Vra jy: “Waar is Jehovah?”
“Hulle [het] ver van my verwyderd geraak . . . En hulle het nie gesê nie: ‘Waar is Jehovah?’”—JEREMIA 2:5, 6.
1. Wat het mense moontlik in gedagte wanneer hulle vra: “Waar is God?”
“WAAR is God?” Baie mense het al hierdie vraag gevra. Party van hulle het bloot ’n basiese feit omtrent die Skepper probeer verstaan, naamlik waar hy woon. Ander het die vraag gevra ná ’n groot ramp of toe hulle ’n persoonlike krisis beleef het en nie kon verstaan waarom God nie ingryp nie. Dan is daar diegene wat glad nie hierdie vraag vra nie omdat hulle die blote idee dat God bestaan, verwerp.—Psalm 10:4.
2. Wie slaag daarin om God te vind?
2 Daar is natuurlik baie wat die oorvloedige bewyse kan sien dat daar ’n God is (Psalm 19:1; 104:24). Van hierdie persone is tevrede om bloot die een of ander vorm van godsdiens te hê. Maar ’n opregte liefde vir waarheid het miljoene ander, in alle lande, beweeg om na die ware God te soek. Hulle pogings was nie tevergeefs nie, want hy is “nie ver van elkeen van ons af . . . nie”.—Handelinge 17:26-28.
3. (a) Waar is God se woonplek? (b) Wat word geïmpliseer deur die skriftuurlike vraag: “Waar is Jehovah?”
3 Wanneer iemand Jehovah werklik vind, besef hy dat ‘God ’n Gees is’, onsigbaar vir menseoë (Johannes 4:24). Jesus het na die ware God verwys as “my Vader wat in die hemel is”. Wat beteken dit? Dat die ryk waarin ons hemelse Vader woon, in geestelike sin verhewe is, soos die fisiese hemele in die buitenste ruimte baie hoër as die aarde is (Matteus 12:50; Jesaja 63:15). Hoewel ons God nie met ons letterlike oë kan sien nie, maak hy dit nietemin vir ons moontlik om hom te leer ken en baie oor sy voornemens te leer (Eksodus 33:20; 34:6, 7). Hy beantwoord die vrae van opregte mense wat wil weet wat die doel van die lewe is. Wanneer dit kom by sake wat ons lewe raak, voorsien hy ons van ’n betroubare grondslag waarvolgens ons kan bepaal wat sy standpunt is, dit wil sê hoe hy hierdie sake beskou en of ons begeertes in ooreenstemming met sy voornemens is. Hy wil hê dat ons hieroor moet vra en ons ywerig moet inspan om die antwoorde te vind. Deur die profeet Jeremia het Jehovah die eertydse nasie Israel tereggewys omdat hulle dit nie gedoen het nie. Hulle het die naam van God geken, maar hulle het nie gevra: “Waar is Jehovah?” nie (Jeremia 2:6). Jehovah se voorneme was nie vir hulle van die grootste belang nie. Hulle het nie na sy leiding gesoek nie. Vra jy, wanneer jy voor besluite te staan kom, hetsy groot of klein: “Waar is Jehovah?”
Persone wat God geraadpleeg het
4. Hoe kan ons baat vind by Dawid se voorbeeld om Jehovah te raadpleeg?
4 Toe Dawid, die seun van Isai, nog ’n jong man was, het hy sterk geloof in Jehovah opgebou. Hy het Jehovah as “die lewende God” geken. Dawid het Jehovah se beskerming persoonlik ondervind. Aangevuur deur geloof en deur liefde vir “die naam van Jehovah”, het Dawid die swaar gewapende Filistynse reus Goliat verslaan (1 Samuel 17:26, 34-51). Maar Dawid se sukses het hom nie selfversekerd gemaak nie. Hy het nie geredeneer dat Jehovah hom sou seën in alles wat hy nou doen nie. Gedurende die jare daarna het Dawid Jehovah herhaaldelik geraadpleeg wanneer hy besluite moes neem (1 Samuel 23:2; 30:8; 2 Samuel 2:1; 5:19). Hy het steeds gebid: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie. Laat my in u waarheid wandel en leer my, want u is my God van redding. Op u het ek die hele dag gehoop” (Psalm 25:4, 5). Wat ’n goeie voorbeeld vir ons om te volg!
