Laat almal die heerlikheid van Jehovah verkondig
“Skryf aan Jehovah heerlikheid en sterkte toe. Skryf aan Jehovah die heerlikheid toe wat sy naam toekom.”—PSALM 96:7, 8.
1, 2. Uit watter bron kom lof vir Jehovah, en wie word aangespoor om hulle stemme daarby te voeg?
DAWID, die seun van Isai, het as ’n herderseun in die omgewing van Betlehem grootgeword. Hy het ongetwyfeld baie keer in die stilte van die nag opgekyk na die uitgestrekte sterrehemel terwyl hy sy vader se skape in daardie eensame weivelde opgepas het. Hierdie indrukwekkende beelde het sekerlik in sy gedagtes opgekom toe hy, onder inspirasie van God se heilige gees, die pragtige woorde van Psalm 19 gekomponeer en gesing het: “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Oor die hele aarde het hulle meetsnoer uitgegaan, en hulle woorde tot aan die einde van die vrugbare land.”—Psalm 19:1, 4.
2 Sonder spraak, sonder woorde, sonder stem, verkondig die ontsagwekkende hemele wat Jehovah geskep het, sy heerlikheid dag na dag, aand na aand. Die skepping hou nooit op om God se heerlikheid bekend te maak nie, en dit laat ons nederig voel wanneer ons nadink oor hierdie stille getuienis wat oor “die hele aarde” uitgaan sodat al die bewoners dit kan sien. Maar die stille getuienis van die skepping is nie genoeg nie. Getroue mense word aangespoor om hulle stemme hierby te voeg en dit hoorbaar te maak. ’n Psalmis wie se naam nie genoem word nie, het hierdie geïnspireerde woorde tot getroue aanbidders gerig: “Skryf aan Jehovah heerlikheid en sterkte toe. Skryf aan Jehovah die heerlikheid toe wat sy naam toekom” (Psalm 96:7, 8). Diegene wat ’n hegte verhouding met Jehovah het, gee met blydskap gehoor aan daardie aansporing. Maar wat behels dit om heerlikheid aan God toe te skryf?
3. Waarom skryf mense heerlikheid aan God toe?
3 Meer as net woorde is nodig. Die Israeliete van Jesaja se dag het God met hulle lippe verheerlik, maar die meeste van hulle was nie opreg nie. Deur Jesaja het Jehovah gesê: ‘Hierdie volk het nader gekom met hulle mond en hulle het my net met hulle lippe verheerlik en hulle het hulle hart ver van my verwyder’ (Jesaja 29:13). Enige lof wat van sulke persone gekom het, was betekenisloos. Om betekenisvol te wees, moet lof voortspruit uit ’n hart vol liefde vir Jehovah en opregte erkenning van sy unieke heerlikheid. Jehovah alleen is die Skepper. Hy is die Almagtige, die Regverdige, die verpersoonliking van liefde. Hy is die bron van ons redding en die regmatige Soewerein aan wie almal in die hemel en op die aarde hulle moet onderwerp (Openbaring 4:11; 19:1). As ons hierdie dinge werklik glo, sal ons hom met ons hele hart verheerlik.
4. Watter voorskrifte het Jesus gegee oor hoe ons God moet verheerlik, en hoe kan ons dit nakom?
4 Jesus Christus het vir ons getoon hoe ons God moet verheerlik. Hy het gesê: “My Vader word hierin verheerlik, dat julle veel vrug bly dra en toon dat julle my dissipels is” (Johannes 15:8). Hoe dra ons veel vrug? Eerstens, deur heelhartig deel te neem aan die verkondiging van die “goeie nuus van die koninkryk”, en sodoende kan ons God se “onsigbare eienskappe” saam met die res van die skeppingswerke “bekend maak” (Matteus 24:14; Romeine 1:20). Op dié manier het ons almal ’n aandeel daaraan om—direk of indirek—nuwe dissipels te maak wat hulle stemme by die lof van Jehovah God voeg. Tweedens kweek ons die vrugte aan wat deur die heilige gees in ons voortgebring word en streef ons daarna om Jehovah God se voortreflike eienskappe na te volg (Galasiërs 5:22, 23; Efesiërs 5:1; Kolossense 3:10). Dit sal daartoe lei dat ons daaglikse gedrag God verheerlik.
“Oor die hele aarde”
5. Verduidelik hoe Paulus die verantwoordelikheid van Christene beklemtoon het om God te verheerlik deur hulle geloof aan ander bekend te maak.
