Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 12/1 bl. 9-14
  • ‘Verlustig jou in Jehovah’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Verlustig jou in Jehovah’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Moenie afgunstig wees nie’
  • “Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”
  • ‘Verlustig jou in Jehovah’
  • “Laat jou weg aan Jehovah oor”
  • “Swyg . . . en wag vol verlange”
  • “Nog net ’n klein rukkie”
  • Vertrou op Jehovah en doen wat goed is
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2016
  • Skep jy behae in “die wet van Jehovah”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 12/1 bl. 9-14

‘Verlustig jou in Jehovah’

“Verlustig jou . . . in Jehovah, en hy sal jou die versoeke van jou hart gee.”—PSALM 37:4.

1, 2. Wie is die Bron van ware geluk, en hoe het koning Dawid die aandag hierop gevestig?

“GELUKKIG is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, . . . gelukkig is die barmhartiges, . . . gelukkig is die vredeliewendes.” Hierdie en ses ander beskrywings van dié wat gelukkig is, vorm die treffende inleiding tot Jesus se beroemde Bergpredikasie, soos opgeteken deur die Evangelieskrywer Matteus (Matteus 5:3-11). Jesus se woorde gee die versekering dat geluk binne ons bereik is.

2 ’n Heilige lied wat deur koning Dawid van eertydse Israel geskryf is, vestig die aandag op die Bron van ware geluk, Jehovah. “Verlustig jou . . . in Jehovah”, het Dawid gesê, “en hy sal jou die versoeke van jou hart gee” (Psalm 37:4). Maar hoe kan ’n mens jou “verlustig” in kennis van Jehovah en die talle fasette van sy persoonlikheid? Hoe kan ’n bespreking van wat hy gedoen het en nog gaan doen om sy voorneme te vervul, jou die hoop gee dat jy “die versoeke van jou hart” sal ontvang? ’n Noukeurige ondersoek van Psalm 37, verse 1 tot 11, verskaf die antwoorde.

‘Moenie afgunstig wees nie’

3, 4. Watter raad gee Dawid in Psalm 37:1, en waarom is dit vandag gepas dat ons daarop ag slaan?

3 Ons lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, en goddeloosheid vier hoogty. Ons sien die vervulling van die apostel Paulus se woorde: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word” (2 Timoteus 3:1, 13). Hoe maklik is dit tog om beïnvloed te word deur die skynbare sukses en voorspoed van goddelose mense! Dit alles kan ons aandag aflei en ons geestelike visie uit fokus laat raak. Let op hoe die inleidende woorde van Psalm 37 ons attent maak op hierdie potensiële gevaar: “Moenie driftig wees oor die kwaaddoeners nie. Moenie afgunstig wees op dié wat onregverdigheid bedryf nie.”

4 Die wêreld se media bombardeer ons daagliks met ’n hele rits onregte. Oneerlike sakemanne pleeg bedrog en kom skotvry daarvan af. Misdadigers buit weerlose mense uit. Moordenaars word nie opgespoor nie of bly ongestraf. Al hierdie voorbeelde van regsverdraaiing kan ons woedend maak en ons gemoedsrus versteur. Die oënskynlike sukses van kwaaddoeners kan selfs gevoelens van afguns wek. Maar sal dit die situasie verbeter as ons ons ontstel? Sal dit enigsins die afloop vir die goddeloses verander as ons afgunstig is op die skynbare voordele wat hulle geniet? Beslis nie! En dit is sekerlik nie nodig om “driftig” te raak nie. Waarom nie?

5. Waarom word kwaaddoeners met gras vergelyk?

5 Die psalmis antwoord: “Want soos gras sal hulle gou verdor, en soos groen, nuwe gras sal hulle verwelk” (Psalm 37:2). Groen, nuwe gras lyk dalk mooi, maar die halms verdroog gou en gaan dood. Dieselfde geld vir kwaaddoeners. Hulle oënskynlike voorspoed is nie permanent nie. Wanneer hulle sterf, help die dinge wat hulle op oneerlike wyse verkry het, hulle glad nie. Geregtigheid haal almal uiteindelik in. “Die loon wat die sonde betaal, is die dood”, het Paulus geskryf (Romeine 6:23). Kwaaddoeners en almal wat ongeregtigheid beoefen, sal uiteindelik niks anders as hulle “loon” ontvang nie. Wat ’n nuttelose lewenswyse tog!—Psalm 37:35, 36; 49:16, 17.

