Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 2/1 bl. 13-18
  • Julle moet “liefde onder mekaar” hê

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Julle moet “liefde onder mekaar” hê
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Doen dit in voller mate’
  • ’n Verlore skaap en ’n verlore muntstuk
  • Verlore maar kosbaar
  • Neem die inisiatief
  • Wees liefdevol
  • Wend ’n ywerige poging aan
  • ‘Julle moet die swakkes help’
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • ‘Staan die swakkes by’
    Sing vir Jehovah
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 2/1 bl. 13-18

Julle moet “liefde onder mekaar” hê

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—JOHANNES 13:35.

1. Watter eienskap het Jesus kort voor sy dood beklemtoon?

“KINDERTJIES” (Johannes 13:33). Met hierdie tere uitdrukking het Jesus sy apostels die aand voor sy dood aangespreek. Ons lees nêrens in die Evangelieverslae dat Jesus ooit tevore hierdie deernisvolle uitdrukking gebruik het terwyl hy met hulle gepraat het nie. Maar op daardie spesiale aand is hy beweeg om hierdie liefdevolle uitdrukking te gebruik om sy innige liefde vir sy volgelinge uit te druk. Trouens, Jesus het daardie aand omtrent 30 keer van liefde gepraat. Waarom het hy hierdie eienskap so beklemtoon?

2. Waarom is dit vir Christene so belangrik om liefde te betoon?

2 Jesus het verduidelik waarom liefde so belangrik is. “Hieraan”, het hy gesê, “sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35; 15:12, 17). Om ’n volgeling van Christus te wees, gaan hand aan hand met die betoning van broederliefde. Ware Christene word nie uitgeken aan spesifieke klere of ongewone gebruike nie, maar aan die hartlike en tere liefde wat hulle aan mekaar betoon. Hierdie uitsonderlike soort liefde is die tweede van die drie vernaamste vereistes vir ’n dissipel van Christus wat aan die begin van die vorige artikel genoem is. Wat sal ons help om altyd hierdie vereiste na te kom?

‘Doen dit in voller mate’

3. Watter vermaning oor liefde het die apostel Paulus gegee?

3 Net soos in die geval van Christus se volgelinge in die eerste eeu kan hierdie uitsonderlike liefde vandag ook onder Christus se ware dissipels gesien word. Die apostel Paulus het aan eerste-eeuse Christene geskryf: “Met betrekking tot broederliefde het julle egter nie nodig dat ons aan julle skryf nie, want julle word self deur God geleer om mekaar lief te hê; en julle doen dit ook teenoor al die broers.” Nietemin het Paulus bygevoeg: “Hou [aan] om dit in voller mate te doen” (1 Tessalonisense 3:12; 4:9, 10). Ons moet ook Paulus se vermaning ter harte neem en daarna streef om “in voller mate” liefde aan mekaar te betoon.

4. Aan wie moet ons volgens Paulus en Jesus spesiale aandag gee?

4 In dieselfde geïnspireerde brief het Paulus sy medegelowiges aangespoor om ‘vertroostend met die terneergedrukte siele te praat’ en om ‘die swakkes te ondersteun’ (1 Tessalonisense 5:14). By ’n ander geleentheid het hy Christene daaraan herinner dat dié ‘wat sterk is, die swakhede behoort te dra van dié wat nie sterk is nie’ (Romeine 15:1). Jesus het ook instruksies oor hulp aan die swakkes gegee. Nadat hy voorspel het dat Petrus hom op die nag van sy inhegtenisneming in die steek sou laat, het Jesus vir Petrus gesê: “Wanneer jy dan teruggekeer het, moet jy jou broers versterk.” Waarom? Omdat hulle Jesus ook sou verlaat het en derhalwe hulp sou nodig hê (Lukas 22:32; Johannes 21:15-17). Gevolglik beveel God se Woord ons om ook liefde te bewys aan dié wat geestelik swak is en dalk kontak met die Christengemeente verloor het (Hebreërs 12:12). Waarom moet ons dit doen? Twee treffende illustrasies wat Jesus vertel het, gee die antwoord.

’n Verlore skaap en ’n verlore muntstuk

5, 6. (a) Watter twee kort illustrasies het Jesus vertel? (b) Wat openbaar hierdie illustrasies omtrent Jehovah?

5 Jesus het twee kort illustrasies vertel om sy toehoorders te leer hoe Jehovah diegene beskou wat afgedwaal het. Die een was van ’n herder. Jesus het gesê: “Watter man onder julle wat honderd skape het, sal nie, wanneer hy een van hulle verloor, die nege-en-negentig in die wildernis laat staan en die een wat verlore is, gaan soek totdat hy dit vind nie? En wanneer hy dit gevind het, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En wanneer hy by die huis kom, roep hy sy vriende en sy bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap gevind wat verlore was.’ Ek sê vir julle dat daar net so in die hemel meer vreugde sal wees oor een sondaar wat berou het as oor nege-en-negentig regverdiges wat geen berou nodig het nie.”—Lukas 15:4-7.

