Ons sal vir ewig in Jehovah se naam wandel!
“Ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.”—MIGA 4:5.
1. Watter boodskappe kom na vore in Miga hoofstukke 3 tot 5?
JEHOVAH het iets om sy volk te vertel, en hy gebruik Miga as sy profeet. Dit is God se voorneme om op te tree teen oortreders. Hy gaan Israel straf vir hulle afvalligheid. Maar gelukkig sal Jehovah diegene seën wat in sy naam wandel. Hierdie boodskappe kom duidelik na vore in hoofstukke 3 tot 5 van Miga se profesie.
2, 3. (a) Watter eienskap behoort leiers van Israel aan die dag te lê, maar wat doen hulle in werklikheid? (b) Hoe sal jy die beeldspraak verduidelik wat in Miga 3:2, 3 gebruik word?
2 God se profeet sê: “Hoor asseblief, o hoofde van Jakob en aanvoerders van die huis van Israel. Behoort julle nie geregtigheid te ken nie?” Ja, hulle is veronderstel om dit te ken. Maar wat doen hulle in werklikheid? Miga sê: “Julle wat haat wat goed is en liefhet wat sleg is, wat die mense se vel van hulle aftrek en hulle vlees van hulle gebeente; julle wat ook die vlees van my volk geëet en hulle vel van hulle afgestroop en hulle gebeente stukkend geslaan en hulle verbrysel het soos dit wat in ’n wyebekpot is en soos vleis in ’n kookpot.”—Miga 3:1-3.
3 Die leiers onderdruk die arm, weerlose mense! Dié wat na Miga luister, kan maklik die beeldspraak verstaan wat hier gebruik word. Voordat ’n geslagte skaap gekook word, word die vel afgetrek en die vleis in stukke gesny. Soms word die bene oopgebreek om die murg uit te haal. Die vleis sowel as die bene word in ’n groot pot gekook, soos die een waarvan Miga gepraat het (Esegiël 24:3-5, 10). Wat ’n gepaste illustrasie is dit tog van hoe sleg die goddelose leiers in Miga se dag die volk behandel!
Jehovah verwag dat ons geregtigheid beoefen
4. Watter kontras is daar tussen Jehovah en Israel se leiers?
4 Daar is ’n skerp kontras tussen die liefdevolle Herder, Jehovah, en Israel se leiers. Omdat hulle nie geregtigheid beoefen nie, kom hulle nie hulle opdrag na om die kudde te beskerm nie. Hulle buit eerder die figuurlike skape op selfsugtige wyse uit deur geen geregtigheid aan hulle te betoon nie en hulle aan “dade van bloedvergieting” te onderwerp, soos Miga 3:10 sê. Wat kan ons uit hierdie situasie leer?
5. Wat verwag Jehovah van diegene wat die leiding onder sy volk neem?
5 God verwag dat diegene wat die leiding onder sy volk neem, geregtigheid beoefen. Dit is wat Jehovah se knegte vandag doen. Dit stem ook ooreen met Jesaja 32:1, waar ons lees: “Kyk! ’n Koning sal vir regverdigheid regeer; en wat vorste betref, hulle sal as vorste vir geregtigheid heers.” Maar wat vind ons in Miga se dag? “[Mense] wat haat wat goed is en liefhet wat sleg is”, gaan voort om die reg te verdraai.
Wie se gebede word verhoor?
6, 7. Watter belangrike punt word in Miga 3:4 beklemtoon?
6 Kan Miga se goddelose tydgenote Jehovah se guns verwag? Natuurlik nie! Miga 3:4 sê: “Hulle [sal] tot Jehovah om hulp roep, maar hy sal hulle nie antwoord nie. En hy sal in dié tyd sy aangesig vir hulle verberg, na die mate waarin hulle in hulle handelinge slegtheid bedryf het.” Dit beklemtoon ’n baie belangrike punt.
7 Jehovah sal nie ons gebede verhoor as ons sonde beoefen nie. Dit geld beslis as ons ’n dubbele lewe lei deur ons sondes te verberg terwyl ons voorgee dat ons God getrou dien. Volgens Psalm 26:4 het Dawid gesing: “Ek het nie by mense van onwaarheid gesit nie; en by dié wat verberg wat hulle is, gaan ek nie in nie.” Hoeveel minder sal Jehovah die gebede verhoor van diegene wat sy Woord opsetlik oortree!
Versterk deur God se gees
8. Waaroor is die valse profete van Miga se tyd gewaarsku?
8 Watter verskriklike gebruike beoefen Israel se geestelike leiers tog! Valse profete laat God se volk in geestelike sin dwaal. Die gierige leiers roep “Vrede!” uit, maar hulle heilig in werklikheid oorlog teen enigeen wat nie iets in hulle mond sit nie. “Daarom”, sê Jehovah, “sal julle nag hê, sodat daar geen visioen sal wees nie; en julle sal duisternis hê, sodat julle geen waarsêery sal beoefen nie. En die son sal beslis oor die profete ondergaan, en die dag sal oor hulle donker word. En die sieners sal beskaamd moet staan, en die waarsêers sal beslis teleurgestel wees. En hulle almal sal die snor moet bedek.”—Miga 3:5-7a.
9, 10. Wat word bedoel met die uitdrukking ‘die snor bedek’, en waarom hoef Miga dit nie te doen nie?
9 Waarom ‘die snor bedek’? Dit is iets wat Miga se goddelose tydgenote uit skaamte doen. En hierdie bose manne behoort hulle te skaam. “Daar kom geen antwoord van God” vir hulle nie (Miga 3:7b). Jehovah skenk geen aandag aan die gebede van enige hoogmoedige goddeloses nie.
10 Miga het geen rede om ‘die snor te bedek’ nie. Hy hoef nie skaam te voel nie. Jehovah verhoor sy gebede. Let op Miga 3:8, waar die getroue profeet sê: “Ek daarenteen het vol krag geword, met die gees van Jehovah, en geregtigheid en mag.” Hoe dankbaar is Miga tog dat hy deur sy lang en getroue bediening altyd “vol krag [was], met die gees van Jehovah”! Dit het hom versterk “om aan Jakob sy opstandigheid te verkondig en aan Israel sy sonde”.
11. Wat gee mense die krag om God se boodskappe te verkondig?
11 Miga het meer as menslike krag nodig om God se boodskap van veroordeling te verkondig. Hy het beslis Jehovah se gees, of werkende krag, nodig. Wat van ons? Ons predikingsopdrag kan slegs uitgevoer word as Jehovah ons deur middel van sy heilige gees versterk. Enige pogings om te getuig, sal ongetwyfeld misluk as ons op onberouvolle wyse sonde beoefen. In daardie geval kan God nie ons gebede verhoor vir krag om hierdie werk te doen nie. Ons kan beslis nie ons hemelse Vader se oordeelsboodskappe verkondig sonder “die gees van Jehovah” nie. Net soos Miga kan ons God se woord moedig verkondig as ons gebede verhoor word en ons die hulp van die heilige gees het.
12. Waarom kon Jesus se vroeë dissipels ‘God se woord met alle vrymoedigheid bly spreek’?
12 Jy onthou dalk die verslag in Handelinge 4:23-31. Stel jou voor dat jy een van Jesus se eerste-eeuse dissipels is. Fanatiese vervolgers probeer Christus se volgelinge stilmaak. Maar hierdie lojale knegte bid tot hulle Soewereine Heer en smeek: “Jehovah, skenk aandag aan hulle dreigemente, en gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek.” Die gevolg? Ná hulle smeekbede word die plek waarin hulle bymekaar is, geskud, en hulle word almal sonder uitsondering met die heilige gees vervul en spreek die woord van God met vrymoedigheid. Mag ons ons derhalwe biddend tot Jehovah wend en op sy hulp deur middel van die heilige gees vertrou terwyl ons ons bediening uitvoer.
13. Wat sal met Jerusalem en Samaria gebeur, en waarom?
13 Dink nou weer aan Miga se dag. Miga 3:9-12 toon dat die bloedskuldige regters regspreek vir omkoopgeskenke, die priesters teen ’n prys onderrig en die valse profete waarsêery vir geld beoefen. Dit is geen wonder dat God besluit het dat Juda se hoofstad, Jerusalem, “puinhope [sal] word” nie! Aangesien valse aanbidding en sedelike verdorwenheid ook in Israel floreer, word Miga geïnspireer om te waarsku dat God Samaria “’n puinhoop” sal maak (Miga 1:6). Trouens, die profeet lewe nog in 740 v.G.J. en sien die voorspelde vernietiging van Samaria deur Assiriese magte (2 Konings 17:5, 6; 25:1-21). Dit is duidelik dat hierdie kragtige boodskappe teen Jerusalem en Samaria net in Jehovah se krag verkondig kon word.
14. Hoe is die profesie in Miga 3:12 vervul, en watter uitwerking moet dit op ons hê?
14 Juda kan beslis nie Jehovah se veroordeling vryspring nie. Ter vervulling van die profesie in Miga 3:12 sal Sion “soos ’n land omgeploeg word”. Nou, in die 21ste eeu, weet ons dat hierdie dinge plaasgevind het toe die Babiloniërs Juda en Jerusalem in 607 v.G.J. verwoes het. Dit het jare nadat Miga geprofeteer het, gebeur, maar hy was seker dat dit sou kom. Ons moet sekerlik net so vol vertroue wees dat die huidige goddelose stelsel van dinge tydens die voorspelde “dag van Jehovah” sal eindig.—2 Petrus 3:11, 12.
Jehovah stel sake reg
15. Hoe sal jy die profesie in Miga 4:1-4 in jou eie woorde beskryf?
15 Wanneer ons terugkyk, sien ons dat Miga vervolgens ’n opwindende boodskap van hoop bekend maak. Watter bemoedigende woorde vind ons tog in Miga 4:1-4! Miga sê: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en volke sal daarheen stroom. . . . En hy sal beslis oordeel tussen baie volke en sake regstel met betrekking tot magtige nasies wat ver is. En hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie. En hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie; want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek.”
16, 17. Hoe word Miga 4:1-4 vandag vervul?
16 Wie is die “baie volke” en die “magtige nasies” wat hier genoem word? Hulle is nie die nasies en regerings van hierdie wêreld nie. Die profesie is eerder van toepassing op individue wat uit alle nasies kom om verenigde heilige diens op Jehovah se berg van ware aanbidding te verrig.
17 In ooreenstemming met Miga se profesie sal die rein aanbidding van Jehovah binnekort ten volle oor die hele aarde beoefen word. Tans word mense ‘wat die regte gesindheid vir die ewige lewe het’, in Jehovah se weë onderrig (Handelinge 13:48). In geestelike sin oordeel Jehovah en stel hy sake reg vir gelowiges wat hulle standpunt vir die Koninkryk inneem. Hulle sal “die groot verdrukking” oorleef as deel van die “groot menigte” (Openbaring 7:9, 14). Aangesien hulle van hulle swaarde ploegskare gesmee het, lewe hulle selfs vandag al in vrede met mede-Getuies van Jehovah en met ander. Hoe wonderlik is dit tog om onder hulle te wees!
Vasbeslote om in Jehovah se naam te wandel
18. Wat word voorgestel deur die uitdrukking dat elkeen ‘onder sy eie wingerdstok en vyeboom sal sit’?
18 In ons dag, terwyl vrees die aarde soos ’n onheilspellende wolk oordek, is ons verheug dat baie mense Jehovah se weë leer ken. Ons sien uit na die tyd, wat nou op hande is, wanneer niemand wat God liefhet, meer sal leer om oorlog te voer nie, maar onder hulle eie wingerdstok en vyeboom sal sit. Vyebome word dikwels in wingerde geplant (Lukas 13:6). Die uitdrukking dat elkeen onder sy eie wingerdstok en vyeboom sal sit, stel vreedsame, voorspoedige en veilige toestande voor. Weens ons verhouding met Jehovah geniet ons nou reeds gemoedsrus en geestelike veiligheid. Wanneer sulke toestande onder Koninkryksheerskappy bestaan, sal ons nie bang wees nie, maar heeltemal veilig voel.
19. Wat beteken dit om in Jehovah se naam te wandel?
19 Om goddelike guns en seën te geniet, moet ons in Jehovah se naam wandel. Dit word op kragtige wyse uitgedruk in Miga 4:5, waar die profeet sê: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.” Om in Jehovah se naam te wandel, beteken nie bloot dat ons sê hy is ons God nie. En dit vereis meer as om net aan Christelike vergaderinge en die Koninkrykspredikingswerk deel te neem, hoewel sulke bedrywighede belangrik is. As ons in Jehovah se naam wandel, sal ons toegewyd aan hom wees en ons inspan om hom getrou uit heelhartige liefde te dien (Matteus 22:37). En as sy aanbidders is ons beslis vasbeslote om in die naam van Jehovah ons God te wandel tot in alle ewigheid.
20. Wat is in Miga 4:6-13 voorspel?
20 Kom ons kyk nou na die profetiese woorde van Miga 4:6-13. “Die dogter van Sion” moet in ballingskap gaan “tot by Babilon”. Dit is presies wat in die sewende eeu v.G.J. met die inwoners van Jerusalem gebeur. Nogtans toon Miga se profesie dat ’n oorblyfsel na Juda sal terugkeer, en met Sion se herstel sal Jehovah toesien dat hulle vyande verpletter word.
21, 22. Hoe is Miga 5:2 vervul?
21 Miga hoofstuk 5 voorspel ook ander dramatiese gebeure. Let byvoorbeeld op wat Miga 5:2-4 sê. Miga voorspel dat ’n Heerser wat deur God aangestel is—een “wie se oorsprong uit die vroeë tye is”—uit Betlehem sal kom. Hy sal as herder “in die sterkte van Jehovah” heers. Daarbenewens sal hierdie Heerser nie net groot wees in Israel nie, maar “tot aan die eindes van die aarde”. Sy identiteit verwar dalk die wêreld oor die algemeen, maar vir ons is dit nie ’n verborgenheid nie.
22 Wie is die belangrikste persoon wat nog in Betlehem gebore is? En wie sal “groot wees tot aan die eindes van die aarde”? Niemand anders as die Messias, Jesus Christus, nie! Toe Herodes die Grote die hoofpriesters en die skrifgeleerdes gevra het waar die Messias gebore sou word, het hulle geantwoord: “In Betlehem in Judea.” Hulle het selfs die woorde van Miga 5:2 aangehaal (Matteus 2:3-6). Party van die gewone mense het dit ook geweet, want Johannes 7:42 haal hulle woorde soos volg aan: “Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorpie waar Dawid was, kom nie?”
Ware verkwikking vir mense
23. Wat gebeur nou ter vervulling van Miga 5:7?
23 Miga 5:5-15 verwys na ’n Assiriese inval waarvan die sukses kortstondig sal wees en toon dat God wraak sal uitoefen op ongehoorsame nasies. Miga 5:7 belowe dat ’n berouvolle Joodse oorblyfsel in hulle land herstel sal word, maar hierdie woorde is ook van toepassing op ons dag. Miga sê: “Die oorblywendes van Jakob sal tussen baie volke soos dou van Jehovah word, soos oorvloedige reënbuie op die plante.” Hierdie pragtige simboliek is gebruik om te voorspel dat die oorblyfsel van geestelike Jakob, of Israel, ’n seën van God vir die volke sal wees. Jesus se “ander skape”, wat ’n aardse hoop het, is verheug om skouer aan skouer saam met die hedendaagse oorblyfsel van “die Israel van God” te werk en hulle te help om ander geestelik te verkwik (Johannes 10:16; Galasiërs 6:16; Sefanja 3:9). In dié verband is daar ’n belangrike punt waaroor ons kan nadink. As Koninkryksverkondigers behoort ons almal ons voorreg te waardeer om ware verkwikking aan ander te bring.
24. Watter punte uit Miga hoofstukke 3 tot 5 het ’n indruk op jou gemaak?
24 Wat het jy uit hoofstukke 3 tot 5 van Miga se profesie geleer? Dalk die volgende punte: (1) God verwag dat diegene wat die leiding onder sy volk neem, geregtigheid moet beoefen. (2) Jehovah sal nie ons gebede verhoor as ons op onberouvolle wyse sonde beoefen nie. (3) Ons predikingsopdrag kan slegs uitgevoer word as God ons deur middel van sy heilige gees versterk. (4) Om goddelike guns te geniet, moet ons in Jehovah se naam wandel. (5) As Koninkryksverkondigers moet ons ons voorreg waardeer om ware verkwikking aan mense te bring. Daar is moontlik ook ander punte wat ’n indruk op jou gemaak het. Wat kan ons nog uit hierdie profetiese Bybelboek leer? Die volgende artikel sal ons help om praktiese lesse uit die laaste twee hoofstukke van Miga se geloofversterkende profesie te leer.
Hoe sal jy antwoord?
• Wat verwag God van diegene wat die leiding onder sy volk neem?
• Waarom is gebed en heilige gees belangrik in ons diens aan Jehovah?
• Hoe ‘wandel mense in Jehovah se naam’?
[Prent op bladsy 15]
Kan jy Miga se illustrasie oor die kookpot verduidelik?
[Prente op bladsy 16]
Soos Miga voer ons ons bediening moedig uit