‘Gaan en maak dissipels’
“Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee. Gaan dus en maak dissipels.”—MATTEUS 28:18, 19.
1, 2. (a) Watter toewysing het Jesus sy volgelinge gegee? (b) Watter vrae in verband met Jesus se bevele sal ons bespreek?
DIT was ’n lentedag in Israel in 33 G.J., en Jesus se dissipels was saam op ’n berg in Galilea. Hulle verrese Here was gereed om na die hemel op te vaar, maar hy het eers iets belangriks gehad om hulle te vertel. Jesus het ’n toewysing vir hulle gehad. Wat was die taak? Hoe het sy dissipels hierop gereageer? En hoe is daardie toewysing vandag op ons van toepassing?
2 Wat Jesus gesê het, staan opgeteken in Matteus 28:18-20: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee. Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.” Jesus het gepraat van “alle gesag”, “al die nasies”, “alles” en “al die dae”. Sy bevele met betrekking tot hierdie vier alomvattende uitdrukkings laat belangrike vrae ontstaan, wat opgesom kan word in die woorde waarom? waar? wat? en wanneer? Kom ons bespreek die vrae een op ’n slag.a
‘Alle gesag is aan my gegee’
3. Waarom moet ons die bevel gehoorsaam om dissipels te maak?
3 Eerstens, waarom moet ons die bevel gehoorsaam om dissipels te maak? Jesus het gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee. Gaan dus en maak dissipels.” Die woord “dus” dui op ’n vername rede waarom ons hierdie bevel moet gehoorsaam. Dit is omdat Jesus, die een wat die bevel gegee het, “alle gesag” het. Hoe omvangryk is sy gesag?
4. (a) Hoe omvangryk is Jesus se gesag? (b) Hoe moet ons begrip van Jesus se gesag ons beskouing raak van die bevel om dissipels te maak?
4 Jesus het gesag oor sy gemeente, en sedert 1914 het hy gesag oor God se pas opgerigte Koninkryk (Kolossense 1:13; Openbaring 11:15). Hy is die aartsengel en as sodanig voer hy bevel oor ’n hemelse leër van honderdmiljoene engele (1 Tessalonisense 4:16; 1 Petrus 3:22; Openbaring 19:14-16). Hy is deur sy Vader volmag gegee om “alle regering en alle gesag en mag” wat regverdige beginsels teëstaan, tot niet te maak (1 Korintiërs 15:24-26; Efesiërs 1:20-23). Jesus se gesag is nie beperk tot die lewendes nie. Hy is ook “regter van die lewendes en die dooies” en hy het godgegewe mag om diegene wat gesterf het, op te wek (Handelinge 10:42; Johannes 5:26-28). ’n Bevel van Iemand wat soveel gesag gegee is, moet beslis as uiters belangrik beskou word. Daarom gehoorsaam ons met eerbied en bereidwilligheid Christus se bevel om te ‘gaan en dissipels te maak’.
5. (a) Hoe het Petrus Jesus se woorde gehoorsaam? (b) Tot watter seën het Petrus se gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag gelei?
5 Vroeg in sy aardse bediening het Jesus sy dissipels op ’n treffende manier geleer dat dit tot seëninge sou lei as hulle sy gesag erken en sy bevele gehoorsaam. Hy het eenkeer vir Petrus, wat ’n visserman was, gesê: “Vaar uit na waar dit diep is en laat sak julle nette vir ’n vangs.” Petrus was seker dat daar geen vis was nie, en daarom het hy vir Jesus gesê: “Onderrigter, ons het die hele nag geswoeg en niks gevang nie.” Petrus het egter nederig bygevoeg: “Maar as u so sê, sal ek die nette laat sak.” Nadat Petrus Christus se bevel gehoorsaam het, het hy “’n groot menigte visse” gevang. Heeltemal oorweldig het Petrus “aan die knieë van Jesus neergeval en gesê: ‘Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man.’” Maar Jesus het geantwoord: “Hou op om bang te wees. Van nou af sal jy mense lewend vang” (Lukas 5:1-10; Matteus 4:18). Wat leer ons uit hierdie verslag?
6. (a) Wat lig die verslag oor die wonderdadige visvangs toe oor die soort gehoorsaamheid wat Jesus vereis? (b) Hoe kan ons Jesus navolg?
6 Dit was nie vóór hierdie verstommende visvangs nie, maar eers daarna dat Jesus aan Petrus, Andreas en die ander apostels die toewysing gegee het om “vissers van mense [te] word” (Markus 1:16, 17). Dit is duidelik dat Jesus nie blinde gehoorsaamheid vereis het nie. Hy het die manne ’n oortuigende rede gegee waarom hulle hom moes gehoorsaam. Net soos gehoorsaamheid aan Jesus se bevel om hulle nette te laat sak tot verstommende resultate gelei het, sou gehoorsaamheid aan Jesus se bevel om ‘mense te vang’, groot seëninge tot gevolg hê. Die apostels het met volle geloof gereageer. Die verslag sluit af: “Toe het hulle die bote teruggebring land toe en alles laat staan en hom gevolg” (Lukas 5:11). Vandag volg ons Jesus na wanneer ons ander aanmoedig om aan die dissipelmaakwerk deel te neem. Ons verwag nie dat mense eenvoudig moet doen wat ons sê nie, maar ons gee hulle oortuigende redes om Christus se bevel te gehoorsaam.
Oortuigende redes en die regte beweegredes
7, 8. (a) Wat is ’n paar skriftuurlike redes om aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deel te neem? (b) Watter teks is veral vir jou ’n aansporing om met die predikingswerk vol te hou? (Sien ook voetnoot.)
7 Omdat ons Christus se gesag erken, neem ons deel aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk. Watter ander skriftuurlike redes om hierdie werk te doen, kan ons gee vir diegene wat ons graag tot goeie werke wil aanspoor? Kyk na die volgende kommentare van etlike getroue Getuies uit verskillende lande, en let op hoe die teksverwysings hulle kommentare steun.
8 Roy, gedoop in 1951: “Toe ek my aan Jehovah toegewy het, het ek beloof om hom altyd te dien. Ek wil graag by my woord bly” (Psalm 50:14; Matteus 5:37). Heather, gedoop in 1962: “Wanneer ek dink aan alles wat Jehovah vir my gedoen het, wil ek hom graag wys hoe dankbaar ek is deur hom getrou te dien” (Psalm 9:1, 9-11; Kolossense 3:15). Hannelore, gedoop in 1954: “Elke keer wanneer ons in die bediening is, het ons die ondersteuning van die engele—wat ’n voorreg!” (Handelinge 10:30-33; Openbaring 14:6, 7). Honor, gedoop in 1969: “Wanneer Jehovah se tyd van oordeel aanbreek, wil ek nie hê dat enigeen in my omgewing Jehovah en sy Getuies van nalatigheid moet beskuldig en sê: ‘Ek is nooit gewaarsku nie!’” (Esegiël 2:5; 3:17-19; Romeine 10:16, 18). Claudio, gedoop in 1974: “Wanneer ons die predikingswerk doen, is dit ‘ten aanskoue van God’ en ‘in gemeenskap met Christus’. Dink net! Terwyl ons in die bediening is, geniet ons die assosiasie van ons beste Vriende.”—2 Korintiërs 2:17.b
9. (a) Wat toon die verslag oor die visvangondervinding van Petrus en ander apostels oor die regte beweegrede vir gehoorsaamheid aan Christus? (b) Wat is vandag die regte beweegrede vir gehoorsaamheid aan God en Christus, en waarom?
9 Die verslag oor die merkwaardige visvangs toon ook hoe belangrik dit is om aan Christus gehoorsaam te wees met die regte beweegrede—liefde. Toe Petrus gesê het: “Gaan weg van my, . . . want ek is ’n sondige man”, het Jesus nie weggegaan nie, en hy het Petrus ook nie vir enige sonde veroordeel nie (Lukas 5:8). Jesus het Petrus selfs nie gekritiseer omdat hy hom gesmeek het om weg te gaan nie. Jesus het eerder liefdevol geantwoord: “Hou op om bang te wees.” Morbiede vrees sou ’n verkeerde beweegrede vir gehoorsaamheid aan Christus wees. Jesus het eerder vir Petrus gesê dat hy en sy metgeselle waardevol sou word as vissers van mense. Vandag gebruik ons ook nie vrees of soortgelyke negatiewe emosies, soos skuldgevoelens of verleentheid, om ander te dwing om aan Christus gehoorsaam te wees nie. Slegs heelhartige gehoorsaamheid wat op liefde vir God en Christus gegrond is, maak Jehovah se hart bly.—Matteus 22:37.
“Maak dissipels van mense van al die nasies”
10. (a) Watter aspek van Jesus se bevel om dissipels te maak, het vir sy dissipels ’n groot uitdaging gebied? (b) Hoe het die dissipels op Jesus se bevel gereageer?
10 Die tweede vraag wat in verband met Christus se bevel ontstaan, is: Waar moet hierdie dissipelmaakwerk gedoen word? Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Maak dissipels van mense van al die nasies.” Voor die tyd van Jesus se bediening is mense van die nasies verwelkom as hulle na Israel gekom het om Jehovah te dien (1 Konings 8:41-43). Jesus self het meestal vir natuurlike Jode gepreek, maar nou het hy vir sy volgelinge gesê om na mense van al die nasies te gaan. Die visvanggebied, of predikingsveld, van sy dissipels was beperk tot ’n klein “dammetjie”—die natuurlike Jode—maar dit sou spoedig die hele “see” van die mensdom insluit. Hoewel hierdie verandering vir die dissipels ’n uitdaging gebied het, het hulle Jesus se opdrag geredelik gehoorsaam. Minder as 30 jaar ná Jesus se dood kon die apostel Paulus skryf dat die goeie nuus nie net aan die Jode verkondig is nie, maar aan “die hele skepping wat onder die hemel is”.—Kolossense 1:23.
11. Watter uitbreiding van ‘die visvanggebied’ het sedert die vroeë 20ste eeu plaasgevind?
11 In onlangser tye het ’n soortgelyke uitbreiding van die predikingsveld plaasgevind. Aan die begin van die 20ste eeu was die ‘visvanggebied’ tot ’n paar lande beperk. Nietemin het Christus se volgelinge destyds die voorbeeld van die eerste-eeuse Christene gevolg en die gebied waarin hulle gepreek het, ywerig uitgebrei (Romeine 15:20). Teen die vroeë 1930’s het hulle in sowat eenhonderd lande dissipels gemaak. Vandag het ons ‘visvanggebied’ tot 235 lande uitgebrei.—Markus 13:10.
“Uit al die tale”
12. Watter uitdaging word na vore gebring in die profesie in Sagaria 8:23?
12 Om in alle nasies dissipels te maak, hou nie net op geografiese gebied ’n uitdaging in nie, maar ook op taalgebied. Deur die profeet Sagaria het Jehovah voorspel: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sagaria 8:23). In die grotere vervulling van hierdie profesie stel die “Joodse man” die oorblyfsel van gesalfde Christene voor, terwyl die “tien man” die “groot menigte” voorstel (Openbaring 7:9, 10; Galasiërs 6:16).c Hierdie groot menigte van Christus se dissipels sou in baie nasies gevind word, en soos Sagaria gesê het, sou hulle baie tale praat. Lig die hedendaagse geskiedenis van God se volk hierdie aspek van dissipelskap toe? Ja, beslis.
13. (a) Watter verwikkeling wat taal betref, het onder God se hedendaagse volk plaasgevind? (b) Hoe het die ‘getroue slaaf’-klas op die toenemende behoefte aan geestelike voedsel in verskillende tale gereageer? (Sluit die venster “Publikasies vir die blindes” in.)
13 In 1950 was Engels die moedertaal van omtrent 3 uit elke 5 Getuies van Jehovah regoor die wêreld. Teen 1980 het die verhouding verander na omtrent 2 uit 5, en vandag is Engels die moedertaal van net 1 uit elke 5 Getuies. Hoe het die “getroue en verstandige slaaf”-klas gereageer op hierdie verandering wat taal betref? Hulle het geestelike voedsel in al hoe meer tale voorsien (Matteus 24:45). Byvoorbeeld, in 1950 is ons lektuur in 90 tale uitgegee, maar vandag het daardie syfer tot ongeveer 400 gestyg. Het die feit dat meer aandag aan mense van verskillende taalgroepe gegee is, resultate opgelewer? Ja! Elke week van die jaar word ’n gemiddelde van ongeveer 5 000 mense ‘uit alle tale’ dissipels van Christus! (Openbaring 7:9). En die vermeerdering gaan voort. In party lande bring die “nette” ’n baie goeie vangs in!—Lukas 5:6; Johannes 21:6.
’n Lonende bediening—Kan jy ’n aandeel hê?
14. Hoe kan ons diegene in ons gebied help wat ’n ander taal praat? (Sluit die venster “Gebaretaal en die dissipelmaakwerk” in.)