6 Die tweede illustrasie was van ’n vrou. Jesus het gesê: “Watter vrou wat tien dragmas het, steek nie, as sy een dragma verloor, ’n lamp aan en vee haar huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit vind nie? En wanneer sy dit gevind het, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het die dragma gevind wat ek verloor het.’ Net so, sê ek vir julle, ontstaan daar vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou het.”—Lukas 15:8-10.

7. Watter twee lesse bevat die illustrasies van die verlore skaap en die verlore muntstuk vir ons?

7 Wat kan ons uit hierdie kort illustrasies leer? Dit toon aan ons (1) hoe ons moet voel oor dié wat swak geword het en (2) wat ons moet doen om hulle te help. Kom ons kyk na hierdie punte.

Verlore maar kosbaar

8. (a) Hoe het die herder en die vrou op hulle verlies gereageer? (b) Wat sê hulle reaksie vir ons oor hoe hulle die verlore besitting beskou het?

8 In albei illustrasies is iets verloor, maar let op die reaksie van die eienaars. Die herder het nie gesê nie: ‘Wat is een skaap as ek nog 99 het? Ek kan daarsonder klaarkom.’ Die vrou het nie gesê nie: ‘Waarom sal ek my oor daardie een muntstuk bekommer? Ek is tevrede met die nege wat ek nog het.’ Die herder het eerder na sy verlore skaap gesoek asof dit sy enigste skaap was. En vir die vrou wat die muntstuk verloor het, was dit asof sy geen ander muntstukke gehad het nie. In albei gevalle was die verlore besitting steeds kosbaar in die eienaar se oë. Wat lig dit toe?

9. Wat word toegelig deur die herder en die vrou se besorgdheid?

9 Let op hoe Jesus albei illustrasies afgesluit het: “Net so [sal daar] in die hemel meer vreugde . . . wees oor een sondaar wat berou het” en “net so, sê ek vir julle, ontstaan daar vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou het”. Die besorgdheid van die herder en die vrou weerspieël dus in geringe mate die gevoelens van Jehovah en sy hemelse skepsele. Net soos die verlore besittings kosbaar gebly het in die oë van die herder en van die vrou, so bly diegene wat weggedryf en kontak met God se volk verloor het, ook kosbaar in Jehovah se oë (Jeremia 31:3). Hierdie persone is dalk geestelik swak, maar hulle is nie noodwendig opstandig nie. Ondanks hulle verswakte toestand kom hulle dalk nog Jehovah se vereistes in sekere mate na (Psalm 119:176; Handelinge 15:29). Daarom, soos met ander in die verlede, werp Jehovah hulle nie gou ‘voor sy aangesig weg’ nie.—2 Konings 13:23.

10, 11. (a) Hoe wil ons dié beskou wat van die gemeente weggedryf het? (b) Hoe kan ons ons besorgdheid oor hulle toon, volgens Jesus se twee illustrasies?

10 Soos Jehovah en Jesus is ons ook diep besorg oor dié wat swak is en nie meer in die Christengemeente is nie (Esegiël 34:16; Lukas 19:10). Ons beskou ’n geestelik swak persoon as ’n verlore skaap—nie as ’n verlore saak nie. Ons redeneer nie: ‘Waarom sal ons ons oor ’n swakke bekommer? Die gemeente kom goed sonder hom klaar.’ Ons beskou eerder diegene wat weggedryf het maar wil terugkeer, soos Jehovah hulle beskou—as kosbaar.

11 Maar hoe kan ons ons besorgdheid toon? Jesus se twee illustrasies dui aan dat ons dit kan doen deur (1) die inisiatief te neem, (2) deur liefdevol te wees en (3) deur ’n ywerige poging aan te wend. Kom ons kyk na hierdie aspekte een vir een.

Neem die inisiatief

12. Wat vertel die woorde “die een wat verlore is, gaan soek” ons omtrent die herder se gesindheid?

12 In die eerste van die twee illustrasies sê Jesus dat die herder “die een wat verlore is, gaan soek”. Die herder neem die inisiatief en wend ’n doelgerigte poging aan om die verlore skaap te vind. Moeilike omstandighede, gevaar en afstand keer hom nie. Inteendeel, die herder hou aan soek “totdat hy dit vind”.—Lukas 15:4.

13. Hoe het getroue manne van die ou tyd op die behoeftes van swakkes gereageer, en hoe kan ons sulke Bybelvoorbeelde navolg?

