Vrae van lesers
Aanvaar Jehovah se Getuies enige klein bloedfraksies?
Die volgende antwoord het ook in die nommer van 15 Junie 2000 verskyn.
Die basiese antwoord is dat Jehovah se Getuies nie bloed aanvaar nie. Ons glo vas dat God se wet oor bloed nie gewysig kan word om by veranderende menings aan te pas nie. Maar nuwe kwessies ontstaan omdat bloed nou in vier primêre komponente en fraksies van daardie komponente afgebreek kan word. Wanneer ’n Christen besluit of hy dit gaan aanvaar, moet hy nie net aan die moontlike mediese voordele en gevare dink nie. Wat vir hom van belang behoort te wees, is wat die Bybel sê en hoe dit dalk sy verhouding met die almagtige God sal raak.
Die belangrikste kwessies is heel eenvoudig. Kom ons kyk na die Bybelse, geskiedkundige en mediese agtergrond wat ons sal help om te sien waarom dit die geval is.
Jehovah God het vir ons gemeenskaplike voorouer Noag gesê dat bloed as iets spesiaals behandel moet word (Genesis 9:3, 4). Later het God se wette aan Israel die heiligheid van bloed weerspieël: “Wat enige man van die huis van Israel betref of ’n inwonende vreemdeling wat as ’n vreemdeling onder julle woon, wat enige bloed eet—teen die siel wat die bloed eet, sal ek beslis my aangesig rig.” ’n Israeliet wat God se wet verwerp het, kon ander verkeerd beïnvloed; daarom het God bygevoeg: “Ek sal hom inderdaad uitroei onder sy volk uit” (Levitikus 17:10). Later, by ’n vergadering in Jerusalem, het die apostels en ouer manne bepaal dat ons ons ‘van bloed moet onthou’. Dit is net so noodsaaklik as om ons van geslagsonsedelikheid en afgodediens te onthou.—Handelinge 15:28, 29.
Wat het ‘onthou van’ in daardie tyd beteken? Christene het nie bloed ingeneem nie, hetsy dit vars of gestol was; hulle het ook nie die vleis geëet van ’n dier waarvan die bloed nie uitgeloop het nie. Voedsel waarby bloed gevoeg is, soos bloedwors, was ook buite die kwessie. Om bloed op enige van hierdie maniere in te neem, sou ’n oortreding van God se wet wees.—1 Samuel 14:32, 33.
Dit sou die meeste mense van die ou tyd nie gekwel het om bloed in te neem nie, soos ons kan sien uit die geskrifte van Tertullianus (tweede en derde eeu G.J.). In reaksie op valse aanklagte dat Christene bloed ingeneem het, het Tertullianus verwys na stamme wat verdrae gesluit het deur ’n slukkie bloed te neem. Hy het ook gesê dat party, “wanneer daar ’n vertoning in die arena gehou word, met ’n gulsige dors die vars bloed van die skuldiges opvang . . . as ’n geneesmiddel vir hulle epilepsie”.
Hierdie gebruike (al het party Romeine dit om gesondheidsredes gedoen) was vir Christene verkeerd: “Ons sluit nie eers dierebloed in ons gewone dieet in nie”, het Tertullianus geskryf. Die Romeine het voedsel wat bloed bevat het, gebruik om die onkreukbaarheid van ware Christene op die proef te stel. Tertullianus het bygevoeg: “Nou vra ek jou: Hoe verklaar ’n mens dit, dat julle vol vertroue is [dat Christene] met afgryse sal wegdraai van dierebloed, terwyl julle veronderstel dat hulle gulsig is na mensebloed?”
Vandag sou min mense dink dat die wette van die almagtige God in die gedrang kom as ’n geneesheer voorstel dat hulle bloed moet kry. Hoewel Jehovah se Getuies beslis wil bly lewe, is ons vasbeslote om Jehovah se wet oor bloed te gehoorsaam. Wat beteken dit in die lig van huidige mediese gebruike?