5 Paulus het in sy brief aan die Romeine die verantwoordelikheid van Christene beklemtoon om God te verheerlik deur hulle geloof aan ander bekend te maak. ’n Belangrike tema van Romeine is dat slegs diegene wat geloof in Jesus Christus beoefen, gered kan word. In hoofstuk 10 van sy brief het Paulus getoon dat die natuurlike Israeliete in sy dag steeds probeer het om ’n regverdige posisie te verkry deur die Mosaïese Wet te volg, hoewel “Christus . . . die einde van die Wet” was. Gevolglik sê Paulus: “As jy daardie ‘woord in jou eie mond’, dat Jesus Here is, in die openbaar bekend maak en in jou hart geloof beoefen dat God hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.” Van toe af was daar “geen onderskeid tussen Jood en Griek nie, want oor almal is daar dieselfde Here, wat ryk is teenoor almal wat hom aanroep. Want ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word’.”—Romeine 10:4, 9-13.
6. Hoe het Paulus Psalm 19:4 toegepas?
6 Dan vra Paulus logieserwys: “Hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?” (Romeine 10:14). Paulus sê van Israel: “Hulle [het] nie almal die goeie nuus gehoorsaam nie.” Waarom was Israel nie gehoorsaam nie? Dit was weens hulle gebrek aan geloof, en nie omdat hulle nie die geleentheid gehad het nie. Paulus toon dit deur Psalm 19:4 aan te haal en dit op die Christelike predikingswerk toe te pas, en nie op die stille getuienis van die skepping nie. Hy sê: “Kyk, in werklikheid ‘het hulle geluid oor die hele aarde uitgegaan en hulle woorde tot aan die eindes van die bewoonde aarde’” (Romeine 10:16, 18). Ja, net soos die lewelose skepping Jehovah verheerlik, het die eerste-eeuse Christene die goeie nuus van redding oral verkondig en God sodoende “oor die hele aarde” geloof. In sy brief aan die Kolossense het Paulus ook beskryf hoe ver die goeie nuus versprei het. Hy het gesê dat die goeie nuus verkondig is “in die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kolossense 1:23.
Ywerige getuies
7. Watter verantwoordelikheid het Christene volgens Jesus se woorde?
7 Paulus het heel waarskynlik sy brief aan die Kolossense omtrent 27 jaar ná die dood van Jesus Christus geskryf. Hoe kon die predikingswerk in so ’n betreklike kort tydjie al tot in Kolosse versprei het? Dit was omdat eerste-eeuse Christene ywerig was, en Jehovah het hulle ywer geseën. Jesus het voorspel dat sy volgelinge aktiewe verkondigers sou wees toe hy gesê het: “Die goeie nuus [moet] eers in al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Jesus het die opdrag in die laaste verse van Matteus se Evangelie by daardie profesie gevoeg en gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Kort ná Jesus se hemelvaart het sy volgelinge hierdie woorde begin vervul.
8, 9. Hoe het Christene, volgens die verslag in Handelinge, op Jesus se bevele gereageer?
8 Die heel eerste ding wat die lojale volgelinge van Jesus gedoen het nadat die heilige gees op Pinkster 33 G.J. uitgestort is, was om uit te gaan en vir die skares in Jerusalem te getuig “oor die luisterryke dinge van God”. Hulle prediking was baie doeltreffend, en “omtrent drieduisend siele” is gedoop. Die dissipels het voortgegaan om God ywerig en in die openbaar te loof, met goeie resultate.—Handelinge 2:4, 11, 41, 46, 47.
9 Die bedrywighede van daardie Christene is spoedig deur die godsdiensleiers opgemerk. Hulle was gegrief oor die uitgesprokenheid van Petrus en Johannes en het die twee apostels beveel om op te hou preek. Die apostels het geantwoord: “Ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” Nadat hulle gedreig en vrygelaat is, het Petrus en Johannes na hulle broers teruggekeer, en hulle het almal saam tot Jehovah gebid. Hulle het Jehovah moedig gevra: “Gee aan u slawe om u woord met alle vrymoedigheid te bly spreek.”—Handelinge 4:13, 20, 29.
10. Watter teenstand het ware Christene begin ondervind, en hoe het hulle daarop gereageer?
10 Daardie gebed was in ooreenstemming met Jehovah se wil, soos ’n rukkie later duidelik geword het. Die apostels is in hegtenis geneem en daarna wonderdadig bevry deur ’n engel. Die engel het vir hulle gesê: “Gaan, en nadat julle in die tempel gaan staan het, moet julle aanhou om al die woorde omtrent hierdie lewe tot die volk te spreek” (Handelinge 5:18-20). Omdat die apostels gehoorsaam was, het Jehovah aangehou om hulle te seën. Hulle het dus “elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak” (Handelinge 5:42). Dit is duidelik dat selfs kwaai teenstand Jesus se volgelinge glad nie kon keer om in die openbaar heerlikheid aan God toe te skryf nie.
11. Watter gesindheid het die vroeë Christene teenoor die predikingswerk gehad?
11 Kort daarna is Stefanus gevange geneem en gestenig. Sy moord was die begin van hewige vervolging in Jerusalem, en al die dissipels behalwe die apostels is na ander streke verstrooi. Het die vervolging hulle ontmoedig? Hoegenaamd nie. Ons lees: “Dié wat verstrooi is, het . . . deur die land gegaan en die goeie nuus van die woord bekend gemaak” (Handelinge 8:1, 4). Daardie ywer om God se heerlikheid te verkondig, is oor en oor gesien. In Handelinge hoofstuk 9 lees ons dat die Fariseër Saulus van Tarsus ’n visioen van Jesus ontvang het en met blindheid getref is terwyl hy op pad was na Damaskus om Jesus se dissipels daar te vervolg. In Damaskus het Ananias Saulus wonderdadig genees van sy blindheid. Wat was die eerste ding wat Saulus—later bekend as die apostel Paulus—gedoen het? Die verslag sê: “Hy het Jesus onmiddellik in die sinagoges begin verkondig, dat hy die Seun van God is.”—Handelinge 9:20.
Almal het aan die predikingswerk deelgeneem
12, 13. (a) Wat was volgens geskiedskrywers opmerkenswaardig omtrent die vroeë Christengemeente? (b) Hoe bevestig die boek Handelinge en die woorde van Paulus die stellings van geskiedskrywers?
12 Daar word algemeen erken dat almal in die vroeë Christengemeente aan die predikingswerk deelgeneem het. Van Christene in daardie dae skryf Philip Schaff: “Elke gemeente was ’n sendinggemeenskap, en elke Christengelowige ’n sendeling” (History of the Christian Church). W. S. Williams sê: “Die algemene getuienis is dat alle Christene in die vroeë Kerk, veral dié wat die charismatiese gawe [gawes van die gees] gehad het, die evangelie verkondig het” (The Glorious Ministry of the Laity). Hy sê ook: “Jesus Christus het nooit bedoel dat prediking die uitsluitlike voorreg van sekere range in die bediening moet wees nie.” Selfs Celsus, ’n eertydse vyand van die Christelike geloof, het geskryf: “Wolbereiders, skoenmakers, leerlooiers, die mees ongeletterde en laagste klas van die mensdom was ywerige predikers van die evangelie.”
13 Die geskiedkundige verslag van Handelinge toon dat hierdie stellings waar is. Tydens Pinkster 33 G.J., nadat die heilige gees uitgestort is, het al die dissipels, mans en vroue, die luisterryke dinge van God in die openbaar verkondig. Ná die vervolging wat op die moord van Stefanus gevolg het, het al die Christene wat na ander streke verstrooi is, die goeie nuus wyd en syd bekend gemaak. Ongeveer 28 jaar later het Paulus geskryf aan alle Hebreeuse Christene, nie net aan ’n klein geestelikeklas nie, en gesê: “Laat ons deur hom altyd aan God ’n lofoffer bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Paulus het sy eie beskouing van die predikingswerk so beskryf: “As ek dan nou die goeie nuus bekend maak, is dit vir my geen rede om te roem nie, want die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!” (1 Korintiërs 9:16). Dit is duidelik dat alle getroue Christene in die eerste eeu dieselfde beskouing gehad het.
14. Wat is die verband tussen geloof en die predikingswerk?
14 Ja, ’n ware Christen moet aan die predikingswerk deelneem omdat dit onafskeidelik verbonde is aan geloof. Paulus het gesê: “Met die hart beoefen ’n mens geloof tot regverdigheid, maar met die mond doen ’n mens openbare bekendmaking tot redding” (Romeine 10:10). Is dit net ’n klein groepie in die gemeente—soos ’n geestelikeklas—wat geloof beoefen en dus die verantwoordelikheid het om te preek? Natuurlik nie! Alle ware Christene bou ’n lewende geloof in die Here Jesus Christus op en word beweeg om hulle geloof in die openbaar bekend te maak. Anders is hulle geloof dood (Jakobus 2:26). Omdat alle lojale Christene in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling hulle geloof op dié manier geopenbaar het, is groot lof aan Jehovah se naam gebring.
15, 16. Gee voorbeelde wat toon dat die predikingswerk ondanks probleme gevorder het.
15 In die eerste eeu het Jehovah sy volk geseën met vermeerdering ondanks probleme binne en buite die gemeente. In Handelinge hoofstuk 6 maak dit byvoorbeeld melding van ’n onenigheid tussen Hebreeus- en Griekssprekende bekeerlinge. Die probleem is deur die apostels opgelos. Gevolglik lees ons: “Die woord van God [het] aangehou groei, en die aantal dissipels het in Jerusalem geweldig bly toeneem; en ’n groot menigte priesters het aan die geloof gehoorsaam geword.”—Handelinge 6:7.
16 Later het politieke spanning tussen koning Herodes Agrippa van Judea en die mense van Tirus en Sidon ontstaan. Die inwoners van daardie stede het vleiende vredesvoorstelle gemaak, en Herodes het in reaksie hierop ’n openbare toespraak gehou. Die menigte wat daar bymekaar was, het begin uitroep: “ ’n God se stem en nie ’n mens s’n nie!” Oombliklik het Jehovah se engel Herodes Agrippa getref, en hy het gesterf “omdat hy nie die heerlikheid aan God gegee het nie” (Handelinge 12:20-23). Wat ’n skok vir dié wat hulle hoop op menseheersers gevestig het! (Psalm 146:3, 4). Die Christene het egter voortgegaan om Jehovah te verheerlik. Gevolglik het “die woord van Jehovah . . . bly groei en versprei”, ondanks politieke onbestendigheid.—Handelinge 12:24.
Destyds en vandag
17. Wat het al hoe meer individue in die eerste eeu begin doen?
17 Ja, die wêreldwye Christengemeente in die eerste eeu het bestaan uit ywerige, aktiewe lowers van Jehovah God. Alle lojale Christene het die goeie nuus verkondig. Party het mense ontmoet wat gunstig gereageer het en het hulle, soos Jesus gesê het, geleer om alles te onderhou wat hy beveel het (Matteus 28:19, 20). Die gevolg was dat die gemeente gegroei het en dat al hoe meer individue lof aan Jehovah begin toeskryf het, net soos koning Dawid van die ou tyd. Almal het die geïnspireerde woorde beaam: “Ek prys u, o Jehovah my God, met my hele hart, en ek sal u naam tot onbepaalde tyd verheerlik, want u liefderyke goedhartigheid is groot teenoor my.”—Psalm 86:12, 13.
18. (a) Watter verskil is opgemerk tussen die eerste-eeuse Christengemeente en die hedendaagse Christendom? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
18 Met die oog hierop is die woorde van teologieprofessor Allison A. Trites insiggewend. Hy het die hedendaagse Christendom met die eerste-eeuse Christelike geloof vergelyk en gesê: “Kerke van vandag brei gewoonlik uit weens biologiese groei (wanneer die kinders van ’n plaaslike gesin in die kerk ’n persoonlike geloofsbelydenis doen) of groei weens oordrag (wanneer ’n nuweling sy of haar lidmaatskap van ’n ander plaaslike kerk af laat oordra). Maar in Handelinge was die groei weens bekering, want die kerk het pas sy werk begin.” Beteken dit dat die ware Christelike geloof nie meer groei op die manier wat Jesus gesê het dit moet nie? Natuurlik nie. Ware Christene van vandag is net so ywerig om in die openbaar lof aan God toe te skryf as wat die Christene in die eerste eeu was. Ons sal dit in die volgende artikel sien.
Kan jy verduidelik?
• Op watter maniere verheerlik ons God?
• Watter toepassing het Paulus van Psalm 19:4 gemaak?
• Wat is die verband tussen geloof en die predikingswerk?
• Wat was opmerkenswaardig omtrent die eerste-eeuse Christengemeente?
[Prent op bladsy 8, 9]
Die hemele getuig voortdurend van Jehovah se heerlikheid
[Erkenning]
Courtesy of Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin
[Prente op bladsy 10]
Die predikingswerk en gebed is nou verbonde aan mekaar