13 Om iemand te help wat aanmoediging nodig het, vereis dan ook dikwels dat die sterker persoon die inisiatief neem. Getroue manne van die ou tyd het dit besef. Toe Jonatan, koning Saul se seun, byvoorbeeld agtergekom het dat sy boesemvriend Dawid aanmoediging nodig het, het Jonatan “opgestaan en na Dawid in Hores gegaan, sodat hy sy hand kon versterk met betrekking tot God” (1 Samuel 23:15, 16). Eeue later, toe goewerneur Nehemia gesien het dat party van sy Joodse broers swak geword het, het hy ook “onmiddellik opgestaan” en hulle aangespoor om ‘aan Jehovah te dink’ (Nehemia 4:14). Vandag wil ons ook ‘opstaan’—die inisiatief neem—om dié wat swak is, te versterk. Maar wie in die gemeente moet dit doen?

14. Wie in die Christengemeente behoort die swakkes te help?

14 Christen- ouer manne in die besonder het die verantwoordelikheid om ‘die swak hande te versterk en die wankelende knieë sterk te maak’ en om ‘vir dié wat angstig van hart is, te sê: “Wees sterk. Moenie bang wees nie”’ (Jesaja 35:3, 4; 1 Petrus 5:1, 2). Let egter op dat Paulus se aansporing om ‘vertroostend met die terneergedrukte siele te praat’ en ‘die swakkes te ondersteun’, nie net aan ouer manne gegee is nie. Paulus se woorde is eerder aan die hele “gemeente van die Tessalonisense” gerig (1 Tessalonisense 1:1; 5:14). Dit is dus die verantwoordelikheid van alle Christene om die swakkes te help. Soos die herder in die illustrasie moet elke Christen beweeg word om “die een wat verlore is, [te] gaan soek”. Dit word natuurlik die beste in samewerking met die ouer manne gedoen. Is daar iets wat jy kan doen om ’n swakke in julle gemeente te help?

Wees liefdevol

15. Waarom het die herder moontlik op hierdie manier opgetree?

15 Wat doen die herder wanneer hy uiteindelik die verlore skaap vind? ‘Hy sit dit op sy skouers’ (Lukas 15:5). Wat ’n treffende en veelseggende punt! Die skaap het dalk dae en nagte lank deur onbekende gebied gedwaal en kon selfs die prooi van honger leeus geword het (Job 38:39, 40). Die skaap is ongetwyfeld swak weens ’n gebrek aan kos. Hy is eenvoudig te swak om self die hindernisse op pad terug na die kudde te oorkom. Daarom buk die herder, tel die skaap liefdevol op en dra hom oor al die hindernisse terug na die kudde. Hoe kan ons die sorg weerspieël wat hierdie herder getoon het?

16. Waarom moet ons die teerheid weerspieël wat die herder teenoor die verdwaalde skaap getoon het?

16 Iemand wat kontak met die gemeente verloor het, is dalk in geestelike sin uitgeput. Soos die skaap wat van die herder geskei is, het so ’n persoon dalk doelloos in hierdie wêreld se vyandelike gebied rondgedwaal. Sonder die beskerming van die kudde, die Christengemeente, is hy meer as ooit blootgestel aan die aanvalle van die Duiwel, wat ‘soos ’n brullende leeu rondloop en daarop uit is om iemand te verslind’ (1 Petrus 5:8). Boonop is hy swak weens ’n gebrek aan geestelike voedsel. Gevolglik is hy waarskynlik te swak om op sy eie die struikelblokke op sy weg terug na die gemeente te oorkom. Ons sal dus as ’t ware moet buk, die swakke liefdevol optel en hom moet terugdra (Galasiërs 6:2). Hoe kan ons dit doen?

17. Hoe kan ons die apostel Paulus navolg wanneer ons iemand besoek wat swak is?

17 Die apostel Paulus het gesê: “As iemand swak is, voel ek nie self ook swak nie?” (2 Korintiërs 11:29, The New English Bible; 1 Korintiërs 9:22). Paulus het empatie gehad vir mense, insluitende die swakkes. Ons wil soortgelyke medelye betoon met dié wat swak is. Wanneer ons ’n Christen besoek wat geestelik swak is, moet ons hom verseker dat hy kosbaar in Jehovah se oë is en dat sy mede-Getuies hom baie mis (1 Tessalonisense 2:17). Vertel hom dat hulle gereed is om hom te ondersteun en bereid is om vir hom “’n broer [te wees] wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17; Psalm 34:18). Ons opregte woorde kan hom liefdevol en geleidelik aanmoedig totdat hy in staat is om na die kudde terug te keer. Wat moet ons hierna doen? Die illustrasie van die vrou en die verlore muntstuk help ons hiermee.