5, 6. Hoe het Josafat Jehovah verskeie kere in sy lewe gesoek?
5 In die dae van koning Josafat, die vyfde koning in die koninklike lyn van Dawid, het die gesamentlike magte van drie nasies teen Juda opgetrek. In hierdie nasionale krisis het Josafat “sy aangesig daarop gerig om Jehovah te soek” (2 Kronieke 20:1-3). Dit was nie die eerste keer dat Josafat Jehovah gesoek het nie. Die koning het die Baälaanbidding waarin die afvallige noordelike koninkryk van Israel verval het, verwerp en gekies om in Jehovah se weë te wandel (2 Kronieke 17:3, 4). Hoe het Josafat Jehovah dus “gesoek” toe hy voor hierdie krisis te staan gekom het?
6 In ’n openbare gebed wat hy gedurende hierdie kritieke tyd in Jerusalem gedoen het, het Josafat te kenne gegee dat hy Jehovah se almag onthou. Hy het diep nagedink oor Jehovah se voorneme, wat Hy geopenbaar het deur ander nasies te verdryf en ’n sekere grondgebied aan Israel as erfenis te gee. Die koning het erken dat hy Jehovah se hulp nodig het (2 Kronieke 20:6-12). Het Jehovah Hom by hierdie geleentheid laat vind? Ja, beslis. Deur Jahasiël, ’n Leviet, het Jehovah spesifieke riglyne voorsien, en die volgende dag het Hy Sy volk die oorwinning gegee (2 Kronieke 20:14-28). Hoe kan jy seker wees dat Jehovah hom ook deur jou sal laat vind wanneer jy jou tot hom wend vir leiding?
7. Wie se gebede hoor God?
7 Jehovah is nie partydig nie. Hy nooi mense uit alle nasies om hom deur gebed te soek (Psalm 65:2; Handelinge 10:34, 35). Hy sien wat in die hart is van diegene wat tot hom bid. Hy verseker ons dat hy die gebede van die regverdiges hoor (Spreuke 15:29). Hy laat hom vind deur persone wat voorheen glad nie in hom belanggestel het nie, maar nou sy leiding nederig soek (Jesaja 65:1). Hy hoor selfs die gebede van diegene wat nie sy wette onderhou het nie, maar wat nou nederig berou toon (Psalm 32:5, 6; Handelinge 3:19). Maar wanneer iemand se hart nie aan God onderdanig is nie, is daardie persoon se gebede tevergeefs (Markus 7:6, 7). Kyk na ’n paar voorbeelde.
Hulle het gevra maar nie ontvang nie
8. Wat het koning Saul se gebede onaanvaarbaar vir Jehovah gemaak?
8 Nadat die profeet Samuel vir koning Saul gesê het dat God hom verwerp weens sy ongehoorsaamheid, het Saul hom voor Jehovah neergewerp (1 Samuel 15:30, 31). Maar dit was net uiterlike vertoon. Saul se begeerte was nie om gehoorsaam aan God te wees nie, maar om voor die volk geëer te word. Later, toe die Filistyne teen Israel oorlog gevoer het, het Saul bloot deur die formaliteit gegaan om Jehovah te raadpleeg. Maar toe hy geen antwoord ontvang het nie, het hy ’n geestemedium geraadpleeg, hoewel hy geweet het dat Jehovah dit veroordeel (Deuteronomium 18:10-12; 1 Samuel 28:6, 7). Die saak word opgesom in 1 Kronieke 10:14 waar dit van Saul sê: “Hy het Jehovah nie geraadpleeg nie.” Waarom nie? Omdat Saul se gebede nie op geloof gegrond was nie. Gevolglik was dit asof hy glad nie gebid het nie.