Toe die oortapping van heelbloed ná die Tweede Wêreldoorlog iets algemeens geword het, het Jehovah se Getuies besef dat dit strydig is met God se wet—en ons glo dit nog steeds. Maar geneeskunde het deur die jare heen verander. Vandag is die meeste oortappings nie van heelbloed nie, maar van een van die primêre komponente daarvan: (1) rooi selle; (2) wit selle; (3) bloedplaatjies; (4) plasma (serum), die vloeibare deel. Na gelang van die pasiënt se toestand, skryf geneeshere dalk rooi selle, wit selle, bloedplaatjies of plasma voor. Deur hierdie hoofkomponente oor te tap, kan ’n enkele eenheid bloed onder meer pasiënte verdeel word. Jehovah se Getuies glo dat dit ’n oortreding van God se wet is om heelbloed of enige van hierdie vier primêre komponente te aanvaar. Dit is opmerkenswaardig dat hulle Bybelse standpunt hulle beskerm teen baie gevare, insluitende siektes soos hepatitis en vigs wat deur bloed oorgedra kan word.
Maar aangesien bloed verder as daardie primêre komponente verwerk kan word, ontstaan vrae oor die fraksies wat uit die primêre bloedkomponente verkry word. Hoe word sulke fraksies gebruik, en wat moet ’n Christen in ag neem wanneer hy daaroor besluit?
Bloed is kompleks. Selfs die plasma—wat 90 persent water is—bevat baie hormone, anorganiese soute, ensieme en voedingstowwe, wat minerale en suiker insluit. Plasma bevat ook proteïene soos albumien, stollingsfaktore en teenliggaampies om siektes te beveg. Tegnici isoleer en gebruik baie plasmaproteïene. Stollingsfaktor VIII word byvoorbeeld gegee aan hemofilie-lyers, wat maklik bloei. Of as iemand aan sekere siektes blootgestel word, kan dokters inspuitings van gammaglobulien voorskryf, wat onttrek word uit die bloedplasma van mense wat reeds immuniteit opgebou het. Ander plasmaproteïene word in die mediese veld gebruik, maar die bogenoemde lig toe hoe ’n primêre bloedkomponent (plasma) verwerk kan word om fraksies te verkry.a
Net soos verskeie fraksies uit bloedplasma verkry kan word, kan die ander primêre komponente (rooi selle, wit selle en bloedplaatjies) verwerk word om kleiner deeltjies te isoleer. Wit bloedselle kan byvoorbeeld ’n bron wees van interferons en interleukiene, wat gebruik word om party virusinfeksies en kankers te behandel. Bloedplaatjies kan verwerk word om ’n wondgenesingsfaktor te onttrek. En ander medisyne word ook ontwikkel wat (ten minste aanvanklik) ekstrakte van bloedkomponente bevat. Sulke terapieë is nie oortappings van daardie primêre komponente nie; dit behels gewoonlik deeltjies of fraksies daarvan. Moet Christene hierdie fraksies as mediese behandeling aanvaar? Ons kan nie sê nie. Die Bybel gee nie besonderhede nie, en daarom moet ’n Christen sy eie besluit voor God neem in ooreenstemming met sy gewete.
Party sal enigiets weier wat van bloed verkry word (selfs fraksies wat bedoel is om tydelike passiewe immuniteit te voorsien). Dit is hoe hulle God se gebod verstaan om hulle ‘van bloed te onthou’. Hulle redeneer dat sy wet aan Israel vereis het dat bloed wat uit ’n dier verwyder is, ‘op die grond uitgegiet moes word’ (Deuteronomium 12:22-24). Waarom is dit tersaaklik? Wel, om gammaglobulien, stollingsfaktore uit bloed en so meer voor te berei, moet bloed versamel en verwerk word. Party Christene weier derhalwe om sulke produkte te gebruik, net soos hulle oortappings van heelbloed of van die vier primêre komponente daarvan weier. Hulle opregte standpunt in ooreenstemming met hulle gewete moet gerespekteer word.
Ander Christene besluit anders. Hulle weier ook oortappings van heelbloed, rooi selle, wit selle, bloedplaatjies of plasma. Maar hulle laat ’n geneesheer dalk toe om hulle te behandel met ’n fraksie wat uit die primêre komponente verkry is. Selfs hier kan daar verskille wees. Een Christen sal dalk ’n gammaglobulieninspuiting aanvaar, maar hy aanvaar miskien of miskien nie ’n inspuiting wat iets bevat wat uit rooi of wit selle verkry is nie. Maar wat laat party Christene dalk tot die slotsom kom dat hulle bloedfraksies kan aanvaar?
“Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Junie 1990 het gesê dat plasmaproteïene (fraksies) van ’n swanger vrou se bloed na die aparte bloedsomloop van haar fetus beweeg. Sodoende dra ’n moeder immunoglobuliene aan haar kind oor, wat waardevolle immuniteit voorsien. Terwyl ’n fetus se rooi selle hulle normale lewensduur apart daarvan voltooi, word die suurstofdraende deel daarvan verwerk. Van dit word bilirubien, wat deur die plasenta na die moeder gaan en saam met haar liggaam se afvalstowwe verwyder word. Aangesien bloedfraksies op hierdie natuurlike wyse aan ’n ander persoon oorgedra kan word, kan party Christene tot die gevolgtrekking kom dat hulle ’n bloedfraksie wat uit bloedplasma of selle verkry is, kan aanvaar.
Beteken die feit dat menings en besluite op grond van persone se gewete dalk verskil dat die kwessie onbelangrik is? Nee. Dit is ernstig. En tog is dit redelik eenvoudig. Die materiaal hierbo toon dat Jehovah se Getuies oortappings weier van heelbloed sowel as van die primêre bloedkomponente. Die Bybel beveel Christene om ‘hulle te onthou van afgodsoffers en van bloed en van hoerery’ (Handelinge 15:29). En as dit by fraksies van enige van die primêre komponente kom, moet elke Christen, nadat hy sorgvuldig en biddend daaroor nagedink het, self ’n besluit in ooreenstemming met sy gewete neem.
Baie mense sou gewillig wees om enige terapie te aanvaar wat lyk of dit onmiddellike voordele gaan hê, selfs terapie wat bekende gesondheidsgevare het, soos die geval is met bloedprodukte. Die opregte Christen probeer ’n breër, meer gebalanseerde beskouing hê wat meer as net die fisiese aspekte behels. Jehovah se Getuies waardeer die pogings wat aangewend word om goeie mediese sorg te voorsien, en hulle oorweeg die gevaar/voordeel-verhouding van enige behandeling. Maar wanneer dit kom by produkte wat van bloed verkry word, sal hulle wat God sê en hulle eie persoonlike verhouding met ons Lewegewer sorgvuldig in oorweging neem.—Psalm 36:9.
Wat ’n seën is dit tog vir ’n Christen om die vertroue te hê wat die psalmis gehad het toe hy geskryf het: “Jehovah God is ’n son en ’n skild; hy gee guns en heerlikheid. Jehovah sal niks goeds terughou van dié wat in onberispelikheid wandel nie. O Jehovah . . . , gelukkig is die mens wat op u vertrou”!—Psalm 84:11, 12.
[Voetnoot]
a Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 September 1978 en 1 Oktober 1994. Farmaseutiese maatskappye het rekombinante produkte ontwikkel wat nie uit bloed verkry word nie en wat voorgeskryf kan word in die plek van party bloedfraksies wat in die verlede gebruik is.
[Venster op bladsy 31]
VRAE WAT JY DIE DOKTER KAN VRA
As jy ’n operasie of behandeling gaan hê waarby ’n bloedproduk dalk betrokke gaan wees, kan jy vra:
Weet al die betrokke mediese personeel dat ek, as een van Jehovah se Getuies, vra dat geen bloedoortappings (heelbloed, rooi selle, wit selle, bloedplaatjies of bloedplasma) onder enige omstandighede vir my gegee word nie?
As enige medisyne wat voorgeskryf gaan word dalk van bloedplasma, rooi of wit selle of bloedplaatjies gemaak word, kan jy vra:
Word die medisyne van een van die vier primêre bloedkomponente gemaak? Indien wel, kan jy verduidelik waaruit dit saamgestel is?
Hoeveel van hierdie medisyne wat uit bloed verkry word, kan toegedien word, en op watter manier?
As my gewete my toelaat om hierdie fraksie te aanvaar, watter mediese gevare is daar?
As my gewete my nie toelaat om hierdie fraksie te aanvaar nie, watter ander terapie kan gebruik word?
Ek wil die saak graag verder oorweeg. Wanneer kan ek jou laat weet wat my besluit is?