Wend ’n ywerige poging aan

18. (a) Waarom het die vrou in die illustrasie nie gevoel dat die situasie hopeloos is nie? (b) Watter ywerige pogings het die vrou aangewend, en met watter resultaat?

18 Die vrou wat die muntstuk verloor het, weet dat die situasie moeilik maar nie hopeloos is nie. As die muntstuk in ’n groot beboste gebied of in ’n diep en modderige poel geval het, sou sy waarskynlik aanvaar het dat dit vir goed weg is. Maar omdat sy weet dat die muntstuk êrens in haar huis, binne bereik, moet wees, begin sy sorgvuldig en ywerig daarna soek (Lukas 15:8). Eers steek sy ’n lamp aan om haar donker huis te verlig. Dan vee sy die vloer met haar besem, in die hoop dat sy ’n klingelgeluid sal hoor. Uiteindelik soek sy in elke hoekie en gaatjie totdat die lamp se lig op ’n silwer muntstuk val. Die vrou se ywerige poging is beloon!

19. Watter lesse kan ons uit die optrede van die vrou in die illustrasie van die verlore muntstuk leer wanneer ons swakkes help?

19 Soos hierdie punt van die illustrasie ons herinner, is die skriftuurlike verpligting om ’n swak Christen te help, nie bo ons vermoë nie. Terselfdertyd besef ons dat dit inspanning verg. Die apostel Paulus het immers vir die ouer manne in Efese gesê: ‘Deur so te arbei, moet julle die swakkes bystaan’ (Handelinge 20:35a). Hou in gedagte dat die vrou nie die muntstuk vind deur net hier en daar of net nou en dan in haar huis te soek nie. Nee, sy behaal sukses omdat sy stelselmatig soek “totdat sy dit vind”. Net so moet ons ook ’n ywerige en doelgerigte poging aanwend wanneer ons ’n geestelik swak persoon wil terugwin. Wat kan ons doen?

20. Wat kan gedoen word om swakkes te help?

20 Hoe kan ons ’n swakke help om geloof en waardering op te bou? ’n Persoonlike Bybelstudie in ’n gepaste Christelike publikasie is dalk net wat nodig is. Trouens, as ons ’n Bybelstudie met ’n swak persoon hou, stel dit ons in staat om hom op ’n konsekwente wyse en deeglik te help. Die diensopsiener sal heel waarskynlik in die beste posisie wees om te bepaal wie die nodige hulp kan gee. Hy kan voorstel watter onderwerpe studeer kan word en watter publikasie die nuttigste sal wees. Net soos die vrou in die illustrasie nuttige hulpmiddele gebruik om haar taak uit te voer, so het ons vandag hulpmiddele wat ons help om ons godgegewe verantwoordelikheid na te kom om die swakkes te help. Twee van ons nuwe hulpmiddele, of publikasies, sal veral in hierdie opsig nuttig wees. Dit is die boeke Aanbid die enigste ware God en Kom nader aan Jehovah.*

21. Hoe bring dit seëninge vir almal mee wanneer swakkes gehelp word?

21 Wanneer swakkes gehelp word, bring dit seëninge vir almal mee. Die persoon wat gehelp word, smaak die vreugde dat hy met ware vriende herenig word. Ons ondervind die innige vreugde wat ’n mens net kry as jy gee (Lukas 15:6, 9; Handelinge 20:35b). Die hartlikheid van die hele gemeente neem toe wanneer elke lid liefdevolle belangstelling in ander toon. En bowenal verheerlik dit ons liefdevolle Herders, Jehovah en Jesus, omdat hulle begeerte om die swakkes te ondersteun, deur hulle aardse knegte weerspieël word (Psalm 72:12-14; Matteus 11:28-30; 1 Korintiërs 11:1; Efesiërs 5:1). Watter goeie redes het ons tog om altyd ‘liefde onder mekaar te hê’!

[Voetnoot]

Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Kan jy verduidelik?

• Waarom is dit noodsaaklik dat elkeen van ons liefde betoon?

• Waarom moet ons ook liefde betoon aan dié wat swak is?

• Watter lesse leer ons uit die illustrasies van die verlore skaap en die verlore muntstuk?

• Watter praktiese stappe kan ons doen om iemand te help wat swak is?

[Prente op bladsy 16, 17]

Wanneer ons swakkes help, moet ons die inisiatief neem, liefdevol wees en ’n ywerige poging aanwend

[Prent op bladsy 16, 17]

Wanneer swakkes gehelp word, bring dit seëninge vir almal mee

    Afrikaanse publikasies (1975-2022)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2022 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel