Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 1/1 bl. 28-bl. 31
  • Glanspunte uit die boek Genesis—I

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glanspunte uit die boek Genesis—I
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE WÊRELD VOOR DIE VLOED
  • (Genesis 1:1–7:24)
  • DIE MENSDOM BETREE ’N NUWE ERA
  • (Genesis 8:1–11:9)
  • God se Woord kan krag uitoefen
  • Hy is “met sewe ander veilig bewaar”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Noag se geloof veroordeel die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ’n Wêreld wat vernietig is
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Waarom God aan Noag guns betoon het—Waarom dit vir ons van belang moet wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 1/1 bl. 28-bl. 31

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Genesis—I

“GENESIS” beteken “oorsprong”, of “geboorte”. Dit is ’n gepaste naam vir ’n boek wat beskryf hoe die heelal in aansyn gekom het, hoe die aarde voorberei is vir die mens en hoe menselewe daarop begin het. Moses het hierdie boek in die wildernis van Sinai geskryf en dit heel waarskynlik in 1513 v.G.J. voltooi.

Die boek Genesis vertel ons van die wêreld voor die Vloed, van gebeure net ná die Vloed en van Jehovah God se handelinge met Abraham, Isak, Jakob en Josef. Hierdie artikel sal glanspunte uit Genesis 1:1–11:9 bespreek, basies tot waar Jehovah se handelinge met die aartsvader Abraham begin het.

DIE WÊRELD VOOR DIE VLOED

(Genesis 1:1–7:24)

Die openingswoorde van Genesis, “in die begin”, neem ons duisendmiljoene jare terug in die verlede. Die gebeure van die ses ‘skeppingsdae’, oftewel tydperke van spesiale skeppingswerke, word beskryf soos dit vir ’n waarnemer op die aarde sou gelyk het. Teen die einde van die sesde dag het God die mens geskep. Hoewel die Paradys kort daarna verlore gaan weens die mens se ongehoorsaamheid, bied Jehovah hoop. Die heel eerste profesie in die Bybel praat van ’n “saad” wat die gevolge van sonde ongedaan sal maak en Satan se kop sal vermorsel.

Gedurende die daaropvolgende 16 eeue slaag Satan daarin om alle mense, behalwe ’n paar getroue persone soos Abel, Henog en Noag, van God af weg te keer. Byvoorbeeld, Kain vermoor sy regverdige broer Abel. “Mense [begin] die naam van Jehovah . . . aanroep”, klaarblyklik op oneerbiedige wyse. Lameg weerspieël die gewelddadige gees van daardie tyd deur ’n gedig te skryf oor hoe hy ’n jong man, na bewering uit selfverdediging, doodgemaak het. Toestande versleg namate ongehoorsame engeleseuns van God vroue vir hulle neem en gewelddadige reuse voortbring wat die Nefilim genoem word. Maar getroue Noag bou die ark, waarsku ander moedig oor die naderende Vloed en oorleef die vernietiging saam met sy gesin.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:16—Hoe kon God op die eerste dag lig voortbring as die ligte eers op die vierde dag gemaak is? Die Hebreeuse woord wat met “maak” in vers 16 vertaal word, is nie dieselfde woord as “skep” wat in Genesis hoofstuk 1, verse 1, 21 en 27 gebruik word nie. “Die hemel” wat die ligte ingesluit het, is geskep lank voordat die “eerste dag” begin het. Maar die lig daarvan het nie die oppervlak van die aarde bereik nie. Op die eerste dag “was daar lig” in die sin dat gedempte lig deur die wolklae gedring en sigbaar geword het op die aarde. Die draaiende aarde het sodoende begin om dag en nag te hê (Genesis 1:1-3, 5). Die bronne van daardie lig kon nog steeds nie van die aarde af gesien word nie. Gedurende die vierde skeppingstydperk het ’n opmerkenswaardige verandering egter plaasgevind. Die son, die maan en die sterre het toe begin om “op die aarde te skyn” (Genesis 1:17). ‘God het hulle begin maak’ in die sin dat hulle nou van die aarde af gesien kon word.

3:8—Het Jehovah God direk met Adam gepraat? Die Bybel toon dat God dikwels deur ’n engel met mense gepraat het (Genesis 16:7-11; 18:1-3, 22-26; 19:1; Rigters 2:1-4; 6:11-16, 22; 13:15-22). God se vernaamste woordvoerder was sy enigverwekte Seun, wat “die Woord” genoem word (Johannes 1:1). God het heel waarskynlik deur “die Woord” met Adam en Eva gepraat.—Genesis 1:26-28; 2:16; 3:8-13.

3:17—In watter opsig was die grond vervloek, en hoe lank sou dit duur? Die vloek wat oor die grond uitgespreek is, het beteken dat dit nou baie moeilik sou wees om dit te bewerk. Die gevolge van die vervloekte grond, met sy dorings en dissels, was so erg vir Adam se nakomelinge dat Noag se vader, Lameg, gepraat het van “die pyn van ons hande as gevolg van die grond wat Jehovah vervloek het” (Genesis 5:29). Ná die Vloed het Jehovah Noag en sy seuns geseën en Sy voorneme bekend gemaak dat hulle die aarde vul (Genesis 9:1). God se vloek oor die grond was klaarblyklik opgehef.—Genesis 13:10.

4:15—Hoe het Jehovah “vir Kain ’n teken vasgestel”? Die Bybel sê nie dat ’n teken of merk op Kain se liggaam aangebring is nie. Die teken was blykbaar ’n plegtige verordening waarvan ander geweet het en wat hulle onderhou het en wat sou voorkom dat hy uit wraak doodgemaak word.

4:17—Waar het Kain sy vrou gekry? Adam het “die vader van seuns en dogters geword” (Genesis 5:4). Kain het dus een van sy susters of dalk ’n broers- of susterskind as vrou geneem. Later het God se Wet aan die Israeliete huwelike tussen ’n vleeslike broer en suster verbied.—Levitikus 18:9.

5:24—In watter sin het God ‘Henog geneem’? Henog was klaarblyklik in lewensgevaar, maar God het nie toegelaat dat hy ly deur die toedoen van sy vyande nie. “Henog [is] weggevoer om die dood nie te sien nie”, het die apostel Paulus geskryf (Hebreërs 11:5). Dit beteken nie dat God hom hemel toe geneem het waar hy voortgelewe het nie. Jesus was die eerste persoon wat na die hemel opgevaar het (Johannes 3:13; Hebreërs 6:19, 20). Henog is “weggevoer om die dood nie te sien nie”, in die sin dat God hom moontlik in ’n profetiese beswyming geplaas het en toe sy lewe beëindig het terwyl hy in daardie toestand was. Onder dié omstandighede het Henog nie gely, of ‘die dood gesien’, deur die toedoen van sy vyande nie.

6:6—Hoe moet ons die woorde verstaan dat Jehovah “spyt gevoel” het dat hy die mens gemaak het? Die Hebreeuse woord wat hier met “spyt gevoel” vertaal word, dui op ’n verandering in gesindheid of voorneme. Jehovah is volmaak en het derhalwe nie ’n fout begaan deur die mens te skep nie. Hy het egter wel ’n verandering in gesindheid ten opsigte van die goddelose geslag voor die Vloed gehad. God het sy gesindheid as die Skepper van mense verander na ’n vernietiger van mense weens sy misnoeë oor hulle goddeloosheid. Die feit dat hy party mense gespaar het, toon dat hy net spyt gevoel het oor dié wat goddeloos geword het.—2 Petrus 2:5, 9.

7:2—Op grond waarvan is daar onderskei tussen rein en onrein diere? Die onderskeid is blykbaar gemaak op grond van watter diere as offerandes in aanbidding gebruik is, en nie watter diere geëet en nie geëet kon word nie. Dierevleis was nie deel van die mens se dieet voor die Vloed nie. Die terme “rein” en “onrein” wat voedsel betref, het eers met die Mosaïese Wet begin geld, en dit het geëindig toe die Wet tot niet gemaak is (Handelinge 10:9-16; Efesiërs 2:15). Noag het klaarblyklik geweet wat geskik was om as offerandes in die aanbidding van Jehovah te gebruik. Net nadat hy die ark verlaat het, het hy “begin om ’n altaar vir Jehovah te bou en van al die rein diere en van al die rein voëls te neem en brandoffers op die altaar te bring”.—Genesis 8:20.

7:11—Waar het die water wat die wêreldvloed veroorsaak het, vandaan gekom? Gedurende die tweede skeppingstydperk, of “dag”, toe die aarde se atmosferiese “uitspansel” gevorm is, was daar waters “onder die uitspansel” en waters “bo die uitspansel” (Genesis 1:6, 7). Die waters “onder die uitspansel” was dié wat reeds op die aarde was. Die waters “bo die uitspansel” was groot hoeveelhede vog wat hoog bo die aarde gehang en ’n “groot waterdiepte” gevorm het. Hierdie waters het in Noag se dag op die aarde geval.

Lesse vir ons:

1:26. Omdat mense na God se beeld geskep is, het hulle die vermoë om goddelike eienskappe te weerspieël. Ons moet beslis eienskappe soos liefde, barmhartigheid, goedhartigheid, goedheid en geduld probeer aankweek in navolging van die Een wat ons geskep het.

2:22-24. Die huwelik is God se reëling. Die huweliksband is permanent en heilig, en die man is die hoof van die gesin.

3:1-5, 16-23. Ons geluk hang daarvan af dat ons Jehovah se soewereiniteit in ons persoonlike lewe erken.

3:18, 19; 5:5; 6:7; 7:23. Jehovah se woord word altyd bewaarheid.

4:3-7. Abel se offerande het Jehovah behaag omdat hy ’n regverdige man van geloof was (Hebreërs 11:4). Daarenteen het Kain ’n gebrek aan geloof gehad, soos sy dade getoon het. Sy werke was goddeloos, gekenmerk deur jaloesie, haat en moord (1 Johannes 3:12). Verder het hy heel waarskynlik nie juis nagedink oor sy offerande nie, maar dit bloot werktuiglik gebring. Moet ons lofoffers aan Jehovah nie heelhartig wees en gepaardgaan met die regte gesindheid en gedrag nie?

6:22. Hoewel dit baie jare geneem het om die ark te bou, het Noag gedoen net soos God hom beveel het. Noag en sy gesin is gevolglik deur die Vloed heen bewaar. Jehovah praat met ons deur sy geskrewe Woord en gee leiding deur middel van sy organisasie. Dit strek ons tot voordeel wanneer ons luister en gehoorsaam is.

7:21-24. Jehovah vernietig nie die regverdige saam met die goddelose nie.

DIE MENSDOM BETREE ’N NUWE ERA

(Genesis 8:1–11:9)

Die mensdom betree ’n nuwe era nadat die wêreld voor die Vloed uit die weg geruim is. Mense verkry toestemming om vleis te eet, maar word beveel om hulle te onthou van bloed. Jehovah stel die doodstraf in vir moord en sluit die reënboogverbond met die belofte om nooit weer ’n Vloed te bring nie. Noag se drie seuns word die voorvaders van die ganse mensdom, maar sy agterkleinseun Nimrod word “’n magtige jagter in verset teen Jehovah”. In plaas van te versprei en die aarde te bevolk, besluit mense om ’n stad met die naam Babel asook ’n toring te bou om vir hulle ’n roemryke naam te maak. Hulle planne word verydel wanneer Jehovah hulle taal verwar en hulle oor die hele aarde verstrooi.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

8:11—As die bome deur die Vloed beskadig is, waar het die duif dan die olyfblaar gekry? Daar is twee moontlikhede. Aangesien die olyf ’n taamlik geharde boom is, het dit dalk maande lank onder die water aan die lewe gebly tydens die Vloed. Nadat die vloedwaters gesak het, sou ’n olyfboom wat onder die water was, weer op droë grond wees en kon dit blare voortbring. Die olyfblaar wat die duif na Noag gebring het, kon ook afkomstig gewees het van ’n redelik jong boompie wat opgekom het nadat die vloedwaters gesak het.

9:20-25—Waarom het Noag Kanaän vervloek? Kanaän was waarskynlik skuldig aan die een of ander skandelike of verdorwe daad teenoor sy grootvader Noag. Hoewel Kanaän se vader, Gam, dit gesien het, het hy niks daaromtrent gedoen nie, maar blykbaar die storie versprei. Noag se ander twee seuns, Sem en Jafet, het egter opgetree en hulle vader bedek. Hulle is hiervoor geseën, maar Kanaän is vervloek, en Gam het gely weens die skande wat oor sy nakomelinge gebring is.

10:25—Hoe het die aarde in die dae van Peleg “verdeeld geraak”? Peleg het van 2269 tot 2030 v.G.J. gelewe. Dit was “in sy dae” dat Jehovah ’n groot verdeeldheid veroorsaak het deur die taal van Babel se bouers te verwar en hulle oor die oppervlak van die aarde te verstrooi (Genesis 11:9). Só het “die aarde”, oftewel die aarde se bevolking, in die dae van Peleg “verdeeld geraak”.

Lesse vir ons:

9:1; 11:9. Die mens se planne of pogings kan nooit Jehovah se voorneme dwarsboom nie.

10:1-32. Die twee geslagsregisters voor en ná die Vloedverslag—hoofstukke 5 en 10—verbind die hele menseras met die eerste man, Adam, deur Noag se drie seuns. Assiriërs, Galdeërs, Hebreërs, Siriërs en party Arabiese stamme is afstammelinge van Sem. Etiopiërs, Egiptenare, Kanaäniete en party Afrika- en Arabiese stamme is nakomelinge van Gam. Indo-Europeërs is afstammelinge van Jafet. Alle mense is aan mekaar verwant, en almal is by geboorte in God se oë gelyk (Handelinge 17:26). Hierdie waarheid moet die manier beïnvloed waarop ons ander beskou en behandel.

God se Woord kan krag uitoefen

Die eerste deel van die boek Genesis bevat die enigste akkurate verslag van die mens se vroeë geskiedenis. In hierdie bladsye sien ons wat God se voorneme was toe hy mense op die aarde geplaas het. Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat geen mensepogings, soos dié van Nimrod, die vervulling daarvan kan verhinder nie!

Terwyl jy die weeklikse Bybellees ter voorbereiding van die Teokratiese Bedieningskool doen, sal die gedeelte “Skriftuurlike vrae beantwoord” jou help om van die moeilike Skrifgedeeltes te verstaan. Die kommentare onder “Lesse vir ons” sal toon hoe jy by die Bybellees vir die week kan baat vind. Indien gepas, kan dit ook gebruik word wanneer plaaslike behoeftes op die Diensvergadering bespreek word. Jehovah se Woord is inderdaad lewend en kan krag in ons lewe uitoefen.—Hebreërs 4:12.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel