Laat jou deur die lewende God lei
“[Keer julle] tot die lewende God . . . , wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle is, gemaak het.”—HANDELINGE 14:15.
1, 2. Waarom is dit gepas om Jehovah as “die lewende God” te erken?
NADAT die apostel Paulus en Barnabas ’n man gesond gemaak het, het Paulus omstanders in Listra verseker: “Ons is ook mense met dieselfde gebreke as julle en maak die goeie nuus aan julle bekend sodat julle julle van hierdie nietige dinge tot die lewende God sal keer, wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle is, gemaak het.”—Handelinge 14:15.
2 Hoe waar is dit tog dat Jehovah nie ’n lewelose afgod is nie, maar “die lewende God”! (Jeremia 10:10; 1 Tessalonisense 1:9, 10). Buiten dat hy self lewe, is Jehovah ook die Bron van ons lewe. “Hy self [gee] aan almal lewe en asem en alles” (Handelinge 17:25). Hy stel daarin belang dat ons die lewe geniet, nou en in die toekoms. Paulus het bygevoeg dat God “homself inderdaad nie sonder getuienis gelaat het nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul”.—Handelinge 14:17.
3. Waarom kan ons die leiding vertrou wat God voorsien?
3 God se belangstelling in ons lewe gee ons rede om sy leiding te vertrou (Psalm 147:8; Matteus 5:45). Party reageer dalk anders wanneer hulle ’n Bybelse bevel teëkom wat hulle nie verstaan nie of wat beperkend lyk. Maar dit was nog altyd wys om Jehovah se leiding te vertrou. Ter toeligting: Al het ’n Israeliet nie die wet verstaan wat hom verbied het om aan ’n dooie liggaam te raak nie, het dit hom tot voordeel gestrek as hy daaraan gehoorsaam was. Eerstens sou sy gehoorsaamheid hom nader aan die lewende God laat kom; tweedens sou dit hom help om siektes te vermy.—Levitikus 5:2; 11:24.
4, 5. (a) Watter leiding in verband met bloed het Jehovah voor die Christelike era gegee? (b) Hoe weet ons dat God se leiding in verband met bloed Christene insluit?
4 Dieselfde geld vir God se leiding in verband met bloed. Hy het vir Noag gesê dat mense nie bloed mag inneem nie. Later het God in die Wet geopenbaar dat die enigste goedgekeurde gebruik van bloed op die altaar was—vir die vergifnis van sonde. Deur daardie bevele het God die grondslag gelê vir die voortreflikste manier waarop bloed gebruik sou word—die redding van lewens deur middel van Jesus se losprys (Hebreërs 9:14). Ja, God se leiding toon sy besorgdheid oor ons lewe en welsyn. In ’n bespreking van Genesis 9:4 het die 19de-eeuse Bybelgeleerde Adam Clarke geskryf: “Hierdie bevel [aan Noag] word nog steeds noulettend gehoorsaam deur die Oosters-Ortodokse Christene . . . Geen bloed is onder die wet geëet nie, want dit het gewys na die bloed wat vir die sonde van die wêreld vergiet sou word; en onder die Evangelie moet dit nie geëet word nie, want dit moet altyd beskou word as iets wat die bloed verteenwoordig wat vergiet is vir die vergifnis van sondes.”
5 Hierdie geleerde het moontlik verwys na die basiese evangelie, of goeie nuus, wat met Jesus verband hou. Dit sluit die feit in dat God sy Seun gestuur het om vir ons te sterf, om sy bloed uit te stort sodat ons die ewige lewe kan hê (Matteus 20:28; Johannes 3:16; Romeine 5:8, 9). Hierdie kommentaar het ook die latere bevel ingesluit dat Christus se volgelinge hulle van bloed moet onthou.
6. Watter voorskrifte in verband met bloed is aan Christene gegee, en waarom?
6 Jy weet dat God die Israeliete honderde voorskrifte gegee het. Ná Jesus se dood was sy dissipels nie verplig om al daardie wette te onderhou nie (Romeine 7:4, 6; Kolossense 2:13, 14, 17; Hebreërs 8:6, 13). Maar na verloop van tyd het ’n vraag ontstaan oor ’n belangrike verpligting—die besnydenis van mans. Moes nie-Jode wat by Christus se bloed wou baat vind, besny word, wat sou toon dat hulle nog onder die Wet was? In 49 G.J. het die Christenbestuursliggaam aan hierdie saak aandag gegee (Handelinge, hoofstuk 15). Met behulp van God se gees het die apostels en ouer manne tot die slotsom gekom dat verpligte besnydenis saam met die Wet geëindig het. Maar sekere goddelike vereistes was nog op Christene van toepassing. In ’n brief aan die gemeentes het die bestuursliggaam geskryf: “Die heilige gees en ons het dit goedgedink om geen verdere las vir julle by te voeg nie, behalwe hierdie noodsaaklike dinge: om julle voortdurend te onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle julle sorgvuldig van hierdie dinge bewaar, sal julle voorspoedig wees.”—Handelinge 15:28, 29.