6. Watter les kan ons uit Psalm 37:1, 2 leer?

6 Moet ons dan toelaat dat die kortstondige voorspoed van kwaaddoeners ons ontstel? Die les in die eerste twee verse van Psalm 37 is: Moenie toelaat dat hulle sukses jou laat afwyk van jou besluit om Jehovah te dien nie. Hou eerder jou oë gerig op geestelike seëninge en doelwitte.—Spreuke 23:17.

“Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”

7. Waarom moet ons op Jehovah vertrou?

7 “Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”, spoor die psalmis ons aan (Psalm 37:3a). Wanneer ons oorweldig word deur sorge of selfs deur twyfelgedagtes, moet ons ons volle vertroue in Jehovah stel. Hy is die Een wat volkome geestelike veiligheid bied. “Elkeen wat in die skuilplek van die Allerhoogste woon”, het Moses geskryf, “sal vir hom verblyf kry in die skaduwee van die Almagtige” (Psalm 91:1). Wanneer die toename in wetteloosheid in hierdie stelsel van dinge ons verontrus, moet ons selfs meer op Jehovah steun. As ons ons enkel verstuit, waardeer ons dit as ons op ’n vriend se arm kan steun. So ook het ons Jehovah se steun nodig wanneer ons in getrouheid probeer wandel.—Jesaja 50:10.

8. Hoe kan deelname aan die Christelike bediening ons help om ons nie onnodig te ontstel oor die voorspoed van die goddeloses nie?

8 ’n Teenmiddel wat ons kan help om nie ontsteld te raak oor die voorspoed van die goddeloses nie, is om na skaapgeaardes te soek en hulle te help om ’n juiste kennis van Jehovah se voorneme te verkry. Aangesien goddeloosheid toeneem, moet ons alles in ons vermoë doen om ander te help. “Moet . . . nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie”, het die apostel Paulus gesê, “want sulke offerandes is vir God welbehaaglik.” Die beste manier om “goed” aan ander te doen, is om die glorieryke goeie nuus van God se Koninkryk aan hulle bekend te maak. Ons openbare predikingswerk is waarlik “’n lofoffer”.—Hebreërs 13:15, 16; Galasiërs 6:10.

9. Verduidelik Dawid se aansporing om ‘die aarde te bewoon’.

9 “Bewoon die aarde”, sê Dawid verder, “en handel met getrouheid” (Psalm 37:3b). “Die aarde” van Dawid se tyd was die gebied wat Jehovah aan Israel gegee het, die Beloofde Land. Gedurende Salomo se heerskappy het die grense daarvan gestrek van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide. Dit was Israel se woongebied (1 Konings 4:25). Ongeag waar ons vandag op die aarde woon, ons sien uit na die tyd wanneer die hele planeet ’n paradys sal word in die nuwe wêreld van regverdigheid. Intussen woon ons in geestelike veiligheid.—Jesaja 65:13, 14.

