“Trek die volle wapenrusting van God aan”
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette van die Duiwel.”—EFESIËRS 6:11.
1, 2. Beskryf in jou eie woorde die geestelike wapenrusting wat Christene moet aantrek.
ROME het gedurende die eerste eeu G.J. die hoogtepunt van sy mag bereik. Die krag van die Romeinse legioene het die stad in staat gestel om beheer oor die grootste deel van die destyds bekende wêreld te hê. Een geskiedkundige het hierdie leër beskryf as “die suksesvolste militêre organisasie in die geskiedenis”. Rome se professionele leër het bestaan uit goed gedissiplineerde soldate wat strawwe opleiding ondergaan het, maar hulle sukses as ’n doeltreffende strydmag het ook van hulle wapenrusting afgehang. Die apostel Paulus het die wapenrusting van ’n Romeinse soldaat gebruik om toe te lig watter geestelike toerusting Christene nodig het om met welslae teen die Duiwel te veg.
2 Ons vind ’n beskrywing van hierdie geestelike wapenrusting in Efesiërs 6:14-17. Paulus het geskryf: “Staan . . . vas, julle lendene omgord met waarheid, en met die borsplaat van regverdigheid aan, en julle voete geskoei met die toerusting van die goeie nuus van vrede. Neem bowenal die groot skild van geloof op, waarmee julle al die brandende pyle van die bose sal kan blus. En neem die helm van redding aan, en die swaard van die gees, dit is God se woord.” Uit ’n fisiese oogpunt beskou, het die wapenrusting wat Paulus beskryf het, ’n Romeinse soldaat baie goed beskerm. Hy het ook ’n swaard gehad, sy vernaamste wapen in ’n man-teen-man-geveg.
3. Waarom moet ons die instruksies van Jesus Christus gehoorsaam en sy voorbeeld volg?
3 Maar bo en behalwe hulle toerusting en opleiding het die sukses van die Romeinse leër afgehang van die soldate se gehoorsaamheid aan hulle aanvoerder. Christene moet eweneens gehoorsaam wees aan Jesus Christus, wat in die Bybel beskryf word as ’n “aanvoerder vir die volksgroepe” (Jesaja 55:4). Hy is ook “die hoof van die gemeente” (Efesiërs 5:23). Jesus gee ons instruksies vir ons geestelike oorlogvoering en stel vir ons ’n volmaakte voorbeeld van hoe ons die geestelike wapenrusting moet dra (1 Petrus 2:21). Aangesien ’n Christelike persoonlikheid baie in gemeen het met ons geestelike wapenrusting, spoor die Skrif ons aan om ons met die geesteshouding van Christus te “wapen” (1 Petrus 4:1). Terwyl ons elke deel van ons geestelike wapenrusting ontleed, sal ons dus die voorbeeld van Jesus gebruik om die belangrikheid en doeltreffendheid daarvan toe te lig.
Beskerm die lendene, die bors en die voete
4. Watter rol het ’n gordel in ’n soldaat se wapenrusting gespeel, en wat lig dit toe?
4 Lendene omgord met waarheid. In Bybeltye het soldate ’n breë leergordel gedra wat 5 tot 15 sentimeter breed was. Party vertalers doen aan die hand dat die vers moet lui, “met waarheid as ’n gordel styf om julle middellyf gebind”. Die soldaat se gordel het gehelp om sy lendene te beskerm, en dit het ’n geskikte plek vir sy swaard voorsien. Wanneer ’n soldaat sy lendene omgord het, het hy hom gereedgemaak vir die geveg. Paulus het die soldaat se gordel gebruik om toe te lig tot watter mate skriftuurlike waarheid ’n invloed op ons lewe behoort te hê. Dit behoort as ’t ware styf om ons gebind te wees sodat ons in ooreenstemming met die waarheid lewe en dit te eniger tyd kan verdedig (Psalm 43:3; 1 Petrus 3:15). Om dit te kan doen, moet ons die Bybel ywerig bestudeer en oor die inhoud daarvan peins. Jesus het God se wet ‘in sy ingewande’ gehad (Psalm 40:8). Wanneer teenstanders hom met vrae bestook het, kon hy hulle dus antwoord deur die Skrif uit die hoof aan te haal.—Matteus 19:3-6; 22:23-32.
5. Verduidelik hoe Bybelraad ons kan help in tye van beproewing of versoeking.
5 Wanneer ons toelaat dat Bybelwaarheid ons rig, kan dit ons beskerm teen verkeerde redenasies en ons in staat stel om wyse besluite te neem. Gedurende tye van versoeking of beproewing sal die Bybel se riglyne ons voorneme versterk om te doen wat reg is. Ons sal as ’t ware ons Grootse Onderrigter, Jehovah, sien, en ons sal ’n woord agter ons hoor wat sê: “Dit is die weg. Wandel daarop.”—Jesaja 30:20, 21.
6. Waarom het ons figuurlike hart beskerming nodig, en hoe kan regverdigheid dit met welslae beskerm?
6 Borsplaat van regverdigheid. Die borsplaat van die soldaat het ’n lewensorgaan, die hart, beskerm. Ons figuurlike hart—die persoon wat ons innerlik is—het spesiale beskerming nodig omdat dit tot verkeerde dinge geneig is (Genesis 8:21). Ons moet derhalwe Jehovah se regverdige standaarde leer ken en liefkry (Psalm 119:97, 105). Ons liefde vir regverdigheid beweeg ons om wêreldse denke te verwerp wat Jehovah se duidelike riglyne ignoreer of afwater. Wat meer is, wanneer ons lief is vir wat reg is en haat wat sleg is, sal ons nie ’n weg inslaan wat ons lewe kan verwoes nie (Psalm 119:99-101; Amos 5:15). Jesus stel ’n goeie voorbeeld hierin, want aangaande hom sê die Skrif: “U het regverdigheid liefgehad en u het wetteloosheid gehaat.”—Hebreërs 1:9.a
7. Waarom het ’n Romeinse soldaat goeie skoene nodig gehad, en wat lig dit toe?
7 Voete geskoei met die toerusting van die goeie nuus van vrede. Romeinse soldate het duursame skoene of sterk sandale nodig gehad, aangesien hulle gedurende ’n veldtog dikwels 30 kilometer per dag te voet afgelê het terwyl hulle ongeveer 27 kilogram wapenrusting en toerusting gedra het. Paulus het gepas skoene gebruik om die bereidwilligheid uit te beeld waarmee ons die Koninkryksboodskap aan almal verkondig wat wil luister. Dit is belangrik, want hoe sal mense Jehovah leer ken as ons nie gereed en gewillig is om te preek nie?—Romeine 10:13-15.
8. Hoe kan ons Jesus se voorbeeld as ’n verkondiger van die goeie nuus navolg?
8 Wat was die belangrikste bedrywigheid in Jesus se lewe? Hy het vir die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gesê: ‘Ek het in die wêreld ingekom om van die waarheid te getuig.’ Jesus het getuig wanneer hy ook al ’n horende oor gevind het, en hy het sy bediening so geniet dat hy dit bo sy fisiese behoeftes gestel het (Johannes 4:5-34; 18:37). As ons, soos Jesus, gretig is om die goeie nuus te verkondig, sal ons baie geleenthede vind om dit aan ander oor te dra. En as ons ons toespits op ons bediening, sal dit ons help om geestelik sterk te bly.—Handelinge 18:5.
Die skild, die helm en die swaard
9. Watter beskerming het ’n groot skild ’n Romeinse soldaat gebied?
9 Die groot skild van geloof. Die Griekse woord wat met “groot skild” vertaal word, verwys na ’n skild wat groot genoeg was om die grootste deel van die liggaam te bedek. Dit het beskerming gebied teen die “brandende pyle” waarna Efesiërs 6:16 verwys. In Bybeltye het soldate pyle gebruik wat van hol riete gemaak is en waarin daar klein ysterhouertjies was wat met brandende nafta gevul kon word. ’n Geleerde beskryf hierdie pyle as “een van die gevaarlikste wapens in eertydse oorlogvoering”. As ’n soldaat nie ’n groot skild gehad het om homself teen sulke pyle te beskerm nie, kon hy ernstig beseer word of selfs sterf.
10, 11. (a) Watter “brandende pyle” van Satan kan ons geloof ondermyn? (b) Hoe toon Jesus se voorbeeld die belangrikheid van geloof gedurende tye van beproewing?
10 Watter “brandende pyle” gebruik Satan om ons geloof te ondermyn? Hy kan vervolging of teenstand in die gesin, by die werk of skool aanstig. ’n Begeerte om al hoe meer materiële dinge te besit en die verlokking van onsedelikheid het ook al geestelike ondergang vir sommige beteken. Om ons teen sulke gevare te beskerm, moet ons ‘bowenal die groot skild van geloof opneem’. Geloof word verkry deur van Jehovah te leer, gereeld met hom in gebed te kommunikeer en te onderskei hoe hy ons beskerm en seën.—Josua 23:14; Lukas 17:5; Romeine 10:17.