7. Hoe belangrik is dit vir Christene om hulle ‘van bloed te onthou’?
7 Die bestuursliggaam het dit klaarblyklik as net so sedelik noodsaaklik beskou dat Christene hulle ‘van bloed onthou’ as dat hulle hulle van geslagsonsedelikheid of afgodediens onthou. Dit bewys dat die verbod op bloed ernstig is. Christene wat hulle onberouvol aan afgodediens of geslagsonsedelikheid skuldig maak, kan nie “God se koninkryk beërf nie”; “hulle deel sal . . . die tweede dood” wees (1 Korintiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8; 22:15). Let op die teenstelling: Verontagsaming van God se leiding in verband met die heiligheid van lewensbloed kan ewige dood tot gevolg hê. Respek vir Jesus se offerande kan tot ewige lewe lei.
8. Wat toon dat die vroeë Christene God se leiding in verband met bloed ernstig opgeneem het?
8 Hoe het die vroeë Christene God se leiding in verband met bloed verstaan en gevolg? Dink aan Clarke se kommentaar: “Onder die Evangelie moet dit nie geëet word nie, want dit moet altyd beskou word as iets wat die bloed verteenwoordig wat vergiet is vir die vergifnis van sondes.” Die geskiedenis bevestig dat die vroeë Christene die saak ernstig opgeneem het. Tertullianus het geskryf: “Beskou diegene wat, by ’n vertoning in die arena, met ’n gulsige dors die vars bloed van bose misdadigers neem . . . en dit wegdra om hulle epilepsie te genees.” Hoewel heidene bloed ingeneem het, het Tertullianus gesê dat Christene “nie eens die bloed van diere by [hulle] maaltye het nie . . . Tydens die verhore van Christene bied julle vir hulle bloedwors aan. Julle weet natuurlik goed dat [dit] vir hulle ongeoorloof is.” Ja, Christene het ondanks doodsdreigemente geweier om bloed in te neem. Dit is hoe belangrik God se leiding vir hulle was.
9. Wat benewens die eet van bloed as sodanig is gedek deur die bevel dat Christene hulle van bloed moet onthou?
9 Party dink dalk dat die bestuursliggaam bloot bedoel het dat Christene nie bloed as sodanig mag geëet of gedrink het nie en nie vleis waarvan die bloed nie uitgeloop het nie of voedsel wat met bloed gemeng is, mag geëet het nie. Dít was weliswaar die eerste betekenis van God se bevel aan Noag. En die apostoliese bevel aan Christene was dat ‘hulle hulle moet bewaar van dinge wat verwurg is’, vleis waarin die bloed nog is (Genesis 9:3, 4; Handelinge 21:25). Maar die vroeë Christene het geweet dat daar meer by betrokke is. Soms is bloed vir mediese doeleindes ingeneem. Tertullianus het gesê dat party heidene vars bloed gedrink het in ’n poging om epilepsie te genees. En bloed is dalk ook op ander maniere gebruik om siektes te behandel of gesondheid glo te verbeter. As Christene bloed wou vermy, moes hulle dit dus ook nie vir “mediese” doeleindes inneem nie. Hulle het by daardie standpunt gebly, al het dit hulle lewe in gevaar gestel.
Bloed as geneesmiddel
10. Wat is party mediese gebruike van bloed, en watter vraag laat dit ontstaan?
10 Die mediese gebruik van bloed is deesdae iets algemeens. Vroeë oortappings was van heelbloed—wat van ’n skenker verkry, geberg en aan ’n pasiënt gegee is, byvoorbeeld ’n gewonde soldaat. Later het navorsers geleer om bloed in primêre komponente te skei. Deur middel van komponentoortappings kon geneeshere geskenkte bloed onder meer pasiënte verdeel, miskien deur plasma vir een beseerde persoon te gee en rooi selle vir ’n ander. Volgehoue navorsing het getoon dat ’n komponent, soos bloedplasma, verwerk kan word om talle fraksies daaruit te verkry, wat aan nog meer pasiënte gegee kan word. Vooruitgang word nog steeds op hierdie gebied gemaak, en nuwe gebruike vir fraksies word aangemeld. Hoe moet ’n Christen reageer? Hy het hom vas voorgeneem om nooit ’n bloedoortapping te aanvaar nie, maar sy geneesheer spoor hom aan om ’n hoofkomponent te aanvaar, miskien gepakte rooi selle. Of die behandeling bestaan dalk uit een klein fraksie wat uit ’n komponent verkry word. Hoe kan ’n kneg van God oor sulke kwessies besluit, terwyl hy in gedagte hou dat bloed heilig is en dat Christus se bloed in die grootste sin lewensreddend is?
11. Watter medies akkurate standpunt ten opsigte van bloed handhaaf Getuies al lank?
11 Jehovah se Getuies het hulle standpunt dekades gelede duidelik gestel. Hulle het byvoorbeeld ’n artikel voorsien aan The Journal of the American Medical Association (27 November 1981; herdruk in Hoe kan bloed jou lewe red?, bladsye 27-9).a Daardie artikel het uit Genesis, Levitikus en Handelinge aangehaal. Dit het gesê: “Hoewel hierdie verse nie in mediese taal gestel is nie, meen die Getuies dat dit die oortapping van heelbloed, gepakte RBS’e [rooibloedselle] en plasma, sowel as die toediening van WBS’e [witbloedselle] en bloedplaatjies uitskakel.” Die handboek Emergency Care van 2001 het onder “Die samestelling van die bloed” gesê: “Die bloed bestaan uit etlike komponente: plasma, rooi- en witbloedselle en bloedplaatjies.” In ooreenstemming met mediese feite weier Getuies dus oortappings van heelbloed of van enige van die vier primêre komponente daarvan.
12. (a) Watter standpunt is uiteengesit met betrekking tot fraksies wat uit primêre bloedkomponente verkry word? (b) Waar kan bykomende inligting hieroor gevind word?
12 Die mediese artikel het verder gesê: “Die Getuies se godsdiensbeskouing verbied nie voor die voet die gebruik van [fraksies] soos albumien, immunoglobuliene en hemofilitiese preparate nie; elke Getuie moet self besluit of hy dit kan aanvaar of nie.” Sedert 1981 is baie fraksies (breukdele wat uit een van die vier hoofkomponente verkry word) vir gebruik geïsoleer. Gevolglik het Die Wagtoring van 15 Junie 2000 in die artikel “Vrae van lesers” nuttige inligting oor die onderwerp voorsien. Tot voordeel van miljoene mense wat tans hierdie tydskrif lees, is die antwoord herdruk op bladsye 29-31 van hierdie nommer. Dit bevat besonderhede en redenasies, maar jy sal sien dat dit ooreenstem met die fundamentele beginsels wat in 1981 uiteengesit is.
Die rol van jou gewete
13, 14. (a) Wat is die gewete, en hoe speel dit ’n rol wanneer dit by bloed kom? (b) Watter leiding het God vir Israel gegee oor die eet van vleis, maar watter vrae kon ontstaan het?
13 Hierdie inligting vereis dat jy jou gewete gebruik. Waarom? Christene is dit eens dat God se leiding gevolg moet word, maar in sekere situasies moet persoonlike besluite geneem word en speel die gewete ’n rol. Die gewete is die inherente vermoë om sake, dikwels sedelike kwessies, te oorweeg en daaroor te besluit (Romeine 2:14, 15). Jy weet egter dat gewetens verskil.b Die Bybel sê dat party ‘’n gewete het wat swak is’, wat te kenne gee dat ander se gewete sterk is (1 Korintiërs 8:12). Nie alle Christene het ewe veel vooruitgang gemaak in die mate waarin hulle geleer het wat God sê, sensitief is vir sy denke en dit in hulle besluite toepas nie. Ons kan dit toelig met die Jode en die eet van vleis.
14 Die Bybel toon duidelik dat iemand wat aan God gehoorsaam is, nie vleis sal eet waarvan die bloed nie uitgeloop het nie. Dit was so belangrik dat Israelitiese soldate, toe hulle selfs in ’n noodgeval vleis geëet het waarvan die bloed nie uitgeloop het nie, aan ’n ernstige oortreding, of sonde, skuldig was (Deuteronomium 12:15, 16; 1 Samuel 14:31-35). Daar kon nietemin vrae ontstaan. Hoe gou moes ’n Israeliet ’n skaap se bloed laat uitloop nadat hy dit doodgemaak het? Moes hy die dier se keel afsny om die bloed te laat uitloop? Was dit nodig om die skaap aan sy agterbene op te hang? Vir hoe lank? Wat sou hy met ’n groot bees doen? Selfs nadat die bloed uitgeloop het, kon daar nog ’n bietjie bloed in die vleis agtergebly het. Kon hy sulke vleis eet? Wie sou besluit?
15. Hoe het party Jode gereageer wat die eet van vleis betref, maar wat het God beveel?
15 Stel jou voor dat ’n ywerige Jood voor sulke vrae te staan gekom het. Hy kon gedink het dat dit die veiligste is om vleis te vermy wat in die vleismark verkoop word, net soos iemand anders vleis sou vermy as daar enige moontlikheid bestaan het dat dit vroeër aan ’n afgod geoffer is. Ander Jode het miskien vleis geëet eers nadat hulle rituele gevolg het om van die bloed ontslae te raak (Matteus 23:23, 24).c Wat dink jy van sulke uiteenlopende reaksies? En aangesien God nie sulke reaksies vereis het nie, was dit nodig dat die Jode dan ’n menigte vrae aan ’n raad van rabbi’s stuur om ’n besluit oor elkeen te verkry? Hoewel daardie gebruik in Judaïsme ontstaan het, kan ons bly wees dat Jehovah ware aanbidders nie beveel het om besluite in verband met bloed op hierdie manier te probeer verkry nie. God het sy volk basiese leiding gegee oor die rein diere wat hulle kon slag en dat hulle die bloed moes laat uitloop, maar hy het nie verder as dit gegaan nie.—Johannes 8:32.
16. Waarom het Christene moontlik verskillende beskouings wanneer dit kom by die aanvaarding van ’n inspuiting of ’n klein fraksie van ’n bloedkomponent?
16 Soos in paragrawe 11 en 12 gemeld is, aanvaar Jehovah se Getuies nie oortappings van heelbloed of van die primêre komponente nie—plasma, rooi selle, wit selle en bloedplaatjies. Wat van klein fraksies wat uit ’n primêre komponent verkry word, soos serums wat teenliggaampies bevat om siektes te beveg of slanggif teë te werk? (Sien bladsy 30, paragraaf 4.) Party het tot die slotsom gekom dat hierdie klein fraksies in werklikheid nie meer bloed is nie en dus nie gedek word deur die bevel dat ons ons ‘van bloed moet onthou’ nie (Handelinge 15:29; 21:25; bladsy 31, paragraaf 1). Dit is hulle verantwoordelikheid. Ander se gewete beweeg hulle om alles te verwerp wat uit bloed (van diere of mense) verkry word, selfs ’n klein fraksie van net een primêre komponent.d Nog ander sal dalk ’n inspuiting met ’n plasmaproteïen aanvaar om ’n siekte te beveg of slanggif teë te werk, maar hulle sal ander klein fraksies weier. Daarbenewens kom party produkte wat uit een van die vier primêre komponente verkry word, in so ’n mate ooreen met die funksie van die hele komponent en speel dit so ’n lewensonderhoudende rol in die liggaam dat dit vir die meeste Christene onaanvaarbaar is.
17. (a) Hoe kan ons gewete help wanneer ons voor vrae in verband met bloedfraksies te staan kom? (b) Waarom is besluite oor hierdie saak so ernstig?
17 Wat die Bybel oor die gewete sê, is nuttig wanneer ons sulke besluite moet neem. Die eerste stap is om uit te vind wat God se Woord sê en om jou gewete daarvolgens te probeer vorm. Dit sal jou in staat stel om in ooreenstemming met God se leiding ’n besluit te neem eerder as om iemand anders te vra om vir jou te besluit (Psalm 25:4, 5). Wat die aanvaarding van bloedfraksies betref, het party gedink: ‘Dit is ’n gewetensaak; dus maak dit nie regtig saak nie.’ Sulke denke is verkeerd. Die feit dat iets ’n gewetensaak is, beteken nie dat dit onbelangrik is nie. Dit kan baie ernstig wees. Een rede is dat dit ’n uitwerking kan hê op mense wie se gewete van ons s’n verskil. Ons sien dit in Paulus se raad oor vleis wat dalk aan ’n afgod geoffer en later in ’n mark verkoop is. Dit moet vir ’n Christen ’n saak van erns wees om nie ‘gewetens te wond wat swak is’ nie. As hy ander laat struikel, kan hy ‘sy broer ter wille van wie Christus gesterf het, te gronde rig’ en sodoende teen Christus sondig. Terwyl elkeen dan self oor kwessies in verband met klein bloedfraksies moet besluit, moet daardie besluite nogtans baie ernstig opgeneem word.—1 Korintiërs 8:8, 11-13; 10:25-31.
18. Hoe kan ’n Christen voorkom dat sy gewete afgestomp raak wat besluite oor bloed betref?
18 ’n Verwante aspek bevestig die erns van besluite in verband met bloed. Dit is die uitwerking wat sulke besluite op jóú kan hê. As dit jou Bybelopgeleide gewete sal pla as jy ’n klein bloedfraksie sou aanvaar, moet jy dit nie ignoreer nie. Jy moet ook nie die stem van jou gewete onderdruk nie net omdat iemand vir jou sê: “Dis in die haak om dit te aanvaar; baie ander het.” Onthou, miljoene mense ignoreer vandag hulle gewete, en dit raak afgestomp, wat hulle toelaat om sonder enige berou leuens te vertel of ander verkeerde dinge te doen. Christene wil dit beslis vermy.—2 Samuel 24:10; 1 Timoteus 4:1, 2.
19. Wat moet ons altyd in gedagte hou wanneer ons oor mediese kwessies in verband met bloed besluit?
19 Naby die einde sê die herdrukte antwoord op bladsye 29-31: “Beteken die feit dat menings en besluite op grond van persone se gewete dalk verskil dat die kwessie onbelangrik is? Nee. Dit is ernstig.” Dit is veral die geval omdat jou verhouding met “die lewende God” daarby betrokke is. Daardie verhouding is die enigste een wat tot ewige lewe kan lei, op grond van die reddingskrag van Jesus se vergote bloed. Kweek ’n diep respek vir bloed aan as gevolg van wat God deur middel daarvan doen—hy red lewens. Paulus het gepas geskryf: “Julle het geen hoop gehad nie en was sonder God in die wêreld. Maar julle wat eens ver weg was, het nou in eenheid met Christus Jesus naby gekom deur die bloed van die Christus.”—Efesiërs 2:12, 13.
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b By een geleentheid het Paulus en vier ander Christene na die tempel gegaan om hulle seremonieel te reinig. Die Wet was nie meer van krag nie, maar Paulus het die raad gevolg van die ouer manne in Jerusalem (Handelinge 21:23-25). Party Christene kon egter gevoel het dat hulle nie in die tempel sou ingaan of so ’n prosedure sou uitvoer nie. Gewetens het destyds verskil, en hulle verskil vandag.
c Die Encyclopaedia Judaica sit “ingewikkelde en spesifieke” reëls uiteen oor hoe om vleis “kosjer” te maak. Dit dek sake soos hoeveel minute vleis in water moet lê, hoe om dit op ’n houtplank te laat droog drup, die tekstuur van die sout wat daarop gevryf moes word en dan hoeveel keer dit in koue water gewas moet word.
d Deesdae is die hoof- of aktiewe bestanddeel van party inspuitings in al hoe meer gevalle ’n rekombinante produk wat nie uit bloed verkry word nie. Maar soms kan dit ook ’n klein hoeveelheid van ’n bloedfraksie, soos albumien, bevat.—Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Oktober 1994.
Kan jy onthou?
• Watter leiding in verband met bloed het God aan Noag, aan die Israeliete en aan Christene gegee?
• Wat weier Jehovah se Getuies heeltemal wanneer dit by bloed kom?
• In watter opsig is dit ’n gewetensaak of ’n mens klein fraksies van ’n primêre bloedkomponent sal aanvaar, maar wat beteken dit nie?
• Waarom moet ons altyd ons verhouding met God in gedagte hou wanneer ons besluite neem?
[Tabel op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BASIESE STANDPUNT OOR BLOED
HEELBLOED
ONAAN- VAARBAAR
Rooi selle
Wit selle
Bloedplaatjies
Plasma
CHRISTEN MOET BESLUIT
Fraksies van rooi selle
Fraksies van wit selle
Fraksies van bloedplaatjies
Fraksies van plasma
[Prent op bladsy 20]
Die bestuursliggaam het tot die slotsom gekom dat Christene hulle ‘van bloed moet onthou’
[Prent op bladsy 23]
Moenie jou gewete ignoreer as jy voor ’n besluit oor ’n bloedfraksie te staan kom nie