10. Wat is die gevolg wanneer ons ‘met getrouheid handel’?

10 Wat sal die gevolg wees wanneer ons ‘met getrouheid handel’? Die geïnspireerde spreuk herinner ons hieraan: “’n Man van getroue dade sal baie seëninge kry” (Spreuke 28:20). As ons getrou volhard in die verkondiging van die goeie nuus waar ons ook al woon en aan wie ons ook al kan, bring dit beslis Jehovah se seëninge mee. Byvoorbeeld, Frank en sy vrou, Rose, het 40 jaar gelede ’n pioniertoewysing in ’n dorp in noordelike Skotland aanvaar. Die paar belangstellendes wat voorheen daar was, het belangstelling in die waarheid verloor. Maar dit het nie hierdie pionieregpaar ontmoedig nie; hulle het die predikingswerk aangepak en dissipels gemaak. Vandag is daar ’n florerende gemeente in daardie dorp. Jehovah het hierdie egpaar waarlik vir hulle getrouheid geseën. “Die grootste seën”, sê Frank nederig, “is dat ons nog in die waarheid is en deur Jehovah gebruik kan word.” Ja, wanneer ons ‘met getrouheid handel’, ontvang ons baie seëninge, waarvoor ons dankbaar is.

‘Verlustig jou in Jehovah’

11, 12. (a) Hoe kan ons ons ‘verlustig in Jehovah’? (b) Watter doelwit kan jy stel wat persoonlike studie betref, en wat sal heel moontlik die gevolg wees?

11 Om ons verhouding met Jehovah te versterk en ons vertroue in hom te behou, moet ons ons ‘verlustig in Jehovah’ (Psalm 37:4a). Hoe doen ons dit? Deur nie oorbesorg te wees oor ons eie situasie nie, al is dit ook hoe moeilik, maar eerder ons aandag te vestig op dinge wat vir Jehovah belangrik is. Een manier waarop ons dit kan doen, is deur tyd in te ruim om sy Woord te lees (Psalm 1:1, 2). Is jou Bybellees iets waarin jy jou verlustig? Dit sal wees as jy lees met die doel om meer oor Jehovah te leer. Nadat jy ’n gedeelte gelees het, kan jy gerus stop en jou afvra: ‘Wat het hierdie gedeelte my oor Jehovah geleer?’ Jy sal dit dalk nuttig vind om ’n notaboek of papier byderhand te hê wanneer jy die Bybel lees. Elke keer as jy stop om te peins oor die betekenis van wat jy lees, kan jy ’n frase neerskryf wat jou aan een van God se aantreklike eienskappe herinner. In ’n ander psalm het Dawid gesing: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah, my Rots en my Verlosser” (Psalm 19:14). Sulke toegespitste aandag op God se Woord is “aangenaam” vir Jehovah en ook vir ons.

12 Hoe kan ons genot put uit ons studie en bepeinsing? Ons kan ons dit ten doel stel om soveel moontlik oor Jehovah en sy weë te leer. Publikasies soos Die grootste mens wat nog geleef het en Kom nader aan Jehovah* gee ons baie dinge waaroor ons met waardering kan nadink. Dawid verseker die regverdige dat Jehovah, op sy beurt, hom ‘die versoeke van sy hart sal gee’ (Psalm 37:4b). Dit was heel waarskynlik hierdie soort vertroue wat die apostel Johannes beweeg het om dié woorde op te teken: “Dít is die vertroue wat ons teenoor hom het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra. En as ons weet dat hy ons hoor met betrekking tot wat ons ook al vra, weet ons dat ons die dinge gaan kry wat ons gevra het, aangesien ons dit van hom gevra het.”—1 Johannes 5:14, 15.

13. Watter uitbreiding in die Koninkrykspredikingswerk is in onlangse jare in baie lande gesien?

13 As handhawers van onkreukbaarheid sal ons ons werklik daarin verlustig om die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit te sien (Spreuke 27:11). Loop ons harte nie oor van blydskap wanneer ons hoor van die omvattende predikingswerk wat ons broers doen in lande wat voorheen onder totalitêre regerings of diktatorskappe was nie? Ons wil graag sien watter verdere vryheid dalk nog voor die einde van hierdie stelsel toegestaan sal word. Baie van Jehovah se knegte wat in westerse lande woon, getuig ywerig vir studente, vlugtelinge en ander wat tydelik in die weste woon en vryheid van aanbidding geniet. Ons hoop van harte dat hierdie persone, wanneer hulle terugkeer huis toe, sal aanhou om die lig van waarheid te laat skyn, selfs in oënskynlik ondeurdringbare duisternis.—Matteus 5:14-16.

“Laat jou weg aan Jehovah oor”

14. Watter bewyse is daar dat ons op Jehovah kan vertrou?

14 Wat ’n verligting is dit tog om te weet dat ons bekommernisse en dinge wat dalk vir ons na swaar laste lyk, uit die weg geruim kan word! Hoe? “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom”, sê Dawid, en hy voeg by, “en hy sal optree” (Psalm 37:5). In ons gemeentes het ons oorvloedige bewys dat ons op Jehovah kan vertrou vir ondersteuning (Psalm 55:22). Diegene in die voltydse bediening, of hulle nou as pioniers, reisende opsieners, sendelinge of vrywilligers by Bethel dien, kan almal daarvan getuig dat ons op Jehovah se sorg kan staatmaak. Praat gerus met dié wat jy ken en vra hulle hoe Jehovah hulle gehelp het. Jy sal ongetwyfeld baie ondervindinge hoor wat toon dat Jehovah se hand, selfs in moeilike tye, nooit te kort is nie. Hy voorsien altyd die lewensbenodigdhede.—Psalm 37:25; Matteus 6:25-34.

15. Hoe skyn die regverdigheid van God se knegte?

15 Wanneer ons Jehovah ons vertroue maak en onwrikbare geloof in hom beoefen, kan ons sien hoe die verdere woorde van die psalmis vervul word: “Hy sal beslis jou regverdigheid te voorskyn laat kom soos die lig, en jou geregtigheid soos die middag” (Psalm 37:6). As Jehovah se Getuies vind ons dikwels dat ons verkeerd voorgestel word. Maar Jehovah open die oë van opregtes van hart om hulle te help besef dat ons ons openbare bediening weens liefde vir Jehovah en ons naaste uitvoer. Terselfdertyd kan ons onberispelike gedrag, hoewel baie ’n wanvoorstelling daarvan gee, duidelik gesien word. Jehovah onderskraag ons, ongeag watter vorm van teenstand en vervolging ons verduur. Gevolglik skyn die regverdigheid van God se knegte soos die middagson.—1 Petrus 2:12.

“Swyg . . . en wag vol verlange”

16, 17. Waarvoor is dit nou die tyd volgens Psalm 37:7, en waarom?

16 Die psalmis se volgende woorde is: “Swyg voor Jehovah en wag vol verlange op hom. Moenie driftig wees oor enigiemand wat sy weg suksesvol maak nie, oor die man wat sy idees uitvoer nie” (Psalm 37:7). Hier beklemtoon Dawid hoe belangrik dit is dat ons geduldig op Jehovah wag om op te tree. Hoewel die einde van hierdie stelsel nog nie gekom het nie, is dit geen rede om te kla nie. Het ons nie gesien dat Jehovah se barmhartigheid en geduld baie groter is as wat ons aanvanklik gedink het nie? Kan ons nou toon dat ons ook geduldig wag terwyl ons besig bly met die verkondiging van die goeie nuus voordat die einde kom? (Markus 13:10). Dit is nou die tyd om onbesonne dade te vermy wat ons van ons vreugde en geestelike veiligheid kan beroof. Dit is nou die tyd om al hoe groter weerstand te bied teen die verderflike invloed van Satan se wêreld. En dit is nou die tyd om sedelik rein te bly en te sorg dat ons nie ons regverdige posisie voor Jehovah in gevaar stel nie. Laat ons aanhou om onsedelike gedagtes uit ons verstand te verdryf en onwelvoeglike gedrag teenoor diegene van die teenoorgestelde geslag, of selfs van dieselfde geslag, te vermy.—Kolossense 3:5.

17 “Laat staan die toorn en laat vaar die woede”, vermaan Dawid ons. “Moenie driftig wees nie; dit is net om kwaad te doen. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar dié wat op Jehovah hoop, hulle sal die aarde besit” (Psalm 37:8, 9). Ja, ons kan vol vertroue uitsien na die tyd—wat nou so naby is—wanneer Jehovah alle verdorwenheid en diegene wat daarvoor verantwoordelik is, van die aarde af sal verwyder.

