Vervolg ter wille van regverdigheid
“Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is.”—MATTEUS 5:10.
1. Waarom het Jesus voor Pontius Pilatus gestaan, en wat het Jesus gesê?
“HIERVOOR is ek gebore en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Toe Jesus hierdie woorde gesê het, het hy voor Pontius Pilatus, die Romeinse Goewerneur van Judea, gestaan. Jesus was nie daar uit eie keuse of op uitnodiging van Pilatus nie. Hy was eerder daar omdat hy deur die Joodse godsdiensleiers valslik daarvan beskuldig is dat hy ’n kwaaddoener is wat die dood verdien.—Johannes 18:29-31.
2. Wat het Jesus voor Pilatus gedoen, en waartoe het dit gelei?
2 Jesus het geweet dat Pilatus die gesag het om hom vry te laat of ter dood te veroordeel (Johannes 19:10). Maar dit het hom nie daarvan weerhou om moedig met Pilatus oor die Koninkryk te praat nie. Hoewel Jesus se lewe in gevaar was, het hy die geleentheid aangegryp om vir die hoogste regerende gesag van die streek te getuig. Ten spyte van daardie getuienis is Jesus veroordeel en tereggestel en het hy ’n pynlike marteldood aan ’n folterpaal gesterf.—Matteus 27:24-26; Markus 15:15; Lukas 23:24, 25; Johannes 19:13-16.
Getuie of martelaar?
3. Wat het die woord “martelaar” in Bybeltye beteken, maar wat beteken dit vandag?
3 Vir baie mense van vandag is ’n martelaar min of meer dieselfde as ’n fanatikus, ’n ekstremis. Diegene wat bereid is om te sterf vir hulle oortuigings, veral hulle godsdiensoortuigings, word dikwels daarvan verdink dat hulle terroriste is of, dan ten minste, ’n bedreiging vir die samelewing. Maar die woord martelaar kom van ’n Griekse term (marʹtys) wat in Bybeltye “getuie” beteken het, iemand wat getuig, moontlik in ’n hofsaak, oor wat hy glo die waarheid is. Eers later het die uitdrukking die betekenis verkry van “iemand wat sy lewe gee omdat hy getuig”, of selfs iemand wat getuig deur sy lewe te gee.
4. Hoofsaaklik in watter sin was Jesus ’n martelaar?
4 Jesus was hoofsaaklik ’n martelaar in die vroeëre sin van die woord. Soos hy vir Pilatus gesê het, het hy gekom om “van die waarheid te getuig”. Sy getuienis het baie uiteenlopende reaksies by mense uitgelok. Party van die gewone mense is diep getref deur wat hulle gehoor en gesien het, en hulle het geloof in Jesus gestel (Johannes 2:23; 8:30). Die skares oor die algemeen en die godsdiensleiers in die besonder het ook ’n besliste reaksie hierop gehad—maar dit was negatief. Jesus het vir sy ongelowige familielede gesê: “Die wêreld het geen rede om julle te haat nie, maar hy haat my, omdat ek aangaande hom getuig dat sy werke goddeloos is” (Johannes 7:7). Omdat Jesus van die waarheid getuig het, het hy hom die gramskap van die volksleiers op die hals gehaal, wat tot sy dood gelei het. Hy was inderdaad “die getroue en waaragtige getuie (marʹtys)”.—Openbaring 3:14.
‘Julle sal voorwerpe van haat wees’
5. Wat het Jesus vroeg in sy bediening oor vervolging gesê?
5 Nie net is Jesus self wreed vervolg nie, maar hy het ook sy volgelinge gewaarsku dat dieselfde met hulle sou gebeur. Vroeg in sy bediening het Jesus in sy Bergpredikasie vir sy toehoorders gesê: “Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle. Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele.”—Matteus 5:10-12.
6. Watter waarskuwing het Jesus gegee toe hy die 12 apostels uitgestuur het?
6 Later, toe Jesus die 12 apostels uitgestuur het, het hy vir hulle gesê: “Wees op julle hoede vir die mense; want hulle sal julle aan plaaslike geregshowe oorlewer, en hulle sal julle in hulle sinagoges gesel. Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies.” Maar godsdiensowerhede sou nie die enigstes wees wat die dissipels vervolg nie. Jesus het ook gesê: “Die een broer [sal] die ander broer aan die dood oorlewer, en ’n vader sy kind, en kinders sal teen ouers opstaan en hulle laat doodmaak. En julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees; maar wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 10:17, 18, 21, 22). Die geskiedenis van die eerste-eeuse Christene getuig van hoe waar daardie woorde was.
’n Verslag van getroue volharding
7. Wat het daartoe gelei dat Stefanus ’n martelaar geword het?
7 Kort ná Jesus se dood het Stefanus die eerste Christen geword wat gesterf het omdat hy van die waarheid getuig het. Hy was “vol guns en krag [en] het groot voortekens en tekens onder die volk gedoen”. Sy godsdiensvyande was “nie opgewasse teen die wysheid en die gees waarmee hy gepraat het nie” (Handelinge 6:8, 10). Verteer deur jaloesie, het hulle Stefanus gesleep voor die Sanhedrin, die Joodse hoër hof, waar hy ’n kragtige getuienis voor sy valse beskuldigers gegee het. Maar op die ou end het Stefanus se vyande hierdie getroue getuie vermoor.—Handelinge 7:59, 60.
8. Hoe het die dissipels in Jerusalem gereageer op die vervolging wat oor hulle gekom het ná Stefanus se dood?
8 Ná die moord op Stefanus “het daar groot vervolging ontstaan teen die gemeente wat in Jerusalem was; almal behalwe die apostels is in al die streke van Judea en Samaria verstrooi” (Handelinge 8:1). Het vervolging die Christelike getuieniswerk stopgesit? Inteendeel, die verslag sê dat ‘dié wat verstrooi is, deur die land gegaan het en die goeie nuus van die woord bekend gemaak het’ (Handelinge 8:4). Hulle het ongetwyfeld soos die apostel Petrus gevoel, wat vroeër gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Ten spyte van die vervolging het daardie getroue en moedige dissipels voortgegaan met die werk om van die waarheid te getuig, hoewel hulle geweet het dat dit tot meer ontberinge sou lei.—Handelinge 11:19-21.
9. Watter verdere vervolging het Jesus se volgelinge ondervind?
9 Ja, die ontberinge het bly toeneem. Eerstens sien ons dat Saulus—die man wat met goedkeuring toegekyk het toe Stefanus gestenig is—“nog steeds dreiging en moord teen die dissipels van die Here geblaas het, [en hy] het na die hoëpriester toe gegaan en van hom briewe aan die sinagoges in Damaskus gevra, sodat hy almal wat hy sou vind wat tot Die Weg behoort, manne sowel as vroue, geboeid na Jerusalem kon bring” (Handelinge 9:1, 2). Toe, omstreeks die jaar 44 G.J., “het koning Herodes sy hande aan party van die lede van die gemeente geslaan om hulle te mishandel. Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard om die lewe gebring.”—Handelinge 12:1, 2.
10. Watter verslag oor vervolging vind ons in Handelinge en Openbaring?
10 Die res van die boek Handelinge bevat ’n onuitwisbare verslag van die beproewinge, gevangeneming en vervolging wat getroue persone verduur het, soos Paulus, die gewese vervolger wat ’n apostel geword het en heel moontlik omstreeks 65 G.J. op bevel van die Romeinse keiser Nero ’n marteldood gesterf het (2 Korintiërs 11:23-27; 2 Timoteus 4:6-8). Laastens vind ons in die boek Openbaring, wat teen die einde van die eerste eeu geskryf is, dat die bejaarde apostel Johannes ’n gevangene is op die strafeiland Patmos “omdat [hy] oor God gepraat en van Jesus getuig het”. Openbaring bevat ook ’n verwysing na “Antipas, my getuie, die getroue, wat . . . doodgemaak is” in Pergamum.—Openbaring 1:9; 2:13.
11. Hoe het die ondervindinge van die vroeë Christene Jesus se woorde aangaande vervolging waar bewys?
11 Dit alles het Jesus se woorde aan sy dissipels waar bewys: “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg” (Johannes 15:20). Die getroue vroeë Christene was bereid om die swaarste toets, die dood—deur marteling, deur wilde diere of op enige ander manier—te verduur sodat hulle die opdrag van die Here Jesus Christus kon uitvoer: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—Handelinge 1:8.
12. Waarom is vervolging van Christene nie net deel van die geskiedenis nie?
12 As enigeen dink dat sulke wrede behandeling van Jesus se volgelinge tot die ou tyd beperk was, begaan hy ’n groot fout. Paulus, wat soos ons gesien het, baie ontberinge deurgemaak het, het geskryf: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Aangaande vervolging het Petrus gesê: “Ja, tot hierdie weg is julle geroep, want ook Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Tot en met hierdie “laaste dae” van die stelsel van dinge is Jehovah se volk nog steeds voorwerpe van haat en vyandigheid (2 Timoteus 3:1). In elke uithoek van die aarde, onder diktatorskappe en in demokratiese lande, het Jehovah se Getuies op die een of ander tyd vervolging verduur, as individue of as ’n groep.
Waarom gehaat en vervolg?
13. Wat moet hedendaagse knegte van Jehovah in gedagte hou aangaande vervolging?
13 Hoewel die meeste van ons vandag relatiewe vryheid geniet om die predikingswerk te doen en vreedsaam te vergader, moet ons die Bybelse herinnering ter harte neem dat “die toneel van hierdie wêreld . . . aan die verander” is (1 Korintiërs 7:31). Dinge kan so vinnig verander dat ons maklik kan struikel as ons nie verstandelik, emosioneel en geestelik voorbereid is nie. Wat kan ons dus doen om onsself te beskerm? ’n Kragtige verdedigingsmaatreël is om altyd goed in gedagte te hou waarom vredeliewende en wetsgehoorsame Christene gehaat en vervolg word.
14. Wat was volgens Petrus die rede waarom Christene vervolg word?
14 Die apostel Petrus het hieroor kommentaar gelewer in sy eerste brief, wat hy omstreeks 62-64 G.J. geskryf het, toe Christene in die hele Romeinse Ryk beproewinge en vervolging ondervind het. Hy het gesê: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die brand onder julle, wat as ’n beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie.” Petrus het vervolgens verduidelik wat hy bedoel het en gesê: “Laat niemand van julle . . . ly as ’n moordenaar of ’n dief of ’n kwaaddoener of as iemand wat hom met ander se sake bemoei nie. Maar as hy ly as ’n Christen, moet hy hom nie skaam nie, maar aanhou om God in hierdie naam te verheerlik.” Petrus het daarop gewys dat hulle gely het, nie omdat hulle verkeerde dinge gedoen het nie, maar vir wie hulle was. As hulle hulle oorgegee het aan “dieselfde lae poel van losbandigheid” as die mense om hulle, sou hulle met ope arms verwelkom geword het. Maar nou het hulle gely omdat hulle hulle rol as volgelinge van Christus wou vervul. Die situasie is dieselfde vir ware Christene van vandag.—1 Petrus 4:4, 12, 15, 16.
15. Watter teenstrydigheid kan gesien word in die manier waarop Jehovah se Getuies vandag behandel word?
15 In baie wêrelddele word Jehovah se Getuies in die openbaar geprys vir die eenheid en samewerking wat by hulle byeenkomste en bouprojekte gesien word, vir hulle eerlikheid en vlytigheid, vir hulle voorbeeldige sedelike gedrag en gesinslewe en selfs vir hulle netjiese voorkoms en goeie gedrag.a Maar toe hierdie artikel geskryf is, was hulle werk in ten minste 28 lande verbied of beperk, en baie Getuies word fisies mishandel en verloor hulle besittings weens hulle geloof. Waarom die duidelike teenstrydigheid? En waarom laat God dit toe?
16. Wat is die vernaamste rede waarom God toelaat dat sy volk vervolg word?
16 Ons moet allereers die woorde van Spreuke 27:11 in gedagte hou: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.” Ja, dit is weens die eeue oue geskil van universele soewereiniteit. Ten spyte van die berg getuienis wat al voorsien is deur almal wat deur die eeue heen hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf het, het Satan nie opgehou om Jehovah uit te tart soos hy in die dae van die regverdige man Job gedoen het nie (Job 1:9-11; 2:4, 5). Satan het ongetwyfeld selfs desperater geword in sy finale poging om sy aantyging te bewys, noudat God se Koninkryk stewig gevestig is, met lojale onderdane en verteenwoordigers regoor die aarde. Sal hulle getrou aan God bly ongeag watter teëspoed en ontbering oor hulle kom? Dit is ’n vraag wat elke kneg van Jehovah persoonlik moet beantwoord.—Openbaring 12:12, 17.
17. Wat het Jesus bedoel met die woorde “dit sal vir julle op ’n getuienis uitloop”?
17 Toe Jesus vir sy dissipels vertel het van gebeure wat gedurende “die voleinding van die stelsel van dinge” sou plaasvind, het hy nog ’n rede voorsien waarom Jehovah toelaat dat sy knegte vervolg word. Hy het vir hulle gesê: “Julle sal ter wille van my naam voor konings en goewerneurs gesleep word. Dit sal vir julle op ’n getuienis uitloop” (Matteus 24:3, 9; Lukas 21:12, 13). Jesus self het voor Herodes en Pontius Pilatus getuig. Die apostel Paulus is ook “voor konings en goewerneurs gesleep”. Onder leiding van die Here Jesus Christus het Paulus probeer om ’n getuienis voor die magtigste heerser van sy dag te gee toe hy verklaar het: “Ek beroep my op die keiser!” (Handelinge 23:11; 25:8-12). Ook vandag het moeilike situasies dikwels gelei tot ’n goeie getuienis voor mense in gesagsposisies sowel as die publiek.b
18, 19. (a) Hoe sal ons daarby baat vind as ons beproewinge verduur? (b) Watter vrae sal in die volgende artikel bespreek word?
18 Laastens kan ons persoonlik daarby baat vind as ons beproewinge en verdrukking verduur. Hoe so? Die dissipel Jakobus het mede-Christene herinner: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle allerhande beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk.” Ja, vervolging kan ons geloof louter en ons volharding versterk. Daarom vrees ons dit nie, en ons probeer dit ook nie op onskriftuurlike maniere ontduik of beëindig nie. Ons slaan eerder ag op Jakobus se vermaning: “Laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”—Jakobus 1:2-4.
19 Hoewel God se Woord ons help om te verstaan waarom God se getroue knegte vervolg word en waarom Jehovah dit toelaat, maak dit vervolging nie noodwendig makliker om te verduur nie. Wat kan ons versterk om dit te deurstaan? Wat kan ons doen wanneer ons vervolg word? Ons sal hierdie belangrike kwessies in die volgende artikel bespreek.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring van 15 Desember 1995, bladsye 27-9; 15 April 1994, bladsye 16-17, en die Ontwaak! van 22 Desember 1993, bladsye 6-13.
b Sien die Ontwaak! van 8 Januarie 2003, bladsye 3-11.
Kan jy verduidelik?
• Hoofsaaklik in watter sin was Jesus ’n martelaar?
• Watter uitwerking het vervolging op eerste-eeuse Christene gehad?
• Waarom is die vroeë Christene vervolg, soos Petrus verduidelik het?
• Om watter redes laat Jehovah toe dat sy knegte vervolg word?
[Prente op bladsy 10, 11]
Die eerste-eeuse Christene het gely, nie omdat hulle verkeerde dinge gedoen het nie, maar vir wie hulle was
PAULUS
JOHANNES
ANTIPAS
JAKOBUS
STEFANUS