14 Die uitdaging om dissipels van mense van ‘elke taal’ te maak, het in talle Westerse lande ’n werklikheid geword met die koms van immigrante (Openbaring 14:6). Hoe kan ons diegene in ons gebied help wat nie ons taal praat nie? (1 Timoteus 2:4). Ons kan die regte ‘visvanggereedskap’ gebruik. Bied vir hierdie persone lektuur in hulle taal aan. Reël, indien moontlik, dat ’n Getuie wat hulle taal praat, hulle besoek (Handelinge 22:2). Dit is deesdae makliker om sulke reëlings te tref, aangesien baie Getuies ’n ander taal aangeleer het om buitelanders te help om Christus se dissipels te word. Verslae toon dat dit ’n lonende ondervinding is om mense op dié manier te help.
15, 16. (a) Watter voorbeelde lig toe dat dit lonend is om diegene te help wat ’n ander taal praat? (b) Oor watter vrae aangaande diens in ’n anderstalige veld kan ons nadink?
15 Beskou twee voorbeelde uit Nederland, waar die georganiseerde Koninkrykspredikingswerk in 34 tale gedoen word. ’n Getuie-egpaar het aangebied om dissipels onder Poolssprekende immigrante te gaan maak. Die reaksie op hulle pogings was so oorweldigend dat die man genoodsaak gevoel het om sy sekulêre werk te verminder sodat hy ’n ekstra dag per week kon hê om die Bybel met belangstellendes te studeer. Kort voor lank het die egpaar weekliks meer as 20 Bybelstudies gehou. Hulle het gesê: “Ons bediening maak ons baie gelukkig.” Dissipelmakers voel veral gelukkig wanneer diegene wat Bybelwaarhede in hulle eie taal hoor, hulle waardering daarvoor uitspreek. Byvoorbeeld, gedurende ’n vergadering wat in Viëtnamees gehou is, het ’n bejaarde man opgestaan en gevra of hy iets kon sê. Met trane in sy oë het hy vir die Getuies gesê: “Dankie vir die moeite wat julle doen om my moeilike taal aan te leer. Ek is so dankbaar om op my oudag al hierdie wonderlike dinge uit die Bybel te leer.”
16 Dit is dus geen wonder nie dat diegene wat in anderstalige gemeentes dien, baie geseënd voel. ’n Egpaar van Brittanje het gesê: “In ons 40 jaar van Koninkryksdiens was die bediening in die anderstalige veld die opwindendste.” Kan jy jou omstandighede aanpas sodat jy ’n aandeel aan hierdie lonende bediening kan hê? Kan jy, as jy nog op skool is, ’n ander taal leer om jou voor te berei vir hierdie soort bediening? Dit kan die deur open tot ’n bevredigende lewenswyse vol seëninge (Spreuke 10:22). Bespreek dit gerus met jou ouers.
Pas metodes aan
17. Hoe kan ons meer mense in ons gemeente se gebied bereik?
17 Omstandighede laat die meeste van ons natuurlik nie toe om ons “nette” in anderstalige gebiede te laat sak nie. Maar ons kan moontlik meer mense in ons gemeente se gebied bereik as wat ons op die oomblik doen. Hoe? Deur nie ons boodskap nie, maar ons metodes aan te pas. In baie gebiede woon al hoe meer mense in geboue waar streng sekuriteit gehandhaaf word. Baie ander is nie tuis wanneer ons hulle gedurende ons huis-tot-huis-bediening besoek nie. Daarom moet ons ons “nette” dalk op verskillende tye en op verskillende plekke laat sak. So volg ons Jesus na. Hy het maniere gevind om met mense in verskillende situasies te praat.—Matteus 9:9; Lukas 19:1-10; Johannes 4:6-15.
18. Hoe doeltreffend is dit om getuieniswerk op verskillende plekke te doen? (Sluit die venster in “Maak dissipels van mense in sakegebied”.)
18 In party wêrelddele is getuieniswerk waar mense ook al gevind kan word, ’n belangrike metode om dissipels te maak. Ervare dissipelmakers lê hulle al hoe meer daarop toe om op verskillende plekke te getuig. Benewens deelname aan die huis-tot-huis-bediening getuig verkondigers nou by lughawens, in kantore, in winkels, op parkeerterreine, by bushaltes, op straat, in parke, op strande en elders. ’n Hele aantal pas gedoopte Getuies in Hawaii het die boodskap die eerste keer op sulke plekke gehoor. As ons ons metodes aanpas, help dit ons om Jesus se bevel om dissipels te maak, ten volle uit te voer.—1 Korintiërs 9:22, 23.