11 Toe Jesus op die aarde was, het hy getoon hoe belangrik sterk geloof gedurende kritieke tye is. Hy het volle vertroue in sy Vader se besluite gestel en het behae daarin geskep om God se wil te doen (Matteus 26:42, 53, 54; Johannes 6:38). Selfs toe Jesus groot angs in die tuin van Getsemane ervaar het, het hy vir sy Vader gesê: “Nie soos ek wil nie, maar soos u wil” (Matteus 26:39). Jesus het nooit uit die oog verloor hoe belangrik dit is om onkreukbaarheid te handhaaf en sy Vader se hart bly te maak nie (Spreuke 27:11). As ons soortgelyke vertroue in Jehovah openbaar, sal ons nie toelaat dat kritiek of teenstand ons geloof laat verswak nie. Ons geloof sal eerder versterk word as ons op God vertrou, ons liefde vir hom toon en sy gebooie bewaar (Psalm 19:7-11; 1 Johannes 5:3). Geen materiële belonings of vlietende oomblikke van sinsgenot kan vergelyk word met die seëninge wat Jehovah in die vooruitsig stel vir diegene wat hom liefhet nie.—Spreuke 10:22.
12. Watter belangrike deel van ons word deur ons figuurlike helm beskerm, en waarom is hierdie beskerming noodsaaklik?
12 Die helm van redding. ’n Helm het die soldaat se kop en brein—die setel van intellek—beskerm. Ons Christelike hoop word met ’n helm vergelyk omdat dit ons verstand beskerm (1 Tessalonisense 5:8). Hoewel ons ons verstand deur middel van juiste kennis van God se Woord hervorm het, is ons nog steeds swak, onvolmaakte mense. Ons verstand kan maklik besoedel word. Doelwitte van hierdie stelsel van dinge kan ons aandag aflei of selfs ons godgegewe hoop verdring (Romeine 7:18; 12:2). Die Duiwel het Jesus se aandag tevergeefs probeer aflei deur hom “al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid” aan te bied (Matteus 4:8). Maar Jesus het die aanbod summier verwerp, en Paulus het van hom gesê: “Vir die vreugde wat hom [Jesus] voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en het hy aan die regterhand van die troon van God gaan sit.”—Hebreërs 12:2.
13. Hoe kan ons ons vertroue in ons toekomshoop behou?
13 Die soort vertroue wat Jesus gehad het, kom nie vanself nie. As ons ons verstand met die drome en doelwitte van hierdie stelsel van dinge vul in plaas van ons toekomshoop in gedagte te hou, sal ons geloof in God se beloftes verswak. Mettertyd kan ons selfs ons hoop heeltemal verloor. As ons daarenteen gereeld oor God se beloftes peins, sal ons ons voortdurend verbly in die hoop wat vir ons in die vooruitsig gestel word.—Romeine 12:12.
14, 15. (a) Wat is ons figuurlike swaard, en hoe kan ons dit gebruik? (b) Lig toe hoe die swaard van die gees ons kan help om versoeking te weerstaan.
14 Die swaard van die gees. God se woord, of boodskap, wat in die Bybel opgeteken staan, is soos ’n kragtige tweesnydende swaard wat godsdiensleuens kan wegsny en regskapenes kan help om geestelike vryheid te verkry (Johannes 8:32; Hebreërs 4:12). Hierdie geestelike swaard kan ons ook beskerm wanneer ons gebombardeer word deur versoekings of pogings van afvalliges om ons geloof te vernietig (2 Korintiërs 10:4, 5). Hoe dankbaar is ons tog dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is en ons ten volle toerus vir elke goeie werk’!—2 Timoteus 3:16, 17.
15 Toe hy in die wildernis deur Satan versoek is, het Jesus die swaard van die gees doeltreffend gebruik om valse redenasies en slinkse versoekings af te weer. Op elke uitdaging van Satan het hy geantwoord: “Daar staan geskrywe” (Matteus 4:1-11). David, een van Jehovah se Getuies in Spanje, het eweneens gevind dat die Skrif hom gehelp het om versoeking te weerstaan. Toe hy 19 was, het ’n aantreklike jong vrou wat saam met hom by ’n skoonmaakonderneming gewerk het, voorgestel dat hulle “ ’n bietjie pret saam geniet”. David het haar voorstelle verwerp en sy bestuurder vir werk in ’n ander afdeling gevra sodat die situasie nie weer sou opduik nie. “Ek het aan die voorbeeld van Josef gedink”, het David gesê. “Hy het onsedelikheid verwerp en onmiddellik padgegee. Ek het dieselfde gedoen.”—Genesis 39:10-12.
