Getuig met die doel om dissipels te maak
“Toe Priscilla en Aquila [Apollos] hoor, het hulle hom by hulle geneem en die weg van God met groter juistheid vir hom uitgelê.”—HANDELINGE 18:26.
1. Wat het Apollos nodig gehad, hoewel hy “gegloei het van die gees”?
PRISCILLA en Aquila, ’n eerste-eeuse Christenegpaar, het gehoor hoe Apollos ’n toespraak by ’n sinagoge in die stad Efese hou. Met sy goed gekose woorde en oorredingskrag het Apollos die aandag van sy gehoor geboei. Hy het ‘gegloei van die gees’ en het ‘die dinge omtrent Jesus met juistheid geleer’. Maar dit was duidelik dat Apollos “net met die doop van Johannes bekend was”. Wat Apollos aangaande die Christus verkondig het, was alles waar. Die probleem was egter dat sy kennis beperk was. Apollos het meer kennis nodig gehad aangaande Jesus Christus se rol in die vervulling van Jehovah se voorneme.—Handelinge 18:24-26.
2. Watter uitdaging het Priscilla en Aquila aanvaar?
2 Priscilla en Aquila het hulle sonder meer beskikbaar gestel om Apollos te help sodat hy iemand kon word wat “al die dinge” onderhou wat Christus beveel het (Matteus 28:19, 20). Die verslag sê dat hulle Apollos “by hulle geneem en die weg van God met groter juistheid vir hom uitgelê” het. Maar sekere feite omtrent Apollos sou party Christene huiwerig laat voel het om hom te leer. Watter feite? En wat kan ons leer uit die moeite wat Priscilla en Aquila gedoen het om die Skrif met Apollos te bespreek? Hoe kan ’n hersiening van hierdie geskiedkundige verslag ons help om ons daarop toe te spits om Bybelstudies te begin?
Wees ingestel op mense
3. Waarom het Apollos se agtergrond Priscilla en Aquila nie daarvan weerhou om hom te leer nie?
3 Apollos was van Joodse herkoms en het blykbaar in die stad Aleksandrië grootgeword. Aleksandrië was destyds die hoofstad van Egipte en ’n sentrum van hoër onderwys, wat bekend was vir sy groot biblioteek. Die stad het ’n groot Joodse bevolking gehad, waaronder geleerdes. Die Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte bekend as die Septuagint kom dus daarvandaan. Dit is geen wonder dat Apollos “goed vertroud met die Skrif” was nie! Aquila en Priscilla was tentmakers. Het Apollos se welsprekendheid hulle minderwaardig laat voel? Nee. Uit liefde het hulle die persoon en sy behoeftes in ag geneem en gedink aan hoe hulle hom kon help.
4. Waar en hoe het Apollos die hulp ontvang wat hy nodig gehad het?
4 Ongeag hoe welsprekend Apollos was, hy het opleiding nodig gehad. Die hulp wat hy nodig gehad het, kon nie aan ’n universiteit gevind word nie, maar wel onder medegelowiges van die Christengemeente. Apollos sou baat vind by punte wat hom ’n juister begrip van God se reëling vir redding sou gee. Priscilla en Aquila het “hom by hulle geneem en die weg van God met groter juistheid vir hom uitgelê”.
5. Wat kan jy sê oor die geestelikheid van Priscilla en Aquila?
5 Priscilla en Aquila was geestelik sterk en stewig gegrond in die geloof. Hulle was heel waarskynlik ‘altyd gereed om hulle te verdedig voor elkeen wat ’n rede vir die hoop in hulle geëis het’, hetsy dit ’n ryk man, ’n arm persoon, ’n geleerde of ’n slaaf was (1 Petrus 3:15). Aquila en sy vrou kon “die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Hulle was klaarblyklik ernstige studente van die Skrif. Apollos is diep getref deur die onderrigting wat gegrond was op ‘die woord van God, wat lewend is en krag uitoefen’, en dus die hart raak.—Hebreërs 4:12.
6. Hoe weet ons dat Apollos die hulp wat hy ontvang het, waardeer het?
6 Apollos het die voorbeeld van sy onderrigters waardeer en het selfs bekwamer daarin geword om dissipels te maak. Hy het sy kennis ten volle gebruik in die werk om die goeie nuus te verkondig, veral onder die Joodse bevolking. Apollos was besonder suksesvol daarin om die Jode van Christus te oortuig. Omdat hy “magtig in die Skrifte” was, kon hy vir hulle bewys dat al die profete van die ou tyd uitgesien het na die koms van die Christus (Handelinge 18:24, Die Bybel, 1953). Die verslag voeg by dat Apollos vervolgens na Agaje gegaan het, waar “hy dié wat vanweë God se onverdiende goedhartigheid gelowig geword het, grootliks gehelp [het]; want hy het die Jode in die openbaar kragtig en deeglik verkeerd bewys, terwyl hy aan die hand van die Skrif getoon het dat Jesus die Christus is”.—Handelinge 18:27, 28.
Leer uit die voorbeeld van ander onderrigters
7. Hoe het Aquila en Priscilla bekwame onderrigters geword?
7 Hoe het Aquila en Priscilla bekwame onderrigters van die Woord van God geword? Benewens hulle ywerige persoonlike studie en vergaderingbywoning het hulle hegte omgang met die apostel Paulus hulle ongetwyfeld grootliks gehelp. Paulus het 18 maande lank by Priscilla en Aquila in Korinte tuisgegaan. Hulle het saam gewerk en tente gemaak en herstel (Handelinge 18:2, 3). Stel jou voor watter diep skriftuurlike gesprekke hulle moes geniet het. En hoe moes assosiasie met Paulus hulle tog geestelik opgebou het! “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, sê Spreuke 13:20. Goeie omgang het ’n goeie uitwerking op hulle geestelike gewoontes gehad.—1 Korintiërs 15:33.
8. Wat het Priscilla en Aquila geleer deur Paulus in sy bediening waar te neem?
8 Wanneer Priscilla en Aquila na Paulus as ’n Koninkryksverkondiger gekyk het, het hulle ’n goeie onderrigter in aksie gesien. Die verslag in Handelinge sê dat Paulus “elke sabbat ’n toespraak in die sinagoge [in Korinte] gehou en Jode en Grieke oorreed” het. Later, toe Silas en Timoteus by hom aangesluit het, het Paulus “hom intensief met die woord begin besig hou en aan die Jode getuig om te bewys dat Jesus die Christus is”. Toe min belangstelling onder die lede van die sinagoge gevind is, het Priscilla en Aquila gesien dat Paulus eerder sy predikingswerk begin toespits op ’n gunstiger gehoor, wat in ’n huis langs die sinagoge gevind is. Daar was Paulus in staat om Krispus, “die presiderende beampte van die sinagoge”, te help om ’n dissipel te word. Priscilla en Aquila het heel waarskynlik opgemerk watter kragtige en positiewe uitwerking dit op die gebied gehad het toe daardie dissipel gemaak is. Die verslag sê: “Krispus. . . het in die Here begin glo, en so ook al sy huisgenote. En baie van die Korintiërs wat gehoor het, het begin glo en is gedoop.”—Handelinge 18:4-8.
9. Hoe het Priscilla en Aquila op Paulus se voorbeeld gereageer?
9 Paulus se voorbeeld in die veldbediening is deur ander Koninkryksverkondigers, soos Priscilla en Aquila, nagevolg. Die apostel het ander Christene aangespoor: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). In ooreenstemming met Paulus se voorbeeld het Priscilla en Aquila vir Apollos gehelp om ’n juister begrip van Christelike leringe te verkry. Hy het weer op sy beurt ander gehelp. Priscilla en Aquila het ongetwyfeld gehelp om dissipels in Rome, Korinte en Efese te maak.—Handelinge 18:1, 2, 18, 19; Romeine 16:3-5.
10. Wat het jy uit Handelinge hoofstuk 18 geleer wat jou in die dissipelmaakwerk sal help?
10 Wat kan ons leer uit ons bespreking van Handelinge hoofstuk 18? Wel, net soos Aquila en Priscilla moontlik by Paulus geleer het, kan ons ons vermoë verbeter om dissipels te maak deur die voorbeeld van goeie onderrigters van God se Woord na te volg. Ons kan omgaan met diegene wat hulle ‘intensief met die woord besig hou’ en wat “deeglik getuig” vir ander (Handelinge 18:5, Kingdom Interlinear Translation). Ons kan kyk hoe hulle die harte van mense bereik deur die oorredingskuns in hulle onderrigting te gebruik. Hierdie kuns kan ons help om dissipels te maak. Wanneer ons die Bybel met iemand studeer, kan ons voorstel dat hy ander lede van sy familie of bure nooi om die studie by te woon. Of ons kan hom vra om ons van ander te vertel vir wie ons ’n Bybelstudie kan aanbied.—Handelinge 18:6-8.
Skep geleenthede om dissipels te maak
11. Waar kan nuwe dissipels gevind word?
11 Paulus en sy mede-Christene het dissipels probeer maak deur van huis tot huis te getuig, asook op markpleine en wanneer hulle op reis was—trouens, oral. Kan jy, as ’n ywerige Koninkrykswerker wat graag dissipels wil maak, jou velddiensbedrywighede uitbrei? Kan jy geleenthede benut om na verdienstelikes te soek en vir hulle te getuig? Wat is van die maniere waarop medeverkondigers van die goeie nuus dissipels gevind het? Kom ons kyk eerstens na die aspek van telefoongetuieniswerk.
12-14. Vertel jou eie ondervinding of een in hierdie paragrawe om die voordele van telefoongetuieniswerk toe te lig.
12 Terwyl ’n Christenvrou, wat ons Maria sal noem, in Brasilië van huis tot huis getuig het, het sy ’n traktaat gegee vir ’n jong vrou wat uit ’n woonstelgebou gekom het. Maria het die titel van die traktaat as ’n inleiding gebruik en gevra: “Wil jy graag die Bybel beter leer ken?” Die vrou het geantwoord: “Ja, ek sal baie daarvan hou. Die probleem is net dat ek ’n onderwyseres is en dat my klasse al my tyd in beslag neem.” Maria het verduidelik dat hulle Bybelonderwerpe oor die telefoon kon bespreek. Die vrou het Maria haar telefoonnommer gegee, en daardie selfde aand nog het sy ’n studie oor die telefoon begin met behulp van die brosjure Wat vereis God van ons?a
13 Terwyl ’n voltydse bedienaar in Etiopië telefoongetuieniswerk gedoen het, het sy ’n lawaai in die agtergrond gehoor terwyl sy met ’n man gepraat het. Die man het haar gevra om later terug te bel. Toe sy terugbel, het hy verskoning gevra en gesê dat hy en sy vrou in die middel van ’n hewige woordewisseling was toe sy vroeër gebel het. Die suster het hierdie opmerking gebruik om na die wyse raad in die Bybel te verwys om gesinsprobleme op te los. Sy het vir hom gesê dat baie gesinne gehelp is deur die boek Die geheim van gesinsgeluk, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. ’n Paar dae nadat die boek afgelewer is, het die suster die man weer geskakel. Hy het gesê: “Hierdie boek het my huwelik gered!” Om die waarheid te sê, hy het die hele familie bymekaargeroep om die goeie punte te bespreek wat hy in die boek gelees het. ’n Tuisbybelstudie is begin, en die man het kort daarna Christelike vergaderinge gereeld begin bywoon.
14 ’n Koninkryksverkondiger in Denemarke wat ’n Bybelstudie oor die telefoon begin het, sê: “Die diensopsiener het my aangemoedig om aan telefoongetuieniswerk deel te neem. Aan die begin het ek huiwerig gevoel en gesê: ‘Dis nie vir my nie.’ Maar eendag het ek die moed bymekaargeskraap en die eerste huisbewoner geskakel. Sonja het geantwoord en, ná ’n kort gesprek, ingestem om Bybellektuur te ontvang. Een aand het ons die onderwerp van die skepping bespreek, en sy wou die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? lees.b Ek het gesê dat dit gaaf sou wees as ons kon ontmoet en die onderwerp bespreek. Sy het ingestem. Sonja was gereed vir die studie toe ek daar aankom, en ons het van toe af nog elke week gestudeer.” Ons Christensuster sluit af: “Ek het jare lank vir ’n Bybelstudie gebid, maar nie verwag dat ek een deur telefoongetuieniswerk sou kry nie.”
15, 16. Watter ondervindinge kan jy vertel om die voordele daarvan te toon om te let op verskillende maniere om Bybelstudies te begin?
15 Baie behaal sukses omdat hulle die wenke toepas om vir mense te getuig waar hulle ook al is. ’n Christenvrou in die Verenigde State het in ’n parkeerterrein langs ’n paneelwa stilgehou. Toe die vrou in die paneelwa haar oog vang, het die suster ons Bybelonderrigtingswerk vir haar begin verduidelik. Die vrou het geluister, uit die paneelwa geklim en by die suster in haar motor kom sit. Sy het gesê: “Ek is so bly dat jy met my gepraat het. Ek het baie lank laas enige van julle Bybellektuur gekry. En eintlik wil ek graag weer die Bybel studeer. Sal jy met my studeer?” Ons suster het dus ’n gunstige situasie geskep om die goeie nuus bekend te maak.
16 ’n Suster in die Verenigde State het die volgende ondervinding gehad toe sy ’n verpleeginrigting besoek het: Sy het die organiseerder van sekere bedrywighede genader en vir hom gesê dat sy haar hulp wil aanbied om in die geestelike behoeftes van die inwoners te voorsien. Ons suster het bygevoeg dat sy graag ’n gratis weeklikse Bybelstudie wil hou met almal wat dit wil bywoon. Die organiseerder het haar toestemming gegee om die kamers van verskillende persone te besoek. Kort voor lank het sy ’n Bybelstudie drie maal per week met altesaam 26 inwoners gehou, waarvan een in staat is om ons vergaderinge gereeld by te woon.
17. Watter benadering is dikwels doeltreffend om tuisbybelstudies te begin?
17 Party Koninkryksverkondigers behaal goeie resultate wanneer hulle ’n Bybelstudie direk aanbied. Een oggend het ’n gemeente van 105 verkondigers ’n spesiale poging aangewend om ’n Bybelstudie by elke huisbewoner aan te bied. Die 86 verkondigers wat aan die veldbediening deelgeneem het, het ná twee uur in die predikingswerk ten minste 15 nuwe Bybelstudies begin.
Hou aan soek na verdienstelikes
18, 19. Watter belangrike opdrag van Jesus moet ons in gedagte hou, en wat moet ons met dié doel voor oë vasbeslote wees om te doen?
18 As ’n Koninkryksverkondiger wil jy dalk die wenke in hierdie artikel probeer toepas. Dit sal natuurlik wys wees om plaaslike gebruike in ag te neem wanneer jy sekere metodes vir die getuieniswerk oorweeg. Laat ons bowenal Jesus se opdrag in gedagte hou om na verdienstelikes te soek en hulle te help om dissipels te word.—Matteus 10:11; 28:19.
19 Mag ons met dié doel voor oë “die woord van die waarheid reg hanteer”. Ons kan dit doen deur oorreding te gebruik wat stewig op die Skrif gegrond is. Dit sal ons help om ontvanklikes se harte te bereik en hulle tot dade te beweeg. Terwyl ons biddend op Jehovah vertrou, kan ons sommige help om dissipels van Jesus Christus te word. En hoe lonend is hierdie werk tog! Laat ons derhalwe ‘ons uiterste bes doen om ons goedgekeur voor God te stel’, en altyd eer aan Jehovah bring as ywerige Koninkryksverkondigers, wat getuig met die doel om dissipels te maak.—2 Timoteus 2:15.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Waarom moes die weg van God met groter juistheid vir Apollos uitgelê word?
• Op watter maniere het Priscilla en Aquila by die apostel Paulus geleer?
• Wat het jy uit Handelinge hoofstuk 18 oor die dissipelmaakwerk geleer?
• Hoe kan jy geleenthede skep om dissipels te maak?
[Prent op bladsy 18]
Priscilla en Aquila het ‘die weg van God met groter juistheid vir Apollos uitgelê’
[Prent op bladsy 20]
Apollos het bedrewe daarin geword om dissipels te maak
[Prent op bladsy 21]
Paulus het gepreek waar hy ook al gegaan het
[Prente op bladsy 23]
Skep geleenthede om te getuig