“Nog net ’n klein rukkie”

18, 19. Watter bemoediging put jy uit Psalm 37:10?

18 “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie” (Psalm 37:10). Hoe bemoedigend is daardie woorde tog noudat ons die einde van hierdie stelsel van dinge nader, sowel as die tyd wanneer rampspoedige onafhanklikheid van Jehovah ’n klimaks sal bereik! Elke vorm van regering of gesag wat die mens al probeer het, het hopeloos misluk. En die tyd is nou op hande om terug te keer na heerskappy deur God, ware teokrasie, die Koninkryk van Jehovah in die hande van Jesus Christus. Dit sal algehele beheer oor die wêreld se aangeleenthede oorneem en almal wat God se Koninkryk teëstaan, uitwis.—Daniël 2:44.

19 In die nuwe wêreld onder God se Koninkryk sal jy nie een “goddelose” vind nie, al soek jy ook. Trouens, enigiemand wat dan teen Jehovah opstaan, sal gou verwyder word. Niemand wat God se soewereiniteit aanval of weier om hom aan goddelike gesag te onderwerp, sal daar wees nie. Al jou bure sal dieselfde begeerte hê, naamlik om Jehovah te behaag. Watter veiligheid sal dit tog meebring—geen slotte, geen diefwering, niks wat volkome vertroue en geluk sal bederf nie!—Jesaja 65:20; Miga 4:4; 2 Petrus 3:13.

20, 21. (a) Wie is “die sagmoediges” van Psalm 37:11, en waar vind hulle ’n “oorvloed van vrede”? (b) Watter seëninge sal ons geniet as ons die Grotere Dawid navolg?

20 Dan sal “die sagmoediges . . . die aarde besit” (Psalm 37:11a). Maar wie is die “sagmoediges”? Die woord wat met ‘sagmoedig’ vertaal word, kom van ’n grondwoord wat “geteister, nederig, verneder” beteken. Ja, “die sagmoediges” is diegene wat nederig wag op Jehovah om al die onregte wat hulle verduur, reg te stel. “Hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:11b). Ons vind nou reeds oorvloedige vrede in die geestelike paradys wat deel vorm van die ware Christengemeente.

21 Hoewel ons nog nie van beproewinge verlos is nie, ondersteun ons mekaar en vertroos ons die terneergedruktes. Gevolglik word ware gemoedsrus onder Jehovah se volk bevorder. Broers wat as herders aangestel is, sien liefdevol om na ons geestelike—en soms selfs ons fisiese—behoeftes, wat ons in staat stel om beproewinge ter wille van regverdigheid te verduur (1 Tessalonisense 2:7, 11; 1 Petrus 5:2, 3). Wat ’n kosbare gawe is hierdie vrede tog nie! Ons het ook die hoop om vir ewig te lewe in die vreedsame Paradys wat op hande is. Laat ons dan die Grotere Dawid, Christus Jesus, navolg, wat deur sy ywer vir Jehovah beweeg is om tot die einde toe getrou te dien (1 Petrus 2:21). Sodoende sal ons altyd gelukkig wees, terwyl ons die een loof in wie ons ons verlustig, ons God, Jehovah.

[Voetnoot]

Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

Kan jy antwoord?

• Watter lesse het jy uit Psalm 37:1, 2 geleer?

• Hoe kan jy jou ‘verlustig in Jehovah’?

• Watter bewyse is daar dat ons op Jehovah kan vertrou?

[Prent op bladsy 9]

Christene is nie ‘afgunstig op dié wat onregverdigheid bedryf nie’

[Prent op bladsy 10]

“Vertrou op Jehovah en doen wat goed is”

[Prent op bladsy 11]

Verlustig jou in Jehovah deur soveel as moontlik oor hom te leer

[Prent op bladsy 12]

“Die sagmoediges sal die aarde besit”

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel