Christus praat met die gemeentes
“Hierdie dinge sê hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou.”—OPENBARING 2:1.
1, 2. Waarom moet ons belangstel in wat Christus vir sewe gemeentes in Klein-Asië gesê het?
JEHOVAH se enigverwekte Seun, Jesus Christus, is die Hoof van die Christengemeente. Om die gemeente van sy gesalfde volgelinge onbesmet te hou, oefen Christus sy hoofskap uit deur hulle te prys en hulle tereg te wys (Efesiërs 5:21-27). Daar is voorbeelde hiervan in Openbaring hoofstukke 2 en 3, waar ons Jesus se kragtige en liefdevolle boodskappe aan sewe gemeentes in Klein-Asië vind.
2 Voordat die apostel Johannes Jesus se woorde aan die sewe gemeentes gehoor het, is hy ’n visioen van “die dag van die Here” gegee (Openbaring 1:10). Daardie “dag” het begin toe die Messiaanse Koninkryk in 1914 opgerig is. Wat Christus vir die gemeentes gesê het, is dus van die allergrootste belang in hierdie laaste dae. Sy aanmoediging en raad help ons om hierdie kritieke tye die hoof te bied.—2 Timoteus 3:1-5.
3. Wat is die figuurlike betekenis van die “sterre”, “engele” en “goue lampstaanders” wat die apostel Johannes gesien het?
3 Johannes het die verheerlikte Jesus Christus gesien, wat “die sewe sterre in sy regterhand hou” en wat “[wandel] tussen die sewe goue lampstaanders”, of gemeentes. Die “sterre” is “die engele van die sewe gemeentes” (Openbaring 1:20; 2:1). Sterre stel soms engele voor, maar Christus sou nie ’n mens gebruik het om boodskappe vir geesskepsele neer te skryf nie. Daarom moet hierdie “sterre” logieserwys na geesgesalfde opsieners, of liggame van ouer manne, verwys. Die term “engele” hou verband met hulle rol as boodskappers. Omdat God se organisasie uitgebrei het, het “die getroue bestuurder” ook bekwame manne onder Jesus se “ander skape” as opsieners aangestel.—Lukas 12:42-44; Johannes 10:16.
4. Hoe vind ouer manne daarby baat as hulle aandag skenk aan wat Christus vir die gemeentes sê?
4 Die “sterre” is in Jesus se regterhand—hy het mag en beheer oor hulle, en hulle geniet sy guns en beskerming. Gevolglik is hulle aanspreeklik teenoor hom. Deur op sy woorde aan elk van die sewe gemeentes ag te slaan, sien ouer manne van vandag hoe hulle soortgelyke situasies kan hanteer. Alle Christene moet natuurlik na God se Seun luister (Markus 9:7). Wat kan ons dus leer deur aandag te skenk terwyl Christus met die gemeentes praat?
Aan die engel in Efese
5. Watter soort stad was Efese?
5 Jesus het die gemeente in Efese geprys en tereggewys. (Lees Openbaring 2:1-7.) Die kolossale tempel van die godin Artemis het in hierdie ryk handel- en godsdienssentrum aan die weskus van Klein-Asië gestaan. Hoewel Efese deurtrek was van onsedelikheid, valse godsdiens en die beoefening van die toorkuns, het God die bediening van die apostel Paulus en ander in daardie stad geseën.—Handelinge, hoofstuk 19.
6. Hoe is lojale Christene van vandag soos dié in eertydse Efese?
6 Christus het die gemeente in Efese geprys en gesê: “Ek ken jou dade, en jou arbeid en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie, en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het.” Vandag het gemeentes van Jesus se ware volgelinge ’n soortgelyke rekord van goeie dade, harde werk en volharding. Hulle duld nie valse broers wat as apostels beskou wil word nie (2 Korintiërs 11:13, 26). Soos die Efesiërs kan lojale Christene van vandag ‘slegte mense nie verdra nie’. Om die reinheid van Jehovah se aanbidding te bewaar en die gemeente te beskerm, vermy hulle dus assosiasie met onberouvolle afvalliges.—Galasiërs 2:4, 5; 2 Johannes 8-11.
7, 8. Watter ernstige probleem het die gemeente in Efese gehad, en hoe kan ons ’n soortgelyke situasie hanteer?
7 Tog het die Christene in Efese ’n ernstige probleem gehad. “Ek [het] dít teen jou”, het Jesus gesê, “dat jy die liefde wat jy eers gehad het, verlaat het.” Lede van die gemeente moes weer hulle eerste liefde vir Jehovah aanwakker (Markus 12:28-30; Efesiërs 2:4; 5:1, 2). Ons moet ook daarteen waak dat ons ons eerste liefde vir God verloor (3 Johannes 3). Maar gestel dinge soos ’n begeerte na materiële rykdom of die najaging van plesier is besig om die hoofsaak in ons lewe te word (1 Timoteus 4:8; 6:9, 10). Dan moet ons ernstig tot God bid vir hulp om hierdie neigings te vervang met ’n innige liefde vir Jehovah en waardering vir alles wat hy en sy Seun vir ons gedoen het.—1 Johannes 4:10, 16.
8 Christus het die Efesiërs aangespoor: “Onthou . . . waarvan jy geval het, en toon berou en doen die dade van vroeër.” Gestel hulle het dit nie gedoen nie, wat dan? “So nie”, het Jesus gesê, “kom ek na jou toe, en ek sal jou lampstaander van sy plek verwyder.” As al die skape hulle eerste liefde sou verloor, sou die “lampstaander”, of gemeente, nie meer bestaan nie. Mag ons as ywerige Christene ons derhalwe inspan om die gemeente altyd in geestelike sin te laat skyn.—Matteus 5:14-16.
9. Hoe moet ’n sektegees beskou word?
9 Dit was prysenswaardig dat die Efesiërs “die dade van die sekte van Nikolaus” gehaat het. Benewens wat in Openbaring gesê word, is daar niks spesifieks bekend oor die oorsprong, leerstellings en gebruike van hierdie sekte nie. Maar omdat Jesus die navolging van mense veroordeel het, moet ons voortgaan om ’n sektegees te haat, soos die Christene in Efese gedoen het.—Matteus 23:10.
10. Wat sal diegene ontvang wat ag slaan op wat die gees sê?
10 “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê”, het Christus gesê. Toe Jesus op die aarde was, het hy onder die invloed van God se gees gespreek (Jesaja 61:1; Lukas 4:16-21). Daarom moet ons aandag skenk aan wat God nou deur middel van die heilige gees deur hom sê. Onder leiding van die gees het Jesus beloof: “Aan hom wat oorwin, sal ek gee om van die boom van die lewe te eet, wat in die paradys van God is.” Vir gesalfdes, wat doen wat die gees sê, beteken dit onsterflikheid in die hemelse “paradys van God”, of Jehovah se teenwoordigheid. Die “groot menigte”, wat ook luister na wat die gees sê, sal ’n aardse paradys geniet waar hulle van “’n rivier van water van die lewe” sal drink en deur “die blare van die bome” langs die rivier genees sal word.—Openbaring 7:9; 22:1, 2; Lukas 23:43.
11. Hoe kan ons liefde vir Jehovah bevorder?
11 Die Efesiërs het hulle eerste liefde verloor. Maar sê nou ’n soortgelyke situasie ontwikkel vandag in ’n gemeente? Laat ons dan as individue liefde vir Jehovah bevorder deur oor sy liefdevolle weë te praat. Ons kan ons waardering uitspreek vir die liefde wat God betoon het deurdat hy die losprys deur middel van sy geliefde Seun voorsien het (Johannes 3:16; Romeine 5:8). Wanneer dit gepas is, kan ons by vergaderinge melding maak van God se liefde in ons kommentare en in programdele. Ons kan ons eie liefde vir Jehovah toon deur sy naam in die Christelike bediening te loof (Psalm 145:10-13). Ja, ons woorde en dade kan grootliks help om ’n gemeente se eerste liefde weer aan te wakker of te versterk.
Aan die engel in Smirna
12. Wat toon die geskiedenis omtrent Smirna en die godsdiensgebruike daar?
12 Die gemeente in Smirna is geprys deur Christus, “‘die Eerste en die Laaste’, wat doodgegaan en weer lewend geword het” deur middel van ’n opstanding. (Lees Openbaring 2:8-11.) Smirna (nou Izmir, Turkye) was aan die weskus van Klein-Asië geleë. Grieke het in die stad kom woon, maar die Lidiërs het dit omstreeks 580 v.G.J. vernietig. Opvolgers van Aleksander die Grote het Smirna op ’n nuwe terrein herbou. Dit het deel van die Romeinse provinsie Asië geword en was ’n florerende handelsentrum wat bekend was vir sy pragtige openbare geboue. Die tempel van Tiberius Caesar het dit ’n sentrum van keiseraanbidding gemaak. Aanbidders moes ’n knippie reukwerk brand en sê: “Die keiser is Here.” Christene kon dit eenvoudig nie doen nie, want vir hulle was “Jesus Here”. Gevolglik het hulle verdrukking gely.—Romeine 10:9.
13. In watter sin was Christene in Smirna ryk, al was hulle materieel arm?
13 Benewens verdrukking het Christene in Smirna armoede verduur, moontlik weens ekonomiese beperkings omdat hulle nie aan keiseraanbidding wou deelneem nie. Jehovah se hedendaagse knegte ondervind soortgelyke beproewinge (Openbaring 13:16, 17). Hoewel hulle materieel arm is, is dié wat soos Christene in Smirna is, geestelik ryk, en dit is wat werklik saak maak!—Spreuke 10:22; 3 Johannes 2.
14, 15. Watter vertroosting kan gesalfdes uit Openbaring 2:10 put?
14 Die meeste Jode in Smirna was “’n sinagoge van Satan” omdat hulle aan onskriftuurlike tradisies vasgehou het, God se Seun verwerp het en teen sy geesverwekte volgelinge gelaster het (Romeine 2:28, 29). Maar watter vertroosting kan gesalfdes tog uit Christus se volgende woorde put! Hy sê: “Moenie bang wees vir die dinge wat jy weldra gaan ly nie. Kyk! Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word en sodat julle tien dae lank verdrukking kan hê. Wees selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee.”—Openbaring 2:10.
15 Jesus was nie bang om te sterf omdat hy Jehovah se soewereiniteit verdedig het nie (Filippense 2:5-8). Hoewel Satan nou oorlog voer teen die gesalfde oorblyfsel, is hulle nie bang vir die dinge wat hulle as ’n groep moet ly nie—verdrukking, gevangenskap of ’n gewelddadige dood (Openbaring 12:17). Hulle sal die wêreld oorwin. En hulle ontvang nie ’n verwelklike blomkrans as kroon soos die wenners in die heidense spele nie, maar “die kroon van die lewe” as onsterflike skepsele in die hemel, soos Christus verrese gesalfdes beloof het. Wat ’n kosbare gawe!
16. Op watter geskil moet ons ons aandag gevestig hou as ons met ’n gemeente assosieer soos die een in eertydse Smirna?
16 Sê nou ons, hetsy ons ’n hemelse of aardse hoop het, assosieer met ’n gemeente soos die een in eertydse Smirna? Dan moet ons medegelowiges help om hulle aandag gevestig te hou op die hoofrede waarom God vervolging toelaat—die geskil oor universele soewereiniteit. Elke Getuie van Jehovah wat sy onkreukbaarheid handhaaf, bewys dat Satan ’n leuenaar is en toon dat selfs iemand wat vervolg word, God se reg om as Universele Soewerein te heers, onwrikbaar kan verdedig (Spreuke 27:11). Laat ons ander Christene aanspoor om te volhard onder vervolging, sodat hulle die blywende “voorreg [kan hê] om onbevrees heilige diens aan [Jehovah] te verrig met lojaliteit en regverdigheid voor hom al ons dae”—ja, selfs vir ewig.—Lukas 1:68, 69, 74, 75.
Aan die engel van Pergamum
17, 18. Van watter soort aanbidding was Pergamum ’n sentrum, en wat kon die gevolg wees as iemand sou weier om aan sulke afgodediens deel te neem?
17 Die gemeente in Pergamum is geprys sowel as tereggewys. (Lees Openbaring 2:12-17.) Die stad Pergamum, wat ongeveer 80 kilometer noord van Smirna geleë was, was diep betrokke by heidense godsdiens. Galdese sterrewiggelaars het blykbaar van Babilon af daarheen gevlug. Siek mense het na Pergamum se beroemde tempel van Asklepios, die valse god van genesing en geneeskunde, gestroom. Pergamum, met sy tempel wat aan die aanbidding van keiser Augustus toegewy is, is al “die hoofsentrum van die keiserkultus onder die vroeë ryk” genoem.—Encyclopædia Britannica, 1959, Deel 17, bladsy 507.
18 In Pergamum was daar ’n altaar wat aan Zeus toegewy was. Die stad was ook ’n sentrum van die Duiwelgeïnspireerde gebruik om mense te vergoddelik. Geen wonder daar is gesê dat hierdie gemeente hom bevind waar “die troon van Satan” is nie! As iemand wat Jehovah se soewereiniteit ondersteun, geweier het om die keiser te aanbid, kon dit tot sy dood lei. Die wêreld lê nog steeds in die mag van die Duiwel, en deesdae word nasionale simbole vereer (1 Johannes 5:19). Van die eerste eeu af tot vandag toe het talle getroue Christene as martelaars gesterf, soos die persoon na wie Christus verwys het as ‘Antipas, my getuie, die getroue, wat aan julle sy doodgemaak is’. Jehovah God en Jesus Christus onthou beslis sulke lojale knegte.—1 Johannes 5:21.
19. Wat het Bileam gedoen, en waarteen moet alle Christene waak?
19 Christus het ook van “die leer van Bileam” gepraat. Weens sy hebsugtige begeerte na materiële gewin het die valse profeet Bileam Israel probeer vervloek. Toe God sy vloek in ’n seën verander het, het Bileam met die Moabitiese koning Balak saamgespan om baie Israeliete tot afgodediens en geslagsonsedelikheid te verlok. Christen- ouer manne moet net so ferm vir regverdigheid wees soos Pinehas, wat Bileam se planne teëgewerk het (Numeri 22:1–25:15; 2 Petrus 2:15, 16; Judas 11). Trouens, alle Christene moet waak teen afgodediens en die insypeling van geslagsonsedelikheid in die gemeente.—Judas 3, 4.
20. Wat moet ’n Christen doen wat afvallige beskouings begin koester?
20 Die gemeente in Pergamum het in groot gevaar verkeer omdat hulle mense wat “vashou aan die leer van die sekte van Nikolaus”, in hulle midde toegelaat het. Christus het vir die gemeente gesê: “Toon . . . berou. So nie, kom ek gou na jou toe, en ek sal met die lang swaard van my mond teen hulle oorlog voer.” Sekteaanhangers wil Christene geestelik skaad, en diegene wat daarop uit is om verdeeldheid en sektes te bevorder, sal nie God se Koninkryk beërf nie (Romeine 16:17, 18; 1 Korintiërs 1:10; Galasiërs 5:19-21). As afvallige beskouings by ’n Christen begin posvat en hy dit wil versprei, moet hy Christus se waarskuwing ter harte neem! Om rampspoed af te weer, moet hy berou toon en die geestelike hulp van die ouer manne in die gemeente vra (Jakobus 5:13-18). Onmiddellike optrede is noodsaaklik, want Jesus kom gou om oordeel te voltrek.
21, 22. Wie eet van “die verborge manna”, en wat stel dit voor?