19. Watter aspekte van Jesus se opdrag aan ons sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Jesus se bevel om dissipels te maak, het nie net besonderhede ingesluit oor waarom en waar ons daardie werk moet doen nie, maar ook oor wat ons moet verkondig en tot wanneer ons moet voortgaan om dit te doen. Hierdie twee aspekte van Jesus se opdrag aan ons sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Ons sal in hierdie artikel die eerste twee vrae bespreek. Die laaste twee vrae sal in die volgende artikel ondersoek word.
b Nog redes om die predikingswerk te doen, kan gevind word in Spreuke 10:5; Amos 3:8; Matteus 24:42; Markus 12:17; Romeine 1:14, 15.
c Vir meer inligting oor hierdie profesie se vervullings, sien Die Wagtoring van 15 Mei 2001, bladsy 12, en Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom, Deel 2, bladsy 408, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Om watter redes en met watter beweegrede neem ons aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deel?
• Tot watter mate het Jehovah se knegte vandag Jesus se opdrag uitgevoer om dissipels van mense van al die nasies te maak?
• Hoe kan ons ons ‘visvangmetodes’ aanpas, en waarom moet ons dit doen?
[Venster/Prente op bladsy 10]
Publikasies vir die blindes
Albert is ’n Christen- ouer man en voltydse bedienaar in die Verenigde State. Hy is blind. Bybellektuur in braille help hom om sy bediening, asook sy pligte as diensopsiener, op bekwamer wyse uit te voer. Hoe hanteer hy sy gemeentelike toewysing?
“Ons het nog nooit ’n beter diensopsiener in ons gemeente gehad as Albert nie”, sê James, die presiderende opsiener. Albert is een van sowat 5 000 blindes in die Verenigde State wat deur die jare heen Bybelpublikasies in Engelse en Spaanse braille ontvang het. Trouens, van 1912 af het die ‘getroue slaaf’-klas meer as honderd verskillende publikasies in braille voorsien. Met behulp van gevorderde metodes kan die drukkerye van Jehovah se Getuies nou jaarliks miljoene bladsye in meer as tien tale in braille druk en dit na meer as 70 lande stuur. Weet jy van iemand wat sal baat vind by Bybelpublikasies vir die blindes?
[Venster/Prent op bladsy 11]
Gebaretaal en die dissipelmaakwerk
Duisende Getuies oor die hele aarde, waaronder talle ywerige jongmense, het gebaretaal geleer sodat hulle dowes kan help om dissipels van Christus te word. Gevolglik is daar in ’n onlangse jaar in Brasilië alleen 63 dowe persone gedoop, en 35 van die dowe Getuies daar dien tans as voltydse evangeliedienaars. Daar is wêreldwyd meer as 1 200 gebaretaalgemeentes en -groepe. Die enigste gebaretaalkring in Rusland is gebiedsgewys die grootste kring in die wêreld, want dit sluit die hele Rusland in!
[Venster op bladsy 12]
Maak dissipels van mense in sakegebied
’n Getuie in Hawaii wat sakemense by hulle kantore besoek, het ’n bestuurshoof van ’n vervoermaatskappy ontmoet. Hoewel die man besig was, het hy ingestem om die Bybel 30 minute per week in sy kantoor te studeer. Elke Woensdagoggend sê hy vir sy personeel om nie sy telefoonoproepe deur te skakel nie, en dan gee hy sy volle aandag aan die studie. ’n Ander Getuie in Hawaii studeer die Bybel een keer per week met die eienaar van ’n skoenmakerswinkel. Die studie word daar reg by die toonbank gehou. Wanneer ’n klant inkom, staan die Getuie eenkant toe. Wanneer die klant weer weg is, gaan hulle voort met die studie.
Die bestuurshoof sowel as die winkeleienaar is bereik omdat die Getuies die inisiatief geneem het om hulle “nette” op ander plekke te laat sak. Kan jy aan plekke in julle gemeente se gebied dink waar jy dalk mense sal bereik wat nie maklik by die huis gevind word nie?
[Prent op bladsy 12]
Kan jy in ’n anderstalige veld dien?