat het nie.—Matteus 7:13.
In ons dag moet teleurstelling omdat dit lyk of die einde van hierdie stelsel van dinge nie kom nie, ons nie ons waaksaamheid laat verslap nie. ’n Waaksame wag word dalk deur ’n vals alarm bedrieg, maar hy moet beslis aanhou waak! Dit is sy werk. Dieselfde geld vir Christene.
[Prent op bladsy 18]
Is jy daarvan oortuig dat Jehovah se dag naby is?
[Prente op bladsy 19]
Vergaderinge, gebed en goeie studiegewoontes help ons om aan te hou waak
[Prent op bladsy 22]
Mag ons, soos Margaret, geduldig aanhou waak en besig bly