9. Wat was fout met Sedekia se versoek om Jehovah se leiding?
9 Dieselfde het gebeur namate die einde van die koninkryk van Juda nader gekom het; gebede het vermenigvuldig en Jehovah se profete is geraadpleeg. Maar die volk het afgode aanbid en terselfdertyd voorgegee dat hulle Jehovah eer (Sefanja 1:4-6). Hoewel hulle deur die formaliteit gegaan het om God te raadpleeg, het hulle nie hulle hart berei om hulle aan sy wil te onderwerp nie. Koning Sedekia het Jeremia gesmeek om Jehovah namens hom te raadpleeg. Jehovah het reeds vir die koning gesê wat hy moet doen. Maar weens gebrek aan geloof en weens mensevrees het die koning nie die stem van Jehovah gehoorsaam nie, en Jehovah het die koning nie ’n ander antwoord gegee waarvan hy meer sou hou nie.—Jeremia 21:1-12; 38:14-19.
10. Wat was fout met die manier waarop Johanan Jehovah se leiding gesoek het, en wat leer ons uit sy fout?
10 Nadat Jerusalem vernietig is en die Babiloniese leër met die Joodse ballinge weggetrek het, het Johanan voorbereidings getref om die klein groepie Jode wat in Juda oor was, na Egipte te neem. Hulle het reeds hulle planne gemaak, maar voordat hulle vertrek het, het hulle Jeremia gevra om namens hulle te bid en Jehovah se leiding te vra. Toe hulle egter nie die antwoord kry wat hulle wou hoor nie, het hulle eenvoudig met hulle planne voortgegaan (Jeremia 41:16–43:7). Sien jy lesse in hierdie gebeure waarby jy kan baat vind sodat Jehovah hom deur jou sal laat vind wanneer jy sy aangesig soek?
“Hou aan om seker te maak”
11. Waarom moet ons Efesiërs 5:10 toepas?
11 Ware aanbidding behels meer as om net ons toewyding deur waterdoop te simboliseer, gemeentelike vergaderinge by te woon en aan die openbare bediening deel te neem. Ons hele lewenswyse is daarby betrokke. Daar word daagliks druk op ons uitgeoefen—soms subtiel, soms meer openlik—wat ons kan laat afwyk van die weg wat in ooreenstemming met godvrugtige toegewydheid is. Hoe sal ons hierop reageer? Toe die apostel Paulus aan getroue Christene in Efese geskryf het, het hy hulle aangespoor: “Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is” (Efesiërs 5:10). Die wysheid hiervan word toegelig deur baie situasies wat in die Skrif gemeld word.
12. Waarom was Jehovah ontevrede toe Dawid die verbondsark na Jerusalem verskuif het?
12 Nadat die verbondsark na Israel teruggestuur en jare lank in Kirjat-Jearim gehou is, wou koning Dawid dit graag na Jerusalem bring. Hy het met die hoofde van die volk beraadslaag en vir hulle gesê dat die Ark verskuif sou word ‘as hulle dit goedvind en as dit vir Jehovah aanneemlik is’. Maar hy het die saak nie deeglik genoeg ondersoek om vas te stel wat Jehovah se wil hierin is nie. As hy dit wel gedoen het, sou hulle nooit die Ark op ’n wa gelaai het nie. Kehatitiese Leviete sou dit op hulle skouers gedra het, soos God duidelik voorgeskryf het. Hoewel Dawid Jehovah dikwels geraadpleeg het, het hy dit by hierdie geleentheid nie behoorlik gedoen nie. Die gevolg was rampspoedig. Dawid het later erken: “Jehovah ons God [het] teen ons losgebreek, want ons het hom nie volgens die gebruik gesoek nie.”—1 Kronieke 13:1-3; 15:11-13; Numeri 4:4-6, 15; 7:1-9.
13. Watter aansporing is ingesluit in ’n lied wat gesing is toe die Ark met sukses verskuif is?
13 Toe die Ark uiteindelik deur die Leviete gedra is van die huis van Obed-Edom af na Jerusalem, is ’n lied gesing wat Dawid gekomponeer het. Dit het hierdie opregte aansporing ingesluit: “Soek Jehovah en sy sterkte, soek voortdurend sy aangesig. Dink aan sy wonderlike dade wat hy verrig het, sy wonderwerke en die regterlike beslissings van sy mond.”—1 Kronieke 16:11, 12.
14. Wat kan ons uit Salomo se goeie voorbeeld leer sowel as uit sy foute in sy latere lewe?
14 Voor sy dood het Dawid sy seun Salomo hierdie raad gegee: “As jy [Jehovah] soek, sal hy hom deur jou laat vind” (1 Kronieke 28:9). Nadat Salomo koning geword het, het hy na Gibeon gegaan, waar die tent van samekoms was, en offerandes aan Jehovah gebring. Daar het Jehovah Salomo genooi: “Vra! Wat moet ek jou gee?” In antwoord op Salomo se versoek het Jehovah hom oorvloedige wysheid en kennis gegee om Israel te rig, en Hy het rykdom en eer daarby gevoeg (2 Kronieke 1:3-12). Salomo het die bouplan gebruik wat Jehovah aan Dawid gegee het en ’n luisterryke tempel gebou. Maar wat huweliksake betref, het Salomo Jehovah nie gesoek nie. Salomo het met vroue getrou wat nie aanbidders van Jehovah was nie. In sy latere jare het hulle sy hart van Jehovah laat afwyk (1 Konings 11:1-10). Ongeag hoe vernaam, wys of goed ingelig ons dalk voorkom, dit is belangrik dat ons ‘aanhou seker maak van wat vir die Here aanneemlik is’!
15. Waarom kon Asa met vertroue bid dat Jehovah Juda verlos toe Serag die Etiopiër teen Juda opgetrek het?
15 Die belangrikheid hiervan word beklemtoon deur die verslag oor die koningskap van Asa, ’n agterkleinseun van Salomo. Elf jaar nadat Asa koning geword het, het Serag die Etiopiër met ’n leër van ’n miljoen man teen Juda opgetrek. Sou Jehovah Juda verlos? Meer as 500 jaar vroeër het Jehovah duidelik getoon wat sy volk kon verwag as hulle na hom luister en sy gebooie onderhou en wat hulle kon verwag as hulle dit nie doen nie (Deuteronomium 28:1, 7, 15, 25). Aan die begin van sy heerskappy het Asa altare en pilare wat in valse aanbidding gebruik is, uit sy ryk verwyder. Hy het die volk aangespoor ‘om Jehovah te soek’. Asa het nie gewag tot rampspoed tref voordat hy dit gedoen het nie. Gevolglik kon Asa met geloof in Jehovah bid dat Hy ten behoewe van hulle optree. Wat was die gevolg? Juda het ’n klinkende oorwinning behaal.—2 Kronieke 14:2-12.
16, 17. (a) Watter vermaning het Jehovah aan Asa gegee, al het hy die oorwinning behaal? (b) Watter hulp is aan Asa gegee toe hy onverstandig opgetree het, maar hoe het hy gereageer? (c) Hoe kan ons daarby baat vind as ons Asa se optrede ondersoek?
16 Nietemin het Jehovah, toe Asa seëvierend teruggekeer het, vir Asarja gestuur om die koning tegemoet te gaan en te sê: “Luister na my, o Asa en die hele Juda en Benjamin! Jehovah is met julle solank julle met hom is; en as julle hom soek, sal hy hom deur julle laat vind, maar as julle hom verlaat, sal hy julle verlaat” (2 Kronieke 15:2). Met hernieude ywer het Asa ware aanbidding bevorder. Maar 24 jaar later, toe oorlog weer gedreig het, het Asa Jehovah nie gesoek nie. Hy het nie God se Woord geraadpleeg nie, en hy het nie gedink aan wat Jehovah gedoen het toe die Etiopiese leër Juda ingeval het nie. Hy het dwaas opgetree en ’n bondgenootskap met Sirië gesluit.—2 Kronieke 16:1-6.