16. Verduidelik waarom ons opleiding nodig het om ‘die woord van die waarheid reg te hanteer’.
16 Jesus het ook die swaard van die gees gebruik om ander te help om onder Satan se beheer uit te kom. “Wat ek leer, is nie myne nie”, het Jesus gesê, “maar behoort aan hom wat my gestuur het” (Johannes 7:16). Ons het opleiding nodig om Jesus se bekwame onderrigmetodes te volg. Die Joodse geskiedskrywer Josefus het aangaande Romeinse soldate geskryf: “Elke soldaat word elke dag met groot toegewydheid gedril, asof dit oorlogstyd is, en dit is waarom hulle die vermoeienis van gevegte so maklik verduur.” Ons moet die Bybel gebruik in ons geestelike oorlogvoering. Verder moet ons ons ‘uiterste bes doen om ons goedgekeur voor God te stel, as werkers wat hulle oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer’ (2 Timoteus 2:15). En hoeveel bevrediging verskaf dit ons tog nie wanneer ons die Skrif gebruik om ’n belangstellende se opregte vraag te beantwoord nie!
Bid by elke geleentheid
17, 18. (a) Watter rol speel gebed daarin om Satan te weerstaan? (b) Gee ’n voorbeeld om die waarde van gebed toe te lig.
17 Nadat Paulus die volle geestelike wapenrusting bespreek het, gee hy verdere belangrike raad. Om Satan te weerstaan, moet Christene gebruik maak van “elke vorm van gebed en smeking”. Hoe dikwels? ‘Hou aan om by elke geleentheid in gees te bid’, het Paulus geskryf (Efesiërs 6:18). Wanneer ons voor versoekings, beproewinge of ontmoediging te staan kom, kan gebed ons grootliks versterk (Matteus 26:41). Jesus het “smekinge en ook bedes met sterk uitroepe en trane aan die Een opgedra wat hom uit die dood kon red, en hy is weens sy godvrugtige vrees verhoor”.—Hebreërs 5:7.
18 Milagros, wat al meer as 15 jaar lank haar man versorg wat aan ’n chroniese siekte ly, sê: “Wanneer ek ontmoedig voel, bid ek tot Jehovah. Niemand kan my meer help as hy nie. Daar is wel tye wanneer ek dink dat ek eenvoudig nie meer kan aangaan nie. Maar ek het al keer op keer gevoel hoe my krag hernieu word en my gemoedstoestand verbeter nadat ek tot Jehovah gebid het.”
19, 20. Wat het ons nodig om in ons stryd teen Satan te seëvier?
19 Die Duiwel weet dat hy min tyd het, en hy verskerp sy pogings om ons te oorwin (Openbaring 12:12, 17). Ons moet hierdie kragtige vyand weerstaan en ‘die goeie stryd van die geloof stry’ (1 Timoteus 6:12). Dit verg krag wat bo die normale is (2 Korintiërs 4:7). Ons het ook die hulp van God se heilige gees nodig en moet derhalwe daarvoor bid. Jesus het gesê: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!”—Lukas 11:13.
20 Dit is ongetwyfeld lewensbelangrik dat ons die volle wapenrusting aantrek wat Jehovah voorsien. Om hierdie geestelike wapenrusting te dra, verg dat ons godvrugtige eienskappe aankweek, soos geloof en regverdigheid. Dit vereis dat ons die waarheid liefhet asof ons daarmee omgord is, dat ons gereed moet wees om die goeie nuus by elke geleentheid bekend te maak en dat ons ons toekomshoop goed in gedagte hou. Ons moet leer om die swaard van die gees op bekwame wyse te gebruik. As ons die volle wapenrusting van God aantrek, kan ons seëvier in ons worstelstryd teen bose geesmagte en kan ons inderdaad Jehovah se heilige naam verheerlik.—Romeine 8:37-39.
[Voetnoot]
a In Jesaja se profesie word daar van Jehovah self gesê dat hy “regverdigheid soos ’n pantser” dra. Gevolglik vereis hy dat gemeentelike opsieners geregtigheid handhaaf en regverdig optree.—Jesaja 59:14, 15, 17.
Hoe sal jy antwoord?
• Wie stel die beste voorbeeld van hoe die geestelike wapenrusting gedra moet word, en waarom moet ons sy voorbeeld noukeurig ondersoek?
• Hoe kan ons ons verstand en ons figuurlike hart beskerm?
• Hoe kan ons leer om die swaard van die gees op bedrewe wyse te hanteer?
• Waarom moet ons aanhou om by elke geleentheid te bid?
[Prente op bladsy 17]
Ywerige Bybelstudie kan ons beweeg om die goeie nuus by elke geleentheid bekend te maak
[Prente op bladsy 18]
Ons vaste hoop help ons om beproewinge te verduur
[Prent op bladsy 19]
Gebruik jy “die swaard van die gees” in die bediening?