Kan enigiemand vertrou word?
NADAT die Berlynse Muur in 1989 geval het, is ’n paar goed bewaarde geheime geopenbaar. Lydiaa het byvoorbeeld uitgevind dat die Stasi, of Staatsveiligheidsdiens, gedurende die Sosialistiese bewind in Oos-Duitsland ’n lêer oor haar private bedrywighede saamgestel het. Lydia was verbaas om van die lêer te hoor. Maar stel jou haar ontsteltenis voor toe sy hoor wie die Stasi van inligting voorsien het—haar man. Sy is verraai deur iemand wat sy volkome moes kon vertrou het.
Robert was ’n bejaarde man wat sy plaaslike dokter met “die grootste respek, bewondering en vertroue” bejeën het, berig The Times van Londen. Die dokter was glo “vriendelik en simpatiek”. Toe het Robert onverwags gesterf. Was dit weens ’n hartaanval of ’n beroerte? Nee. Die owerheid het tot die slotsom gekom dat die dokter Robert by sy huis besoek het en, sonder Robert of sy familie se medewete, hom ’n dodelike inspuiting gegee het. Robert is blykbaar vermoor deur iemand wat hy ten volle vertrou het.
Lydia sowel as Robert se vertroue is op ’n skokkende wyse geskend, en met verskriklike gevolge. In ander gevalle is die gevolge nie so ernstig nie. Hoe dit ook al sy, dit is nie iets ongewoons om teleurgestel te word deur iemand wat ons vertrou nie. Volgens ’n verslag wat gepubliseer is deur ’n toonaangewende Duitse instituut vir meningspeilings, Allensbacher Jahrbuch der Demoskopie 1998-2002, het een opname aan die lig gebring dat 86 persent van die respondente al teleurgestel is deur iemand in wie hulle hulle vertroue gestel het. Dalk het jy al ’n soortgelyke ondervinding gehad. Daarom verbaas dit ons glad nie dat die Switserse koerant Neue Zürcher Zeitung in 2002 berig het dat daar “in Westerse nywerheidslande al dekades lank ’n afname is in verhoudings wat op wedersydse vertroue gegrond is”.
Stadig opgebou, gou vernietig
Wat is vertroue? Om ander te vertrou, beteken volgens een woordeboek om “te glo dat hulle eerlik en opreg is en dat hulle nie opsetlik iets sal doen wat jou sal seermaak nie”. Vertroue word stadig opgebou, maar kan in ’n oogwink vernietig word. Aangesien so baie mense meen dat hulle vertroue al geskend is, is dit glad nie verbasend dat mense lugtig is om ander te vertrou nie. Volgens ’n meningspeiling wat in 2002 in Duitsland gepubliseer is, “het minder as 1 uit 3 jongmense ’n basiese vertroue in ander mense”.
Ons vra dalk: ‘Kan ons enigiemand werklik vertrou? Is dit die moeite werd om ons vertroue in iemand te stel en dan miskien teleurgestel te word?’
[Voetnoot]
a Name is verander.
[Lokteks op bladsy 3]
Een opname het aan die lig gebring dat 86 persent van die respondente al teleurgestel is deur iemand in wie hulle hulle vertroue gestel het