17 Jehovah het toe die siener Hanani gestuur om Asa hieroor tereg te wys. Selfs op daardie stadium, toe Jehovah se beskouing van die saak verduidelik is, kon Asa nog daarby baat gevind het. Maar hy het hom eerder vererg en Hanani in die blokgevangenis gesit (2 Kronieke 16:7-10). Hoe jammer tog! Wat van ons? Soek ons God, maar weier ons dan om raad te aanvaar? Gestel ’n besorgde en liefdevolle ouer man gebruik die Bybel om ons raad te gee omdat ons besig is om verstrik te raak in die wêreld. Reageer ons met waardering op sy liefdevolle raad om ons te help sien “wat vir die Here aanneemlik is”?
Moenie vergeet om te vra nie
18. Hoe kan ons by Elihu se woorde aan Job baat vind?
18 Selfs iemand wat ’n goeie naam in Jehovah se diens opgebou het, kan foute begaan wanneer hy onder druk verkeer. Toe Job deur ’n walglike siekte getref is, sy kinders en materiële besittings verloor het en vals beskuldig is deur sy metgeselle, het hy aan niks anders as sy eie situasie gedink nie. Elihu het hom herinner: “Niemand [het] gesê nie: ‘Waar is God, my Grootse Maker?’” (Job 35:10). Job se aandag moes op Jehovah gevestig word, en hy moes dink aan hoe Hy die situasie beskou. Job het daardie herinnering nederig aanvaar, en sy voorbeeld kan ons help om dieselfde te doen.
19. Wat het die volk Israel dikwels versuim om te doen?
19 Die volk Israel het al God se handelinge met hulle as nasie geken. Maar alte dikwels het hulle nie daaraan gedink wanneer hulle spesifieke situasies in die lewe hanteer het nie (Jeremia 2:5, 6, 8). Wanneer hulle voor besluite in die lewe te staan gekom het, het hulle hulle eie plesier nagejaag in plaas van te vra: “Waar is Jehovah?”—Jesaja 5:11, 12.
Hou aan vra: “Waar is Jehovah?”
20, 21. (a) Wie toon vandag die gees van Elisa deur Jehovah se leiding te soek? (b) Hoe kan ons hulle voorbeeld van geloof navolg en daarby baat vind?
20 Toe Elia se openbare bediening tot ’n einde gekom het, het sy dienaar Elisa die ampskleed geneem wat van Elia afgeval het, na die Jordaan gegaan, die water geslaan en gevra: “Waar is Jehovah, die God van Elia, ja Hy?” (2 Konings 2:14). Jehovah het geantwoord deur te toon dat sy gees nou op Elisa gerus het. Wat kan ons hieruit leer?
21 Iets soortgelyks het in hedendaagse tye gebeur. Party gesalfde Christene wat die leiding in die predikingswerk geneem het, het hulle aardse loopbaan voltooi. Dié wat daarna met die toesig toevertrou is, het die Skrif ondersoek en tot Jehovah gebid om leiding. Hulle het nie versuim om te vra nie: “Waar is Jehovah?” Gevolglik het Jehovah aangehou om sy volk te lei en hulle werk te seën. Volg ons hulle geloof na? (Hebreërs 13:7). Indien wel, sal ons na aan Jehovah se organisasie bly, gunstig reageer op die leiding wat dit gee en ’n volle deelname hê aan die werk wat dit onder leiding van Jesus Christus doen.—Sagaria 8:23.
Hoe sal jy antwoord?
• Met watter doel moet ons vra: “Waar is Jehovah?”
• Hoe kan ons vandag die antwoord vind op die vraag: “Waar is Jehovah?”
• Waarom word party gebede om God se leiding nie verhoor nie?
• Watter Bybelvoorbeelde lig die belangrikheid daarvan toe om “[aan te hou] om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is”?
[Prent op bladsy 9]
Hoe het koning Josafat Jehovah gesoek?
[Prent op bladsy 10]
Waarom het Saul ’n geestemedium geraadpleeg?
[Prente op bladsy 12]
Bid, studeer en peins om vas te stel ‘waar Jehovah is’