21 Getroue gesalfde Christene en hulle lojale metgeselle hoef nie die komende oordeel te vrees nie. Seëninge wag op almal wat ag slaan op Jesus se raad wat onder leiding van God se heilige gees gegee is. Gesalfdes wat die wêreld oorwin, sal byvoorbeeld genooi word om van “die verborge manna” te eet en sal “’n wit klippie” ontvang waarop “’n nuwe naam” geskrywe staan.
22 God het manna voorsien om die Israeliete gedurende hulle 40 jaar lange trek deur die wildernis te voed. Van daardie “brood” is in ’n goue kruik in die verbondsark gehou en was dus verborge in die tabernakel se Allerheiligste, waar ’n wonderdadige lig Jehovah se teenwoordigheid voorgestel het (Eksodus 16:14, 15, 23, 26, 33; 26:34; Hebreërs 9:3, 4). Niemand is toegelaat om daardie verborge manna te eet nie. Maar met hulle opstanding beklee Jesus se gesalfde volgelinge hulle met onsterflikheid, wat voorgestel word deur “die verborge manna” te eet.—1 Korintiërs 15:53-57.
23. Wat is die betekenis van die “wit klippie” en die “nuwe naam”?
23 In die Romeinse howe het ’n swart klippie veroordeling beteken, terwyl ’n wit klippie vryspraak beteken het. Die feit dat Jesus “’n wit klippie” aan gesalfde Christenoorwinnaars gee, dui daarop dat hy hulle onskuldig, rein en vlekkeloos bevind. Aangesien die Romeine ook klippies gebruik het om toegang tot belangrike geleenthede te verkry, kan die “wit klippie” daarop dui dat die gesalfde toegang verkry tot ’n plek in die hemel tydens die bruilof van die Lam (Openbaring 19:7-9). Die “nuwe naam” verwys blykbaar na die voorreg om verenig te wees met Jesus as mede-erfgename in die hemelse Koninkryk. Hoe aanmoedigend is dit alles tog vir gesalfdes sowel as hulle metgeselle in Jehovah se diens, wat uitsien na die lewe op ’n paradysaarde!
24. Watter standpunt moet ons inneem ten opsigte van afvalligheid?
24 Dit is verstandig om in gedagte te hou dat die gemeente in Pergamum deur afvalliges bedreig is. As ’n soortgelyke situasie die geestelike welsyn bedreig van die gemeente waarmee ons assosieer, moet ons afvalligheid geheel en al verwerp en in die waarheid bly wandel (Johannes 8:32, 44; 3 Johannes 4). Aangesien valse onderrigters of persone wat tot afvalligheid neig, ’n hele gemeente kan besmet, moet ons ’n ferm standpunt teen afvalligheid inneem en nooit toelaat dat goddelose oorreding ons verhinder om die waarheid te gehoorsaam nie.—Galasiërs 5:7-12; 2 Johannes 8-11.
25. Christus se boodskappe aan watter gemeentes sal in die volgende artikel bespreek word?
25 Watter gedagteprikkelende woorde van lof en teregwysing het die verheerlikte Jesus Christus tog aan die sewe gemeentes in Klein-Asië oorgedra, waarvan ons nou drie bespreek het! Maar onder leiding van die heilige gees het hy ook baie om vir die vier oorblywende gemeentes te sê. Hierdie boodskappe, wat tot Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea gerig is, sal in die volgende artikel bespreek word.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom moet ons aandag skenk aan wat Christus vir die gemeentes sê?
• Hoe kan ons help om ’n gemeente se eerste liefde weer aan te wakker?
• Waarom kan daar gesê word dat Christene in eertydse Smirna wat materieel arm was, in werklikheid ryk was?
• Hoe moet ons afvallige denke beskou in die lig van die situasie in die gemeente in Pergamum?
[Kaart op bladsy 10]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GRIEKE- LAND
KLEIN-ASIË
Efese
Smirna
Pergamum
Tiatira
Sardis
Filadelfia
Laodisea
[Prent op bladsy 12]
Die “groot menigte” sal ’n aardse paradys geniet
[Prente op bladsy 13]
Vervolgde Christene het die wêreld oorwin